Jamie Oliver se eie pap tamaties

  • 1

Jamie Oliver - Wikipedia

Die aand is koud, maar die vuurtjie brand in die herd. Dit is ’n outydse kombuis met ’n bank teen die muur. Daarop sit my vriend, vir wie ek kos maak. Hy rook langsaam en luister fyn na al my vertellings – mens kry soms mense wat baie goed kan luister, hul teenwoordigheid kalm en diep. Dit laat mens warm en gelukkig en tuis voel. Seker dié dat ek sommer sy kombuis oorneem. Die herd is nie ’n binnebraai nie; dit is ’n gewone plaaskombuis en daar het seker destyds ’n AGA of soortgelyke oond in die hoek gestaan waar die rooi kole nou op kookvernuf wag.

Sy knus plaaskombuis oorreed my om ’n nuwe dis te probeer. Toe nogals heerlik!

Dit was in 2005, maar dit voel soos gister. Om lekker te eet is om herinneringe te skep.

Die gereg wat ek gemaak het, was Jamie Oliver se melanzane alla parmigiana – die tradisionele eiervruggereg met parmesaankaas en pomodoro. (Tamaties is net sappiger in Italiaans.) Ek ken ’n hele paar dames wat so dol is oor die pomodoro dat hul ʼn bak daarvan vir ʼn maal nuttig – net dit, met ’n tikkie sout. Die pomodoro is kern aan Italiaanse kos en deurgaans ’n bestanddeel in Jamie Oliver se boek wat in 2005 die lig gesien het – Jamie’s Italy (Penguin). Dit was voor sy restaurante.

Daardie aand het ek besef dat ’n melanzane-gereg veel beter is as mens die eiervrug oor die kole braai. Die effense gebrande skilletjies dra by tot die smaak. Dit is ook belangrik om die dis nie met te veel tamatie toe te gooi nie; tamaties kan die ding oorweldig.

Mens kan nog steeds deur Jamie Oliver oor tamaties uit Italië uitvind.

Maar wat mens nie meer kan doen nie, is om by Jamie se Italiaanse restaurante – Jamie’s Italian – aan tafel te sit. In Mei hierdie jaar het die hele lot – 25 van hulle – deure gesluit. Mens voel skoon jammer vir die man, om nie eers te praat van die 1 000 werksgeleenthede wat daarmee heen is nie.

Hoe dan so? Dit is nie goeie nuus as ’n groot besigheid sluit nie, veral een met ’n beroemde agter die stuur. Mens wil nie eers begin wonder oor al die moontlike redes nie – want dan neig mens na allerhande raaiskote – soos die invloed van politici en die wêreldekonomie. Om ’n restaurant te bedryf is nie kinderspeletjies nie.

Ek het my vriendinne in Engeland gevra. Een vertel dat sy nie geld wil uitgee op ’n kettingwinkel nie, al is dit hoe goed. Sy soek eerder ’n eiesoortige restaurant met ’n unieke spyskaart en ’n “spesiale”, byna geheime gevoel. ’n Ander kennis sê weer sy was by Jamie’s Italian ’n Gold Club-lid en het gereeld daar geëet. Die kos was heerlik en outentiek Italiaans, die prys billik. In die week het die vaste spyskaart mens verseker van baie goeie waarde vir geld. Die dekor was oulik met mooi foto’s, die atmosfeer gemoedelik, en die personeel hulpvaardig en vriendelik. Daar was heeltyd vernuwing op die spyskaart; sy voel dit het oor die jare verbeter – en die pasella tasters was beslis ’n lokmiddel. Wat het dus gepla? Mens moes soontoe gaan, dws geen aflewering nie. En daar was ook geen speelgebied vir die kinders nie. Met sulke besluite het Jamie seker sy teikenmark van die middelklas familie en die gemaksugtige huisvrou of werkende persoon misgekyk. En juis daarom dat handelsname soos Mr Delivery en Spur in ons eie land nog volstoom voortbestaan. Ja, ons is dalk al moeg daarvan, maar as dit die kinders kan stilmaak, is dit goud werd.

Ander is dalk al moeg vir Italiaans eet. Is Italiaans nie dalk al elke land se tradisionele kos nie? Daar is nou nuwe name en nuwe neigings (barberries, tahini, sumac, za’atar, harissa, swart knoffel), en nuwe kos-ikone, soos Ottolenghi, wat in sy boek Simple nes Jamie erg op vars kos, groente en kruie gesteld is.

Dalk het Jamie Oliver – soos enige mens met ambisie en ’n goeie hart – homself bloot bietjie oordoen. Maar mens sal seker nie heeltemal die waarheid kan agterkom nie, want bespiegeling neem oor. Net so met die woord pomodoro. Sommige sê dat die woord in sy oorspronklike vorm – pom di moro – verwys het na beide die tamatie en die eiervrug. Eintlik het die Italianers eers gedink die tamatie is giftig, so vreemd was dit. Hul het dit so te sê sommer by die eiervrug in een mandjie gegooi. Pomo di moro beteken “vrug van die More” – met verwysing na die nasie wat daai tyd bekend was vir allerlei vreemde kosprodukte.

Met tyd het pomo di moro verander in pomodoro en van daar die verbintenis met die verkeerde afleiding pomo d’oro. So het die d’oro- (goue) aspek ingesluip. Hoekom verkeerd? Een bron, An introduction to language and linguistics, deur Ralph W Fasold en Jeff Connor-Linton (bl 296), wys daarop dat dit Engelse geskiedenisskrywers is wat die verkeerde afleiding oor die oorsprong van die woord gemaak het.

Daar is egter tog goud wat oorbly ... ʼn Restaurant wat te danke aan Jamie ontstaan het, is steeds oop en bied steeds opleiding. Die restaurant, Fifteen Cornwall, wat in 2006 gestig is en aan Jamie Oliver lisensiegelde betaal, is steeds besig om nuwe kokke die wêreld in te stuur. Dit is geleë in ʼn streek waar mens eiesoortige Britse kos kan geniet soos ʼn goeie toeris. En sonder Jamie Oliver sou dit nie kon nie. Lees hier vir meer.

Dit maak die hart warm.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Elsibe Loubser McGuffog

    Intussen het nog 'n kennis in Londen vir my gekontak. Soos ons almal dink sy dat Jamie Oliver as handelsmerk baie suksesvol is en almal dus sy restaurant-idee aangehang het - seker ook omdat hy ‘n innemende en half voorbarige knaap is en ook omdat hy soveel vermag het vir beter eetgewoontes by Britse skole. Maar haar mening is dat die restaurante duur geraak het, en die porsie-groottes was nie op families gerig nie. Sy voel Jamie het nie, in vergelyking met ander kettingrestaurante wat hulle ken soos Pizza Express, sy oog op die publiek se behoeftes gehou nie. Mens het by Jamie’s Italian uitgeëet omdat mens geweet het wat om te verwag; dit was betroubaar en die diensmense was baie vriendelik, maar relatief gesproke het dit duur geword. Sy voeg by: “Ek is egter gaande oor Jamie as persoon en werklik ontsteld dat sy restaurante moes sluit. Wat hy doen met sy opleiding van sjefs is fantasties!”

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top