Tietie en Nanna se huiskos deur Najma Abrahams en Azba Fanie: ’n resensie

  • 0

Titel: Tietie en Nanna se huiskos
Skrywers: Najma Abrahams, Azba Fanie
Uitgewer: Human & Rousseau (Oktober 2024)
ISBN: 9780798184779

Kom ons besin oor tannies, stammoeders en die teenpool van caviar. Voor ons daarby uitkom, moet ek egter net noem: Hierdie is ’n boekresensie. En ’n goeie resensie sal verwys na soortgelyke boeke in dieselfde genre, om ’n vergelyking te tref. ’n Goeie vergelyking is Kaap, kerrie & koesisters, deur die tweelingsusters Fatima en Gadija.

Albei kookboeke vertel bietjie van ’n lewensreis, en dit is ’n goeie idee. Die meeste mense sal eers in latere jare in hul voorouers begin belangstel. Kleintyd eet ons heerlik aan ouma se melktert, beskuit en bredies, maar eers later wonder ons oor waar ouma orals op skool was sonder dat ons ooit die antwoorde kry, en haar opinies oor sekere lewenswaarhede is ook die niet in. Behalwe as stammoeders ook hou van skryf! Oumas en tannies wat hul gedagtes op skrif stel, doen ons die guns om met hul lesse, wyshede en insig die lewe aan te pak. ’n Kennis vertel my nou die dag van ’n jong vrou wat graag boerekos vir haar man wou voorsit, pas na hul troudag. Rys, vleis en aartappels. Toe sy die been- (skenkel-) gedeelte van die lamsboud by die slagtery laat afsny, vra die nuwe eggenoot haar hoekom sy so maak. “Haar ma maak so,” was haar antwoord. “Maar hoekom?” vra hy. En so vra die jong vrou haar ma, wat erken dat haar eie ma so gemaak het en sy het geen benul hoekom nie. Toe ouma ook nie weet hoekom sy juis so maak nie, het die familie vir oumagrootjie geraadpleeg. Oumagrootjie, wat al in die ouetehuis woon, het vir hulle gelag. “Aai, maak julle almal nog heeltyd so, bloot omdat ek so gemaak het?! Daar is geen geheim daaraan nie. Dit is bloot omdat my pot te klein was.”

En so kan geheime ook misleidend wees. My eie oumas en tannie het talle resepte met my gedeel – ek dink aan hertzoggies en Jan Smuts-koekies en flapjacks, maar die tannies in hierdie boek is my familie vooruit, want hulle is immers op TikTok en Instagram, goed waarvan my ouma Maria nie eers sou kon droom nie.

Handelswinkels op Darling en Wellington (foto’s: verskaf)

Indien jy nie Moslem is nie, is daar insigte in hierdie boek. Dalk weet jy nog nie wat jeera is nie (dis komyn) en dalk het jy nog nie Tietie en Nanna se video’s beleef nie, en dalk weet jy nog nie wat Bismillah beteken nie … As jy deur klein dorpies ry, soos Darling en Wellington, sal jy dalk sien dat ’n algemene handelswinkel ook hierdie woord gebruik as handelsmerk. Dit is die Moslem-manier om hul respek en dank aan Allah te toon, want dit beteken letterlik “in die naam van Allah”; dit is wat mens sal sê voor jy eet en ook as jy ’n taak aanpak of die huis verlaat op reis. As jy Christen is, dan is dit seker iets soos “Gods seën”.

........
Hierdie kookboek skep ’n spasie vir kultuurwaardering. 
........

Hierdie kookboek skep dus ’n spasie vir kultuurwaardering. Op hul video’s kom ek agter dat Suid-Afrikaners dwarsoor die aardbol bly is om hierdie resepte te ontdek. Wat ook lekker is, is dat die taalgebruik, veral in hul video’s, natuurlik is. Daar is ’n resep vir skons. (’n Baie goeie resep, mind you!) Al gee die HAT botterbroodjies aan as die korrekte vertaling van die Engelse scones, skryf niemand van botterbroodjies nie, nie eers die Huisgenoot se Wenresepte nie. Ons is almal heeltemal happy met die feit dat die Engelse ons beïnvloed het.

Frikkadelle vars uit die pan (foto: verskaf)

Net so eg Suid-Afrikaans is die frikkadelresep (’n fantastiese, maklike en nuttige resep). Die woord frikkadel is nie net Afrikaans nie maar Suid-Afrikaans, taamlik bekend in huishoudings waar Engels en isiXhosa gepraat word, volgens my baie lukrake steekproef: Een van my eg Engelse kollegas, Alison Gwynne-Evans, wat hoof is van die Wes-Kaapse tak van die South African Council of English Educators, sê dat die woord meatballs vir haar te oninteressant klink; sy sal die woord dus nooit gebruik nie. Haar ma sal dalk die Engelse woord gebruik. My isiXhosa vriend Luxolo wat in Kaapstad sy laaste jaar van studies in 2025 aanpak, meen dat frikkadels die woord is wat hy ook sou gebruik, omdat ’n meat patty dunner is en omdat daar in isiXhosa nie ’n gepaste woord is nie. Hy sou ook nie meatballs gebruik nie.

Tietie en Nanna se frikkadelle is nommerpas: Effe meer as wat mens verwag en beslis nie minder nie. Ons wil immers nie te uitheems raak met ’n frikkadel nie. My raad: Bedien saam met Mrs Ball’s se jalapeno-blatjang en daar gaat jy – almal is gelukkig! Ek het hul resep gehalveer en steeds 21 frikkadelle daaruit gekry. Beslis ’n resep wat ek weer sal maak. Kinders wil altyd peusel en dit is immers veel gesonder om hulle ’n frikkadel met ’n cheddarkaasvulsel te gee as ’n homp witbrood of enigiets uit ’n pakkie uit.

........
Dit is een van my kritiekpunte. Die boek is nie vir beginners nie.
........

Die dis mavrou moes ek probeer, omdat dit grênd smake bevat (blaarmasala onder andere). Dit word glo gewoonlik by ’n troue aangebied en word gewoonlik met beesvleis voorberei. Tietie en Nanna gebruik lamsvleis. Ek moet erken dat ek nie op dié dag baie lamsvleis in die yskas gehad het nie. Die resep het nie besonderhede oor die tipe snit van vleis nie, maar as mens kyk na hul video’s, sou ek raai die tannies gebruik kruisstuk- (chump-) braaitjoppie. Met ander woorde, ’n duurder snit. Interessant genoeg het Fatima en Gadija se resepteboek ook nie ’n aanduiding van watter snit beesvleis gebruik moet word nie. Heel moontlik A-Graad brisket. Wat is dit met uitgewers!? Hulle moet mos die tannies vra watter snit vleis dit is voor hul die resep druk, want iemand wat nie weet van kosmaak nie, kan ’n gemors maak met die verkeerde snit vleis. Dit is een van my kritiekpunte. Die boek is nie vir beginners nie.

Mavrou met speserye (foto: verskaf)

Ek het ’n lamskenkel gebruik en het dus die kooktyd aangepas om vier uur lank in ’n tandoori Le Creusset-pot te kook. ’n Vriendin van my, tannie Gwen Thõle in die Paarl, het vir my roti’s gemaak om daarmee te eet. Haar roti’s is tog altyd die lekkerste. Ek het ook ’n salsaslaai gemaak met vars pynappel, kruisementblare, komkommer en rooi ui, Griekse volroomjoghurt en gekookte beet, koud voorgesit. Dit is ’n goeie kerrieresep, kompleks en heilsaam.

........
Oppas om jou gaste te sê dis ’n melktert. Dit is glad nie ’n melktert volgens algemene tuisnywerheidstandaarde nie, maar eerder ’n vlatert.
........

Tietie en Nanna se melktert is glad nie ’n melktert volgens algemene tuisnywerheidstandaarde nie, maar eerder ’n vlatert. (Foto: verskaf)

Die resep wat ek baie geniet het, is die melktert. Dit het die heerlikste kors en die vulsel is lig. Die kors brand effe donker, maar jy kan die tert met foelie bedek teen die einde van die baktyd om te keer dat dit te erg brand. Maar wat van die naam? Oppas om jou gaste te sê dis ’n melktert. Dit is glad nie ’n melktert volgens algemene tuisnywerheidstandaarde nie, maar eerder ’n vlatert. Met die eerste happie was ek verbouereerd. Ek het agt mense gevra om dit saam met my te proe. Ja, almal het saamgestem: Dit is te lig om ’n melktert te wees. Die beste kommentaar uit hierdie “paneel vriende” is dat die vulsel eerder soos ’n flambi-nagereg se tekstuur is. (Daardie karamelnagereg wat jy uitdruk op die bord.) Die resep het nie aangedui of dit warm of koud aangebied moet word nie. Al is dit lekker teen kamertemperatuur, is dit lekkerder afgekoel en ’n paar uur lank in die yskas gehou. Dit proe bloot te veel soos eiers direk uit die oond uit. Dit is soet en dus baie heerlik saam met ’n teetjie of selfs met ’n ryp keiappel as jy dalk so ’n boom in jou tuin het. Vir tee gebruik ek ’n mengsel van kaneel-en-gemmertee (Woolies het sulke tea infusions).

Tietie en Nanna se melktert: Al is dit lekker teen kamertemperatuur, is dit lekkerder afgekoel en ’n paar uur lank in die yskas gehou. (Foto: verskaf)

Die hoendernekke en splitpea- (ertjie-) sop was vir my vreemd. Ek kon nie agterkom wat die doel is om die nekke te braai nie. Dalk het ek dit nie donker genoeg gebraai nie. Ek is dol oor ’n hoendernekkie saam met ’n heel gebraaide hoender, maar om ’n pot vol hoendernekkies saam te braai was vir my bloot te vreemd, en my familie wou dit ook nie eet nie. Ek het toe maar die hele werf hoenders uit die gaar sop uitgevis en aan my huishulp aangebied. Dit het my half simpel laat voel, want die plesier van hierdie kookboek is juis die feit dat baie van die resepte so bekostigbaar is. (Ek is byvoorbeeld dol oor hul idee van ’n gebraaide eier en rys vir aandete.) Nou wat van die hoendernekke? Ek sou eintlik eerder ’n tuisgemaakte potaftreksel maak van die nekkies om die sop mee te maak. Die sop vra immers oor die 3 l water. (Die resep dui nie aan hoeveel water nie, wat ook vir my ’n leemte is.) Was dit lekker? Op die ou end, ja! Ek het die sop met fyn biltong en gremolata voorgesit (‘n Italiaanse geurmiddel gemaak van fyngekapte suurlemoenskil, pietersielie en knoffel, wat dikwels saam met beesskenkel bedien word), en dit was heerlik! Dit was ook ’n goeie idee om ekstra seldery in olyfolie te braai om bo-oor te strooi met opdiening. En ons het oondgebraaide eiervrug ook bygegooi. Dit was voortreflik.

Hoendernekke- en ertjiesop (foto: verskaf)

Die ander interessante eksperiment was die brood. My eerste probeerslag was volgens my ’n flop. Die brood het geurig gesmaak, maar die tekstuur het nie aangedui dat die brood heeltemal deurgebak is nie. Dit was onder kluitjierig. Ek het die resep toe oorgemaak om die bestanddele bietjie aan te pas (ook sonder die vulsel van kaas, kruie en uie, want kaas is duur). Ek het beide kere helfte van die resep gemaak en het 90 ml minder van die vloeistof benodig. Ek het ook die brood veel langer laat rys. In stede van bloot 20 minute, het ek dit 45 minute laat staan. Toe dit in die oondpan kom, het ek dit ’n goeie 20 minute of meer laat staan. Toe dit met die tweede probeerslag uit die oond uit kom, was dit smullekker. Ons het dit genuttig met botter, prosciutto en olywe. My man reken ’n 9 uit 10. Teen die volgende dag was dit ’n 8 uit 10 (volgens my huishulp) en ’n 5 uit 10 (volgens my seun). Ek sal dit weer bak en sorg dat ek dit varsgebak en warm aanbied by ’n braai.

Nanna se savoury brood – eerste probeerslag (foto: verskaf)

Nanna se savoury brood – tweede probeerslag (foto: verskaf)

Die skons was steeds die lekkerste resep. Skons is natuurlik ook die heel beste vars uit die oond. Ek het dit saam met ’n konfyt voorgesit wat regtig heerlik is: Die korreltjies bars in die mond, nes caviar, maar verleidelik soet. Dit is glo ’n bessie wat in KwaZulu-Natal groei, die nastergal. Sjoe! Dit is die eerste keer dat ek nastergalkonfyt proe en dit was puik by die skons. Dankie aan Spice Route buite die Paarl wat hierdie produk op die rak sit. By die foto van die skons was ek egter jammer dat die kosstilis die skons met ’n mes gesny het. ’n Goeie skon breek mens in die helfte waar dit van nature ’n lyn vorm. ’n Mes is te indringerig.

Skons vars uit die oond (foto: verskaf)

Verder het die boek baie resepte waarvan mens al gehoor het of selfs gemaak het en wat nostalgie wek. Soos pepermenttert! Almal maak dit effe anders, maar indien jy dit nog nie gemaak het nie, het jy nou die resep byderhand! Ek moet bieg – ek het gesukkel om Orley-whip en margarien te gebruik, wat die tannies in hul resepte gebruik … vir my voel sulke bestanddele soos goed uit die tagtigerjare. Ek gebruik liewer vars room en botter. Maar met hul bestanddele is ek ook tevrede, want wie sê dat my manier juis korrek is. Dis als bloot opinie en smaak.

’n Oulike resepteboek. Mens kom ook agter dat die stilis hard gewerk het aan die foto’s.

Ek gee hierdie kookboek maklik weg as geskenk, want dit is propvol waarheid en boonop ’n besprekingspunt. Ek het my niggies gekontak om seker te maak – hoe het ons eie ouma melktert gemaak? Dit was gerusstellend om agter te kom dat hul die resep ook in hul koppe het. Een van ons moet dit nou net neerskryf.

Koop gerus hierdie boek.

Lees ook:

Kaap, kerrie en koesisters deur Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien: ’n resensie

One pot cookbook for South Africans deur Louisa Holst: ’n resensie

My big fat Greek taverna: From diplomacy to ouzo by Costa Ayiotis: a book review

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top