Toast Coetzer (1977–)

  • 0

Gebore en getoë

Pieter Willemse Reino (Toast) Coetzer is op 12 September 1977 in die hospitaal op Cradock in die Oos-Kaap gebore – ’n belangrike dag in Suid-Afrika se geskiedenis, want Steve Biko het op daardie dag gesterf. Toast is die middelste kind – sy ouer broer is Wimpie en sy jonger suster Celetje. Sy ma is ’n nooi Dykema wie se pa ’n Hollandse immigrant was wat hom op die Springbokvlakte buite die destydse Warmbad gevestig het as ’n saaiboer. Sy ma is een van tien kinders, van wie baie nog op die Springbokvlakte boer. Die bekende kunstenaarbroers Piet en Diek Grobler is neefs van Toast, uit dieselfde Dykema-familie (hulle ma’s is susters).

Toast se pa se Coetzers boer al van omtrent die 1790’s in die Elandsdrift-wyk suidoos van Cradock, langs die Tarkarivier. Sy ouers boer nou nog daar, op die plaas Rietvlei, in die berge, voetheuwels van die Winterberge. Nog ’n literêre titbit is dat Etienne van Heerden die Coetzers noem in Toorberg. Iewers verwys hy na die “Coetzers van Altyd Somer”. “Dis ons familie daai,” vertel Toast. “My oupa en ouma het op Altyd Somer gewoon. Etienne was toevallig op ’n stadium in dieselfde klas as een van my pa se jonger broers, Erwin. Nog iets: Olive Schreiner het deel van The story of an African farm op ons plaas geskryf. Die plaas was toe bekend as Leliekloof; sy was ’n goewernante daar. Die ou huisie bestaan lankal nie meer nie, maar dit was in ons voortuin, langs twee reuse-sipresbome.”

Oor waar die naam Toast vandaan kom, vertel hy: “Dit is ’n baie vervelige storie. Toe ek klein was, kon ek nie die woord toast reg uitspreek nie – ek’t altyd gesê ‘touws’ (soos in ‘Touwsrivier’). My broer het my ’n bietjie geterg en so het my bynaam Toast geword. Dit is lankal onsigbaar vir my, ’n leë woord soos ’n deksel in die teerpad waaronder waterskilpaaie in dreine woon.”

Cradock is hulle naaste dorp aan die plaas (sowat 52 km ver). Toast is dus aanvanklik na die Voorbereidingskool daar tot standerd 1 (leuse: “My Beste / My Best”) en tot standerd 2 na die laerskool (leuse: “Nil nisi nitendo” (“Nothing without effort”). Daarna is hy en Wimpie na Gill Kollege op Somerset-Oos (leuse: “Sursum prorsusque” (“Opwaarts en voorwaarts”). Celetje sou ook later gaan.

As kinders was hulle altyd in die koshuis, en omdat Somerset-Oos nog 100 km verder van Cradock was, het hulle net elke tweede naweek en later een maal per maand huis toe gegaan. Uiteindelik was dit net een keer per kwartaal. Toast het skool geniet en ook die koshuis. Saterdae is gewoonlik met sport gevul, dan was daar verpligte kerk op Sondag. Tussendeur het hy baie gelees: “Die dorpsbiblioteek op Somerset-Oos was een van my gunstelingplekke. Ek het honderde en honderde boeke daar gelees, van Hardy Boys tot Ian Fleming en Wilbur Smith. Behalwe vir skoolopstelle het ek nie ’n dagboek gehou of gedigte geskryf nie, of enige sulke stuff tydens my skooljare nie. Ek het net gelees.”

Toast het egter reeds teen standerd 6 geweet dat hy ’n joernalis wou word. Hy was vroeg reeds redakteur van die skoolkoerant, Die Gisan, en was altyd die fotograaf of videokameraman by rugbywedstryde (hy het nie rugby gespeel op hoërskool nie; krieket was en is steeds sy gunsteling) en het ook skoolsportberigte vir die dorpskoerant, die Somerset Budget, geskryf.

Toast se Engels- en Afrikaans-onderwysers het ’n groot en goeie invloed op hom uitgeoefen tydens sy hoërskooljare: Mrs Van der Walt (Engels – hulle het al die Shakespeares kafgedraf en To kill a mockingbird was ’n hoogtepunt) en mnr Krynauw en mev Marais was puik Afrikaans-onderwysers. Afrikaans, Engels en geskiedenis was altyd sy beste vakke. Wiskunde en skeinat het hy verduur en amper gedop, maar biologie het hy ook van gehou. “Gill Kollege was (en is) ’n klein skool, maar ek dink ek was bevoorreg om ’n bo gemiddelde opvoeding daar te ontvang.” (aan LitNet)

Toast matrikuleer in 1995.

 Verdere studie en werk

Na skool is Toast na Rhodes Universiteit om joernalistiek te gaan studeer. Op daardie stadium was Rhodes die enigste universiteit wat ’n graadkursus in joernalistiek aangebied het. “Boonop het ek sommer net dadelik van Grahamstad gehou die eerste keer toe ek en my ma die universiteit gaan uitcheck het.”

Na vier jaar op Rhodes behaal hy in 1999 sy BJourn-graad, cum laude. Benewens joernalistiek en mediastudies is sy ander hoofvak Afrikaans en Nederlands. Tussendeur loop hy ook Engels I, Antropologie I en Geskiedenis I en II.

In 2000 en vroeg in 2001 bly Toast aan by Rhodes as assistent onder Monty Cooper in die Departement Fotojoernalistiek. Tydens sy jare op Grahamstad is hy betrokke by die universiteitskoerant,Activate, en by die radiostasie, Rhodes Music Radio (RMR). Vanaf sy eerste jaar doen hy ook vryskutwerk en probeer elke vakansie werk om ekstra ondervinding op te doen (van driepoot help dra vir SABC-TV se Mike Proctor-Simms tot middernagtelike ure sit en foto’s inskandeer vir die feeskoerant, Cue). “Hierdie ekstra werk, vryskutwerk, en dinge soos RMR was waar ek die meeste oor die mediabedryf, foto’s neem en skryf geleer het. My graad was waardevol, maar die ondervinding soveel meer.”

By Rhodes raak hy bevriend met Laugh It Off (LIO) se Justin Nurse, en dra ewe niksvermoedend by tot ’n hofsaak wat uiteindelik in die konstitusionele hof gaan draai het. Dié hof het ná baie jare ’n hooggeregshofbevinding omgekeer met die bevinding dat die bierreus SABMiller nie kon bewys dat LIO hul handelsmerk geskend het met sy “Black Labour White Guilt”-T-hemde nie.

Dit het alles begin in die ontwerp-ateljee van die joernalistiekdepartement, waar Justin, Toast, Jon (Savage) en Gil (Hockman) gestudeer het en die eerste van hierdie omstrede ontwerpe gekonseptualiseer is. Soos gewoonlik was Toast op die toneel toe die verwringing van die Carling Black Label-handelsmerk plaasgevind het. “Ek het toevallig daar verbygeloop, en toe wonder hulle wat sal ons nou hier insit, and it just came to me, en ek sê: ‘Black Labour, White Guilt’. Ek het nie gedink hulle sal daarvoor val nie, dit is nogal ’n ekstreme politieke stelling, maar dis dit; dis hoe die T-hemp gebeur het. Die hofsaak was eintlik my skuld. Dit was ’n nice groep. Baie van LIO se T-hemde was ’n groepspoging. Justin was egter die ou wat goed deurgevoer het en daarby gestaan het en hof toe gegaan het en gesuffer het. For my sins,” vertel hy aan Willemien Brümmer.

Op Rhodes word Toast ’n studente-legende. Hierop reageer hy: “Ja, Rhodes was ’n redelike mindf*ck. As jy op die platteland grootword, beteken dit nie noodwendig jy is afgesonder nie, maar tog. Ons het nie destyds internet gehad nie, en jy’t nie dieselfde blootstelling aan musiek nie. Iemand bring miskien ’n Nirvana tape aan, maar dis drie dae nadat Kurt Cobain homself doodgeskiet het.”

Tydens Toast se eerste jaar op universiteit het sy eerste kreatiewe skryfsels begin en sedert 1998, toe hy en Gilad Hockman (baskitaarspeler) en Jon Savage (klawerbordspeler) hulle band, The Buckfever Underground, gestig het, het die woorde uiting gekry assongs vir hulle random musiek. In sy kamer in die PJ Olivier-skoolkoshuis begin hy lirieke tik, en op Maandagaande neem hulle deel aan informele musiekmaaksessies in die studente-unie-gebou. Hulle wen niksvermoedend ’n kompetisie met die liedjie “Dink harder” en kry die geld om hul eerste CD op te neem en by hulle musiek-mekka, Oppikoppi, te speel.

Verskeie albums is oor die jare uitgereik: Jou medemens is dood(1998), Survival is personal (slegs CD-R, 2000), Teaching Afrikaans as a foreign language (2003), Trying to do something about this goddamn terrible bleak winter live (slegs CD-R, 2005), SAVES (2007) en Limbs gone batty – or The role of the anterior-posterior patterning signal, sonic hedgehog, in the development of the unique bat limb LIVE (2009).

In 2007 is hulle liedjie “Die volk (is in die k-)” van die debuutkortspeler Jou medemens is dood in ’n Nederlandse meningsopname as een van die honderd beste protesliedjies ter wêreld benoem. Die liedjie handel oor jong Suid-Afrikaners se ontnugtering in die Suid-Afrikaanse gemeenskap ná apartheid. Die bekende Belgiese sanger Stef Bos het die liedjie benoem. (Volksblad, 5 Oktober 2007)

In Toast se lirieke kry jy die seldsame kombinasie van iemand wat die idiome van die popkultuur ken, maar steeds met een voet op sy ouers se plaas staan. Hy vertel met heimwee van sy “idilliese bogrondse kinderdae” op die plaas buite Cradock – voordat hy ’n Underground-held geword het.

Tot op hede is daar nog nie ’n bundel van Toast se gedigte uitgegee nie, maar hy werk tans daaraan om die Buckfever-lirieke ordentlik te bundel. Tussendeur verskyn van sy gedigte in onder andere Nuwe stemme 2 (Tafelberg, 2001), Glass jars among trees (Jacana, 2003) en Groot verseboek, volume 3 (Tafelberg, 2009), asook in Blou Maandag (2011) en in tydskrifte soos Carapace en New Coin, op LitNet en in die eertydse Donga.

Kortverhale, essays en sosiale kommentaar is gepubliseer in Urban One (Spearhead, 2001), Sport vs Art (Wits University Press, 2010), Sonbrand en braaiboud (Tafelberg, 2009) en al die Laugh It Off Annuals.

Saam met Erns Grundling is Toast redakteur van die oudste Afrikaanse titel in die heelal, Ons Klyntji.

Toast het op Oujaarsaand 2002 in Suid-Korea aangeland om daar te gaan Engels gee, nadat hy op ’n whim besluit het om ’n pos daar te aanvaar nadat dit in sy skoot geval het. Hy was in 2002 baie arm en was effens gatvol daarvoor. In Januarie 2004 is hy terug na Suid-Afrika en was nie ’n oomblik spyt daaroor nie en het dit verskriklik geniet.

Op ’n diskoers tydens die Aardklop-fees in 2002 het ’n groep jongmense gepraat oor hulle passie vir Suid-Afrika en Afrikaans. Toast het toe gemeen dat die enigste argument waarby die jong Afrikaanse jeug betrokke moet raak, die taaldebat is, het Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 26 September) berig: “Afrikaanse mense het nie veel van ’n outentieke kultuur oor nie en Afrikaans is al waaraan ons kan vashou as relatief unieke kulturele gemene deler. Elke mens wat daagliks Afrikaans as spreektaal gebruik, is deel van die erosiebekampingsaksie en elke ouer wat sy kind in Afrikaans grootmaak, staan voor in die linies. Omdat ons in ’n multikulturele land woon, moet kinders minstens drie tale op basiese vlak magtig wees wanneer hulle die skool verlaat.”

Hy het ook gesê dat jongmense nie die tyd, geld of geduld het om op lang vergaderings aksieplanne vir die toekoms uit te werk nie. Die jonger generasie wil tyd hê om hulle te kan “uitfigure so met die tyd saam en wil nie voorgeskryf word oor wat om te voel, te dink of te doen nie. Dis hoekom ons rock ’n rollculture jamming, internet-hackers en retro fashion het. En as ons op die verkeerde pad is hier, mag die Here ons ankle-tap soos dit hom behaag. Elke probleem van die Afrikaanse jeug is die probleem van elke ander jong mens in Suid-Afrika. Dit is belangrik om die land se belangrikste probleme almal se probleme te maak.”

Ongeveer tussen 2004 en 2008 doen hy sy MA in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, en behaal dit cum laude. Die novelle wat hy tydens daardie tyd geskryf het, is in 2009 as Naweek by Tafelberg gepubliseer. Etienne van Heerden was sy promotor en die manuskrip se werkstitel was StormwaterslootNaweek was op die kortlys vir die UJ-debuutprys vir die beste skeppende werk in Afrikaans in 2010.

In Naweek neem Toast jou stappie vir stappie terug na Maanhaar Basson, ’n rockster, se einde. Die verhaal speel oor drie dae af, skryf Willemien Brümmer in Die Burger (18 Augustus 2009), “en snel onafwendbaar agteruit van die Sondag na die Vrydag. Daar is baie seks, dwelms en groupies, asook bloed en braaksel.”

Toast se woonstelmaat, Erns Grundling, het gesê: “Dit is die eerste eietydse roman in Afrikaans wat die leefwêreld en dilemmas van die sogenaamde MK-generasie tot op die been oopvlek.”

Willemien Brümmer skryf dat Toast en sy groep, The Buckfever Underground, ’n soort antitese is van Maanhaar en sy Drie Gewels wat in Naweek voorkom. Buckfever se gigs is van die bes bewaarde geheime en jy gaan lank soek vir ’n stage dive of ’n dansdeuntjie. Hul musiek is geïmproviseer en oefen is nie deel van hul repertoire nie. Eers wanneer hulle ’n sekere groove gevind het, laat Toast, A4-papiere in die hand, sy lirieke roggel, kabbel, priem en dreun, skryf Brümmer.

“Daarteenoor is die fiktiewe rockster Maanhaar supergewild, superfiks, supersexy. Jy koop nie sy albums vir die lirieke nie, en as die simbale ’n laaste triomfantlike keer geslaan het, is daar pilletjies te kus en te keur.”

Toast vertel aan Brümmer: “Ons band was nog nooit famous genoeg dat iemand vir ons ’n spieëltjie met kokaïen op aangebied het nie. Ek vrees die naaste wat ons aan dekadensie gekom het, wat toe ons een aand ons CD’s vir Black Labels verkoop het op Stellenbosch. Daai aand het ons agt CD’s verkoop teen vyf Black Labels per CD. Ons het veertig biere gehad, klaar oopgemaak.”

Hy ken egter die graffiti teen die mure uit jare se blootstelling aan die musiektoneel. “Ek dink dis obvious dat die boek nie outobiografies is nie. Vanselfsprekend weet ek ’n bietjie van bands ondat ek al tien jaar in een is op ’n baie low key-manier. Ek was ook ’n musiekjoernalis, so jy kry heelwat blootstelling by kunstefeeste of Oppikoppi.” Maar hoewel die naam Maanhaar afkomstig is van ’n Valiant-album (Maanhare), is sy hoofkarakter uit die duim gesuig. Tyd en plek is onspesifiek, en selfs die celebrity scene is nie soos ons dit ken nie.

Hy vertel verder: “In hierdie verhaal is dit moontlik vir ’n rock band met ’n ou soos Le Roux om die een voet in die tydskrif Heat te hê, maar terselfdertyd is hy een of ander konstabel se held. Dis nie Fokofpolisiekar of Valiant Swart of Kurt Darren nie. Dis iewers tussen die drie van hulle.”

Die kern van Naweek is die voorval wanneer Maanhaar en sy kamerade, onder die invloed van dwelms en drank, iemand doodry. Brümmer meen die vraag is hoe jy hierop reageer as jy die matelose bewondering van duisende bewonderaars het. Voeg hierby ’n paar dubbelsinnige sekstonele, en die resultaat is dikwels rou, brutaal. Soos Toast tereg opmerk, “nie regtig silwer-randjie-om-die-wolke tipe van stuff nie”.

Hy verduidelik: “’n Mens skryf seker maar oor goed waaroor jy baie dink. Soms is die grens tussen seks hê met iemand en iemand verkrag ’n baie dun lyn, selfs binne ’n verhouding. As die girlfriend nie lus is nie, maar jy is en jy het seks met haar – is dit verkragting?”

Oor hierdie opmerking het Toast die wind van voor gekry in die pers en het heelwat mense aan die koerant geskryf. In Beeld van 22 Augustus 2009 het Toast onvoorwaardelik om verskoning gevra daarvoor. Hy het geskryf dat toe hy dit later gelees het, dit hom ook ontstel het, want die vraag staan sonder antwoord. Die antwoord is sonder twyfel: “Ja, dit is verkragting.” “Ek wou in die onderhoud probeer verduidelik waarom ek oor verkragting geskryf het, maar het myself ongelukkig nie goed uitgedruk nie. Daar is geen ‘dun lyn’ wanneer dit kom by verkragting nie – dit is duidelik soos daglig vir die een wat verkrag word. Op ’n manier gaan Naweek oor die morele ontbinding van mense in ’n land wat Suid-Afrika kan wees, maar eintlik as enige land gelees kan word. Die verkragtingstonele, ’n moordtoneel en ander tonele van geweld staan sentraal tot die karakters se morele verval. […] Die verkragter in die storie word nie ge-glorify nie (hy pleeg selfmoord). Ek veroordeel verkragting ten sterkste en hoop die boek kan op ’n manier bydra tot die debatvoering rondom die situasies waarbinne dit plaasvind.”

Jaybee Roux skryf in Volksblad: “Maanhaar Basson is aantreklik, fiks, intelligent, gewild en kan waaragtig sing ook. Hy is oorgelewer aan die waansin wat roem en rykdom bring, ’n gevoel van onaantasbaarheid. Naweek is nie morbied nie, maar dit is ’n boek oor die donker kant van die lewe, die gekheid van jonkwees. Oor hoe een onvoorsiene oomblik die hel kan loslaat. Die verhaal skop af met die slot: ’n koerantberig met ’n dramatiese aankondiging. Daarna volg ’n vertelling van wat op Sondag gebeur het. Saterdag en Vrydag volg later.

“Om ’n storie agterstevoor te vertel is geen nuwigheid nie, maar selfs ervare romansiers sal sukkel om sulke literêre gimnastiek te laat werk. Hoe boei jy lesers deur by die einde weg te spring en agteruit te loop? Juis deur ’n verhaal te maak van wat ná die dramatiese hoogtepunt gebeur: Die afloop ís die storie. En deur weg te spring met die klimaks sodat dit tóg teen die einde eers aangebied word.

“Dis nie net die strukturele eskapades wat Naweek besonders maak nie. Dis goeie, boeiende prosa. (...) Coetzer se beeldende vermoë is byna magies. (...) Die skrywer ervaar (so half ongemerk) begrip en deernis met sy karakters en wek dit ook by sy lesers op: Maanhaar het byvoorbeeld dalk bloot te gou te suksesvol geraak; die noodlot kan hom nog sy ware, goeie self laat ontdek. Of is die teenoorgestelde aan die gebeur?

Naweek is ontstellend oortuigend, en hoogs intelligent, ’n ‘harde’ boek met subtiliteit wat ragfyn tussen die intrige deur gespin is. As debuutromans ’n genre op sy eie is, beïndruk Naweek ver buite die grense van die genre.”

Deborah Steinmair (Die Burger, 7 September 2009)  beskryf Naweek as baie grafies en visueel, soos ’n mens van Coetzer sal verwag. “Hy is ’n meester van ritme. Dit is elegant verwoord en nael jou vas soos ’n ongelukstoneel. (...) Dis ’n boek wat jou hartklop opjaag soos die gebroke anapestiese ritme van rock.” Maar Maanhaar bly vir haar ’n kartonuitknipsel van ’n rock-ster, ’n plakkaat, ’n lyntekening.

  • Theunis Engelbrecht (Rapport, 6 September 2009) meen dat dit harde werklikheid is wat hier beskryf word, en dat Coetzer dit op ’n bykans kliniese, hardegat manier doen wat die impak daarvan nog meer skop gee. “Die manier waarop hy beklemmende voorstedelike en stedelike ruimtes beskryf, is ook uitstekend. Dit is verblydend dat daar uiteindelik ’n boek van Coetzer – al lank een van die belowendste Afrikaanse skrywers – verskyn.”

Andries Bezuidenhout (Rapport, 6 September 2009) beskryf Naweek as ’n baldadige boek vol rock ’n roll, besope jaagtogte en wilde seks op dwelms. “Onder die oënskynlike warboel vind ’n mens egter Toast Coetzer se vlymskerp waarnemingsvermoë en sê die boek baie oor die samelewing waarin ons woon. Ontstellend baie. (...) In ware Toast Coetzer-styl is die boek uitstekend geskryf. Sy beskrywings van eenvoudige dinge soos outomatiese deure is aweregs en die dialoog is oortuigend. Dis moeilik om afstootlike karakters te skep, maar steeds die leser se aandag te hou. Ook dit kry hy reg. (...) Naweek is ’n uitstekende verkenning van die morele moeras van ignorance. Dit wys hoe naby ons ontvlugtingskultuur aan moord en verkragting lê. Ek is seker dit sal wyd gelees word, maar ek hoop dat mense dieper as net bloot die grafiese beskrywings van geweld, dwelms en seks sal lees. Daar is soveel meer aan die storie as slegs dít.”

Op LitNet skryf Izak de Vries: “Toast Coetzer is onse Hemingway. (Ek was nog altyd jaloers op Toast.) Hy is ’n musieklegende (wie’t nog nie van The Buckfever Underground gehoor nie?), hy’s ’n fotograaf van formaat, hy’s ’n goeie joernalis. Hy reis. Wat meer is, na al die jare in die joernalistiek weet ons almal: Toast Coetzer kan skryf.

“Op die voorblad staan net: ‘Toast’. G’n niks Coetzer nie. Net sy bynaam. Dis hoe bekend hierdie knaap is. (Op die rugkant verskyn sy van wel.) Mý vraag dus, toe ek met boek in die hand sit, was: Hoe gaan Toast skryf sonder om in die tradisie te verval? Ek het verwag dat dit nie ’n clichématige roman sou wees nie. Daar is net té veel van ’n rebel in Toast.

“En toe doen hy dit wél: hy gryp van die bekendste tekste in ons letterkunde, absorbeer hulle en verwerk hulle. Hy verbreek dus nie die tradisie nie, hy herskryf dit. Dit is tekenend dat Henk, ’n joernalis, op bladsy 146 aan Le Roux, die hoofkarakter sê: ‘Jy’s ’n cliché. (...) ’n Rock and roll-cliché.’ Die oorsprong van die woord cliché is ’n Franse onomatopee, clicher, wat die klank naboots wanneer ’n stereotiep in die gesmelte lood val om letters voor te berei vir die drukpers.

“Coetzer gebruik ander tekste om die bakens van sy eie roman daar te stel. Deur die clichés openlik te betrek, ondergrawe hy hulle bewustelik. Tog lees die teks soos riller. Dit is geensins ’n swaarmoedige stuk letterkunde nie.

“Die roman is ook nie ’n metateks nie, maar onder die oppervlak is die spanning tussen teks en interteks so duidelik dat ’n mens dit maklik optel.” De Vries gaan dan voort om die intertekste te noem. Hy sluit af: “Naweek is geensins spookasemleesstof nie, maar as jy hou van sterk koffie en donker sjokolade, dan is dít waaraan hierdie boek my herinner: dis bitter, maar lekker.” 

Benewens Naweek het ’n gidsboek, Key to Cape Town, waaraan Toast saam met Samantha Reinders gewerk het, in 2009 by Sunbird verskyn, en ’n fotoboek, South Africa – A visual tour through its regions, met Samantha Reinders se foto’s en Toast se teks, ook by Sunbird in 2010.

In 2017 is Toast benoem vir ’n ATKV-Mediaveertjie (kategorie beste sportartikel) vir sy artikel “Op sommige Saterdae” wat in Weg verskyn het. Hy en Erns Grundling was ook finaliste vir ’n ATKV-Mediaveertjie (2017) vir die beste vermaaklikheidsprogram, Weg! Agterpaaie! wat op die TV-kanaal Via gebeeldsend is.

Toast werk sedert 2006 by die twee reistydskrifte Go! en Weg!. Bun Booyens, destydse redakteur van die tydskrifte, vertel dat Toast ’n ongewone uitkyk op dinge het en ook ’n ongewone manier van skryf (Die Burger, 18 Augustus 2009).

“Maar wat hom veral besonders – outentiek – maak, is dat hierdie andersheid geënt is op goeie, ouwêreldse maniere. Hy is immer hoflik, altyd gewillig om te help. Op sy lessenaar is daar ’n Tupperware-houer met sy ma se beskuit (en sy regte naam, Reino, daarop) waar enigiemand op kantoor hulself kan gaan help.” Booyens vertel ook dat Toast ’n perfeksionis is, maar dit nie sommer sal erken nie. Hy noem Toast ook die Jacques Kallis van die joernalistiek – “een van die bitter min joernaliste wat ewe goed is met skryf en fotografie. En dan skryf hy nog goed idiomaties in Afrikaans en Engels ook.”

Sy werk by die tydskrif is Toast se eerste voltydse posisie sedert sy vryskutjare. “Ek wou nooit eintlik ’n nine to five-werk doen nie, want ek het my vryskutwerk baie geniet. Maar hierdie posisie was die eerste wat ek regtig wou hê. Ek’s nooit verveeld by die werk nie, en elke trip waarop ek gaan, is interessant. Ek like dit nog elke keer om in die kar te klim en uit die stad te ry, of mense te ontmoet, of ’n dorp te ontdek, of ’n pas te verken of iewers te gaan stap.”

En die reise werk ook voordelig in op sy kreatiewe sy, want dit skep dieselfde atmosfeer as ’n solorit deur die Karoo. “Bestuur is vir my ’n baie meditative state of mind. Dis baie ontspannend en jou gedagtes kry vrye teuels. Jy dink nou en dan aan goed wat jy sien, maar partykeer gaan jou gedagtes net dié kant toe en daai kant toe. Partykeer luister ek na musiek, en ’n line of twee van jou eie pas in op dit wat jy op die CD hoor, en partykeer skryf ek sulke goed sommer in die ry neer en dit word dalk later deel van ’n song.”

Toast het ’n passie vir krieket en hy vertel aan Willemien Brümmer dat as dit nie vir hom was nie, was Jacques Kallis dalk nooit in die Proteaspan nie. “I made him.” Op skool het hy vir Somerset-Oos se koerant, die Somerset Budget, krieketverslae geskryf. “In die somer van 1995, my matriekjaar, het Jacques graafskapskrieket gespeel. Hy was min of meer so oud soos ek, en ek kon net sien hy is ’n ster. Daar en dan het ek ’n brief aan die tydskrif Sports Illustratedgeskryf met die strekking dat Jacques Kallis die antwoord is vir die Proteaspan. Ek het geskryf ons moet hom nóú kies, dis sy somer.” Toast is baie trots hierop, asof dit sy grootste prestasie is, skryf Brümmer. Veel groter as dieband, die boeke, die gedigte. “My brief was die wenbrief. Ek het ’n T-hemp gewen en sure enough, onmiddellik daarna is Jacques Kallis vir die Proteaspan gekies!”

Toast het darem krieket vir Rhodes se tweede span gespeel, en op ’n vraag waar hy homself in die toekoms sien, antwoord hy: “Ideaal gesproke sou dit lekker gewees het om vir Suid-Afrika krieket te speel. Twee of drie games, ’n lekker catch vang, vir Ricky Ponting uitboul. Maar ek gaan dit nie maak nie. Ek is nie fiks genoeg nie; my skouer is nie meer so sterk nie.”

Sy tweede keuse? Om nog ’n boek te skryf, maar nie noodwendig iets soortgelyk aan Naweek nie. “Volgende keer mag ’n mens dalk mik vir die Oprah Book Club,” sê hy met ’n grinnik. “Ek het nou die aand ’n droom gehad van presies hoe ek dit gaan doen, maar toe ek dit vir my girlfriend vertel, was sy minder oorstelp as ek toe ek wakker word met hierdie eureka-idee.”

Toast vertel aan Pieter Redelinghuys (Die Burger, 16 Julie 2005) dat hy dit as ’n kompliment beskou as mense sy lirieke as digkuns sien. “Vir my is dit maar net gedagtes wat ek neerskryf, soms soos dit opkom in my kop, soms soos dit gebore word uit een woord of frase wat ek iewers op ’n till slip neergeskryf het.”

Of ’n mens Buckfever se musiek as beat poetry kan beskryf? Toast meen dat die hele beat poetry-ding net ’n term vir mense is wat nie proper poetry kan skryf nie. “Ek het beat poets begin lees lank ná ek lirieke begin skryf het. Basies lees ek my skryfwerk voor, terwyl die groep musiek rondom dit skep. Daar is nie rigiede riglyne vir die tunes nie, elke musikant interpreteer die woorde soos dit hom pas en ek lees soms drie vier bladsye (van verskillende lirieke) voor ’n song klaar is.” Dit is in ’n mate georganiseerde chaos, maar daar is struktuur. “Die woorde en musiek werk op verskillende vlakke, elkeen met sy eie vibe, maar vind mekaar in die proses.” (Die Burger, 16 Julie 2005)

Op ’n vraag oor hoe sy tyd tussen skryf en fotografie deel, antwoord Toast: “Hulle kom meestal saam, maar soms apart, afhangende van die assignments wat ek kry, waarvoor ek lus voel of watter okkasie dit ook al is. Ek sou reken oor die afgelope drie jaar skeep ek my fotografie baie af ten koste van skryfwerk. Hopelik sal dit eendag ook verander. Fotografie op sy eie is al waarvoor ek soms lus voel. Alles moet op vakansie gaan, ook skryf. Eendag wil ek net graphic novels teken, wanneer ek mooi kan teken en in die tronk sit en dus ook die tyd het.” (Die Burger, 16 Julie 2005)

Annie Klopper vra op LitNet vir Toast uit oor die wisselwerking tussen musiek en lirieke, of die regte musiek lirieke goed maak, of musiek goeie lirieke benodig om dit suksesvol te maak. Toast voel dat ’n puik tune nie altyd die beste liriek nodig het nie, want jy kan met moord (veral radiomoord) wegkom as die melodie sterk genoeg is. “Baie Beatles songs het maar simpel lirieke, maar dit maak nie van hulle slegte songs nie. Simpel liedjies is ook pret (’n album soos The Flaming Lips se Soft Bulletin slaag daarin om beide diep emosioneel en lekker laf te wees, met iets soos spinnekopbyte aan die drummer wat tot iets heel heiligs verhef word). Ek dink soms wil mense te ernstig raak oor lirieke, en dan verval hulle in clichés of in geforseerde angst of existential crises wat net eenvoudig nie bestaan nie. Dit is veel beter om rond te neuk soos Butthole Surfers (sien die album Locust Abortion Technician, of enigiets van Ween) as om drek soos Nickelback uit te druk (soos puis op die gespuis – wyk, Satan!). Probeer jou werklikheid beskryf in jou liedjies, selfs al gaan dit dan nou oor jou vuil wasgoed (het gewerk vir Shakira) en hoe kak sigoreikoffie smaak. Met lewenservaring sal daar wel meer en meer stof vir sterk lirieke kom. Afhangend van die tipe musiek wat jy wil maak, sal die lirieke ook beïnvloed word. Dis ’n heel ander manier van dinge doen as jy rhymes vir ’n hip hop song skryf, net soos ’n dance track anders is en ’n pure pop classic soos Britney Spears se allemintige “Toxic” iets anders vereis. Wat dance tracks betref, iets soos Brother Brown se classic “Under The Water” lees op papier dalk simpel, maar vind dit jou oor en lyf in ’n klub iewers, is dit pure poetry van ’n ander kleur en geur (veral die Deep Dish remix). ’n Betowerende stem alleen (soos Bjork s’n), kan gemiddelde lirieke tot kuns verhef. Selfs instrumentele tracks, soos Benguela se hele oeuvre of Aim se onoortreflike snit “Cold Water Music”, praat op onsigbare wyse in woorde. Woorde is nie alles in die lewe nie. Driekwart van musiek se magic gebeur in jou kop, waar jy dinge vir jouself uitpluis, interpreteer, projekteer.”

Oor sy liefde vir reis laat Toast hom as volg uit: “Ek reis omdat dit lekker is. Natuurlik behels my werk deesdae dat ek gereeld reis, so dis ’n voorreg om so dikwels iewers op pad heen te wees. Die meeste mense kry nooit die geleentheid om na enige plek te gaan vir ontspanning nie; selfs dié wat geld het, het dalk net twee weke per jaar waarin hulle verlof kan vat en hul gesinne iewers heen kan neem om vakansie te hou.

“Wanneer ek reis, veral wanneer ek dit vir WEG of Go! doen, beskou ek dit as my verantwoordelikheid om nie die geleentheid te vermors nie, om on behalf of others te travel, te ervaar, te sien en dit dan op ’n toeganklike manier te probeer weergee in die tydskrif, sodat al die mense wat nooit iewers heen kan gaan nie hulself kan verbeel hulle was ook daar, of dat iemand wat hulle ‘ken’ daar was en dit gesien het.

“Ek probeer myself afvra: Wat sou my pa gedoen het as hy nou hier in Reitz was? Waarin sou hy belang gestel het? Sou hy wou gaan voëltjies kyk iewers, of sou hy in die plaaslike staalwerke wil gaan kyk hoe maak iemand skroppe en skrapers en voorbrandmasjiene? Dan gaan kyk ek voël­tjies én gaan kyk na die staalwerke.”

Publikasies:

Publikasie

Naweek

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047599 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Toast Coetzer as vertaler

  • Schorr, Milton: Vreemde vis. Kaapstad: Pilgrim’s Press Books, 2022 [ISBN 9780620993951 (sb)]
  • Breytenbach, Kerneels: “Vreemde vis” se pêrels moet nog goed gepoleer word. Netwerk24, 4 Julie 2022
  • Coetzer, Toast: Toast Coetzer gesels oor Vreemde vis
  • Vorster, Adele: “Vreemde vis” slaan plek-plek mis. Rapport, 7 Augustus 2022

Artikels oor Toast Coetzer

Artikels deur Toast Coetzer

Toast Coetze se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-09-07 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top