Terugkeer op VIA: ’n Onderhoud met Hevette Ates en Mustafa Ates

  • 0

Naomi Meyer gesels met Hevette Ates en Mustafa Ates oor die TV-reeks Terugkeer.

Hevette Ates en Mustafa Ates

Hevette, jy is ’n uitgewer (’n reklamekoördineerder) by NB-Uitgewers. Maar onlangs was jy betrokke by die verfilming van ’n TV-reeks. Hoe het dit gekom? Waar het die idee vir die TV-reeks ontstaan? 

Ek het nog altyd idees vir TV-inhoud gehad, maar die regte deure het nooit oopgegaan om ’n beroep daarvan te maak nie. Toe ek Mustafa, ’n filmmaker, in 2016 ontmoet, het ons saam idees begin ontwikkel. Ons is intussen getroud. Die Netflix-reeks Chef's table was die inspirasie vir ’n program oor sjefs in klein dorpies en die pilot het ons by Simply Saffron, in my tuisdorp, Prins Albert, verfilm. Die volgende stap was om ’n produksievennoot te kry, aangesien Mustafa as uitlander ’n klein netwerk in Suid-Afrika het en ek voltyds werk. Ek het destyds saam met Izelle Venter (VIA se kanaalhoof) by Insig gewerk en nadat die konsep vir VIA se gehoor verfyn is, ek ’n borg vir die program gekry het en ’n samewerking met Media 24 POP bevestig is, het die kameras begin rol! (Als moes vroegoggend, oor naweke en verlofdae gebeur. Hierdie Desember wil ek net slaap!)

Rolanda Marais in Terugkeer

Mustafa: Vanweë Turkye se ryk geskiedenis en verskillende geografiese invloede het die land ’n ryke koskultuur. My herkoms, tesame met my akademiese agtergrond as antropoloog, het my met nuwe oë na die groot verskeidenheid Suid-Afrikaanse tradisionele geregte laat kyk. Dit was na ’n besoek aan Simply Saffron, ’n restaurant in my vrou se tuisdorp, Prins Albert, waar die idee gebore is vir ’n program wat fokus op sjefs en kokke wat in klein dorpies gebaseer is. 

Die naam van die reeks is op hierdie stadium van hierdie vreemde jaar baie gepas: Terugkeer. Tog besef ek dit handel nie oor die terugkeer na ’n soort normaliteit nie, maar van bekendes na hul tuisdorpe. Wie was die mense wat op die program teruggekeer het na hul tuisdorpe en watter dorpe is besoek? 

Hevette: Krediet vir die naam gaan aan Wyrd Films, wat op ’n stadium saam met ons gewerk het. In hierdie seisoen het ons gefokus op bekendes van dorpe naby aan Kaapstad. In Wellington het ons saam met Rolanda Marias gekuier, Shimmy Isaacs in Worcester, Martelize Brink in die Paarl, De Wet Barry in Op-die-Berg, Maurice Paige in Heidelberg en Jack Parow in Arniston. (Jack Parow is van Bellville, maar hy het as kind saam met sy gesin in Arniston vakansie gehou en die dorpie is steeds na aan sy hart.)

Watter interessante omgewings het jy in hierdie tyd ontdek? En wat het in elke tuisdorp verander, as jy na die terugvoer van die deelnemers aan die program geluister het? Was daar aspekte van die dorp wat die mense teleurgestel het en ook ander wat hulle opgewonde gemaak het? 

Hevette: Toe De Wet Barry sê hy kom van Op-die-Berg, het ek gedink hulle huis was bo-op ’n berg naby Ceres! Reëlings vir daardie episode is getref die week voor die Kalahari-tragedie en die inwoners se broosheid was tasbaar toe ons daar verfilm. Die program het nie ’n aanbieder nie, en na die heel eerste episode kon ons sien dit sou oorbodig wees. Die oomblik wat die celebs terug in hul omgewing is, het die stories net gevloei. Mens kon sien hoe die omgewing hulle terugvat na hul vormingsjare en almal het spontaan hul nostalgie gedeel. Dalk gaan boer Maurice Paige nog binnekort in Heidelberg! Die ritueel van kos maak, en wat gebeur as mense saam om ’n tafel kuier, moet ook nie onderskat word nie. In die program ontmoet kykers ook interessante locals van die onderskeie dorpe en sien wat in die gebied verbou en voorgesit word.

Wie was almal betrokke by die vervaardiging van die reeks en wat was elkeen se rol? 

Hevette: Na gesprekke met ’n paar produksiemaatskappy het ons Terugkeer saam met Media 24 POP verfilm. Elke episode is in een dag verfilm, so mens vind mekaar gou-gou! Ons het by mekaar geleer en baie gelag. Christiaan Kritzinger was die regisseur. Ek en Mustafa was die skeppers wat die inhoud gedryf het. Ek was ’n medevervaardiger en Mustafa ’n kinematograaf.

Wanneer word die program uitgesaai en het jy nog meer praktiese inligting hieromtrent? 

Hevette: Maandagaande om 19:30. Dit skop op 2 November af en die laaste episode word op 7 Desember gewys. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top