The unlikely secret agent by die Baxter: Toneelstukke soos hierdie een is nou nóg meer toepaslik as voorheen

  • 0

Erika Marais en Wessel Pretorius (foto: Jeromeo le Cordeur)

Die Fleur du Cap-teaterbekroonde en veelvuldig-genomineerde produksie The Unlikely Secret Agent is tans vir ’n beperkte seisoen in die Baxter Golden Arrow Studio op die planke. Dit bied Kaapse gehore ’n laaste kans om die bekroonde toneelstuk te sien voor die teatergeselskap op ’n nasionale en internasionale toer vertrek.

Daar was ’n vraag-en-antwoord-sessie met Ronnie Kasrils ná afloop van die optrede op Sondag 23 Oktober.

Die toneelstuk is gegrond op Kasrils se Alan Paton-bekroonde roman met dieselfde titel, en is ’n verkenning van die dapper reis van Eleanor, Kasrils se vrou en ’n geheime agent vir die destydse verbande ANC. Daar word vertel hoe Eleanor, ’n enkelma van die sewejarige Bridget, in ’n boekwinkel in Durban gewerk het toe haar pad met Ronnie s’n kruis. Hulle vriendskap ontwikkel in liefde en hulle uitstappies na die teater en fliek word uitstappies van sabotasie en kamerade-smokkel.

..........
Die toneelstuk is gegrond op Kasrils se Alan Paton-bekroonde roman met dieselfde titel, en is ’n verkenning van die dapper reis van Eleanor, Kasrils se vrou en ’n geheime agent vir die destydse verbande ANC. Daar word vertel hoe Eleanor, ’n enkelma van die sewejarige Bridget, in ’n boekwinkel in Durban gewerk het toe haar pad met Ronnie s’n kruis. Hulle vriendskap ontwikkel in liefde en hulle uitstappies na die teater en fliek word uitstappies van sabotasie en kamerade-smokkel.
............

Sy bestel verbanne boeke vir kamerade en word ’n boodskapper vir die ondergrondse beweging. Maar die Veiligheidspolisie kry snuf in die neus dat dié jong vrou nie so onskuldig is as wat sy wil voorgee nie.

Ronnie vlug na Johannesburg en nie lank ná sy ontsnapping nie, word Eleanor onder Wet 37 (waarvolgens sy vir 90 dae sonder ’n prokureur of verhoor aangehou kan word) in hegtenis geneem.

Dis die vroeë sestigerjare, die name en dade van Mandela, Sisulu, Mbeki, Motsoaledi, Mlangeni en Goldberg is nog vars in die geheue van die Veiligheidspolisie, en Eleanor is hul sleutel tot die vastrekking van Kasrils, wat hulle vermoed agter die sabotasie van onder meer kragstasies sit.

Iemand moes hulle verraai het en die polisie probeer hard om haar te oortuig dat Kasrils haar nie liefhet nie, maar vir eiebelang misbruik.

Eleanor bly egter stil terwyl sy ondervra, rondgestamp en verneder word. Die polisiemanne probeer al hul tegnieke om haar te breek, maar voordat hulle haar heeltemal afbreek, bewerk sy haar oorplasing na ’n inrigting met ’n skyn-senuwee-ineenstorting, vanwaar sy na Johannesburg ontsnap en by Kasrils aansluit, voor hulle na Dar es Salaam vlug en daar in ballingskap woon. Die polisieman se woorde dat sy haar dogter nie weer sal sien nie, was toe profeties, maar Bridget het later in haar ouers se voetspore gevolg en ook tot die Struggle toegetree.

Ek sien hoe die toneelstuk gehore sedert sy debuut in ekstase het. By die Fleur du Cap-toekennings vroeër vanjaar is ek net so opgewonde soos die span toe dit vir agt Fleur du Cap-teatertoekennings genomineer word. Paul du Toit (wat ook die storie vir die verhoog verwerk het) vir die beste regisseur; Erika Marais vir beste aktrise, met mede-akteurs Gideon Lombard en Ntlanhla Morgan Kutu wat genomineer is vir toekennings vir beste byspeler. Paul du Toit en Sanda Shandu was deel van die oorspronklike rolverdeling en is ook benoem vir onderskeidelik beste akteur- en beste ondersteunende akteur-toekennings. Paul wen die toekenning vir beste regisseur.

Ander Fleur du Cap-teatertoekennings vir die produksie sluit in Daniel Galloway vir beligtingontwerp en Jahn Beukes vir klankontwerp.

Vir die Toyota US Woordfees- en Baxter-speelvak sluit die veelvuldig-bekroonde akteur Carlo Daniels (Onweer; Klippies van die grond; The life and times of Michael K) en die Standard Bank Ovation Award-wenner Wessel Pretorius (Ont/Undone; Balbesit; Wie’s bang vir Virginia Woolf?) in die rol van Ronnie Kasrils, by die geselskap aan.

My oog vang dié woorde van Kasrils net voor die ligte in die Bloemhofskoolsaal doof: “Om vry te breek van Covid-beperkings – soos Eleanor van polisiemarteling en -aanhouding vrygebreek het – kan hierdie meesleurende toneelstuk nou vlerke kry en oorsee reis. Haar gees sweef weer soos ’n voël om die apartheidstaat te tart, danksy hierdie briljante verwerking van my boek, puik regie en toneelspel, wat staande ovasies ontlok het – en ek is oor die maan.”

.........
Dis 90 minute van loutere teatergenot om al hierdie bekroonde mense te sien saamspan in ’n toneelstuk, wat soms die wind uit jou seile ruk, soms aan jou hartsnare pluk en soms jou bloed laat kook.
...........

Dis 90 minute van loutere teatergenot om al hierdie bekroonde mense te sien saamspan in ’n toneelstuk, wat soms die wind uit jou seile ruk, soms aan jou hartsnare pluk en soms jou bloed laat kook.

Kan dit wees dat ons skaars 60 jaar gelede die pad so algeheel byster was? Dat ons sensuur gehad het, boeke verban het, mense gemartel en vermoor het? Kan dit wees dat daardie gruwels so gou vervaag het?

Vandag is daar so baie van die jonger geslag wat onbewus is van die omvang van daardie donker dae. Toneelstukke soos hierdie een is nou nóg meer toepaslik as voorheen en die staande ovasie in die Bloemhofsaal onderskryf dit.

En soos haar man verklaar: Eleanor se gees sweef weer tartend. Hierdie keer nie om die apartheidstaat te tart nie, maar as pynlike herinneringe aan die kamerade van toe, wat net dalkies vergeet het hoe daar vir hulle part gely en baklei is, terwyl hulle nou hul sakke volprop en aandadig is aan lyding van ’n ander soort.

The unlikely secret agent
Met: Erika Marais, Gideon Lombard, Ntlanhla Morgan Kutu, Carlo Daniels en Wessel Pretorius
Deur: Gegrond op Ronnie Kasrils se Alan Paton-bekroonde roman, The Unlikely Secret Agent
Regie en verwerking: Paul du Toit
Beligting: Daniel Galloway
Klankontwerp: Jahn Beukes
Plek: Die Baxter Golden Arrow Studio-teater, Kaapstad
Tyd: Tot 29 Oktober 2022
Kaartjies aanlyn beskikbaar by www.webtickets.co.za/baxtertheatre of by Pick n Pay-takke.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top