Thys & Trix: ’n filmresensie

  • 1

Thys en Trix is broer en suster en ook ywerige, onbeholpe polisiemanne. Thys is ’n bedagsame knoeier en Trix ’n ongeskikte, sexy rabbedoe. Hulle onderlangse twis veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens wéér in die verleentheid stel. Speurder Solomons, ’n gesoute en passievolle speurder, ondersoek die bedrywighede van ’n misdaad-sindikaat in ’n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai. Vanweë hulle "vanilla-voorkoms" word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ’n ondersoek te lei. Die feit dat hulle moet voorgee om ’n getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die butler gaan wees nie.


Martin Freeman (Sherlock, The Hobbit, Fargo S1) is onlangs die volgende gevra: Het hy besef toe hy op die stel van Black Panther was, dat dit so ’n uitstekende film gaan wees? Hy het eers ’n paar lugborrels gehap oor die simpel vraag, maar toe geantwoord: "No-one sets out to make a bad film." Jy glo mos wat jy doen is besonders. Hoekom sal jy andersins ’n film maak? Om ’n film te vervaardig, verg tog absolute toewyding, baie geld en ’n groot hap uit jou skedule uit.

Tog word honderde slegte films vervaardig en bemark. Waar is die hekwagters wat moet keer? Wat sê: Gaan terug en werk nog aan die draaiboek. Of: Die konsep is goed, maar die karakters is eendimensioneel. Of: Jou ego verblind jou. Thys & Trix kon baat by ’n hekwagter.

Dit is werklik nie snaaks nie. Die grappies is yl gesaai, baie veilig, en uiteindelik vervelig. Thys & Trix se regisseur, Quentin Krog, het tog beïndruk met Vir die voëls wat beide komies en uiters sielvol was. Thys & Trix is nie een van die twee nie.

Die draaiboek is afgeskeep. Om stereotipes vir cheap thrills te gebruik is lui. Om ’n arm boetie en sussie wat soos noord en suid verskil op ’n ryk gholflandgoed te plaas en ’n paar village gays en knoop-en-doop-hippies in te gooi is nie genoeg nie. As jy dan moet werk met ’n stereotipe, keer dit ten minste om, lewer kommentaar daarop, of iets in der voege.

Die toneelspel laat ook veel te wense. Dit is bitter min dat Suid-Afrikaanse komedies nie oorhel na die oordramatiese nie. Kyk byvoorbeeld na die nuwe sitkom Mense, Mense. Ek besef dat die genre dit soms verwag, die oordramatiese. Wissel dit egter af met menslikheid, met onverwagse drama en boei so jou kyker. Vergelyk dit met The Mindy Project, of selfs Deadpool 2, produksies wat beide die oordramatiese, die werklike snaakse en mal oomblikke, temper met menslikheid, met ’n stadiger ritme. Thys & Trix kon nie eers die humor regkry nie. Leandie en Bouwer oorspeel beide hul rolle. Trix is rof en onbeskof. Sy rook en noem Thys ’n poephol. Thys is verpoep en permanent naar. En dit is dit. Thys en Trix en trawante word aan jou voorgestel, maar dan as leë doppe gelaat.

Die film is mooi genoeg verfilm en die span akteurs (asook die regisseur en vervaardigers) het hulself al bewys met menige ander produksies. Hulle word in die steek gelaat deur ’n halfgebakte idee en ’n draaiboek wat nog ’n hele paar keer verwerk moes word. Thys & Trix voel asof dit vinnig aanmekaar geflans is om die volk te vermaak. Almal se talent word vermors.

  • 1

Kommentaar

  • Annette Hansen

    Ek is baie bly oor die eerlike resensie. Ek sal nie die moeite doen om die film te gaan kyk nie. Oor die algemeen vind ek Afrikaanse komedie vervelig, flou en beslis nie snaaks nie. Dis soos party Amerikaanse humor wat nie aanklank vind by baie Suid-Afrikaners nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top