Uitnodiging | Tom Dreyer en Toast Coetzer: In my droom ry jy oor ’n rooi robot – Valentynsdag by die NALN

  • 0

Tom Dreyer en Toast Coetzer: In my droom ry jy oor ’n rooi robot | Valentynsdag by NALN

Tom Dreyer en Toast Coetzer het albei ’n liefde vir reis, asook ’n liefde vir ... nou ja ... die liefde. Met hierdie geleentheid bring hulle dié passies bymekaar. Hulle sal die gehoor bederf met gedigte en stories oor die oopsee of die langpad en oor die insigte en ervarings wat oor ’n mens se weg kom. Maar in die gees van Valentynsdag, sal die liefde nie agterweë bly nie en ons sal hoor van bote in die nag, van hawens in ’n storm en uiteindelik van lieflike mooiweersdae waarin ’n mens amper nie kan glo dat onweer weer in die verte sal dreig nie. Gedigte, reis en liefde is al drie ’n ekspedisie na die onbekende. Kom reis saam met Toast en Tom. 

Oor Tom Dreyer se nuwe publikasie(s):

Ná vier romans en ander prosa het Tom Dreyer se debuutdigbundel, Nou in infrarooi, in Junie 2023 by Kwela verskyn. Die bundel is besonder goed ontvang en is reeds in herdruk. Charl-Pierre Naude beskryf dit as ’n “een van die verrassendste en prikkelendste kragtoere in die geskiedenis van die Afrikaanse digkunsdebuut”. Fanie Oliver noem dit “miskien die indrukwekkendste debuut van die afgelope dekade of twee.”

Oor Toast sʼn:

Toast Coetzer is die voorsanger van die spoken word-groep The Buckfever Underground, wat al sedert 1998 geraas maak. Hulle het al verskeie albums vrygestel, waaronder die mees onlangses Voortvlugtend (2022), Satelliet (2021) en The Last Days of Beautiful (2019) is. Sy liriekboek vir The Last Days of Beautiful (Engels en Afrikaans) sal te koop wees teen R100 elk by die vertoning.

Toast is ook mede-redakteur van die ondergrondse zine Ons Klyntji (waarin Tom ook gereeld publiseer). Ons Klyntji verskyn jaarliks en publiseer oa gedigte, kortverhale, fotografie en kuns. Onlangse uitgawes van Ons Klyntji sal te koop wees teen R50 elk by die vertoning.

Kom vier Valentynsdag by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum. Toegang is gratis.



Dié geleenthede vorm deel van die NALN 50-feesjaar. Op 24 Maart 2024 is die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum reeds 51 jaar oud. Die feesnaweek se kennisgewings volg later:

Hannes Visser gesels oor sy misdaadroman Voorblad Naledi) met Igno van Niekerk op 15 Februarie 2024 om 18:00.) RSVP: annelien.naln@gmail.com

Op Saterdagoggend 17 Februarie 2024 geld die Halfeeu, halfprys-aanbod in Vriende van NALN se ondergrondse Boekemark in die Ketelkelder 08:30–12:00.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top