The salesman: filmresensie

  • 0

The salesman
Persies, met Engelse onderskrifte

Regie en draaiboek: Asghar Farhadi
Spelers: Shahab Hosseini, Taraneh Alidoosti, Babak Karimi, Mina Sadati, Farid Sajjadi Hosseini

Dis nie elke regisseur wat dit regkry om twee keer die Oscar vir beste buitelandse rolprent te wen nie. Die Irannees Asghar Farhadi het, met A separation in 2011 en vanjaar met The salesman.

Die film open met ’n geskarrel in ’n woonstelblok in Teheran wat ontruim moet word omdat die struktuur onstabiel geraak het – ’n metafoor vir wat geleidelik met die huwelik van Emad (Shahab Hosseini) en Rana (Taraneh Alidoosti), twee van die inwoners, gebeur. Hy is ’n hoërskoolonderwyser en hulle behoort al twee aan ’n amateurtoneelgeselskap wat besig is om te repeteer aan Arthur Miller se Death of a salesman – dié vorm die ander belangrike metafoor in die film.

Die jong paartjie moet dringend nuwe blyplek kry. ’n Lid van die toneelgeselskap bied hulle ’n woonstel aan, maar dit blyk gou dat die plek in die konserwatiewe woonstelgemeenskap onder verdenking is. Die vorige inwoner was ’n prostituut, hoewel dit nooit by die naam genoem word nie. Van haar goed is nog in die woonstel gestoor, en dit veroorsaak ’n tragiese uitkringeffek in Emad en Rana se lewe. 

Hoewel The salesman nie so uitstaande is soos A separation nie, bly dit ’n boeiende film deur ’n indrukwekkende regisseur – Farhadi is sekerlik die meester van die oop einde. Dit word sterk aanbeveel vir kunsfliekliefhebbers.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top