Top 10-films 2019: Suzette Kotzé-Myburgh se keuses

  • 0

Suzette Kotzé-Myburgh deel ’n lys van haar 10 gunstelingfilms wat in 2019 vrygestel is.

1. Capernaum: 2019 is die jaar waarin ’n beduidende aantal mense uiteindelik wakker geskrik het oor die klimaatkrisis. Een van die grootste bydraende faktore is oorbevolking, maar vir die meeste kommentators is dit nog die olifant in die vertrek. Hierdie film deur Nadine Labaki, ’n uitvloeisel van haar dokumentêre filmwerk in Beiroet, noem die kind op sy naam. Die rou moedeloosheid van die jong seun wat sy ouers voor die hof daag omdat hulle hom (en ’n horde sibbes) in die wêreld gebring en verdoem het tot ’n lewe van uiterste armoede, gryp ’n mens aan die hart.  

2. The Favourite: Waar Capernaum my beste fliek van die jaar is, is The Favourite my gunsteling. Dat ’n film wat aan die Britse koninklike hof van die vroeë 1700’s afspeel só klokhelder in ons tyd kan resoneer, is eenvoudig merkwaardig. Daarby is die satire briljant en die drie hoofspelers ─ Olivia Colman (vanjaar se Oscarwenner as beste aktrise), Emma Stone en Rachel Weisz ─ ’n enorme plesier. 

3. Parasite: Dit het reeds die Goue Palm by Cannes gewen, en is Suid-Korea se amptelike inskrywing vir Beste Internasionale Film vir volgende jaar se Oscars. Parasite bring ons terug by die mensdom in krisis en die algemene stryd om oorlewing, met die arm Kim-gesin wat stap vir stap die skatryk Parks se huishouding infiltreer ─ met onberekenbare gevolge. 

4. Midsomar: ’n Uitstaande riller oor vier naïewe Amerikaanse studente wat by ’n Sweedse kultusgroep beland. Uiterste pole is ’n ander kenmerk van ons tyd, met dié groep wat ’n sinistere betekenis aan ’n terug-na-die-aarde-leefwyse gee. G’n romantiese illusies of koesterende liberalisme hier nie, net die onbuigsame natuurwet van die sterkste wat oorleef!  

5. Rocketman: ’n Wonderlike biografiese prent oor die flambojante superster Elton John, treffend vertolk deur Taron Egerton. Ons kringloop had vanjaar ook Yesterday en Blinded by the Light, onderskeidelik deur The Beatles en Bruce Springsteen geïnspireer, maar Rocketman is verreweg die beste van die lot.  

6. Cut-out Girls: Teaterfenomeen Nicola Hanekom het gesorg vir my beste Suid-Afrikaanse fliek van die jaar. En dis skrikwekkend dat die uitreiking van hierdie film oor afspraakverkragting saamgeval het met die #EnoughIsEnough-veldtog.

7. Vice: Nadat ek pas vir Christian Bale in Ford v. Ferrari gesien het, is ek opnuut spyt dat hy nie vanjaar se Oscar vir beste akteur ontvang het vir sy hoofrol in Vice nie. Dick Cheney, Amerikaanse visepresident onder George W. Bush, was blykbaar ’n liederlike kalant in die Wit Huis, en Bale lewer ’n sublieme vertolking. 

8. Hotel Mumbai: Hierdie spannende drama, ’n herskepping van 2008 se terreuraanvalle in Mumbai, gee ’n onvergeetlike beeld van die gevare van godsdienstige ekstremisme. Dit wys ook die tragiek van ongeletterde jong plattelanders wat gelok word met beloftes van geld vir hul arm families, waarna hulle tot moordmasjiene geïndoktrineer word. 

9. Buddha in Africa: Dié boeiende dokumentêr oor Chinese sendingwerk deur middel van weeshuise het uitgestaan by vanjaar se Silwerskermfees. Dit volg die lewe van Malawiër Enock Alu, wat worstel om ’n eie identiteit te vind nadat hy as sesjarige ingeneem en in die Chinese taal en kultuur opgevoed is. Die film is ’n openbaring wat neo-kolonialisme in Afrika betref.  

10. Late Night: Mindy Kaling sorg vir komedie met ’n lekker byt, puik ondersteun deur Emma Thompson as die bitsige aanbieder van ’n TV-geselsprogram. Dis ’n raak uitbeelding van die bedrieglikheid van die sosiale landskap en hoe onherroeplik alles in die laaste dekade verander het.                                                                      

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top