Titel: Toe-Val-Lig
Skrywer: Amore Bekker
ISBN:9780624080237
Uitgewer: Tafelberg
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Menige middag vind ek myself diep verdeeld. Daar is twee radiostasies waarna ek kan luister in die motor op pad terug na ’n lang dag op kantoor. Die saak kom basies neer op ’n keuse tussen een van twee. Dit is of Darren Scott, of Amore Bekker. Eersgenoemde is gewoonlik lekker lig en vol grappe. Laasgenoemde is eerder vol verrassings. Maar Bekker en Radio Sonder Grense wen meestal die toutrekkery in my gemoed. Dit is net sommige dae wat dit gebeur dat die ander radiostasie my aandag kry. So meeste middae is dit dus Dave Pepler, professor Basie von Solms, en die kruievrou Antoinette Pienaar van die plaas Theefontein. En dit is ook stories van toeval. Luisteraars stuur hulle stories van toeval in na Amore Bekker, en dan word die stories op die radio vertel. Uiteindelik was daar genoeg stories vir ’n boek, en so is hierdie keur van sowat 100 stories saamgestel onder die titel Toe-Val-Lig.
Suid-Afrika is meer soos ’n plattelandse dorp as soos ’n groot land. Dit het ek weereens besef toe ek hierdie boek optel en sien daar is van die mense wat stories ingestuur het wat ek eintlik goed ken. Ek moes hulle verhale gemis het toe Bekker die dag húlle spesifieke stories gelees het.
Ongelukkig sal ek nie die waarheid praat as ek sê dat ek in elke opsig opgewonde is oor Toe-Val-Lig nie. Daar is drie breë probleme wat ek met die boek het. Wat ek die meeste mis, is die omroeper se intonasie met die vertel van elke storie. Bekker se aanbiedinge gee lewe aan die verhale wat ietwat ontbreek by die lees daarvan in ’n boek. Voeg daarby die prys. Teen R241 is dit ’n sware prys om te betaal vir baie min leesstof. Vir dieselfde prys is daar heelwat ander interessante boeke wat veel dikker is. Laastens is daar die titel, wat in eie reg ’n stoornis is. Met ’n titel soos Toe-Val-Lig is dit eintlik reeds duidelik dat die samestellers iets meer as toeval probeer inlees in verhale wat werklik niks anders as toeval is nie (hoewel sommige van die verhale se toeval so groot is dat dit jou soms verstom laat). Daar is by heelwat verhale ‘n sterk godsdienstige ondertoon. Hierdie feit is sowel goed as sleg. Aan die een kant kan dit jou frustreer, veral ingeval jy self nie aan enige god glo nie, maar aan die ander kant gee dit mens dalk ’n getroue beeld van Suid-Afrika. Godsdiens is nog sterk in die Suid-Afrikaanse gemeenskappe ingewikkel en daar gaan dit bly. Vir lank nog.
En tog sal ek nie hierdie boek afskiet en mense afraai on dit te lees nie. Inteendeel, die boek bevat wonderlike verhale, en dit is ’n goeie ding dat hierdie verhale gedokumenteer word en in boekvorm vrygestel word. Ek wonder of daar nie dalk in die toekoms ook ’n CD-opname van hierdie verhale gemaak sal kan word nie, wat lekker variasie sal kan bied op die boek. Toe-Val-Lig is, alles in ag genome en die kritiek ten spyt, ’n interessante en eg Suid-Afrikaanse boek. Dit is lekker ligte leesstof wat baie mense sal vermaak.
Kommentaar
Dit het ongelukkig nie hierdie leser vermaak nie. Maar dan is dit ook nie my keuse van luistergenot nie. 'n Swak kopie en 2/5 sterre.
Sjoe! 2/5 vir die boek?
Dagsê Amore, gister het my selfoon my diep in die steek gelaat, wou kommentaar lewer oor die omelet, dit is TWEE eetlepels water op elke eier, doen al vir jare, die halwe eier dop was die naaste, lekker dag.
Lekker lag ek nou.