Through your eyes, ’n onderhoud met Marianne Lomberg, wenner van ’n Strelitzia-toekenning

  • 0

Yolanda Wessels vra vir Marianne Lomberg uit oor haar boek, Through your eyes, wat sy met behulp van die Strelitzia-kompetisie van ROSA, die Romance Writers Organisation of South Africa, voltooi het.

Titel: Through your eyes
Skrywer: Marianne Lomberg

Wat het jou laat besluit om jou eerste boek, Through your eyes, te skryf, siende dat jy ’n veearts is?

Die aantrekking was juis die feit dat ek in ’n ander lewe kon inkruip aan die einde van die dag se werk!

Hoe lank het die navorsing en skryf van Through your eyes geneem?

Die skryf self het my 11 maande geneem – deels omdat ek ’n sperdatum gehad het vir die Strelitzia-kompetisie van ROSA, die Romance Writers Organisation of South Africa. Daarna het die redigering en voorbereiding vir publikasie nog so ses maande geneem. En om die waarheid te sê het die navorsing so tussen die skryf deur gebeur – ek het die boek begin met Niki se beroep in my kop, en alles het daaruit gegroei. Ek het maar dinge opgesoek soos ek geskryf het. Veral met die resepte waarop Niki verlief raak, was die navorsing nie noodwendig ’n straf nie! Ek bedoel, ek moes natuurlik die Gâteau de Saint-Honoré proe om seker te maak ek kon dit reg beskryf …

Jy noem dat om stories te vertel jou toelaat om ’n ander droom te leef. As ’n veearts moet jy sekerlik ’n baie besige skedule hê om boonop nog tyd in te ruim om Through your eyes te kon skryf?

Ja nee, ek het ’n ongelooflike geduldige man! Ek gebruik skryf as ’n manier om weg te kom van my werk af. Dit is vir my heerlik ontspannend om saans voor slaaptyd vir ’n uur of so te skryf. En tydens die eerste helfte van Through your eyes se skryf het ek ook baie gereis vir my werk. Saans in ’n hotel is dit maar eensaam, so op sulke tye, of tydens lang alleenvlugte, kon ek lekker met Niki gesels.

Jou taalgebruik en verduidelikings is uniek en manjifiek. Die leser kan letterlik jou woorde omsit in ’n prent. Dis ’n spesiale gawe om so met woorde te kan inkleur. Het jy enige skryfkursusse gedoen?

Baie dankie! Maar ek is glad nie formeel opgelei om te skryf nie. Ek het op skool baie goeie onnies gehad vir beide Afrikaans en Engels, maar verder het ek net geskryf soos ek graag lees. My ouboet, wat ook skryf, het vir my gesê die beste manier om beter te word is om te skryf. En ek het sy raad gevolg.

Ek het wel ongelooflike mentorskap by ROSA gekry. Die Strelitzia-kompetisie is nie net ’n ding waarvoor jy inskryf en klaar nie. Elke skrywer kry ’n mentor en lesse oor hoe om boeiend te skryf, oor storiestruktuur, ensovoorts. My mentor en redakteur, Zee Monodee, skryf self verskriklik mooi, en sy het my gehelp om my eie styl te vind tydens die kompetisie.

Niki Wolf, die hoofkarakter, is ’n introvert, iemand wat nie juis gemaklik is of aanklank vind by mense nie. Is daar enige ooreenkomste tussen jou en Niki?

Nes Niki sien ek die wêreld op ’n manier wat vir sommige mense vreemd is. Niki sien byvoorbeeld kleure in mense se stemme. Ek kan weer sekere klanke proe. Dis ’n kondisie – dalk ’n gawe? – wat sinestesie genoem word. Maar anders as Niki is mense vir my fassinerend. Ek kan my vir ure in iemand verdiep. Dit was juis vir my interessant om my in haar skoene in te dink omdat sy op dié manier die teenoorgestelde van my is!

Op ’n breër vlak dink ek elke karakter wat ek skryf dra ’n bietjie van my saam, maar ek probeer om dit so min as moontlik doelbewus te doen, anders gaan ek net dieselfde karakter oor en oor skryf.

Wat het jou laat besluit op ’n Franse storielyn?

Ek en my man het vir amper vier jaar, van 2010 tot 2013, net buite Montpellier in die Suide van Frankryk gewoon, en om eerlik te wees het ek die stad gemis. Dit was heerlik om daaroor te skryf en my terug te dink in die ou strate. En natuurlik is Frankryk die land van romanse! Dit was vir my lekker om Niki, wat glad nie in die liefde glo nie, in die land van liefde neer te sit om te sien hoe sy reageer.

Vir die konserwatiewes kan Through your eyes dalk sensasioneel voorkom, maar jy het dit nogtans gewaag. Watter terugvoer het jy ontvang en was jy voorbereid op negatiewe resensies, sou daar wees?

Weet jy, ek het hard hieroor gedink. Ek het dit sterk oorweeg om Through your eyes onder ’n skuilnaam te skryf omdat ek ’n professionele beroep het. Maar soveel van die dinge wat kan skok – die feit dat Niki aangetrokke is tot beide mans en vrouens, en die manier waarop haar ongewone denkwyse haar afsonder van mense wat haar nie verstaan nie – is dinge wat met baie mense gebeur en waaroor ons tog nog skaam voel om openlik te praat. Ek het deur die loop van my skryfwerk begin sien hoe bemagtigend dit kan wees om ’n boek te lees oor iemand wat presies soos jy is. En ek het besluit ek wil vir ten minste een persoon daardie verskil kan maak, sodat hulle hulself in ’n positiewe, selfs romantiese, lig kan raaklees in ’n karakter en voel of ek hulle verstaan.

Ek weet dat sommige mense dit sal verkies om nie so ’n boek te lees nie, maar ek glo dat een positiewe impak tien negatiewe reaksies werd is. Boonop kan ek altyd die mense wat hierdie boek slegsê karakters maak in my volgende boek en vir hulle neusvratte gee! (Toemaar, ek spot net.)

Hou jy van die navorsingsaspek van skryf?

Dis vir my een van die lekkerste dele! Ek geniet dit om akkuraat genoeg te skryf dat iemand wat die stad of die loopbaan van my karakters ken, nie foute sal raaklees nie. En ek geniet dit net om nuwe goed te leer!

Hoe balanseer jy die twee uiteenlopende passies?

Vir my is dit belangrik dat skryf ontspannend moet bly. So werk is werk, en skryf is ’n stokperdjie. Dit beteken dat ek minder skryf as baie ander mense. Maar ek wil myself nooit so hard druk dat ek die genot van skryf verloor nie.

Jy skryf stories wat saak maak – is jou werk fiksie of is van die karakters geskoei op werklike mense of persoonlike ervarings? Is van die gebeure dus fiktief of gebruik jy jou eie traumas en emosies as inspirasie?

My emosies is definitief inspirasie, maar ek skryf suiwer fiksie. Ek probeer wel om oor situasies en verhoudings te skryf wat werklik gebeur, soos byvoorbeeld om te skryf oor mense met geestesgesondheidsprobleme wat nog steeds goeie loopbane en romantiese lewens het. Ek wil hê dat my stories lekker moet lees, maar aan die einde van elkeen wil ek hê dat lesers voel of hulle iemand in hulle lewe effe beter verstaan.

Jy het al wyd gereis vir jou werk. Hoe het die ondervindings jou beïnvloed as persoon in jou werk as veearts, maar ook as skrywer wat wêreldwys is?

Sjoe, ek voel allesbehalwe wys oor die wêreld! Maar ek hou wel daarvan om te reis. Een van die belangrikste dinge wat ek geleer het na ek in vier lande gewoon het, is dat ons almal êrens buitestanders is. Dit het my baie respek gegee vir immigrante wat sukkel met ’n nuwe taal en nuwe gebruike, en nogtans deurdruk.

Jy hou daarvan om mense se lewens aan te raak, hetsy deur hul troeteldiere of deur te skryf. Ek neem aan jy verkies dus om ’n positiewe, inspirerende inslag te volg?

Ja, daar is jy heeltemal reg. Ek skryf soms oor moeilike dinge, soos verslawing en selfdood, maar ek probeer om altyd hoop te kry in my stories en in my lewe. Eendag wil ek ’n kennisgewing aan my studeerkamerdeur hang: “Happy endings only.”

Waaruit put jy jou inspirasie?

Elke roman of kortverhaal wat ek skryf begin met ’n enkele flits – iets wat ek sien of hoor, ’n kort frase of ’n foto. Ek begin dan vrae vra oor die saadjie. En die saadjies wat die interessantste antwoorde gee, word stories!

Through your eyes is gebore uit ’n gesprek met my man waartydens hy genoem het dat die SAUK, vir wie hy destyds gewerk het, vooraf doodsberigte reg het vir belangrike mense sodat hulle eerste oor die dooie kan praat. Die saadjie het my laat wonder: Wie sou dit kies om hulle lewe daaraan te wy om lewendige mense dood te skryf? En so is Niki gebore.

Is daar ’n spesifieke plek waar jy verkies om te skryf en het jy ’n spesifieke roetine, soos byvoorbeeld om na musiek te luister?

Ek kan enige plek skryf! Maar musiek of stilte is wel vir my belangrik. Wanneer ek reis, dra ek geraasdempende oorfone sodat die res van die wêreld stil raak en ek die karakters kan hoor. By die huis luister ek gereeld na musiek. Elke storie kry sy eie klankbaan op Spotify – Through your eyes het ook een waarna lesers kan luister.

Jy het die 2020-Strelitzia-toekenning gewen. Spoor dit jou aan om aan te hou skryf of is dit bloot ’n beloning om op dié wyse erkenning te ontvang?

Die Strelitzia het vir my ongelooflik baie beteken. As onopgeleide skrywer sou ek nie die moed gehad het om my boek te publiseer sonder die ondersteuning wat die Strelitzia-groep my gegee het nie. Dit was ook vir my ’n teken dat die aande wat ek skryf in plaas daarvan om die jongste reekse op Netflix te kyk, die moeite werd was. Die toekenning staan in ons sitkamer en ek glimlag nou nog elke keer as ek hom sien. En ek wil sommer vir lesers wat daarvan hou om te skryf, aanmoedig om self in te skryf! Dis werklik ’n waardevolle ondervinding.

Beplan jy ’n volgende boek?

Ek is aan die skryf aan twee! Een is in Engels, en gaan oor ’n bioloog wat lewe op die maan gaan ondersoek en ’n interessante kamermaat kry; en een is ’n Afrikaanse romanse en speel in ’n bakkery in Linden af. Daar is baie wortelkoek in die manuskrip!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top