Tien vrae: Te veel sorge deur Hans Pienaar

  • 0

Altoviolet.co.za

Te veel sorge, Hans Pienaar, Altoviolet-uitgewers


Skrywers oor hul nuwe boeke: Hans Pienaar gesels met Naomi Meyer oor Te veel sorge.

Hallo Hans, in jou boek Te veel sorge is daar ‘n treffende sin wat my oog vroeg in die boek vang: “Sal hy sy sondes kan verkoop? En sy sorge? En aan wie?” Wat besorg vir hierdie karakter soveel sorge?

Wel, ek wil nie die storie verklap nie, maar dit het te doen met die 12 weduwees wat hul spaargeld verloor, deels weens sy onbeholpenheid wanneer hy in 'n verneukspul beland. Maar dit slaan op die monetêre aard van omtrent elke ding wat ons doen. Daar is 'n ekonomie van sorge – mense koop hulle by mekaar, in 'n soort ruilhandel ... sielkundiges, joernaliste, prokureurs, dominees. 

En wat is sy sonde(s)?

Sy sonde is dalk 'n arrogansie dat hy as 'n sakeman dink hy kan net 'n towerstokkie swaai en dan is mense gehelp. 'n Soort hoogmoed. Wat dan tot 'n val kom. Maar dit gaan ook oor mense probeer oorhaal dat hy gesondig het, om sy bieg aan te hoor, in 'n tyd waarin sulke dinge nie meer in die mode is nie.

Jou boek is ‘n gefragmenteerde roman, reg? Dis nie kortverhale nie, dis ook nie ‘n tradisionele roman nie. Maar dis een storie, al is daar 12 weduwees. 

Ek weet nie wat dit is nie. Ek hoop maar kwantumteorie sal help – as jy dit meet as 'n roman, is dit 'n roman, as jy 'n verhalesnoer in jou hand het, is dit 'n bundel. Maar ek hoop dit lees lekker – dit was een van my vereistes aan myself.

Vertel vir my in een sin waaroor jou boek handel, asseblief. (Ek klink nou of ek jou oor ‘n spanningsroman uitvra, maar elke storie het tog ‘n quest, ‘n soeke, of hoe?)

Oor veral Afrikaanse mans se gesukkel om aan te pas by 'n nuwe vasteland waar hulle nie meer tel nie.

Oor jou hoofkarakter: die wit man in Afrika. In Nigerië, in Johannesburg. Hy sien dinge, hy neem waar. Is daar iemand vir wie hy sy storie kan vertel, in sy eie taal?

Hy beland uiteindelik in Melville, en hier moet hy ontdek dat die plek wat ander mense vir hom gesê het 'n buurt propvol Afrikaners is, eintlik kosmopolities is en vele identiteite huisves. Maar hy ontdek ook op die ou end dat genoeg mense nog daarin belangstel om sy storie te hoor, in Afrikaans. Hoewel daar ewe veel is wat geen snars meer omgee daarvoor nie.

“So, is jy ‘n Afrikaner?” “Hang af.” Ek haal aan uit jou boek. Wat dink jý: is jou hoofkarakter ‘n Afrikaner?

Ek dink nie hy vind ooit uit nie. Maar ek mag verkeerd wees. Waar jy in 'n tradisionele roman 'n onbetroubare verteller sou gekry het, is hy hier 'n wegkruipende hoofkarakter: net drie of vier van die stukke gaan regstreeks oor hom; 'n mens leer hom verder net ken deur ander se oë, soos in 'n Picasso-skildery. 

‘n Ander tema, behalwe die sorge, is padwerke in Afrika. Noem nog ‘n paar dinge wat jou karakter opval, as jy wil. Goeie dinge, vreemde dinge, enige dinge.

Padwerke? Wel, seker ja, want as jy in Afrika wil reis, die regte Afrika, is die padwerke, of die gebrek daaraan, 'n groot deel van die storie. Die meeste van Afrika se paaie moet nog gebou word, ook dié na die toekoms, ook hier te lande. Hy sien vuurwerke, geheime, 'n kafee, 'n vrou se bors om middernag, 'n helikopter, die gekrulde reste van vuurhoutjies ...

Waarom het jy hierdie storie geskryf?

Dis deels gemotiveer deur my onmag om die koerantgroep vir wie ek gewerk het oor te haal om 'n soortgelyke geval in die ware lewe te laat ondersoek. Omdat dit Afrikaanse oumense in die platteland was.

Hoekom het jy dit self uitgegee?

Toe twee hoofstroomuitgewers dit van die hand wys, sonder om dit eens vir keuring te stuur, het ek besluit nee wat, ek gebruik my eie last-resort uitgewerytjie. Gelukkig kon van die beste skrywers in Afrikaans my help. Om 'n kraaknuwe boek in jou hande te hou waarvoor jy self tot op die laaste sent en die laaste puntjie ink verantwoordelik was, is iets baie bevredigend.

Vertel asseblief van jou joernalistieke agtergrond en wat jou as mens interesseer.

Ek werk al sedert my studentedae by koerante en geniet elke oomblik nog, al is die bedryf besig om in duie te stort, en al het Wittgenstein gepraat van "that disaster of the 20th century". Ek is baie positief oor die nuwe vryhede en instrumente wat die internet ons gee, hoewel ons nou ook met die moeras van sosiale media sit. Vir die eerste keer kan ek goed skryf wat nie deur redakteurs gesensor of gemanipuleer word nie. Ek is 'n politieke dier, maar wat my meer interesseer as prinse en presidente, is die politiek van gewone mense, die wisselwerking van die klein besluit met die groot gewelf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top