In gesprek met ... Guido van den Berg

  • 0
Carina van der Walt gesels met akademici uit verskillende dissiplines uit die Lae Lande, wat hulle onvermoeibaar besig hou met Afrikaans of met Suid-Afrika. Wie is die man of die vrou agter die boek, die projek, die navorsing of op die leerstoel? Waaroor gaan die boek, die projek, die navorsing? Hoe geïnspireerd sit ’n wetenskaplike op ’n leerstoel vir bande met Suid-Afrika?

Guido van den Berg is die huidige direkteur van Zuid-Afrikahuis (’n historiese gebou uit die 17de eeu) in Amsterdam. Onder sy leiding het die broodnodige restourasie van Zuid-Afrikahuis pas begin. Ons gesprek draai onwillekeurig in dié rigting. Restourasie van hierdie histories belangrike pand aan Keizersgrag 141 was nié in 2009 ’n keuse toe Van den Berg aangestel is nie. Sy aanstelling het gevolg op ’n periode van werkloosheid waartydens hy opnuut – soos in sy jeug – vryskut skryfwerk begin doen het. Sy loopbaan by die telefoonmaatskappy KPN was na dertig jaar skielik verby. By Zuid-Afrikahuis het verkoop swaar en dreigend in die lug gehang. Stigting ZASM het voet by stuk gehou met hulle beleid van die afgelope dekades: hulle belê eerder geld in projekte as in stene. Maar die gebou sélf was besig om onder hulle oë in duie te begin stort. Daar moes baie dringend iets aan gedoen word. Van den Berg se loopbaangeskiedenis en Zuid-Afrikahuis se geskiedenis het albei wye draaie geloop. Nou loop hulle ’n histories opwindende stukkie pad saam.

Van den Berg se opleiding in geskiedenis aan die Vrije Universiteit in Amsterdam het oor ’n tydperk van tien jaar gestrek. Sy hoofvak was Nieuwe Tijd (1500–1900). Daaronder het koloniale geskiedenis en Spaans geval. GJ Schutte – wat vandag steeds bekend is as dié kenner van Nederlandse en Suid-Afrikaanse geskiedenis – was sy begeleier. Dit was gou-gou duidelik dat Van den Berg se belangstelling in die rigting van Afrika gelê het en meer spesifiek in handel in Afrika.

Hy was veral geïnteresseerd in Henk Muller (1859–1941), ’n Rotterdammer uit ’n handelsfamilie wat ’n besigheid in Mosambiek gehad het. Die mikrogeskiedenis van Muller se inspeksiereis om te gaan kyk waarom sake in Mosambiek nie loop soos dit behoort te loop nie, was uiteindelik Van den Berg se onderwerp. Gedurende sakereise na Mosambiek, Liberië en Suid-Afrika het Muller ook etnografiese verslae geskryf oor die samelewings waarheen hy gereis het. In 1896 is Muller as konsul in die Vrystaat benoem. Dit was ’n posisie wat hy dwarsdeur die Suid-Afrikaanse Oorlog eervol beklee het. Muller se lewenswyse het Van den Berg beïndruk en sigbaar beïnvloed.

Gedurende sy studiejare het Van den Berg vryskut joernalistieke werk vir Het Parool gedoen oor ontwikkelinge in Mosambiek, Soedan en Eritrea. Hy het vrywilligerswerk in weeshuise in Oos-Kenia en Uganda gedoen. Oor die algemeen was Van den Berg se ervarings in Afrika aangenaam. Hy het tuis gevoel. In 1986 het hy Quelimane (Mosambiek) toe gereis, ’n plek met ’n stukkie belangrike geskiedenis vir hom. Dit was waar Muller se besigheid was en tien Nederlanders ’n tyd lank vir hom gewerk het. Gedurende Van den Berg se tyd daar het die vliegtuig neergestort waarin Samora Machel gereis het. Dit het ’n groot artikel in Het Parool geword.

Guido van den Berg (Foto: Foto voorsien).

Is u belangstelling in die kontinent Afrika deur u studies oor Henk Muller geprikkel?

Nee. Muller was eintlik ’n verlengstuk van iets waarvan ek in my kinderjare bewus geword het. Ek het ’n oom gehad wat in Nylstroom gewoon het. Een maal per jaar het ons ’n kaartjie gekry waarop daar staan: “Geseënde Kersfees”. Hy was een van die boere uit Zeeland wat na die Tweede Wêreldoorlog Suid-Afrika toe geëmigreer het. Nog vreemder was dat ek ’n swart tante gehad het. Sy was met my oom getroud wat in Indonesië gewoon het, maar sy was nie ’n Indonesiër nie. Sy was ’n afstammeling van een van die swart soldate uit Ghana. Nederland het by die Kasteel van Elmina aan die Goudkus soldate gaan werf om namens Nederland in Indonesië te gaan veg. Daar is drie duisend soldate vir dié doel gewerf.

Wanneer het u vir die eerste keer Suid-Afrika besoek en wat was u indrukke toe?

Eers wil ek sê dat my lang loopbaan by die KPN nie aangesluit het by my opleiding en my belangstelling in Afrika nie. Toe ek klaar was met my studies, was dit resessie in Nederland. Ek het aansoek gedoen by die hoofkantoor van KPN en dit gekry. In 1991 het ek Suid-Afrika besoek. Ek is Nylstroom toe om te sien waar my oom gebly het. Ek het na Johannesburg, Pretoria en Bloemfontein toe gegaan. Laasgenoemde was op my lysie omdat Muller sy argief met etnografiese verslae aan NALN geskenk het. Ek wou dit graag lees. Terselfdertyd het ek bewus geword van iets soos “klein apartheid”. Saam met ’n vriendelike boer het ek een laatmiddag die werkers met sy bakkie gaan oplaai. Hy het nie gestop nie, maar net spoed verminder. Hulle moes so in die ry opspring. Ek was baie verbaas. Daar het ’n stuk in Maandblad Zuid-Afrika verskyn waarvoor ek nogal kwalik geneem is.

Die verwysing na Maandblad Zuid-Afrika bring ons terug by Van den Berg se huidige posisie. Toe Sief Veldkamp afgetree het, het prof Schutte – sy studieleier van destyds – hom gekontak en gevra of hy in die posisie belangstel. Zuid-Afrikahuis moes verkoop word, maar die reaksies daarteen was heftig. Ander uitweë moes gevind word. Negentig jaar gelede is Zuid-Afrikahuis aangekoop uit skadevergoeding wat Engeland aan Nederland betaal het. Dit was nadat die boere in 1902 die onderspit gedelf het in die Suid-Afrikaanse Oorlog. Die geld is aanvanklik aangewend vir spoorlyne in Suid-Afrika onder pres Paul Kruger. Vandaar die naam Zuid-Afrikaanse Spoorweg Maatschappij (ZASM). Geld wat na die aankoop van Zuid-Afrikahuis oorgebly het, is belê.

Zuid-Afrikahuis is die laaste keer in 1877 gerestoureer. Daarna moes die gebou hou, want die opbrengste uit beleggingsgeld ís – en word steeds – vir die volgende projekte gebruik: die biblioteek met 45 000 boeke, die argief, die leerstoel Suid-Afrikaanse Taal- en Letterkunde, Maandblad Zuid-Afrika, die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV), die Studiefonds, die woordeboek ANNA en ook SASNEV in Pinelands, Kaapstad.

Lekkasies, vogtige mure, stukkende verwarming, koue trekke en die ornament wat dreig om van die boonste gewel af en op die straat te val, het die lewe in Zuid-Afrikahuis versuur. Dit was grotendeels ’n donker, ou plek met ’n bietjie “stoffige imago”. Wél statig. Vandat besluit is dat daar liewers gerestoureer as verkoop moes word, het Van den Berg minstens twee moeisame onderhandelingstrajekte daarvoor georkestreer.

Eerstens is voelers uitgesteek na die Vrije Universiteit om die biblioteek en argief oor te neem en vir ’n ruimte waarin Zuid-Afrikahuis sy leeskringaande en ander aktiwiteite kon aanbied. Die Vrije Universiteit was egter net in die argief geïnteresseerd. Dieselfde het gegeld vir die Universiteit van Amsterdam. Net toe belangstelling opgeflikker het in die Koninklijk Instituut voor de Tropen (KIT) het die Nederlandse owerheid hulle geldkraantjie toegedraai en is die KIT se biblioteek gesluit.

Tweedens het die Vereniging Hendrick de Keyser en Stadsherstel geïnteresseerd geraak om Zuid-Afrikahuis vanuit historiese en argitektoniese oorwegings te restoureer. Maar ZASM sou dan sy eiendomsreg verloor in ’n konstruksie waarin bogenoemde vereniging en Stadsherstel die pand oorneem vir ’n simboliese bedrag. Dan kon ZASM sy ou pand vir ’n onbeperkte tyd terughuur. Ook dit was onaanvaarbaar.

Wie het uiteindelik ’n oplossing vir die restourasie aangebied?
 
Op ’n dag in 2012 het ek ’n e-pos van Koos Bekker, die UH van Naspers, gekry. Hy wou kom koffie drink in Keisersgracht 141. Binne ’n uur en na ’n kort rondleiding het Bekker genoem dat Naspers miskien finansieel kan help, want hy beskou Zuid-Afrikahuis "as gemeenskaplike erfgoed van twee lande wat behoue moet bly". Dit is ’n plek met geskiedenis. ’n Paar weke later het ook Ton Vosloo, die voorsitter van die Raad van Kommissarisse van Naspers, Zuid-Afrikahuis besoek. Die belofte was dat Naspers oor die brug sal kom en in die stene belê op twee voorwaardes: dat die biblioteek en argief by mekaar behoue moes bly en dat twee woonstelle ingerig moes word. Een daarvan moes as ’n heenkome vir joernaliste dien – ’n soort “writer in residence”-verblyfplek. Op 27 Maart vanjaar was dit ’n historiese moment toe die ooreenkoms formeel onderteken is tussen Stichting ZASM en Die Burger Zuid-Afrikahuis (DBZA – ’n vennootskap onder firma (“vof”) spesiaal deur Naspers vir dié doel gestig). ZASM en DBZA is nou 50/50-eienaars van Zuid-Afrikahuis.

Waar word die biblioteek- en argiefinhoud nou opgeberg terwyl die restourasie aan die gang is?

In die Regionale Archief van Alkmaar. Studente en ander geïnteresseerdes kan weer vanaf 2 September hulle naslaan- en leeswerk daar gaan doen. Ons hoop dat die restourasie teen die somer van 2015 voltooi sal wees. Een van die grootste uitdagings sal dán wees of daar genoeg ruimte vir die biblioteek en die geklimatiseerde argief behoue gebly het. Die leessaal, vergaderkamer en ontmoetingsruimte sal vernuwe wees. Die woonstel wat nié telkens vir ’n paar maande deur ’n joernalis bewoon word nie, moet ons vir ’n ekstra inkomstetjie verhuur.

Iets waaroor ons net baie vlugtig gesels het, was ’n gevoel van dubbelhartigheid wat vir my so ’n bietjie in hierdie gange hang. Toe Nederland in die tagtigerjare Suid-Afrika verwyt het en geboikot het oor sy hardvogtige apartheid, is Zuid-Afrikahuis nie gesluit nie. Op 19 Januarie 1984 het betogers Zuid-Afrikahuis bestorm. Hulle het uit protes baie biblioteekboeke in die Keizersgrag gegooi. Verfpotte is op die matte en teen die mure omgekeer. Dit was ’n historiese laagtepunt in die geskiedenis van Zuid-Afrikahuis. Zuid-Afrikahuis is desondanks nié gesluit nie.

Was die rede daarvoor regtig net “oop dialoog”?

[Van den Berg haal sy skouers op:] Adhesie en Aversie. Ons sal dit altyd rondom Zuid-Afrikahuis hê. En ek vul ingedagte aan – vernuwing en verval, modern en outyds, inklusief en eksklusief. Ek sou graag ondubbelhartig die “en” met “uit” wou vervang. Dan eers sal dit ’n historiese hoogtepunt vir Zuid-Afrikahuis word.

Wat is u visie vir Zuid-Afrikahuis?

Ek wil graag dat Zuid-Afrikahuis’n stewige bydrae lewer tot die ontwikkeling van Afrikaans, Vlaams en Nederlands as ’n soort lingua franca waarin dit nie saak maak of jy Afrikaans, Vlaams of Nederlands met mekaar praat nie. Te dikwels en te maklik skakel ons outomaties oor Engels toe, terwyl ons ewe gemaklik in ons moedertale met mekaar kan praat. Taal is die uitdrukking van die siel. Almal wat op skool ’n ander taal moes leer of op latere leeftyd ’n ander taal moes leer praat, weet hoe moeilik dit is om emosies of subtiele wendinge in ’n gesprek te verwoord. Ek wil hê dat ons in Zuid-Afrikahuis meer aandag aan byvoorbeeld boekbekendstellings, debat en filmaande sal gee. Die argief moet gedigitaliseer word. Ons moet nadink oor hoe ons die biblioteek bekender en toegankliker gaan maak. Welkom aan iedereen op die Keizersgracht in Amsterdam! Maar wag nog so bietjie tot volgende jaar se somer.

 

***

Lees: Leeskring van Zuid-Afrikahuis: dupe van ZASM-besluit.
Lees ook: Tien tannies rond een theepot en de toekomst van het Zuid-Afrikahuis.
Lees nog: Overeenkomst Zuid-Afrikahuis Amsterdam en Die Burger Kaapstad.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top