The book of elsewhere deur Keanu Reeves en China Miéville: ’n resensie

  • 0

The book of elsewhere deur Keanu Reeves en China Miéville (2024). Beskikbaar: Penguin Random House SA

Titel: The book of elsewhere
Skrywers:
Keanu Reeves en China Miéville
Uitgewer:
Boom! Studios; Del Rey Books
ISBN: 9781529150544

Het jy al ooit, hoe nader jy aan die einde van ’n boek kom, stadiger begin lees want jy wil nie hê die boek moet klaar wees nie? Dis hoe ek oor The book of elsewhere gevoel het.

Sedert ek vroeg vanjaar gehoor het Keanu Reeves en China Miéville skryf saam aan ’n boek, kon ek my opgewondenheid nie beteuel nie. Miéville is een van my gunsteling-wetenskapfiksie/fantasie-skrywers, en hy het in die laaste dekade nie gepubliseer nie. Maak nie saak wat sy volgende projek was nie, ek wou dit lees. Dat hy met Reeves, veel beter bekend as akteur, sou saamwerk, was net ’n bonus. The book of elsewhere sou rofweg gebaseer word op Reeves se BRZRKR grafiese boeke, wat ek nie gelees het nie. Dis egter ook glad nie nodig om dit te gelees het nie. Miéville het totale vryheid gehad om ’n wêreld van sy eie te bou, op voorwaarde dat hy die sentrale karakter van die grafiese boeke behou.

.......
Unute lyk, soos in die grafiese verhale, fisies soos Reeves. Maar die filosofiese beskouing oor moraliteit en verganklikheid, dit is Miéville op sy manjifieke beste. Saam sorg hulle vir ’n kragtoer en ’n leeservaring wat my lank gaan bybly.
.......

Unute, of B soos wat hy hier bekend staan, is ’n 80 000 jaar oue wese met ’n perfekte geheue en ’n vermoë om op groot skaal dood te saai. Hy is deel van ’n militêre eenheid wat eintlik maar net daar is om hom te ondersteun. Hierdie soldate het een opdrag: As die blou lig in Unute se oë brand, gee pad. Dis die teken dat hy in ’n berserke staat ingaan. Dan maak hy voor die voet dood, en nou ja, as een van sy spanlede in sy pad beland ... Meer van sy spanlede sterf onder sy hand as onder die hand van die vyand wat hulle beveg. Unute onderwerp hom aan al die toetse wat die wetenskaplikes op hom wil doen. Hulle sien die potensiaal om soldate te skep wat nie doodgaan nie, wat nie pyn ervaar op enige menslike manier nie. En Unute? Hy hoop dat die wetenskaplikes hom sal help met die een ding wat hy nie het nie: die vermoë om te kan sterf. Of eerder, om dood te bly wanneer hy sterf. Hy sterf soms, altyd gewelddadig, maar dan word hy weer in ’n eier hergebore.

Unute is nie die enigste onsterflike nie. Daar is ook ’n vark wat al vir derduisende jare op Unute se spoor is, met die skynbaar onverbiddellike doel voor oë om Unute dood te maak. Soms slaag hy daarin, en soms maak Unute hom dood. Tot wanneer hulle weer ontwaak en van oor begin.

Dan gebeur iets onvoorsiens: Een van Unute se kamerade sterf, maar twee dae later lewe hy weer. Dit moes nie gebeur het nie – hierdie soldaat is ’n gewone sterfling, maar teen alle waarskynlikhede in leef hy met wonde wat sy oombliklike dood moes beteken het. Na 80 000 jaar gebeur iets nuuts, en Unute kom te staan teen vrae waarop hy geen antwoorde het nie. Hy word gekonfronteer met die wete dat die soldate nie so geneë is om maar in die verbygaan doodgemaak te word nie, en dat hulle, anders as hy self, familie het wat ook sterk gevoelens oor hul verlies het. Hierin lê die konflik aan die hart van The book of elsewhere. En soos wat Unute delf om hierdie geheim oop te vlek, kom hy voor ’n ander vraag te staan: Is die konflik tussen hom en die vark so onvermydelik soos wat dit voorkom? Is die vark werklik sy nemesis? En is hulle werklik die enigste twee onsterflikes?

........
Unute lyk, soos in die grafiese verhale, fisies soos Reeves. Maar die filosofiese beskouing oor moraliteit en verganklikheid, dit is Miéville op sy manjifieke beste. Saam sorg hulle vir ’n kragtoer en ’n leeservaring wat my lank gaan bybly.
........

Ek het gewonder of daar enigiets van Reeves in die teks sal wees. Miéville is die bekroonde skrywer, Reeves eintlik maar net ’n bewonderaar. Maar dit word gou duidelik dat hoewel die woorde dalk Miéville s’n is, daar ’n dik lyn Reeves deur die verhaal loop. Die geweldstonele, waarvan daar heelwat is, is grafies en herinner meer aan John Wicks as aan Perdido Street Station of King Rat. Unute lyk, soos in die grafiese verhale, fisies soos Reeves. Maar die filosofiese beskouing oor moraliteit en verganklikheid, dit is Miéville op sy manjifieke beste. Saam sorg hulle vir ’n kragtoer en ’n leeservaring wat my lank gaan bybly.

In die dekade sedert Miéville laas gepubliseer het, het hy hom in die politiek begewe en op sy akademiese loopbaan gefokus. Dis onseker of hy enigiets geskryf het, maar met hierdie boek bewys hy dat hy nie een enkele druppel van sy massiewe talent verloor het nie.

Sommige boeke lees mens een keer, en dan gaan skenk jy dit aan die naaste liefdadigheidsorganisasie. The book of elsewhere is nie een van daai boeke nie. Hierdie is ’n boek met soveel lae dat mens verplig is om dit weer en weer te lees, en elke keer sal jy iets nuuts daarin sien.

Perdido Street Station is in 2012 aangewys as een van die beste fantasietekste van die 20ste eeu. Dit sal my glad nie verbaas as The book of elsewhere in die toekoms op  soortgelyke wyse vereer word nie.

Lees ook:

Skepsel deur Willem Anker: ’n resensie

Southern (African) Gothic: Exploring the horror film genre

Bridge by Lauren Beukes: a review

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top