Skrywers oor hul nuwe boeke: Nini Bennett oor Boekstaaf
Waar het Boekstaaf vir jou begin? Wat was die eerste gedig?
Ek het in Junie 2013 weer begin poësie skryf (nadat ek my voorgeneem het om eerder die roete van prosa te volg). My lewensmaat, Mellet Moll, het in dié periode hard gewerk aan sy eie gedigte, en dit was aansteeklik. ‘n Definitiewe impetus was die blootstelling aan cinema nouveau en cinema noir, byvoorbeeld Modigliani, Atonement, The grey zone, Good, Chocolat, Wings of desire, Anonyma, The man who cried, ens. Ek het aanvanklik ‘n paar gedigte geskryf wat ek later uitgewis het – maar “Parabel” en “Da Capo” (in die bundel) was van die eerstes wat die ontsluitingsproses tot publikasie oorleef het.
Boekstaaf is jou tweede digbundel, maar jy is ook bekend as kortverhaalskrywer. In watter van hierdie twee genres voel jy die meeste tuis – as jy moet kies – en waarom?
Dit is moeilik om te sê. Die skryf van poësie gaan met weerstand en ‘n emosionele katarsis gepaard, ongeag hoe objektief ek dit probeer benader. Die vervreemde werklikheid van poësie bly my egter na aan die hart. Prosa dra gewis baie “ligter”, en ek vermaak myself waarskynlik meer deur ‘n narratief te skets en van gedaante te verwissel via verskillende personas. Eindelik is die gratifikasie wat prosa en poësie bied, verskillend, dog dieselfde – soos ‘n verkleurmannetjie wat van bui verwissel. Ek vermoed dat die onvertelde verhaallyne binne my tyd geneem het om rypwording te bereik, en dat prosa méér as net ‘n halfweghuis in die toekoms sal word.
Wat wil jy boekstaaf deur middel van hierdie bundel? Of wat beteken die titel alles vir jou?
Die titel dui op ‘n opskrifstelling van gebeure, indrukke, persoonlike belewenisse en die opteken van sosiale en metakommentare (byvoorbeeld waarnemings van natuursentriese of ekogerigte verskynsels, of kommentaarlewering deur filmkuns). Die titel Boekstaaf sinspeel ook op die vlugtigheid van dinge – boek wat metafories vervliet tot teks; traliekode; boekstaaf.
Sou jy sê dat jy in jou digkuns fyner ingestel is op klank of op beeld; of is klank en beeld vir jou intiem verweef?
Ek werk meer spontaan met beelde (byvoorbeeld die visualisering daarvan), maar probeer om beeld en klank te sinkroniseer. Mellet Moll het my heelwat geleer van metriek – iets waarmee hy met ‘n gepoleerde hand omgaan.
Boekstaaf is deur die Cordis Trust uitgegee. Hoe het die redigeringsproses gewerk?
Ek het aangedring op streng gehaltebestuur. Die eerste keurder wat begin het met die manuskrip, was Marthinus Beukes. Ná sy tragiese afsterwe het ‘n digter-akademikus en ervare keurder uit Gauteng die projek oorgeneem. Ons het vergader vir persoonlike werksessies, afgesien van ‘n keurverslag en tekswysigings en voorstelle wat ek moes deurwerk. Die taalversorging is hanteer deur Helena Liebenberg, ‘n taalkundige, en daar was ander proef- en stiplesers ook betrokke. Mellet Moll het my in hierdie finale fase bygestaan met die manuskripontwikkeling en ander verstellings. Hy sien homself nie as keurder nie, maar het besonder waardevolle insette aan die dag gelê: só het hy beslis oor gedigte wat “hangend” was en voorstelle gemaak sodat ons sommige kan terugplaas in die manuskrip. Sy oordeel blyk in retrospeksie akkuraat te gewees het uit die resepsie – hy is objektief en het ‘n fyn aanvoeling vir poësie. Ek het die skilder Liekie Fouché genader vir ‘n skildery om as omslagontwerp te gebruik. Met toestemming van Fanie Marais van Cordis Trust is sy gekontrakteer as kunstenaar. Ons het grafika van postapokaliptiese en Goth-ontwerpe aan haar gestuur, en sy het haar eie vertolking aan die ontwerp gegee. Die manuskrip is eindelik afgeteken deur ‘n bekende literator as geskik vir publikasie.
Skrywers het nie ‘n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?
Skryf is vir seker nie ‘n loopbaanopsie nie! Ek skryf waarskynlik omdat dit ‘n hunkering is. Omdat dit tydelik bevrediging en uitkoms bied, waarskynlik om die vlugheid van eksistensie te besweer. Omdat dit lekker is om met taal te speel – soos ‘n towenaar of alchemis. Om die grys areas van die lewe sinvol te probeer maak. Om iets vir lesers te gee in die hoop dat dit vermaak of iets vir hulle mag beteken op ‘n persoonlike vlak. Om dalk iets by te dra tot die rykgeskakeerde taal Afrikaans, en ‘n paar note saam te sing. En ek skryf om myself te verras – as die verrassingselement ontbreek, voel dit na ‘n steriele oefening. Ek dink baie mense skryf om beheer te neem; om kleim af te steek op sy/haar bestaanservaring … dis ‘n territoriale daad.
Werk jy reeds weer aan ‘n volgende manuskrip (en indien wel, in watter genre)?
Die volgende projek wat ek gaan aanpak, is my doktorale studie. Intussen hou ek egter boek van dinge en mense wat my prikkel, asook gepaardgaande stories. Ek beplan versigtig aan ‘n roman, maar het ook kortverhale en gedigte wat nomadies hulle opwagting maak en iewers ‘n tuiste wil vind. Ek laat my vir eers lei deur my intuïsie tot die idees helderder uitkristalliseer.
Watter digters of skrywers lees jy graag?
Ek lees bykans enigiets; baie digters bied iets om saam te neem. Ek het groot respek vir Breytenbach, die Louw-broers, Cussons, Tom Gouws, TT Cloete, Marlene van Niekerk. Ook onder andere Neruda, Paz, Adonis, Paul Celan, Anne Michaels, Herta Müller, Jean Echenoz, Khaled Hosseini, Etienne van Heerden. Te veel om op te noem. Dominique Botha se Valsrivier was ‘n heerlike vonds. Ek skakel graag in by kontemporêre webwerwe en loer na nuwe invloede onder Duitse skrywers en digters, of hoe anderstaliges se werk daar uitsien. En ek bestudeer historiese digters wat buite die kanon staan, of dié wat klein, maar seminale bydraes gelewer het.
As jy terugkyk oor die landskap van die Afrikaanse digkuns, wat val jou op, indien enigiets? Is hier vir jou patrone of enigiets wat verander het of aan die verander is?
Met die koms van die internet het die wêreld kleiner begin word – ook die Afrikaanse literêre landskap het paradoksaal verruimend begin “krimp”. Die sosiale media word meer geredelik geakkommodeer as ‘n rolspeler in byvoorbeeld Afrikaanse poësie: bekroonde digters plaas hulle gedigte teen hulle Facebook-mure, en selfs tydens onderhoude met digters blyk dit dat lesers dié digters se werk op die sosiale media volg. Facebook word meer as net ‘n voertuig om te bemark – dit skep ook ‘n platform vir wisselwerking tussen die publiek en digters vóór publikasie, asook daarna. Ivoortoring-persepsies word ‘n nekslag toegedien en lesers het op ‘n informele wyse toegang tot hulle gunsteling-digters. Ongelukkig toon Facebook ook ‘n paddastoel-effek in die beweging van bewonderaarsbladsye of groepsdigblaaie en webwerwe vir ongekeurde skrywes, en enige persoon kan die etiket skrywer/digter opeis: daar is geen gehaltebeheer nie. Miskien moet daar bloot aanvaar word dat hierdie poësie nie bedoel is om letterkunde te wees nie. As ‘n mens egter in gedagte hou dat slegs ongeveer 2–3% poësiemanuskripte wat aangestuur word na uitgewers, eindelik gepubliseer word, dan is dit interessant om te noem dat Facebook nou inderwaarheid die uitstalruimte van die oorblywende 97–98% gedigte is wat voorheen in ‘n redakteur se snippermandjie sou beland het – die manuskripte wat afgekeur en teruggestuur sou wees. Aan aspirant- of beginnerskrywes het niks verander nie, behalwe dat Facebook nou ‘n vertoonvenster bied vir daardie ongekeurde werk en dit sigbaar word. Laasgenoemde het al baie literatore die harnas in gejaag, en dis belangrik om perspektief hierop te behou. Gisela Ullyatt het onlangs in ‘n blog op ‘n gesaghebbende poësiewebwerf met sukses die sosiale media sinvol laat saampraat deur verskeie persone se gunsteling-gedigte volgens ‘n netwerkbenadering (interkonneksie) in ‘n “poësiebrander” te laat kulmineer. Die fokus was primêr op poësie – en kunsmatige grense het verdwyn in ‘n geslaagde interaksie waarin die plasings van goeie poësie bly eskaleer het.
Jy is ook betrokke by 'n aanlyn digkunsakademie. Vind jy dat om ander met die digproses by te staan ook vir jou 'n leerskool is ten opsigte van jou eie skryfwerk?
Om mentorskap aan ander te verleen hou jou op die punte van jou tone. Jy bly intensief dink en skep binne die gedagtesfeer van poësie in al sy gedaantes, skaafprosesse, literêre teorie en kritiek. Om te onderrig is onlosmaaklik deel van die simbiose van kennis en die deel, gee en neem uit die skeppingsiklus. Dit is lekker om talent te sien plooi en groei. Een van die lede wat die kursus voltooi het, Andy Paulse, debuteer eersdaags by Cordis Trust-Publikasies. Hy is ‘n kontreidigter uit die Bokkeveld. Dit vorm deel van ‘n ontwikkelingsinisiatief van Cordis Trust om nuwe digtalent te ontwikkel en tot by die publikasieproses te lei. Dit is nie ongewoon vir die proponente van enige kunsvorm om onderrigaktiwiteite te onderneem ten einde ‘n bestaan te maak en terselfdertyd die ambag en mantel van digterskap vir ander aan te gee nie.



Kommentaar
Naomi, Nini, baie dankie vir en geluk met hierdie insiggewende en verhelderende onderhoud. Sinvolle en prikkelende vrae lok leersame en vars antwoorde uit. Beide kante van die munt het verkwikkende leesplesier verskaf.