The curious incident of the dog in the night-time: ’n teaterresensie

  • 0

The curious incident of the dog in the night-time
deur Simon Stephens. Gebaseer op die gelyknamige roman van Mark Haddon
Met Kai Brummer, Ashley Dowds, Jenny Stead, Lesoko Seabe, Nicholas Ellenbogen, Liz Szymczak, Kate Normington, Dylan Edy, Clayton Evertson en Genna Galloway.
Regie: Paul Warwick Griffin
Musiekkomposisies en klankinsetsels: Charl-Johan Lingenfelder
Beligtingontwerp: Gareth Hewitt Williams
Stel en kostuums: Tina Driedijk
Aangebied deur Pieter Toerien in The Theatre On The Bay tot 3 November 2018


Christopher Boone is 15 jaar oud. Hy voeg by: “Drie maande en twee dae.” Hy word goed vertolk deur Kai Brummer.

Christopher vaar uitstekend met wiskunde. Hy dink ook skerp dinge oor verskeie verwikkelde sake. Maar vreemdelinge – dié kan hy nie verduur nie. Van mense wat hom lyflik aanraak, ruk hy ru weg. In sommige spraakbeurte oor onderwerpe waaroor hy nie twyfel nie, gebruik hy woorde in lang sinne op een toonhoogte. Dis strome klank wat vinnig loop. Of hy swyg as ander hom wil beïnvloed of hy kom fel in opstand. Brummer hou hierdie soort spel voortreflik vol. Sy uitbarstings is so oortuigend dat dit ’n mens werklik ontstel. Die toneel waarin hy vooroor gebuk grusame geluide maak laat jou byna bid dat hy moet ophou daarmee.

Hierdie hoofkarakter ly aan Asperger se sindroom. Bronne verklaar dit as ’n ligte vorm van outisme. Vroeër is dit blykbaar beskou as ’n afsonderlike geestesafwyking, maar tans word dit beskryf as deel van die outisme-spektrum.

In nagtelike ure word Wellington, hul bure se hond, dood op straat aangetref. Deurboor met ’n hooivurk. Christopher is geweldig ontsteld.

Gou daarna begin hy ’n speurtog na die moordenaar. Wanneer hy sy pa Ed (Ashley Dowds) as verdagte begin beskou, vrees hy vir sy eie lewe. Hy vind uit dat sy pa hom bedrieg het. Sy ma (Jenny Stead) sou dan dood wees. Nee, sy ma het maar net Londen toe uitgewyk met haar minnaar. Christopher reis per trein na haar.

Die kere dat ma Judy driftig raak, is dit ook iets verskrikliks om aan te hoor.

Teen die einde van die opvoering reik verskillende mense uit na Christopher. Soos sy pa, onderwysers en bure. Nou trek ’n baie besonderse iemand sy aandag. Dié bied hom entoesiasties blyke van vriendskap en liefde aan. Kyk maar uit vir dié uitstekende “vertrooster van ’n bang gemoed”. (Dis ’n hond, jong.)

Alles raak as ’t ware met ‘n handomkeer vrolik en reg. Dis aangenaam, maar oortuig dit werklik? Of is dit maar soos die lewe is? Nou onder; dan hoog daarbo?

Die veelbekroonde toneelstuk is ’n verwerking van ’n trefferroman. Daarom is daar heelwat uitdagings om dit teatermatig te maak. Regisseur Paul Warwick Griffin gebruik ’n aanbiedingstyl wat dekades gelede gehore verras het en toe mode geword het. Dit herinner onder meer aan rondreisende toneelgeselskappe se skoleprogramme. Ook herken ’n mens klaskamerwerk by dramaskole. Die byna leë verhoog vergemaklik die talle toneelveranderings. Sien hier hoe die spelers die wit “blokke” waarop hulle sit ook ronddra of verskuif om ’n nuwe toneel te suggereer. Die teks vra dat spelers verskeie rolle moet speel, maar dit beteken dat ’n mens hulle nie altyd dadelik kan identifiseer nie. Ook die spelers wat binne sig wag om op te gaan is ’n bekende gebruik. Mimiek word ook benut.

Dit is ’n voorreg om in die groot geselskap twee van ons meer senior spelers te herken: Nicholas Ellenbogen en Liz Szymczak. Dadelik val die duidelike stemwerk en verhoogteenwoordigheid op. Hulle hoort tot die groep wat die jong man probeer ondersteun. Lesoko Seabe, Kate Normington en Genna Galloway is kleurryke dames. Dylan Edy en Clayton Evertson verteenwoordig veral die lang arm van die gereg.

Naas die toneelspel is hier elemente wat opwinding vir die gehoor skep: Die aanbieding vind plaas binne ’n teater met talle stralende vernuwings. Mens kan jou verkyk en verluister.

In en om die verhoog self is kunstigheid wat beïndruk: beligting, kostuums en visuele effekte. En kragtige klank en musiek.

’n Aanbeveling: Gaan geniet ’n ete in die teaterrestaurant. Ons het die moussaka enorm geniet. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top