Titel: One pot cookbook for South Africans
Skrywer: Louisa Holst
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184335
Kinders en koek gaan goed saam – soms te goed.
Met vyf kinders in die huis kan mens nie jou rug draai nie. Almal wil heeltyd eet en bakke lek. Vier uit die vyf kinders is egter hondekinders. Op die middag toe ek hierdie resepteboek op die proef stel, het ons mees onlangse familielid, ’n teef van twee jaar oud met die naam Penny (deur die DBV vir haar gegee), blitsvinnig ’n helfte van die varsgebakte sjokoladekoek opgeëet toe ek vir ’n oomblik spens toe gewandel het.
Help dit om sulke stout gedrag te temper? Ja. Maar kwaai wees is van korte duur, want mens moet maar red wat te redde is. Ek het die uitgehapte deel afgesny en die orige koek toe met fudge, kersies en moerbeie voorgesit. Die resep het koffiekaramel aanbeveel, maar vir ’n halwe koek wou ek nie ’n vol blikkie karamel oopmaak nie.

Gestoomde sjokoladekoek uit Louisa Holst se One pot cookbook (foto: Elsibé Loubser McGuffog)
Kom ons praat eers oor die resep vir hierdie smullekker koek. Die resep dui aan dat dit ’n beslag is wat mens moet stoom. Ek het al van gestoomde poeding gehoor, maar ek het nog nooit ’n koek op hierdie manier gaar gemaak nie. Werk dit? Ja, dit werk inderdaad! (Wenk: Moenie skroom om jou plaat of gas op die laagste hitte te stel nie. En hou by die tyd wat die resep aandui.) Die resep is op bladsy 130 en benodig alledaagse bestanddele. Hierdie boek is immers vir Jan Publiek geskep en ’n middelklas Suid-Afrikaanse huishouding sal gewoonlik hê wat benodig word. Ongelukkig is daar geen kitskoffie in my huis nie. Ek het dit dus met Drambuie vervang. Al wat ek verder aan die resep sou verander, is om ’n knippie sout by te sit. Die koek het vir my lekkerder gesmaak na ’n aand in die yskas. Dit het ’n heerlike, bevredigende nasmaak. O ja – ek het nie bakpapier gehad nie, en het dus foelie gebruik. Dis belangrik om by die juiste mates van die pan te hou, want as die pan te groot is, sal die koek te dun wees.
........
Die eenvoud van die resepte sal baie mense aanstaan. Van die disse lyk vir my te vanselfsprekend, maar vir ’n onervare kok sal dit nuttig te pas kom.
........
Hierdie boek is saamgestel deur Louisa Holst (wat bekend is vir haar Air fryer-kookboek), en die geregte is gepas vir familie-etes. Die eenvoud van die resepte sal baie mense aanstaan. Van die disse lyk vir my te vanselfsprekend, maar vir ’n onervare kok sal dit nuttig te pas kom. Die foto’s is duidelik en mooi, met etlike disse wat op die foto’s ’n bietjie morsig lyk, soos die Lamb chop pasta pot. Ek het baie gehou van die afdeling vir disse wat jy kan vries.

Die lemon and poppy seed cake uit Louisa Holst se One pot cookbook (foto: Elsibé Loubser McGuffog)
Ek het ’n tweede koek probeer: die Lemon and poppy seed cake. Nes die sjokoladekoek, moet mens dit stoom. Die koek het regtig goed uitgekom. Die tekstuur is sponserig. (Wenk: Wanneer jy die stoomproses begin, is dit belangrik om die kookwater by te gooi as die pan eers in die pot is.)
Ek het vir beide koeke ’n platterige Le Creuset-pot gebruik, maar enige swaarboompot met ’n deksel wat dig toemaak, sal seker werk. (As ek twee Le Creusets gehad het, sou ek ’n dubbellaagkoek gemaak het.) Die resep vir hierdie koek is op bladsy 136. Een verandering wat ek aangebring het, was om veel minder strooisuiker in die roomkaasbedekking te gebruik. Ek glo 300 ml (of volgens smaak) is genoeg. Vir my is 700 ml strooisuiker net veels te soet. Ek hou van vrugte by koek, soos frambose of moerbeie, om die soet te balanseer en die gevoel in jou mond interessant te maak.

Roerbraairesep uit Louisa Holst se One pot cookbook (foto: Elsibé Loubser McGuffog)
Daarna het ek ook ’n roerbraairesep probeer: Ostrich and basil stir-fry. Die resep is op bladsy 44. Daar is meer as een volstruisvleisresep in die boek. Ook meer as een varkvleisresep, en dus is die resepte heel bekostigbaar. Ek moet erken dat ek graag volstruisvleis eet, maar omdat my man beesfilet verkies, het ek die resep aangepas. Ek het ook nie basiliekruid gehad nie, en het toe pietersielie en grasuie gebruik.
Daarna is ek na bladsy 93 vir die Lentil and bacon soup. Die sop is heilsaam en maklik om te maak. Onthou net om die 15 ml suurlemoensap by te gooi – dit word nie in die aanwysings aangedui nie, slegs op die lysie bestanddele. Ek verkies vars tiemie bo droë tiemie, maar verder het ek die resep nie verander nie. Ek het sewe sakkies hoenderaftreksel (Woolies s’n) gebruik, omdat die sop sewe koppies water benodig het. Ek het ’n bietjie ekstra kookwater bygegooi, omdat die sop dik gekook het.

Rooilensiesop met spek uit Louisa Holst se One pot cookbook (foto: Elsibé Loubser McGuffog)
Volgende wil ek die bobotieresep probeer. Dit gebruik soetpatat, wat interessant is, en om als op die stoof gaar te maak, is ’n wenplan vir vele huisgesinne, want dit is duur om ’n oond te verhit.
Maar wat van die kinders? Wat het toe gebeur met die geknibbelde sjokoladekoek? Penny het die helfte bolangs opgeëet. Dit sou gewetenloos gewees het om die orige stukkies in ’n koekstruif te gebruik (al het die gedagte by my opgekom), en toe moes al die hondekinders maar ’n happie kry, want duur bestanddele kan mens nie net so weggooi nie. Hulle was in hul noppies. Ek gaan beslis weer daarvan bak.
’n Lekker boek om tuis te gebruik of as ’n geskenk. Ek gee dit 8 uit 10.
Lees ook:
First sip: One pot cookbook for South Africans by Louisa Holst
My big fat Greek taverna: From diplomacy to ouzo by Costa Ayiotis: a book review