Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Mel vertel, Portchie paint!

  • 0

Ontwerp: Woordfees

Yolanda du Toit praat met Mel oor haar en Portchie se produksie by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees.

Die tema by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees is “deel”. Is dit hoe jy en Portchie bymekaar uitgekom het met die idee vir ’n gesamentlike produksie?

Portchie het my sommer so deur sosiale media gekontak met die idee om saam iets spesiaals aan te bied.

Daar word gesê julle het geen gemene delers nie, behalwe dat jy al blou hare gehad het en Portchie graag blou bome verf. Ek het ’n idee dat feesgangers kan uitsien na ’n uiters kleurvolle produksie. Kan jy ons meer vertel wat ons te wagte kan wees?

Toe ek en Portchie nou so om ’n potjie tee in sy kombuis sit en gesels, toe besef ons, ons het eintlik vele ooreenkomste. Ons albei is gaande oor reis en mooi, kleurvolle dinge. Hy het in ’n groentewinkel grootgeword en ek so in my ma se groentetuin. In die produksie deel ons stories uit ons reise en lewens. Dit word immers in sy pragtige huis aangebied, so gehoorlede kan verwag om tuis te voel. ’n Lekker sitkamerkuier met geselsies en ’n pragtige klavier.

Internet sensasie is jou derde stand-up-vertoning. Hier sing jy ook, alhoewel dit aanvullend tot die produksie is. Hoe verskil Mel vertel, Portchie paint! hiervan?

Internet sensasie is baie hoë-energie stories. My stand-up shows laat die gehoor altyd wonder: Was dit nou waar? Het dit nou rêrig gebeur? maar saam met Portchie praat ek net die waarheid. Rêrige stories met egte gebeure uit my lewe. Dus sou ek sê dis meer eerlik en na aan my hart. Ek en Portchie gaan gesels en mekaar vrae ook vra; ek twyfel of daar enige stil of vervelige oomblikke sal wees.

Dit is die derde produksie waar jy ’n verhoog deel – Trou saam met Corlea, Die lank en die dik daarvan en nou saam met Portchie. Is dit ’n lekkerte of is dit moeiliker as ’n solo-produksie?

Ek het ’n produksie saam met Vanes-Mari du Toit gedoen, Die lank en die dik daarvan, en is absoluut gaande daaroor om hande te vat met interessante mense. Mense met ervarings en stories om te vertel. Mense wat gegrond is op die aarde en sterk staan in hulle identiteit. Magic gebeur wanneer twee uiteenlopende persone iets saam doen. Jy weet nooit wat om te verwag nie en die produk is altyd verbasend en interessant. En dit is mos wat kuns is. Solo en saam-saam dra albei sy lekkerte. Dit is wel vir my lekker om bietjie op ’n tweede persoon te steun, sodat ek nie al die energie hoef te dra op die verhoog nie.

In dié produksie sing jy en Portchie speel klavier. Jy sing ’n bietjie in jou ander produksies, maar is meer die verteller. Portchie skilder weer. In dié produksie gesels jul albei. Is dit iets buite jou gemaksone of is dit tweede natuur om te sing?

Kyk, ek sing nou nie ’n showstopper nie. Ons gaan sommer so saam met die gehoor sing. Dink: familie-en-vriende-samesyn en iemand ruk ’n instrument uit en so begin almal saamsing, vals of op noot. Almal is welkom. Ek is mal oor sing. Alhoewel ek weet dat ek nie die beste stem het nie, voel ek almal kan sing en in musiek verlore raak.

Dit is boonop die debuut – knaag die senuwees bietjie of benader en hanteer jy dit met humor?

Portchie laat my vreeslik op my gemak voel. Sy lag is so lekker hard en uit sy maag en wanneer iemand so lag, dan weet jy dit gaan ’n goeie konsert wees. In sulke gekombineerde produksies moet albei net hul kant bring en dan sal alles mooi bymekaar inval. Die produksie is baie rustig van aard en baie gesels-gedrewe; stories oorvertel is tweede natuur vir my. Ek moet net seker maak ek som die gebeure mooi op sodat die gehoor dit interessant vind, en dan sal die kaarte val. If all else fails, dan sê ek net vir Portchie: “Gooi ’n noot” en dan sing ons!

Beplan jy en Portchie verdere vertonings ná die Woordfees?

Ek hoop dat hierdie een nie die laaste is nie. Kom ons kyk ...

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Woorde open wêrelde, ’n onderhoud met Fiona van Kerwel

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 press release: SboNdaba Dance returns home with In search of our humanity

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud met Saartjie Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top