Duinhuis, ’n kookboek deur Isabella Niehaus: ’n resensie

  • 0

Duinhuis
Isabella Niehaus
Human & Rousseau
ISBN: 9780798174350

Ek wys die boek vir my man. Sy eerste reaksie: “Onverbeterlik!” Hy verwys na die voorblad. Dit dui op die see, op varsheid, op eetgenot, ’n tikkie luukse en selfs ekstase. En eenvoud.

Later die aand sit my man nog met die boek in sy hande en trane in sy oë. “Hoekom huil jy dan?” vra ek. “Dis die Weskus,” sê hy. “Ek is so lief vir die Weskus.”

Isabella Niehaus se inleiding tot haar boek is aangrypend en die foto’s verruklik. Dit dra die bekoring van die kuslyn oor: die oggend- of namiddagsonnetjie, die stoepmeubels wat die wind en weer moet trotseer, en daardie verlate gevoel wat tog nie eensaam is nie omdat dit die siel voed. Blaai verder en vind foto’s met langtafels en mense en beelde van ʼn kombuis vol energie.

Ek wys die boek vir ’n agtienjarige. “Dit is nou die tipe kookboek waarvan ek hou!” sê sy. Nostalgie en nuutheid word daarin vasgevang. Ook iets uit ons kultuur as Afrikaners en Suid-Afrikaners, sonder om ’n heel basiese aanbieding van “Afrikaanse kos” te wees, soos wat die Sarie in hul spesiale uitgawe getiteld Lekker in 2018 saamgestel het.

Isabella Niehaus se Coronation chicken op ʼn broodjie (die eerste resep in die boek) spreek boekdele oor ons ingesteldheid. “Ons” is nou die tipiese Suid-Afrikaanse kok wat resepte versamel soos wat ʼn eekhoring neute huis toe dra. Wie van ons het nie ʼn Coronation chicken-resep uit die ’90’s nie? Dit is hoe ons graag resepte versamel – hertzoggies en flapjacks en melktert en Yorkshire pudding word als neergeskryf en probeer en geniet. So lyk my ouma se notas in haar resepteboeke uit 1926 en so lyk myne. Niehaus skryf in besonderhede oor hoe sy beïnvloed word en dit is juis wat die boek so innemend maak. Mens kan jou daarmee vereenselwig.

Soos die woorde op die voorblad aandui, gaan die boek oor smake en geure en dus die sintuie wat herinneringe diep inprent. Niehaus beskryf haar kinderjare. Haar belewenis in die Vrystaat is eiesoortig, dog bekend aan die leser. Dit skets ’n prentjie wat mens bybly. Op die agterblad sit sy by ʼn Claerhout-kunswerk. Mens kan amper insien hoe die kuns wat in haar ouerhuis gehang het, ʼn visuele indruk op haar gemaak het wat hom uitspeel in haar smaakvolle stilering. Haar keuse van tuiste speel hom af in ʼn Roy Cecil Taylor-kuslyn. Die verwysings na haar ouerhuis bied diepte. Etlike versamelstukke skep die visuele indruk.

Maar sjoe – die foto’s van die kos! Dit is geneem met ʼn beligting wat die Weskus tuis bring. Mens voel die kalmte van die mooiste tye van die dag as die lig sag is met sonsopkoms en -ondergang. Die foto’s is baie spesiaal.

Maar wat van die resepte self? As mens die boek vlugtig deurblaai, dan weet mens dat die resepte staatmakers is. Hoe dan so? Niehaus beskryf keer op keer hoe sy deur navorsing, passie vir kos, en vele probeerslae op ’n ideale resep afgekom het. Daar is ook telkens ’n interessante of geheime bestanddeel wat dadelik aandui dat die resep gaan uitstaan bo die algemene staatmakers. Ek dink nou byvoorbeeld aan die whisky by haar broodpoeding (bl 41) en die sjokolade by haar coq au vin (104).

Die sagtheid in haar stories is ook treffend. Die sagtheid van mense, soos in haar beskrywing van Michael Mol. Die sagtheid wat nodig is om met kos te werk, soos op bl 24. Dit vloei dalk uit haar eie sagtheid (soos wat Arina du Plessis haar beskryf op bl 205). En wie van ons het nie daardie sagtheid nodig nie? Dit is koesterend. Dit is baie spesiaal hoe sy die mans koester. Haar boek is opgedra aan haar seun Taro; op bl 189 deel sy David Kotze se kos. Mens moet die boek self lees om David Kotze te leer ken. Daar is iets aan hierdie boek wat mens laat voel dat teerheid nog bestaan.

Wat mens ook tref is Isabella Niehaus se veelsydigheid. Daar is eenvoudige, aardse kos en ingewikkelde luukse kos; daar word verwys na ryk maaltye met baie vleis (soos die maaltye uit haar kinderjare), en dan is daar die ligtheid van skepselkos (oftewel Buddha Bowl) wat sy by Louis Jansen van Vuuren geleer het.

Ek het tot dusver slegs twee resepte probeer. Die sjokoladetarte op bl 121 was eerste. My belangstelling in hierdie resep het ontstaan omdat dit my laat dink het aan ʼn sjokoladekoekresep (ʼn meelblomlose sjokoladekoek) wat ek tien jaar gelede ontdek het en wat, tot dusver, my gunsteling gebly het.

Daar is vyf gemene bestanddele tussen daardie koekresep en hierdie tarteresep. Om die waarheid te sê, die tarte bestaan uit bloot vyf. (My meelblomlose sjokoladekoek het vanieljegeursel en vars room by.) Tien jaar later, en ek het geweet ek lees weer ʼn goeie ding raak. Mens tref soms sulke resepte: die soort resep wat gaste vir ewig en altyd aan jou gasvryheid koppel; die soort smaak wat hul so bekoor dat hul altyd, maar altyd, vra wanneer jy weer gaan bak.

Hierdie tarte het dieselfde uitwerking op my gesin gehad. My man wou dit glad nie deel nie – hy wou die hele ding alleen opeet. Ek sal volgende keer ʼn losboompan kleiner as 23 cm gebruik; dan lyk die tarte minder plat.

Toe’t ek die coq au vin probeer. Als het vlot verloop. Dit werk net so lekker met ʼn heel hoender in porsies gesny. (Organiese hoender, natuurlik.) Ek het besluit “baie lourierblare” is drie gedroog en drie vars uit my tuin. Ek het die hoeveelheid “oorblywende botter” nie in die resep gevind nie, maar die oplossing was maklik: Ek reken die 4 eetlepels botter word gedeel. Twee van daardie eetlepels gebruik jy saam met die olyfolie vir die braai van die hoender en spek en groente; die ander twee vir die klein uitjies. Hoe ook al, mens het slegs twee eetlepels vet nodig wanner mens die meel-en-wyn-mengsel aanmaak.

Ek het dit in die AGA-ond gaargemaak om lank en stadig te prut. Die resultaat? Ek gaan nie weer ʼn ander coq au vin-resep benodig nie. Hierdie een is die beste.

Wat kan mens in die boek kritiseer? Daar is etlike taalfoute. Op bl 121 word daar verwys na ʼn “fanatstiese” kosblog. Op bl 23 word daar na die Suid-Afrikaanse kunstenaar Ampenberger verkeerdelik verwys as Ampenbergen. Dit het my laat wonder of die begroting vir taaldienste dalk te knap was. Maar dit maak nie eintlik saak nie. Hierdie boek is ʼn inspirasie. Dit is méér as inspirerend. Dit is ʼn riem onder die hart.

Die stories uit Hermanus en van Sir Lowry’s in die Kaap, die verwysings na al die mense en kosbekendes, die liefde vir die lewe, word in die skrywer se eiesoortige storievertelstyl opgeneem. Sy hou nie van te veel volsinne nie. Tussen die volsinne is daar woorde wat sweef. Sy skryf in wat taalkundiges sou noem fragmente. Dit is lekker, omdat mens op hierdie manier nie te “vol word” van woorde nie. Die skryfstyl is ʼn happie hier, en ʼn proesel daar.

Daar is nie ʼn resep hier wat nie haalbaar en heerlik lyk nie. Die seekosresepte lyk smullekker. Niehaus se Langtafel by Langebaan sou mens seker kon ophef na ʼn Weskus-juweel. Die aanbevelings vir ʼn wyn vir elke dis en die kortstorie en resepte uit Parys wat die boek afsluit, maak hierdie boek ʼn wenner. ʼn Tien uit tien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top