Temba en sy Proteas op die wenpad, maar nog werk lê voor

  • 0

Prent: Canva

Temba1   en sy Proteas op die wenpad, maar nog werk lê voor

........
Daar’s belofte in die lug!
........

En daar vee Suid-Afrika se krieket-Proteas nou die dag vir Indië skoon uit die pad met ’n oortuigende oorwinning in die veels te kort reeks van twee vyfdag-toetse, nogal in Indië – een van die moeilikste plekke vir besoekende spanne om in te wen.

Boonop maak die Proteas toe skoonskip, met twee toetsoorwinnings teen nul, en die Suid-Afrikaners se draaibalboulers aan die voorpunt. In vergeleke met die verlede, is dit een van die grootste tegniese verskuiwings in Suid-Afrika se krieketvermoëns wat nog altyd meestal op snelboulers en kolwers berus het. Om verder sout in Indië se wonde te vryf, wen hierdie spannetjie van ons boonop toe die tweede toets met 408 lopies – in enige taal ’n massiewe pakslae vir die tuisspan, maar nog meer so gegewe die kombinasie van onvoorspelbare kolfbladoppervlaktes wat oor die jare een van die grootste uitdagings vir besoekende spanne in daardie deel van die wêreld was. Dus is dit geen wonder nie dat Suid-Afrika laas in die jaar 2000 ’n toetsreeks daar kon wen, want ons kolwers sukkel dikwels teen die draai van die bal, ons snelboulers kry nie veel hulp uit daardie tipe kolfblaaie nie en ons was maar dun aan draaiboulers. Maar die drie draaibalsterre – Keshav Maharaj, Simon Harmer en Senuran Muthusamy – het hierdie keer omtrent feesgevier.

Om hierdie oomblik ten volle te waardeer, onthou dat Suid-Afrika van 1970 tot 1991 uit internasionale krieket verban is as gevolg van internasionale sanksies teen die apartheidregering se rassistiese uitsluiting van swart spelers. Die talente van uitstaande spelers soos die Pollock-broers, Barry Richards, Mike Procter, Clive Rice en Eddie Barlow het geen of min internasionale blootstelling gehad, en Suid-Afrika het ’n paar Wêreldbekers gemis as gevolg van die internasionale protes teen apartheid.

Met apartheid nog vars in die geheue, was die 1990’s ’n geskarrel om ’n nuwe krieketidentiteit en nuwe sterre te ontwikkel. Boonop was die spanne nog nie juis ten volle ‘n verteenwoordigende weergawe van ’n nuwe Suid-Afrika nie. Om daardie span te transformeer na een wat werklik Suid-Afrika kon weerspieël, was moeilik en gevul met nog aansienlike agterdog oor of Suid-Afrikaanse krieket werklik aan die transformeer was.

Ná isolasie was die Proteas verrassend uitstekend, maar ook wisselvallig, terwyl politieke wantroue en transformasiedebatte aan die orde van die dag was. Verskeie spelers het oorsee gaan speel op korttermyn kontrakte, en die Proteas het verskeie veranderinge in afrigters gehad. Tot in die laat 2010’s was verskeie Protea-spanne hoogs mededingend, heel gereeld nommer een in die wêreld of naby daaraan, en met knap nuwe sterre uit voormalige uitgeslote agtergronde, soos Makhaya Ntini, Paul Adams, Herschelle Gibbs, Ashwell Prince, Imran Tahir, JP Duminy, Hashim Amla en Vernon Philander. Maar die politieke balans is nooit werklik gevind om die wyer post-apartheidtransformasie te stabiliseer nie, en elke nou en dan het dit ook geblyk dat sommige spelers nooit regtig in die nasionale span tuis gevoel het nie.

Op bestuursvlak het dinge maar bly sukkel, soms met swak leierskap, ’n hele klomp bestuursprobleme en heelwat omstredenheid oor spankeuses en die keuse van bestuurders. Dit het die spanne verswak en dit vir van die beste spelers soms meer aantreklik gemaak om oorsee te gaan speel. Onvermydelik was daar spanninge binne die bestuursliggame en in spanne. Toeskouergetalle het ook gedaal en binnekring-kontroversies het al hoe meer toegeneem.

’n Forensiese oudit is in 2019 geloods en die Fundudzi-verslag in 2020 het wydverspreide bestuursprobleme blootgelê, soos swak toesig en finansiële wanbestuur en onvoldoende uitvoerende verantwoordbaarheid. Die skorsings van en optrede teen uitvoerende bestuurslede het ten minste gedeeltelik die publiek rede vir groter vertroue gegee en die Krieketraad laat werk maak daarvan om die probleme meer sistematies aan te pak. Al die kritieke hofsake is nog nie noodwendig opgelos nie, en sommige appèlle is nog nie finaal afgehandel nie, maar die Fundudzi-verslag het ruimte geskep vir interim aksies om die probleme te begin aanspreek.

Na die verslag is ’n interim raamwerk ingestel met ’n nuwe onafhanklike direksie om wanbestuur aan te spreek deur organisatoriese strukture te hervorm, verantwoordelikhede duideliker af te baken en interne beheer en bestuur te versterk. Sedert daardie hervormings is daar sterker finansiële stabiliteit, meer wins, uitbreiding en steun aan krieketontwikkeling en verbeterings in uitvoerende bestuur, alhoewel al die hofsake nog nie finaal opgelos is nie. Daar is ook nog spanninge oor of daar voldoende ondersteuning is om voorheen benadeelde spelers effektiewe geleenthede te gee. Op die speelveld egter het die nuwe afrigter, Shukri Conrad, stabiliteit en rigting aan die span gegee, en wat ons tydens hierdie reeks in Indië en in Suid-Afrika se bekroning as wenners in die onlangse Wêreldbeker-finaal gesien het, dui op positiewe verskuiwings.

Of hierdie hervormings Suid-Afrikaanse krieket werklik oor tyd kan stabiliseer, hang grootliks af van konsekwente bestuur, deursigtige verantwoordbaarheid en die beskerming van die sport teen onbehoorlike politieke inmenging. Die geskiedenis van die afgelope dekade – gekenmerk deur skandale en onstabiliteit – toon net hoe broos daardie balans is. Maar daar is ten minste nou ’n meer stabiele leierkern in die span, ’n afrigter met ’n plan en ’n kaptein met gesag, en skynbaar spelers wat goed klaar kom. Daar’s belofte in die lug!

  • 1 Temba Bavuma, kaptein van die Proteas

Lees ook:

Spring bokkies, spring!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top