Tien vrae: Carina van der Walt oor Amalgaam

  • 1

Amalgaam, Willy Martin & Carina van der Walt, Uitgeverij IJzer, Utrecht, 2015, ISBN: 9789086841172

Lees ook: In gesprek met ... Guido van den Berg

Kyk ook na foto's by die openingsgeleentheid van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam

Skrywers oor hulle nuwe boeke: Carina van der Walt gesels met Naomi Meyer oor Amalgaam

Hallo Carina, eers oor jou: waar woon jy presies en hoe lank woon jy al daar?

Hallo Naomi, ek woon al amper tien jaar  in Tilburg op die grens tussen Nederland en België. Tilburg  bruis met ’n moderne kunsmuseum, ’n art house-filmteater, popmusiekpodia en ’n goeie universiteit aan die bosrand. Tilburg inspireer, maar jaag my ook soms uit my gemaksone. Konfronterende idees is ’n spel. Tilburg is nie ’n tipiese Nederlandse stad nie. Daaroor is ek bly.

Jy en Willy Martin was in 2015 mededigters betrokke by die bundel Amalgaam. Jy is joernalis en selfstandige digter en hy dig ook op sy eie. Hoe het dit gekom dat julle saam aan hierdie bundel gewerk het?

Dit is nogal ’n lang storie, maar ek sal probeer om dit kort te hou. Ek het Willy Martin vir die eerste keer in 2011 by die bekendstelling van die woordeboek ANNA ontmoet. Dit was by die Tropen Museum in Amsterdam en ek moes ’n verslag vir LitNet skryf. Ons het nie gepraat nie. ’n Paar maande later het ek hom weer gesien in Zuid-Afrikahuis, weer met ANNA. Hy het ’n pragtige toespraak gehou vir Harry Brinkman wat in 1998 die saadjie geplant het vir die eerste Afrikaans-Nederlandse / Nederlands-Afrikaanse woordeboek. Ek het na afloop van die verrigtinge Martin gekomplimenteer met sy toespraak. Wat my ook beïndruk het, was dat hy na sy toespraak (half terloops)  sy hand op die ANNA gesit het en gesê het: “Al deze woorden voor dit bundeltje – Voor de gelegenheid.” Ek was verwonderd dat iemand wat met miljarde woorde omgaan, presies die goeie woorde vir sy gedigte kon kies. Ook dít het ek vir hom eerlik genoem en dat ek ook gedigte skryf.

Daarna was dit vir ’n ruk stil, totdat ek vir LitNet die reeks “In gesprek met …” ontwikkel het. Willy Martin was my eerste gespreksgenoot. Ek het vir die onderhoud Leuven toe gery. Ons gesprek was aangenaam, maar niks besonders nie – tot na die tyd en ek reeds my selfoon se stemopnemer afgesit het. Martin het 'n stukkie baie persoonlike inligting aan my toervertrou oor 'n jaarlikse publikasie in De Standaard

Intuïtief het ek besef dat ek baie versigtig daarmee moet omgaan. Ek het sy respek met die publikasie van die onderhoud op LitNet gewen.

Die wiel het stadig tussen ons begin rol vir ’n gesamentlike bundel. “Ik werk graag samen met iemand,” het Martin gesê. Ek dink hy het die kans met my gevat omdat ek toe pas in Nuwe Stemme 5 gedebuteer het. Van my kant af het ek die behoefte gehad om voort te bou op Nuwe Stemme 5.

Die onderliggende konsep van ons bundel het oor baie maande van saamdink en saampraat vorm aangeneem. Dit sou ’n tweetalige digbundel word met as uitgangspunt die tweetalige woordeboek ANNA.     

‘n Amalgaam is ‘n ongelyksoortige mengsel, omskryf Pharos die frase. Tog beskryf Bert Bevers die term op Versindaba soos volg: “Het amalgamatiemodel gaat ervan uit dat twee nauw verwante talen als het Afrikaans en het Nederlands niet afzonderlijk beschreven of vertaald dienen te worden, maar samen, als waren zij één taal.” Hoe sien jy dit – die term en dan die uiteindelike produk?

Letterlik is amalgaam ’n woord wat tandartse ken, want hulle het in die verlede metaal en kwik vir stopsels gemeng. Amalgameer beteken “(ver-)meng”. Dit was ongesond. Kwik word vlugtig en kan in ’n mens se liggaam opgeneem word en jou siek maak.

Toegepas in die wêreld van leksikografie beteken dit ’n “mengelmoes”: Afrikaans en Nederlands saam in ’n woordeboek wat nie uit twee dele bestaan nie, maar uit één deurlopende deel. Daarin word woorde uit albei die tale in alfabetiese volgorde bespreek. Dit beteken nie AN/NA nie, maar ANNA. Hierdie konsep het Martin en sy span medewerkers uit Suid-Afrika (Else Boekkooi, Rufus Gouws, Karlien Cillié, Adri van Eeden en Daniel Hugo) en uit België en Nederland (Luc Renders en Martien Schrama) saam ontwikkel. Dit het 12 jaar geneem om te realiseer. ’n Geamalgameerde woordeboek is spesiaal bedoel vir tale wat na aan mekaar verwant is, soos Afrikaans en Nederlands of soos Xhosa en Zoeloe. Dit was dus ’n wêreldpremière vir Martin en sy span.

Die literêre invulling daarvan is die tweetalige digbundel Amalgaam. Ons Afrikaanse en Nederlandse gedigte staan as ‘n “mengelmoes” in alfabetiese volgorde van die gedigte se titels. Sommige gedigte het woordverklarings, want dieselfde woorde in die twee tale kan verskillende of bykomende betekenisse hê, soos die woord horde in die Afrikaanse gedig “hart van agaat”. In Afrikaans beteken dit “baie”, maar in Nederlands het dit veral ook die bykomende betekenis van ’n hekkie op ’n atletiekbaan. In ander gedigte bestaan ’n woord glad nie in die ander taal nie, soos die woord suppoost in die Nederlandse gedig “Galleria borgese”, wat beteken ’n toesighouer of opsiener in ’n museum.

Openingsgeleentheid van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam: Carina van der Walt, Ton Vosloo en Willy Martin. Van der Walt en Martin bied Vosloo 'n eksemplaar van hul gesamentlike digbundel Amalgaam aan. (Foto verskaf deur Guido van den Berg. Fotograaf: Gerrit Serné. Fotobyskrif met dank aan Ingrid Glorie.)

Het julle albei doelbewus oor dieselfde soort temas gedig, of het jul elk jul eie gedigte gebruik en dit byeengebring, ongeag wanneer dit geskryf is?

Ons het vooraf besluit om Amalgaam tematies in drie dele te verdeel: gedigte oor plekke, gedigte oor mense, en vertalings van gedigte uit dialekte ván Afrikaans en Nederlands of ’n sterk verbintenis mét Afrikaans en Nederlands. Vir Martin het dit neergekom op vertalings uit Kaapsafrikaans en Griekwa-Afrikaans en vir my vertalings uit Fries en Vlaams – hoewel Vlaams ongeveer Nederlands is. Martin het gedigte van Adam Small, Peter Snyders en Hans du Plessis vertaal. Ek het Tsjêbbe Hettinga, Pieter Jelles Troelstra en Paul van Ostaijen vertaal. Die woord mengelmoes het dus ook van toepassing geword op die insluiting van gedigte uit kleinere taalgroepe – ’n vriendelike, inklusiewe digbundel.

Ek het met ’n gedig gereageer op Martin se “Het mooiste woord in het Afrikaans” uit sy debuutbundel in 2011. Daarin het ek woorde gebruik wat vir my die mooiste is in Nederlands. Hierdie twee gedigte het ’n doelbewuste stel geword. In Amalgaam staan “as jy my uitvra” alfabeties voor “Het mooiste woord in het Afrikaans” ongeag die volgorde in hulle ontstaansgeskiedenis. Uiteindelik het die stel ’n voorwoord by bogenoemde drie temas geword.

Dit het weer die behoefte aan afsluitende stel gedigte opgeroep. Na die afdeling vertalings van gedigte was dit logies dat die ultiemste vorm van amalgamasie die vertaling van mekaar se gedigte is. Ons het gedigte gekies om te vertaal wat iets vreemds inhou vir ons taalgenote. In “Niemandsland” het ek die uiterwaarde langs ’n groot rivier gekies om vir Afrikaanse lesers te vertaal. In “O land van melk” het Martin droogte op die uitgestrekte Suid-Afrikaanse Hoëveld gekies om vir die Nederlandse lesers te vertaal.

Wat ons nie voorsien het nie, is dat ons soms oor dieselfde onderwerpe geskryf het. Ons het onafhanklik van mekaar aan die bundel gewerk en ons net deur die temas laat lei. Tydens die samestelling was dit ’n groot verrassing om te ontdek dat ons albei soms na nimfe kyk; oor kinders skryf; soms ’n beeldgedig skryf. 

Watter taal praat jy sedert jy daar woon? Is jy self ‘n soort amalgaam, op ‘n manier, of is dit ‘n oorvereenvoudiging?

Ek probeer om in Nederland so suiwer moontlik Nederlands te praat. Geen digter kan dit bekostig om brabbeltaal te gebruik nie. Daarmee ondergrawe jy jou eie produk, al is papier geduldig. Skryf is makliker as praat. In Suid-Afrika probeer ek om suiwer Afrikaans te praat. Agter die voordeur in Nederland praat ons dikwels Nederkaans. Amalgamasie! Tussen Afrikaans en Nederlands verdwyn Engels op die agtergrond.

Verstaan Willy Martin Afrikaans en was julle dus ewe veel betrokke by die samevoeging/amalgamering van die bundel?

Martin verstaan Afrikaans soos wat ek Nederlands verstaan. Waar ons vasgehaak het, het ons mekaar uitgevra oor die fynere nuanses; die kontekstualisering van ’n uitdrukking; die vooroordele teenoor ’n woord; die eise van die jongste taalontwikkelings. Die amalgamasie van Amalgaam was vyftig-vyftig verdeel. Ek het geëmigreer na ’n ander kontinent, land en taal, maar ek was my hele lewe besig met poësie. Martin het op professionele vlak van leksikologie na poësie geëmigreer. Hierdie gegewe het van ons gelyke spelers in die samestelling van Amalgaam gemaak.    

Wat inspireer jou as digter (te oordeel aan hierdie bundel)? Wat inspireer vir Martin (te oordeel aan hierdie bundel)?

My gedigte in Amalgaam dryf almal soos puntjies van ysberge in die Noordpoolsee, waaronder nog baie meer gedigte is. Dit lyk asof ’n afstandelike perspektief vir my ’n voorwaarde is om te kan skryf, soos in die gedig “afstand”. Dit is digterskap – afstand skep. Die stad Parys en die Griekse eilande inspireer my. Daar is meerdere gedigte oor hierdie plekke in Amalgaam. Soms lyk ek vir myself soos ’n gefrustreerde joernalis wat in die middel van gebeure staan en dan haar toevlug tot die skryf van ’n gedig neem, soos in “bootramp by Lampedusa”. Ek skryf deurlopend beeldgedigte soos “vlae” en “laaste woorde vir Kevin Carter”. Verder het ek blykbaar iets met ikone: “Piaf” en “voorlaaste woorde oor Mandela”. Ek hou daarvan om met vorm te eksperimenteer, daarom het ek Van Ostaijen gekies om te vertaal.  

Martin se perspektief is terugskouend en minder afstandelik. Hy fokus op besonderhede soos die spoelklippies in “Cap blanc nes”. Dit is digterskap vir hom. Hy skryf oor sy herinneringe wat deur ’n geur of ’n beeld opgeroep word. Van sy plekgedigte betrek Namibië in “Namibische kleingoed” en Suriname in die gedig “Sabaku’s”. Nader aan sy Leuvense huis dig hy oor die verval van Ouchamps. Martin laat hom ook dikwels inspireer deur kuns en skryf dan net soos ek beeldgedigte, byvoorbeeld met “Teken” en “Zittend knaapje”. Die ikone in sy gedigte is beperk tot mense uit die alledaagse lewe, soos sy ma in “Liedje”. Martin het iets met tuine en skryf minimalisties.

Taalverskille en kultuurpersepsies: vir my ontsluit die titel en die bundel presies daardie twee kwessies – mens kan dit beswaarlik skei. Afrikaans word in Suid-Afrika by die meeste universiteite saam met Nederlands ressorteer. Tog is daar hier en daar ‘n Afrikaansdepartement wat Afrikaans saam met Afrikatale voeg. Wat is jou gevoel hieromtrent?

Dit is vir my regtig ’n goeie ontwikkeling, maar dit gaan ’n bietjies te stadig na my sin. Baie jare gelede aan die NWU was my tweede hoofvak saam met Afrikaans-Nederlands Setswana. In my onderwysdae het ek selfs ’n eerste groepie Setswana-derdetaalleerders deur matriek geloods. Nog later het ek namens die ATKV en saam met Wannie Carstens vier jaar na mekaar ’n landwye Enter-net Skrywerskompetisie vir poësie en kortverhale in Afrikaans en Setswana gereël. Sover ek weet het hierdie aksies doodgeloop.

Van die kantlyn af lyk dit vir my asof Afrikatale aan Suid-Afrikaanse universiteite maar ’n sukkelbestaan voer. Uit ondervinding weet ek dat die NWU Setswana ondersteun en dat die UKZN Zoeloe ondersteun. Aan beide hierdie universiteite word ’n Afrikataal dus as onderrig-, vak- en wetenskapstaal gebruik en ontwikkel. Van soortgelyke aktiwiteite aan die ander universiteite weet ek te min om my daaroor uit te laat, maar die ideaal is natuurlik dat voorheen bevoordeelde universiteite (wat vir ongeveer almal geld) ’n Afrikataal behoort te omarm en te help. Elf tale? Dis prakties onhaalbaar. As die twee hoofgroepe – Zoeloe en Xhosa saam, en die Sothogroep (Noord-, Suid- en Wes-Sotho – laasgenoemde is eintlik Setswana) – konstante professionele ondersteuning van universiteite kan kry, sal dit al ontsettend baie help vir taal- en ander verhoudinge in die land.

Wat is die verhouding van Nederlands en Afrikaans as tale en is daar enige raakpunte in hierdie verhoudinge as mens dit vergelyk met die verhouding tussen Nederlandssprekers en Afrikaanssprekers?

Konkreet is die ooreenkoms tussen Afrikaans en Nederlands blykbaar net 50%. Dit is minder as wat dit vir die meeste Afrikaanse toeriste in Nederland voel. Vir ’n kort besoek van twee weke of ’n maand geld die baie aangename gewaarwording dat “ons mekaar verstaan”. Na my ervaring met die skryf en saamstel van Amalgaam weet ek dat ’n ooreenkoms van net 50% nie so vergesog is nie. Hoe dieper ’n mens jou in ’n taal ingrawe, hoe meer besef jy hoe min jy weet. Ek onthou tydens een van die dieptepunte in my eie Nederlandse taalverwerwing wou ek letterlik met my hande my hare uit my kop trek met die woorde: “Ek verstaan nie hierdie mense nie!”

Die meeste Nederlanders se harte vermurwe wanneer hulle Afrikaans hoor. Ons taaltjie is “grappig en leuk”. Dikwels sê Nederlanders “baja dankie” teenoor my as bewys dat hulle ’n bietjie Afrikaans kan praat nadat hulle in Suid-Afrika met vakansie was. Ek giggel meestal maar net oor hierdie oorvereenvoudigde verliefdheid op Afrikaans en moedig Nederlanders aan om weer, of vir ’n eerste keer, in Suid-Afrika te gaan kuier of om Afrikaans te lees. Dan kan hulle hulle woordeskat bietjie uitbrei. Bygesê, die meeste Nederlandse toeriste lees eers iets van Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden of ’n digbundel van Jonker, Krog of Breytenbach in Nederlandse vertaling voordat hulle op die vliegtuig klim. En as hulle die ontwikkelinge ’n bietjie dophou, lees hulle Kamfer of Naudé in Nederlandse vertaling.

Daarteenoor ontdek ek in Suid-Afrika ’n toenemende negatiwiteit teenoor Nederlands. Ek moet darem byvoeg dit geld meestal nie vir universitêre kontakte en skrywers nie. Onder Jan Alleman is Nederlands ’n taal ver weg uit Europa en van ’n vroeëre koloniale mag. Hoewel die Nederlandse koloniale invloed eintlik net in die Afrikaanse taal en die Protestantse kerk neerslag gevind het, was dit nie naasteby so skadelik soos Engels vir Afrikaans nie. Tog word Engels vandag in Suid-Afrika én in Afrikaans volledig omarm as ’n wêreldtaal. Engels is die lingua franca van Suid-Afrika. Wie lees, lees Engels en verken die Engelse literêre wêreld. Europa en Nederland raak toenemend buite sig. Die Europese literêre wêreld vervreem. Dat Afrikaans ’n venster op, en selfs ’n deur na, Europa toe is, besef bitter min.

Sien jy nog soortgelyke projekte soos Amalgaam vorentoe? Of werk jy op die oomblik weer aan iets op jou eie?

Vir sommige Afrikaanse letterkundiges, en selfs ook digters, is ’n debuut in ’n tweetalige digbundel nie ’n volwaardige debuut nie. Dít weet ek. Die vraag is of ek die kritici hulle sin wil gee en myself gaan druk om met ’n selfstandige bundel in Afrikaans  vorendag te kom. Dit is seker ’n logiese reaksie. ’n Sogenaamde (luukse) “probleem” vir my is taal. Ek skryf in beide Afrikaans en Nederlands, soos dit blyk uit die tweeluik “a posteriori Welkom” en “a priori Welkom”. Gaan ek daarin slaag om Nederlands heeltemal uit te ban as ek kies om ’n Afrikaanse bundel te skryf? Ek weet nie. Die persepsie dat ’n mens net in jou moedertaal gedigte kan skryf, beskou ek as totale snert. Ek vermoed vir myself voortdurende amalgamasie.

Dit was ’n ontsettend verrykende ervaring om saam met Willy Martin ’n literêre konsep uit ’n leksikologiese basis te ontwikkel en dit met ons eie gedigte in te vul. Ek sou Amalgaam vir geen geld in die wêreld wou misloop nie. Die woord geld wring in elk geval op digter. Dit gaan nie saam nie. Verryking lê in die hoof en hart en miskien die meeste in dié van die makers.

Maar ek wil nie meer so ernstig oor alles wees nie. Ek wil liewers al spelende gedigte skryf, mooi dinge maak en die skeppende proses op die pad na die eindresultaat toe voluit geniet: alléén of saam met iemand. Dus: Sal ek weer ’n projek saam met iemand anders aanpak? Ja. Vir seker!

  • 1

Kommentaar

  • Liewe Carina, nogmaals geluk met jou en Willy se pronkstuk. Gedigte uit twee monde en die Kaap is weer Hollands. Die gedigte in Afrikaans en Nederlands is soos soet vye op die tong. Heerlik.

    Naomi, baie dankie vir jou sinryke vrae en Carina, vir jou helder antwoorde. 'n Puik onderhoud. Uit twee monde hoor ons die waarheid!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top