Ter verdediging van Nkosazana Dlamini-Zuma

  • 13

Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: Wikipedia) en Bettina Wyngaard (Foto: verskaf)

Wanneer mense onder stres geplaas word, gaan hulle terug na hul default settings, daai diepgewortelde geneigdhede en sienings oor mense en die wêreld wat in hul wese ingevleg is.

Daarom dat ek selde oortuig is wanneer iemand rassistiese opmerkings maak en, gewoonlik wanneer die gevolge in hul gesig opblaas, as verskoning aanbied dat hulle onder stres was. Stres verander nie jou persoonlikheid nie, dit ontbloot wie jy is.

En lockdown het almal onder stres geplaas.

Nkosazana Dlamini-Zuma is waarskynlik die persoon wat die meeste deurgeloop het onder die frustrasie van Suid-Afrikaners. Al wat vinniger versprei as memes waar sy negatief uitgebeeld word, is die skeldname, sommige met beswaarlik verskuilde rassistiese en seksistiese ondertone. Ou Kopdoek is die gewildste onder die name. Nie een van die twee woorde is op sigself neerhalend nie, maar die kombinasie, tesame met die stemtoon wat dit gewoonlik vergesel, vertel ʼn ander storie. Dit vertel die storie van ʼn persoon of groep wat geen respek het vir ʼn senior politikus se kulturele waardes, styl, ouderdom of geslag nie.

En wat is dit met rassiste se liefde om die woord “ou” te gebruik met verwysing na enigeen van ʼn ander ras wat hulle wil beledig?

Die kritiek teen ons volgende president gaan nie regtig oor tabak, of gaar hoender, of drank nie. Dit kan ook nie regtig oor haar gewese man gaan nie. Hulle is immers al meer as twee dekades nie meer getroud nie. Ek haal my hoed af vir die feit dat hulle in staat is om op respekvolle en dalk selfs vriendelike manier teenoor mekaar te kan optree. Nie baie paartjies wat uitmekaar gaan, kan dit doen nie.

Gaan dit oor die bewerings dat sy persoonlike finansiële belang het by die verlengde verbod op die verkoop van tabakprodukte? Ek vind dit moeilik om te glo, want van die mense wat haar die hewigste hieroor kritiseer, is van die ywerigste ondersteuners van die onwettige tabakhandel. By implikasie maak dit hulle dan seker bydraers tot haar verkiesingsveldtog, as die bewerings gegrond is.

Ek vermoed die amper irrassionele haat gaan om iets meer basies as dit. Ons almal weet dat geen besluit, binne of buite lockdown, deur indiwidue in die regerende party gemaak word nie. Die ANC maak besluite as ʼn collective. Besluite gedurende lockdown is gemaak deur ʼn groep senior persone. Die gesprek of hulle op grondwetlike wyse tot stand gekom het en hul besluite gemaak het, is nie ter sake vir doeleindes van hierdie stuk nie. Wat wel ter sake is, is dat die groep en nie enkele persoonlikhede nie, besluite maak.

Dlamini-Zuma het nie op haar eentjie, sonder ondersteuning van die groep, besluite rondom enige regulasies gemaak nie. Sy het dit net namens die groep aangekondig. Hoekom haar dan haat daarvoor?

Sy is ʼn voormalige voorsitter van die AU Kommissie. Sy was al minister van gesondheid, en is ʼn mediese dokter, wat beteken dat sy COVID-19 waarskynlik beter verstaan as die meeste van ons. Sy het in elke kabinet sedert demokrasie gedien, in verskeie portefeuljes. Sy is een van die mees senior politici in die ANC. Sy is ʼn opgevoede, intelligente, elegante swart vrou wat geen probleem het daarmee om die mag wat sy het, te gebruik nie.

Dis waarom sy gehaat word. Hoe durf sy nie haar plek ken nie?

Toegegee, sy het nie die charisma van ʼn Cyril Ramaphosa nie. Sy het selfs nie die sjarme van haar gewese man nie. Sy kom nie moederlik oor nie, en dis mos wat ons van ons vroue verwag, nie waar nie? In daai opsig laat sy my baie aan Hillary Clinton en selfs Angela Merkel dink. Sy steun op haar intellek en haar logika om mense te oortuig. Gewildheidsveldtogte is vir haar irrelevant.

Bheki Cele, met sy kragdadigheid en sy aanmoediging van polisiegeweld, doen veel meer skade aan die land en sy burgers, maar hy ervaar nie dieselfde backlash nie. Dis immers sy opdragte wat die toepassing van die regulasies moontlik maak. Hoekom? Ons verwag mos van mans om aggressief op te tree. Besides, as die polisie swartmense in die townships wil doodslaan, het dit nog nie impak in die suburbs nie.

Dlamini-Zuma se groot sonde is nie irrassionele besluite nie. Dis dat sy ʼn vrou is wat mag uitoefen sonder om verskoning daarvoor te vra.

Dalk moet ons begin gewoond raak daaraan. Tensy iets drasties gebeur, is sy immers die volgende president van die land.

Daar is veel erger alternatiewe.

  • 13

Kommentaar

  • Me Wyngaard; u ken nie die woede van ons rokers nie - manlikes en vroulikes. Ons is nie rassiste nie - ons voel almal dieselfde - wit, swart, bruin, Christen of Moslem rokers - oor die dokter se arrogansie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ons het nog ’n ander persoon aan wie die “kopdoek” titel ook dikwels toegedig word in Suid-Afrika. Dit is natuurlik ’n sekere politieke wetenskaplike verbonde aan die NWU. Nota: hy’s ’n wit Afrikaanse man. Nes Dlamini Zuma is daai “kopdoek” ook uiters ongewild onder sekere groepe ...
    Hier is genoeg veralgemenings in hierdie stuk dat mens tot in der ewigheid in sirkels sal kan redeneer. Dat daar onsmaaklike opmerkings oor haar gemaak word is ’n feit. Ek het darem ook sulke opmerkings oor Cele gesien. Dit is skokkend en verkeerd.
    Maar beteken dit nou dat sy verhewe is bo enige kritiek?
    Maak dit van elke mens wat haar kritiseer of bietjie met haar spot dryf nou per definisie ’n rassis en ’n seksis?
    Daar is baie vrae oor hoe hierdie pandemie hanteer word. Gerieflik word die grondwetlikheid egter hier eenkant toe geskuif. Lyk my die grondwet is net belangrik as ons wil spog oor ons land. Ek het simpatie met my leiers. Hulle is in ’n onbenydenswaardige posisie. Maar vrae en kritiek en spot, die sal daar altyd wees. Dit is die aard van ’n demokrasie.

  • Los nou maar die politieke korrekte argumente van feminisme en ras (swart wat altyd benadeel word) en dink aan die uitsprake en besluite wat onder leiding van hierdie dame gemaak is. Is dit logies en wetenskaplike? Is die uitsprake oor rook goed nagevors? Sekerlik het sy ‘n groot stem in die kollektief en die karakters wat haar gesteun het teen Ramaphosa in die presidentsverkiesing is ook maar van twyfelagtige aard soos Ace, Cele en kie. Soos die karakter Uilspieël gesê het: “ Almal haat my, maar ek maak daarna”.

  • Hoe intelligent ook al, hoe elegant ook al, sy MOET haar plek ken. Nie omdat sy swart is nie. Nie omdat sy 'n vrou is nie. Omdat sy 'n dienaar van die mense is. Dit is wat 'n politikus in 'n grondwetlike demokrasie behoort te wees. Sy is nie ons moeder wat moet besluit wat goed is vir ons nie. Ons is volwassenes in 'n grondwetlike demokrasie met 'n grondwet waarvan een van die grondliggende waardes die bevordering van menslike vryheid is (Kyk art 1(a)). Dus, jy tas nie ligtelik vryheid aan nie. Sy het duidelik (indiwidueel of kollektief) haar magte oorskry.

  • Ag vader tog, Bettina. Jy val maar altyd terug op die ou ou geykte ras en swart vrou ding. Weet jy hoe oninteressant dit is? Plaas jy vat die argumente wat in die hof aangebied is en gee 'n logiese, beredeneerde analise daarvan? Of is dit te veel gevra ...?

  • Avatar
    chris 5 jaar lank ñ nie-roker

    Pragtige kommentaar wat elke rassistiese en seksistiese verskoning uitbuit om die probleem te omseil.
    Almal kon in die COVID na isolasie periode ewe skielik slegs SA sigaret produkte teen belaglike pryse onder die toonbank bekom. As jy kan glo dat die rede vir geen tabakprodukte die van spoeg op ’n papiertjie is het jy met respek gesê geen idee wat ’n roker sal doen om sy nikotien in te kry nie. Ewe skielik rook almal juis rou tabak wat goedkoper en beter as die skelm SA sigarette is. Selfs die fansie papier sigaret mense. Daar word meer drankbottels uitgeruil as sigarette om nie eens van ons wettige dagga te praat nie. As jy ook nog verkondig dat AIDS met ’n stort afgewas kan word, weet jy definitief nie waarvan jy praat nie. Of dit nou ’n kopdoek, ’n dokters kwalifikasie, ’n springbok of ’n kortbroek is wat nonsens praat. Haar politieke waarde vir die beherende party soos dit jy dit weeg is juis dat sy dit wat voorgesê word oordra en nie dit wat enige mediese kwalifikasie vir haar duidelik behoort te maak nie. Sy is juis die kundige wat die onkundiges moet lei.
    Wat ’n lady sy is of nie weet ek nie, maar as jy swart moet byvoeg in jou verdedigingspleit het jy dieselfde probleem as daardie wat jy nou so mooi op hul plek wil sit.
    Ek hoop dat u volgende keer sal dink voordat u ’n patetiese politieke slaaf se uitlatings probeer regverdig. Ja, pateties. Geen mens wat slaafs die onkundige (“verskoon my”) TWAK wat ander praat en dit nog teen hul eie beterwete verkondig, het enige mag of selfrespek nie. Die feit dat sy oor ’n periode van soveel jare keer op keer haar eie beterwete namens die kollektief eenkant toe gestoot het sê alles. Enigeen wat verkies om onkundig te bly wanneer hul eie omstandighede beter toelaat is bereid om ’n slaaf te wees.
    Dit is ook my opinie dat daardie wat enige “-isme” moet aanhaal om hul punt oor te dra, bydra tot die vermetelheid van die kollektief (“kopdoeke, kortbroeke, ou partye, nuwe partye of hoe ook al enigeen hul persoonlike ‘hulle’ wil beskryf”) om namens ons te praat.
    Bly gesond en help die onkundiges verstaan 🙂

  • Na aanleiding van een van Salomo se wyshede soos in die boek Spreuke soos in die Bybel weergee, het ek ’n eenvoudige besluit gemaak. Jy hou jou bek en sê niks, dit laat ander wonder of jy ’n dwaas is. Dit is beter om dit te doen, anders bevestig dit die ander vermoede.

  • "Dalk moet ons begin gewoond raak daaraan. Tensy iets drasties gebeur, is sy immers die volgende president van die land."
    Nee dankie een Zuma was genoeg,
    Wat die dame bereik het is om duisende rokers hul toevlug te neem tot swartmark sigarethandellaars te laat neem en sodoende nog 'n groter probleem veroorsaak het as die een wat sy wou verhoed want die onwettige sigarette was in baie gevalle meer skadelik as die wat normaalweg verkoop word.

    Nou reken sy dat mense sigarette onder mekaar uitdeel en saam rook maar nie uit dieselfde bierbottel sal drink nie! Nie alleen het sy die skatkis van miljoene Rande se inkomste ontneem nie maar in swartmark handellaars se sakke laar beland.

    Die verlore inkomste moet nou geleen word-eintlik gebedel word op die internasionale mark.So betaal die rokende gedeelte van die bevolking dubbeld vir
    'n onsinnige besluit en moet almal hul nou maar regmaak om hul hand dieper in die sak te steek want geleende geld moet terugbetaal word.

    'n Kollektiewe mistykie reken ek,

  • Avatar
    Rina Hauptmann

    Sy is ’n dame reg gesê. Sy is nie my ma of my ouma nie. Ons is volwasse mense en nie kinders wat daagliks aangesê word deur haar wat ons mag dra en wat ons mag doen. Daar is wette waarvolgens ons moet leef, maar die epidemie het sy oorgeneem en maak elke dag reëls en regulasies wat irrasioneel is. Moet ook nie sê die hele kommitee beslis daaroor. Sy ondermyn mnr. Ramaphosa. Sy het die mag en boeta daai mag gebruik sy om die mense van hierdie land te beheer.
    Die dag wat sy ons president word sal dit ’n nagmerrie wees. Ek hoop nie dit gebeur in my leeftyd. Ons het nodig ’n leier en sy is beslis nie ’n leier en dit is wat SA nou nodig het. Sy gaan die burgers in die land met ’n ysterhand beheer en nie leiding gee nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top