The trek (Die trek): ’n filmresensie

  • 0

The trek (Die trek)
Met: Morné Visser, Maurice Carpede en Trix Vivier
Regisseur: Meekaaeel Adam

Dié merkwaardige Afrikaanse rolprent, wat sy debuut in Suid-Afrika by die Johannesburgse Filmfees gemaak het, word beskryf as ’n Western-riller. Maar dit delf veel dieper as daardie maklike boksie waarin dit gedruk word. Dit ontgin ook ’n eeu-oue gierige diefstal, die teistering en sonde van kolonialisme, ’n stryd om grondbesit, die mitiese verbintenis wat die Khoi- en San-mense met die Kalahari het, asook voorvadergeeste en geeste wat gedaanteverwisselings ondergaan en hul land teen vreemdelinge probeer beskerm.

’n Groep Dorslandtrekkers kies in 1846 kortpad deur die Kalahari op soek na ’n stuk barre aarde wat aan hulle belowe is. Saam met die stoere boer Karel Uys (’n uitmuntende Morné Visser), trek ’n Khoen-gids (Maurice Carpede) saam met die res van die gesin – Karel se swanger, maar dapper vrou Jakoba (Trix Vivier doen uitmuntende werk); hul dogtertjie (gespeel deur Leah Lindeque); en hul Engelse borg en “weldoener” (Rob van Vuuren as ’n onbeskaamde kolonialis) – deur ’n woestynlandskap wat van god en mens verlate is. Die aardse vyandigheid word reeds in die vroegste tonele verbeeld sodat dit die kyker inderwaarheid skroei.

Gou besef die Afrikaans-Hollandse groep dat dit daar “spook”. Met ander woorde, hulle voel die teenwoordigheid aan van geeste, moontlik van die voorvaders, en gedaanteverwisselaars (shape shifters) wat hulle teister. Die trekkers besef ook dat hulle eintlik nie in hierdie growwe, dorre Kalahari hoort nie, maar hul borg (Rob van Vuuren oorspeel soms ’n bietjie) dryf hulle voort. Tot die aarde, wat ’n antagonis word, begin terugveg.

Baie tonele speel in onwerklike, rowwe omstandighede af wat die regisseur/kinematograaf Meekaaeel Adam met realisme, maar ook ’n aanvoeling vir die mitiese en bonatuurlike vasgevang het. Hierdie tonele is terloops naby die huidige Nieuwoudtville verfilm, met ’n groep van 50 filmmakers en tegnici agter die skerms.

Die ossewa waarmee hulle trek word ’n soort primitiewe en selfs vyandige “tuiste” vir ons en die karakters, maar selfs hierdie stoere vervoermiddel is nie bestand teen die swaar klippe, sand en diep slote en vore nie. Voeg hierby die ironiese ongebore baba wat eintlik glad nie daar hoort nie, en die vrou wat aanvoel dat die einde naby is, en die rolprent ontbloot vreemdelingskap en konfronteer die gruwels van landeienaarskap van mense wat nie daar hoort nie. Ook ’n kolonis-gierigaard wat eintlik ’n soort monster is, wat alles vir eie gewin doen.

........

Wat soek hierdie mense werklik hier? Is hulle opgewasse teen die natuur wat in werklikheid terugveg teen hulle? En pleeg die pa eintlik onbewus en indirek moord deur sy gesin hierheen te laat kom?

........

Hierdie groep mense, wat bots met die geesteswêreld en die bonatuurlike, sorg vir ’n pakkende, teisterende en gruwelike storie. Wat soek hierdie mense werklik hier? Is hulle opgewasse teen die natuur wat in werklikheid terugveg teen hulle? En pleeg die pa eintlik onbewus en indirek moord deur sy gesin hierheen te laat kom? Al hierdie temas word deeglik en kragdadig ontgin.

Wanneer een van die perde sterf en die pa ’n besering opdoen, raak die waarskuwings en teenstand teen die mense se binnedring in die land nog erger. Gaan dit verby ’n blote spookstorie (riller) en Western, en spreek dit die steel en meedoënlose opraping van grond aan. Dit wys hoe indringers verwaand en koppig aanspraak maak op grond wat nie aan hulle behoort nie, en hoe hulle die ekologie en omgewing wil verander en verwring of verwoes. Maar hulle word uit ’n ander dimensie dopgehou ...

Hierdie groep, elk met hul eie motief, bots nie net met mekaar nie, maar ook met die Khoen-gids wat saam met hulle trek, en die geheimsinnige Arshumao wat by die groepie aansluit, maar duidelik uit ’n ander wêreld kom en hulle na hul verdoemenis lei.

Die regisseur het gesorg dat een van die mees bedreigde tale in Suider-Afrika, Khoekhoegowab, gepraat word. Die Boesman-kenner van veral tale Collin Meyer het hier ’n toonaangewende en raadgewende rol gespeel. Hy het onder andere vir die vertaling en realistiese dialoog gesorg.

En dit is die sleutelwoord in hierdie uitstaande rolprent wat reeds pryse op veral internasionale feeste, soos die Fantasporto- en Fantaspoa, gewen het. Dit wys vreesloos hoe die karakters eintlik na selfvernietiging gedryf word, veral wanneer hulle die haglike omstandighede waaronder hulle hulle bevind en selfs onderskat en minag, moet probeer oorleef. Dit lei tot ’n ontstellende slot wanneer iemand besef hoe futiel hierdie reis is.

The trek, wat pas in vier teaters in Suid-Afrika gewys het, en ten spyte van die aanval van Spider-Man: brand new day, redelik goed gevaar het, is ’n briljante ontginning van die stryd van ons voorouers, en die foute wat hulle gemaak het in hulle soeke na nuwe grond. Maar dit is ’n verdoemende kritiek teen die anneksering van ’n growwe, ongeskonde land wat aan inheemse volke behoort.

The trek is uitmuntend, realisties, aangrypend en onthutsend. Geluk aan almal wat by hierdie merkwaardige en taai projek betrokke was.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top