
Petronel Baard en Louisa-Punt Fouché se album The hovering is kuns wat die grense van genres afbreek om iets nuuts te bou wat weer alles insluit.
Die album is op verskeie stromingsplatforms te kry.
My liewe talentvolle vriendin, kollega en eweknie in die Suidweskaap, Petronel Baard, het onlangs vir my haar nuwe album aangestuur. Die musiek het op my ore en oë kom land soos ’n vars bries sonstrale wat my moeë gees kom genees het.
Die werk is maklik een van die mees paradoksale werke om te beskryf in die sin dat dit minimalisties kompleks is. Dis meervlakkig en bekruip die sintuie vanuit vele oorde, dog die skoonheid lê in die soomlose eenvoud daarvan.
The hovering is toonsettings wat Petronel gemaak het van die digter-filosoof Louisa-Punt Fouché se werk. Dit is opgeneem en vervaardig deur Petronel en Pieter van Rooyen van PVR Produksies en toe verder uitstekend uitgebeeld in kortfilms verfilm deur Efpe Senekal. Die werk behels dus ’n filosofiese element. Dit is die skelet van die geheel wat oor ons plek in die heelal besin.
Die pragtige toonsettings kan as die vlees van die werk beskou word; magtige toonsettings wat spiere bult, maar tog elegant en strelend om by die filosofie te pas. Dit maak op sy eie manier die verdere punt dat as die mens geestesgesond wil leef op hierdie aarde, dan is harmonie absoluut noodsaaklik.
Voeg daarby die visuele element van die kortfilms en die kompleksiteit van die werk verrys en die geheelbeeld vorm.
Die films het ’n menslikheid wat met die magiese van die natuurskoon van hierdie aarde verbind. Die beelde werk dus mee om die boodskap van eenheid met alles tuis te bring.
Ek maak dikwels die paradoksale grappie dat dit heelwat inspanning en harde werk verg om moeitelose eenvoud te bewerkstellig. Hier bewys die hele span medewerkers weereens die waarheid agter die stelling: “Many a true word is said in jest”. Want waarlik, al is die musiek minimalisties ...
Dikwels is dit slegs Petronel se stem en klavier, dalk hier en daar ’n tweede harmonie of ’n tweede instrument. Ook, al was die films moontlik nie so eenvoudig om te skep nie, is die gevoel wat jy kry dat dit eenvoudig net beeldskoon is: Asemrowende natuurtonele wat saamsmelt met beelde van kunswerke en Petronel wat op die klavier die musiek vir ons speel en Louisa in haar element tussen mooi dinge uit haar wêreld.
Al hierdie elemente dra by tot die filosofie wat ek eintlik nie durf om so te vereenvoudig nie, maar gun my die tikkie vergryp: Hierdie wêreld waarin ons is, is eenvoudig asemrowend maar ook asemverlenend. Die natuur is perfek en ons pas ook perfek in die natuur. Alles vorm ’n eenheid en ons elkeen is ’n volkome woord in ’n perfekte gedig. Soos ’n atoom sy plek het in elke element, is daar ook ’n plek vir ons, en hoe gelukkig is ons om ’n geheelbeeld te kan vorm van hierdie wonderlike geleentheid wat die lewe is.
Dan bly die vraag oor: Wat kan ons doen om ons dankbaarheid te bewys om die lewe op hierdie magiese aarde te kan ervaar? Dit is eenvoudig om kuns te maak so mooi soos wat ons kan. Petronel, Louisa, Pieter en Efpe het wonderlik daarin geslaag.
Dankie vir die mooi, dis musiek in die ore, dis asem in ons bloed, dis genesing vir die siel.
*
The hovering word die eerste keer voor ’n gehoor uitgevoer as deel van ’n multimediakunsinstallasie op 24 Oktober by die Mark-gemeenskapsteater in George. Dit sal gebeur met die kuns van Louisa Punt-Fouché en op die verhoog Petronel Baard (stem), Franco Engelbrecht op klavier, Johan Engelbrecht op viool, perkussie en kitaar en Lelanè van der Merwe op tjello en viool.
Besprekings via Quicket of by Heather Stead by 072 369 3304.

