Teks en teorie: Leser se spel met teks, of teks se spel met leser?

  • 6

Lees ook: 

Repliek: Elke teks is 'n vorm van taalhandeling

Repliek op Willie Burger se kommentaar aangaande literêre teorie

1. Vooraf 

Die interpretasie van 'n literêre teks is 'n bedryf wat lesers, akademici en studente as lewensbrood ervaar. Die teorie bly nie agter nie, en menige teoretiese benadering tot 'n teks het al gekom, gegaan, en is dan maar weer opgevolg deur 'n ander. Natuurlik word die teorie ook bepaal deur nuwe rigtings in die skeppende werk, en teksontleders gryp daarna as stut om weer 'n teks daarmee te ontleed totdat die mode weer alles agterhaal.

Vir studente het hierdie skaakspelery een groot nadeel: hulle gaan dikwels weg van die universiteit met een benadering, maar hoor dan later dat daardie benadering nou weer verouderd is.

Dit is maar dieselfde patroon in die wetenskap, die tegnologie en die medisyne. Maar met een groot verskil: laasgenoemde groep binne grootskaalse verbetering en verfyning, terwyl literêre modes selde iets anders is as bloot modeverskynsels. Steeds is daar lesers wat vas glo aan resepsie-estetika, modernisme en selfs postmodernisme as enigste maatstaf, om nie te praat van die groot en bra leë woorde van 'n Derrida nie. Daar is teoretiese werk wat aan die kern van teksontleding raak, en sulke werk bly bestaan. Dink byvoorbeeld aan die boeke van Linda Hutcheon, Barbara Herrnstein Smith, Susan Sontag, Harold Bloom, Michael Riffaterre en etlike ander. Die beste teorie vir die ontleding van 'n teks word egter deur die teks self bepaal.

Die teks gaan die teorie vooraf, dus eers die teks, dan later (miskien) die teorie. Lees tans resensies en dit wemel van Lacan, Kristeva, Umberto Eco, en Jung en Foucault. Van hierdie werke is nou ook nie meer so onlangs nie. Hoe meer teoretiese werk aangehaal kan word in byvoorbeeld 'n resensie, hoe meer wetenskaplik en belese is die beeld van die resensent.

Laat ek egter dadelik bely: Eco, Foucault, Hutcheon en andere se werk vul 'n groot deel van my eie boekrak. Ek het geen probleem om die teorie, in 'n volledig verwerkte vorm, in literêre ontledings te vind nie. Eers moet die persoon wat interpreteer egter die werke volkome in sy/haar eie leesregister verwerk, en nie maar na die name gryp om krag te probeer gee aan 'n eie argument nie. 'n Literêre artikel of 'n resensie wat 'n teoretikus bloot aanhaal sonder noemenswaardige relevansie, ondermyn in 'n sekere sin die integriteit van die teks self. Vir enige leser van so 'n stuk wat nie self behep of vertroud is met die teorie nie, is dit net 'n onnodige belading. Die literêre gemeenskap wat in 'n akademiese kokon leef, is maar klein, en die meeste van hulle gebruik die artikel om kritiek te lewer op die skrywer/resensent se benutting van die teorie. Vir wie skryf ons resensies of ontledings van literêre tekste? Waarom skryf ons dit? Te dikwels as deel van 'n gesprek in die klein en bedompige binnekring, vrees ek. So dikwels is 'n teks 'n kapstok vir literêre vertoon en belesenheid.

Die oomblik as 'n skeppende skrywer die verwysingswêreld van teorie gebruik in die skep van 'n teks, raak dit gevaarlik. Slegs as die skrywer teoretiese kennis so gebruik dat dit die waarde van die teks verhoog, kan dit 'n bate wees. Die oomblik dat dit nodig word vir 'n leser om die teorie te moet gaan opsoek om te weet waarna die skrywer verwys en hoe die teks bedink is, word die teks prooi van die teorie en word die werk, en die skrywer, gewoon pretensieus. Aangesien hierdie essay nie gaan oor skeppende skrywers nie, laat ek dit oor aan skerpsinnige lesers van sommige onlangse tekste om dit self raak te sien. Ook vir die skrywer moet die teorie nie wesenlik deel wees van die roman of gedig of wat ook al nie. Pretensie in 'n skeppende werk is 'n doodsonde.

Daar is 'n aantal kritici in Afrikaans wat metodes ontwikkel en verken vir die ontleding van 'n teks. Om enkeles te noem: Joan Hambidge slaag daarin om teorie op 'n verweefde wyse in haar resensies; Helize van Vuuren sit op vernuftige wyse die metodes van die literêr-grammatiese ontleding voor in aansluiting by die Scholtz-Hellinga-tradisie, waar interne sowel as eksterne gegewens betrek word; Thys Human gebruik die teorie sinvol om 'n teks se waarde en inhoud te ontsluit en lê klem op die geheel van die teks sonder om vas te haak by partikuliere momente; Louise Viljoen kyk holisties na 'n teks; en Heilna du Plooy ontsluit die struktuur van die teks en beweeg daarvandaan na die onderdele.

Daar is ook die moontlikheid van 'n semantiese (taalkundige) benadering. Die bespreking hieroor volg later.

Umberto Eco (foto: wikipedia, Ufficio Stampa Università Mediterranea di Reggio Calabria)

2. Teks

“Every writer creates his own precursors. His work modifies our conceptions of the past, as it will modify the future.” Jorge Luis Borges

Elke goeie teks stel uitdagings aan die leser. Die teks laat die leser nie sonder meer toe om sy geheime te ontdek nie. Die cliché dat die lees van 'n teks 'n avontuur is, is baie waar, maar nie noodwendig in die algemene sin nie. Die taal van die teks bly enigmaties en die onmiddellike woordeboekdefinisie is nie altyd die oplossing of die antwoord nie. In 'n gedig kan die woord skielik die woordeboekwysheid omkeer, ondermyn. Selde egter bring hierdie woordspel in 'n teks 'n permanente semantiese verandering teweeg. NP Van Wyk Louw het dit feitlik poëties gestel: die taal is sy eie wette en wese, het sy eie dissipline; die teks in sy skeppingsdrif wil totaal nuwe moontlikhede ontgin. Hierdie innerlike spanning is volkome deel van die gedig – die een mag nie die ander oorweldig nie. Uit hierdie spanning word die gespanne ewewig gehandhaaf (Rondom eie werk). Ek weet ek trap op toegewyde tone, maar het Peter Blum se "Man wat mal word" byvoorbeeld enige taalbydrae gelewer?

Ook die sintaksis in die teks bring 'n verskeidenheid patrone. Sintakties is 'n gedig 'n mosaïek van verstrengeldhede, en leestekens of gebrek daaraan speel saam, so ook die ortografie. Die semantiek en die sintaksis van die gedig vorm die argitektuur van die teks. Dit moet die beginpunt van en vir die leser wees. Die tema en die "boodskap" van die teks is die prys, maar die taal is wesenlik noodsaaklik vir die teks. Jong digters word bekoor deur die gebruik van woorde, dikwels sonder om te besef dat woorde paradigmaties optree. Die gedig, in sy netwerk van woorde, sinstruktuur, verwysings en implikasies, skep sy eie paradigmatiese velde. Hierdie patroon word versterk deur die geïmpliseerde taal, sy dit beelde, metonimia of simbole – geskepte simbole of gedefinieerde simbole. Soos die digter al hierdie faktore moet bereken, so moet die kritikus en die leser. In die eerste plek is die literêre teks taal. 'n Feitlik obsessionele soeke na 'n toepaslike teorie is om blindelings óór die teks te hardloop om by 'n Lacaniaanse of watter ander psigologiese lesing of openbaring uit te kom. Die teks bestaan kragtens taal en die wonderwêrelde wat taal oproep.

Van Wyk Louw het jare gelede die totale outonomiteit van 'n teks beklemtoon – van die titel af tot die slot en die punt aan die einde, dít was al. Alleenlik binne hierdie grense bestaan die teks en so moet dit gelees word. Ter versagting moet 'n mens onthou dat dit 'n reaksie was op die gedurige bybring van biografiese besonderhede van die skrywer om die teks te ontleed en te begryp. Ons weet nou dat die skrywer haar-/homself dikwels binne die teks posisioneer, ook dat sekere buitetekstuele aspekte betrek mag word wanneer die teks dit toelaat. Die oorheersende faktor waaraan die teks homself blootstel en waaraan die leeswêreld van die leser meewerk, is die verband van teks tot teks, bundel tot bundel, roman tot roman – intertekstualiteit. Intertekstualiteit is geen teoretiese gegewe meer nie, dit het deel van die lewe van die teks geword, 'n buitengewone deel daarvan. Riffaterre het hierin 'n groot rol gespeel.

Tekstuele moraliteit is in die eerste plek die mistiek van die teks. Dit het weinig te make met sosiale korrektheid, ook nie met sogenaamde bewustelik betrokke literatuur nie. Doodgewoon nie, omdat letterkunde in sy eie DNS 'n bepaalde sosiale verantwoordelikheid veronderstel. Ook dui dit nie op 'n pedagogiese ingesteldheid nie. Die werk van skrywers soos Johann de Lange, Koos Prinsloo, Etienne van Heerden en meer onlangs Willem Anker het die taboes lankal agtergelaat. Soos in 'n musikale komposisie moet die verskillende ontwikkelings mekaar dien, aanvul en openbaar. Die fuga is perfekte illustrasiemateriaal waar die systrome telkens die hoofstroom ontmoet en deel daarvan word in die verwagting van nuwe systrome. Karel Schoeman se roman 'n Ander land is ‘n perfekte voorbeeld in Afrikaans, so ook DJ Opperman se Blom van die Baaierd.

Party jong digters probeer die geykte opvatting van morele waardes ophef in bra grafiese tekste en met die gebruik van gewraakte woorde. Die gevaar hier is dat 'n gedig kan verval in 'n moedswillige retoriek, selfs in 'n vervelige banaliteit. Die mistiek van 'n teks is nie gelyk aan bewustelik mistieke tekste soos by Sheila Cussons nie, maar in die wêreld van die versluierde woord. Dit is die selfs onderdrukte soeke na skoonheid, al is hierdie skoonheid vasgevang in die slik en slym van 'n Nyl (na DJ Opperman). In Na'va vind Etienne Leroux dat die chaos "'n vonk van die ewigheid" oplewer.

Die teks kan nooit losgemaak word van die mitologie nie. Dit dig oor die mitologie, gee daaraan nuwe dimensies, mitologiseer en ontmitologiseer; dit ontluister en wat nog. Borges sê: "For in the beginning of literature is the myth, and in the end as well." Die teks, die goeie teks, kan nie anders as om mitologie te skep en inherent mitologies te wees nie. Soos die aarde geskep is uit die waters, so kom die literêre teks tot stand. As dit nie so is nie, het die teks beswaarlik bestaansreg. Soos dit staan in die poëtiese pragstyl van die King James-bybel van meer as 400 jaar gelede: “And the earth was without form, and void; and darkness was upon the face of the deep. And the Spirit of God moved upon the face of the waters. (...) and God divided the light from the darkness." So begin die oerskepping uit die waters en die duisternis, die primordiale. Die teks is die blom uit die baaierd, die skone luiperd uit die diepte van 'n oerwêreld, die verlore dorp, die Verliesfontein, uit 'n verborge Karoo.

Die siniese digter Heinrich Heine het by geleentheid opgemerk dat hy die Bybel kan glo slegs wanneer hy die Bybelboek Job lees. Hierdie boek, sê Heine, is die gif in die Bybel se apteek. Hier is God en die Satan albei aanwesig. Faust, die gees van ontkenning, is aktief, die gees wat telkens "nee" sê en twyfel bring. Hier het ons 'n besondere siening van die ironie. Sonder hierdie ironiese gif kan die literêre teks nie bestaan nie. Soms is dit selfironisering, soms breek dit uit in die waansin. Dit red die teks van selfingenomenheid, van bombasme, van 'n pedantiese toon.

Die leser van 'n teks soek ook menslikheid, dikwels 'n vermoë tot identifisering met die teks. Die teks bied ook 'n tuiste, al is dit 'n ongemaklike tuiste met brandnetels, of een van begrip in die aard van die menslike psige. In 'n sekere sin is die teks 'n kanttekening by die menslike bestaan en aard. 'n Teks bestaan en funksioneer nie in 'n vakuum nie. Die kritikus moet daardie band met die reële wêreld ontdek.

3. Eksegese

My oë tas die wêreld af
en hou 'n wondere glans gevang
in so 'n web van dink en wens
dat Wese na die Skyn verlang:

die meeu vlieg soos 'n laaste woord;
die wit seewater soos dit wieg
is sonder woord of antwoord skoon,
en alle Diepte moet bedrieg. (Nuwe verse, bl 5, NP Van Wyk Louw)

Uit die voorgaande kan afleidings gemaak word wat nie die bedoeling van hierdie essay weerspieël nie. Teorie is belangrik in die studie van 'n literêre teks, maar dit is nie die nuttige middel wat gereed lê om gou kitsoplossings te vind nie. Slegs as 'n teoretiese beskouing 'n duidelike moontlikheid bied om 'n teks se geheime en verborgenhede bekend te stel, het dit nut. Maar ook dit is onderhewig daaraan dat die teks die leser daartoe lei en inderdaad "toestemming" gee. Wat te dikwels gebeur, is dat in die bespreking van 'n teks die teorie bygesleep word om die leser/ontleder in 'n bepaalde lesing te ondersteun. Dit gee 'n gerusstelling aan die ontleder, maar open nie noodwendig 'n werklik vars perspektief op die teks nie. 'n Ander wanopvatting wat kan ontstaan, is dat hierdie essay van elke denkbare roman of gedig of kortverhaal sou verwag om 'n totale woordwêreld met 'n enorme trefwydte te vertoon. Louw se "Klipwerk" in Nuwe verse het onteenseglik bewys gelewer van die enkele moment van "poësie puur", sonder om die ganse universum in 'n teks te soek. Elke teks is egter 'n wooordwerk, en hoe gering in omvang ook al, die woordwerk moet kuns word om as sodanig te oorleef.

In die beroepswetenskappe soos ingenieurswese of die mediese wetenskap word teorie geldig eers wanneer die praktyk dit bevestig. Maar ook in hierdie sogenaamde "eksakte" wetenskappe is daar gedurige ontwikkeling. Dieselfde geld vir die natuurwetenskappe, waar "meting" en bewysbare waarneming die teorie tot werklikheid bewys en verhef. Om abstrakte denke soos filosofie en literêre teorie op dieselfde manier te probeer hanteer, is 'n logiese onmoontlikheid. Daar is niks om te meet nie. Enige "toepassing" bly 'n spel van die denke, en dikwels 'n bra infantiele spel van vertoon en bluf. Die konsentrasie, selfs oorkonsentrasie, op teorie in die ontleding en waardebepaling van 'n teks lei heel dikwels tot niks meer nie as 'n pretensie dat die studie van letterkunde 'n wetenskap is. Sou sosiologie, politieke wetenskap en sielkunde as wetenskappe, of geesteswetenskappe, beskou kan word? Sielkunde en in 'n mindere mate sosiologie het vaste beginsellyne, eerder gedragspatrone, waarop hulle funksioneer, eerder as wetenskaplike diktum. Geesteswetenskappe is dus eintlik studies eerder as wetenskap, selfs pseudowetenskappe.

Die enigste "ware" wetenskap is wiskunde, die studie van die taal van loutere abstraksie. Sekerlik word wiskundige formules toegepas op elke wetenskaplike terrein, maar die abstraksie van die wiskundige patroon gaan die konkrete toepassing vooraf. Beroemde wiskundiges praat graag van "the sheer beauty of mathematics". Soos wiskunde dié primêre studiegebied vir konkrete wetenskappe is, so is dit ook die basis vir die studie van taal en letterkunde. Daar word deesdae normaal gepraat van “taalwetenskap”, wat 'n begrypbare term is vir taalkundige metodes om die parameters van 'n taal te bepaal. 'n Suiwer logiese wetenskap is dit nie, tog wel 'n toepasbare een.

Wolfgang Amadeus Mozart (prent: wikipedia)

Taal as sodanig is geen wetenskap nie. Letterkunde wat taaltekste ontleed en evalueer, is geen wetenskap of logiese denkapparaat nie. In die grammatika is daar stelreëls, maar 'n gedig kan daardie reëls omver gooi as dit taalsgewys binne die teks verantwoord word. Taal is ten ene male en primêr 'n kommunikasiemiddel, maar die behendige digter/skrywer kan met al die ontginbare moontlikhede speel. Musiek is 'n goeie parallel. Die Barokperiode is opgevolg deur onder meer die Romantiese periode, wat weer opgevolg is deur onder meer die atonale periode, en so gaan dit steeds. Tog, anders as in die harde wetenskappe, het die groot werke van elke periode behoue gebly. 'n Mozart-simfonie word nie minder geag as een van Schubert of Beethoven of Mahler nie, al is hulle myle van mekaar verwyder. Dit is seker die grootste verskil tussen die ware wetenskap en die abstrakte wêreld van die kuns. Musikoloë bestudeer elke werk uit eie reg. 'n Moderne musikoloog of uitvoerende kunstenaar hoef nie net byvoorbeeld Philip Glass se komposisies te bestudeer nie, maar kan nuwe wondere ontdek in een van Beethoven se simfonieë, of in 'n groot Bach-komposisie. In heelwat van die Afrikaanse literêre denkwêreld bestaan hierdie volwassenheid nie, en word ouer werk opsygeskuif en jonger werk toegespin deur dié of daardie teoretiese spinnerak. Sekerlik kan 'n ouer en klassieke teks ook opnuut deur 'n bepaalde teoretiese bril gelees word.

My groot vrees en, toegegee, irritasie met die gedurige betrek van 'n teoretiese lesing op 'n teks, is nie warsheid van teoretiese insigte nie, maar die feit dat oordeelkundigheid en 'n interne respek vir die taal, die woord en die teks self prysgegee word vir die gretigheid om wetenskap in die abstrakte te soek. Self glo ek nie daar is so iets soos “literêre wetenskap” nie, net so min as wat wiskunde 'n gewone wetenskap in sigself is. Letterkunde is so ruim, en die domein van 'n groot gedig of roman so wydlopig, dat die term wetenskap in elk geval te beperk is. Ook dui wetenskap op meting en eksaktheid, en hierdie begrippe staan wars van letterkunde.

Dit alles bring 'n mens dan by die vraag: Hoe moet 'n teks ontleed word, en ook, is dit nodig om 'n teks te ontleed?

Dat bepaalde teorieë rakende filosofie, die sielkunde en ander verwante gebiede 'n rol speel, is aanvaarbaar – maar sekerlik binne perke en as dit werklik toepasbaar is. Of dit nodig is om 'n teks te ontleed, kan en durf nie net 'n aanhaal van allerlei wyshede en geleerdheid wees om akademici te bevredig nie. Die ontleding van tekste in 'n suiwer akademiese verband kan daartoe bydra dat ander lesers 'n wyer insig kry in die lees van 'n bepaalde skrywer se oeuvre. In daardie sin is dit 'n sinvolle bedryf. Ons leef in 'n tyd van die tegnologie, en om skielik 'n sprong te maak om tegnologiese middele en denke te betrek, is om die aard van ware geestestudies ondergeskik te stel aan konkreethede. Letterkunde wat berus op die wondere van die rekenaar, verloor hulle integriteit, so ook kunsmatige lesings van tekste.

Ja, dit is nodig om tekste te ontleed: om die skoonheid van die teks te ontdek, en om 'n literêre werk as 't ware te ontsluit vir die leser, die liefhebber van die woordkuns. Soos by die wiskunde is abstraksie 'n besondere skoonheid uit eie reg. Dit gaan nie oor die estetika van 'n teks nie, of van die letterkunde nie, maar oor die intrinsieke "waarheid" van die teks. Dit is in wese 'n altruïstiese motief, hierdie wegwysers wat die letterkundige aanbied.

Om by hierdie doel uit te kom, beteken dat die beginpunt altyd by die taal moet wees. Note is middele om melodie vorm te gee, verf is 'n middel om lewe te bring op 'n doek. Taal is nie in daardie sin 'n middel om woorde op 'n leë bladsy tot gedig of roman te rangskik nie. Voor enigiets anders moet die taal van die teks sy inspraak kry. Letterkundiges is opgelei om taalmiddele en -vorme te kan eien, om die patrone en ontwikkelinge in die teks te bepaal. Voordat die Jungiaanse of watter uitgangspunt die leser beetpak en die entoesiasme breekpunt of ekstase bereik, moet al die taalmiddele hulle "be-tekenis" kry. 'n Gefokuste teoretiese lesing kan 'n masker word waar die taal onverklaard bly.

'n Gedig wat verskeie vrae aan die leser stel, is "Ballade vir die seun van Angelino Cassamba" van Marlene van Niekerk (Kaar, bl 168). Die verhaal van die Angolese ma en haar kind in die vlaktesand van Philippi kom tot die tragiese einde waar in 'n dronknes iemand die kind doodslaan met 'n ysterpyp:

Die kind is nie dood nie die kind lewe voort
die kind wat verhonger in die sand van Philippi
die kind word 'n man wat deur Afrika trek
die kind word 'n reus wat die wêreld deurreis
met 'n ysterpyp in sy hand.

Hoor jul regente van wêreldbeleg
hoor jy ryk noorde wat die suide verpag
in letters van hout en letters van lood
staan gekerf op die kis van Adilson Cassamba
by ons slaat jy kinders met ysterpype dood
hoor jul die gebonk op die kindermarimba?

Die taal van hierdie laaste twee strofes van die gedig is kenmerkend van die hele gedig. Die subtitel lui “Vir marimba, death metal band en lugafweeralarms”. Die vrae aan 'n leser sluit in: Skakel die gedig met Ingrid Jonker se kind-gedig wat 'n besondere rol gespeel het in Mandela se beroemde toespraak? Kan die huidige Suid-Afrikaanse bestel wat die reënboognasie tans ondermyn, ook hierin gelees word? Watter betekenis laat die subtitel los? In watter opsig word die bybring van die "global village" regverdig en waarop dui dit? Waartoe lei die progressie van kind > man > reus? Wat is die sin om Afrika te stel teenoor Europa? Watter wêreldgebeurtenisse kan hier opgeroep word? Al hierdie vrae is beantwoordbaar deur die woorde/taal in die teks en die subtiele verwysings. As hierdie vrae beantwoord is, dan kan die leser kom tot die rol van dié gedig binne die loop van die bundel, en daarna by die aangrypende emosies van lyding, van weerloosheid en armoede. Daarna lei die teks die leser na 'n groter, feitlik universele, inventaris van geweld, die afbreek van menswaardigheid, sosiale problematiek, die moeder-en-kind-tematiek, die gebrek aan menslike deernis, die rol van geld en oorloë en selfs meer. Die basiese taalteks is in alle opsigte die stramien waarbinne 'n interpretasie kan ontwikkel.

4. Penwortel

“En alles bly helaas hier tussen aanhalingstekens.” (Meditasies, bl 30, Joan Hambidge) 

Teorie en teks kan in hegte samehang saamleef en ontleed word, maar die teks is die middelpunt van hierdie spiraal. In A Theory of Parody van Linda Hutcheon toon sy uitvoerig aan dat parodie deel is van elke teks. Daar is die oorspronklike beskouing oor parodie wat nog steeds in woordeboeke en ensiklopedieë voorgestel word as spot met 'n ander teks. Vergelyk HAT 6, die jongste uitgawe van hierde gewilde woordeboek, waar die lemma parodie soos volg gedefinieer word: "grappige omwerking van 'n ander (ernstiger) stuk; belaglik makende nabootsing".

Groot literêre werke het geleidelik die noodsaak geskep dat teoretici anders begin kyk het na die begrip. Margaret Rose skryf in 'n artikel "Defining parody": "Parody is part of a relationship of art to reality rather than one of art to art, with possible implications for the other dimension" (aangehaal deur Hutcheon). Daar was reeds baie debat of 'n kunswerk in een of ander verhouding staan tot die werklikheid. Hierdie aspek van 'n literêre kunswerk bly egter steeds belangrik. Hutcheon self skryf: "Parody, therefore, is a form of imitation, but imitation characterised by ironic inversion." Elders verwys sy na "my definition of parody as imitation with critical difference", en weer: "Ironic inversion is a characteristic of all parody." Dit sou kon verwys na burleske parodie, waar een teks met watter doel ook al 'n ander teks spottend voorstel, soos onder meer DJ Opperman se weduwee Viljee wat langs die see stap met haar twee kolliehonde. Tog is parodie in meer as een opsig deel van 'n teks. Dit lê ten grondslag van die allegorie in 'n teks.

Hierdie kursoriese ompad in die teoretiese domein is nodig omdat die dekodeerder van 'n teks bewus moet wees van die teks se struktuur en aard. Hutcheon verwys na die werk van Thomas Mann, volgens haar die meester van die parodiërende teks, en haal aan uit Doctor Faustus waar die komponis Leverkühn in gesprek is met Faust en laasgenoemde sê: "Parody. It might be fun, if it were not so melancholy in its aristocratic nihilism."

Parodie is ook 'n basis vir intertekstualiteit tussen verskillende vorme van die kuns. In die notas by 'n opname van Tsjaikowski se ballet Die neutkraker skryf die dirigent Simon Rattle dat hy verstom was toe hy uitvind dat Strawinski se destyds sensasionele ballet Petrushka eintlik 'n ander weergawe was van die eerste toneel van Die Neutkraker. Die CD-nota noem dit sonder meer diefstal/plagiaat by Strawinski. Eerder is dit 'n geval van parodie.

Skrywers, veral digters, skryf graag oor die aard van hulle literêre vorm – 'n gedig oor die aard van die gedig. Sommige digters gaan verder en sê dat elke gedig (of roman/kortverhaal) oor hulle medium handel. In sulke gevalle word die gedig gelykgestel aan die werklikheid wat dit imiteer. Hoe ook al, die postmoderne sienings het meegebring dat die skrywer self in sy/haar werke kan figureer. Dit word moontlik gemaak deur die ruimer siening van die parodie, en die digter kan homself dus in 'n selfironiserende hoedanigheid betrek. 'n Voorbeeld in die oortreffende trap in Afrikaans is DJ Opperman se Komas uit 'n Bamboesstok – 'n waarlik outobiografiese bundel, sonder skroom ingelei deur die foto van die digter op die buiteblad.

Die vierde gedig in die eerste van die nege rolle is "Penwortel". Watter ooglopende sleutels gee die teks self vir die leser? Wat word deur die taal en die taalelemente openbaar?

Penwortel

Dit gaan hier net om eerste dinge,
begin my vader sy Herinneringe:
Moeder het vertel – ek was nog jonk –
Oupa ly aan kanker van die tong.

In sy geselskap word ek daagliks groot
as getuie van bedienings uit die dood:
hoe hy, omdat hy nie kon praat,
met griffel op 'n lei moes tekens maak.

Toe onse kos nie meer kon binnekom,
het sy oorle moeder hom –
toe daar reeds strepies was van bloed –
met melk en brood van Anderkant gevoed.

Moeder het sy woorde uitgespel
en sy drie susters dit herhaal, indelibel.
Ek mog ook soms sy lei skoon spons,
maar ewig woon sy woorde tussen ons.
Hy het geskryf oor daardie Stad van Goud,
oor Dorings en die Kruis van Doringhout.
By sy begrafnis – selfs van oorkant die rivier,
het almal saamgesing, ook die populier. (Komas uit 'n bamboesstok, bl 16, DJ Opperman)

Die titel dra drie betekenisse: (1) die penwortel van 'n boom; (2) die genealogie van 'n familie (geslagsregister); en (3) die punt van 'n outydse pen wat telkens in die ink gedoop moes word. Al drie is ter sake. Die boom bring 'n paar mitologiese verwysings, te wete die verbinding van drie wêrelde: die wortels, wat dui op die onderwêreld (onderbewussyn), die stam, wat die aardse bestaan voorstel, en die blare, wat die ewigheid veronderstel. In 'n religieuse sin dui dit op die geloof, die uitleef daarvan en die hemel. Die Boom van (die) Lewe (vergelyk in die eerste plek die Paradys) dui op die primordiale verbinding. Die familie word betrek van oupa, vader, moeder en susters tot by die spreker/verteller (die kind). Die rol van die skrywer en die noem van die vader se skryfwerk (herinneringe) dui op die teks, die gedig.

Die patroon van die parodie in die teks word al hoe duideliker. Hutcheon haal in haar boek Dwight Macdonald aan: "We are backward-looking explorers and parody is the central expression of our times." Parodie roep dus in hierdie teks die verlede op, ook die oorle ouma, en bevestig die outobiografiese instellingshoek van die digter. Oupa en vader en seun (die ek) is alter ego's van mekaar. Dit is die verhaal van hierdie persoon wat ter sprake is, sy toestand van siekte (komas) en die duidelike aanduiding van onderwerpe waaroor hy geskryf het.

Naas die parodie is daar die duidelike paradigma(s) waarbinne die gedig sy loop neem. Dit is 'n gedig oor herinneringe, oor bome en skryfkuns. Die herinneringe dui op die familie en oupa se siekte en dood, en die penwortel van die titel word opgevolg deur die populier aan die slot. Die titel en die slotwoord het te make met 'n eenderse objek, 'n boom. Volgens Ad de Vries se Dictionary of Symbols and Imagery dui ‘n populier in die mitologie onder meer op dood en opstanding, en ter sake vir hierdie teks kan dit ook dui op 'n florerende familie. Op hierdie manier sluit penwortel en populier dus volkome by mekaar aan. Maar die dood van die liggaam en dan die opeenvolgende idee van opstanding dui op die "dood" in 'n toestand van komas, en daarna die herstel van die liggaam soos 'n nuutgebore kind. Die woord kan egter nie uitgevee word nie, dit bly indelibel. Die paradigma van boom vind verdere aansluiting by rivier. Die rivier lewer taal, mitologiese en simboliese moontlikhede op. Binne die subtiele religieuse toon van die gedig kan dit dui op Christus; mitologies kan dit dui op die rivier Styx, die skeiding tussen lewe en dood; rivier dui ook op vrugbaarheid, en die vloei van die rivier word gesien as die verloop van die menslike bestaan.

Dorings het onder meer die simboliese waardes van "'n aanduiding van waarheid, die krag van die intellek, en ook in erotiese sin die fallus". Kruis herinner aan die dood van Christus, maar dui ook op die "sirkel". Hiervandaan is dit 'n klein treetjie na 'n inkarnasiemotief. Die sirkel sluit direk aan by die nege rolle van die bundel wat ook die periode van die groei van die kind in die baarmoeder voorstel. Die getal nege kan op verskillende maniere gelees word; hier ter sake as die "treble triad", die finale vorm van die enkel- of basisgetal.

Die parodiërende aspekte van die teks en die paradigmatiese aspekte ontmoet mekaar in die skryfkuns, die gedig. In die primêre taalvorm beweeg die vers in die verlede tyd, perfektum, maar met die "ewig woon" dui dit op die universele. Die gebruik van ouer taalvorme dui ook op die ontwikkeling van taal deur die tyd, soos trouens ook die geskiedenis van die gesin. Verskeie sleutels in die gedig bring dit binne die bundelverband, en die gesprek van hierdie teks met heelwat ander tekste bring verdere lig op hierdie gedig.

Die bundel in sy geheel vertel nie (net) die storie van Opperman se siekte en herstel nie, maar is ook 'n meesterlike grondplan van poësie as kunswerk. In "Penwortel" is daar reeds die verwysing na die drie muses van die kuns, in die bundel ook die drie dogters van Marco Polo en Opperman. Die titelblad van die bundel gee die leser daardie inligting.

Kortom: hierdie gedig is totaal verbind aan die sentrale tematiek van die bundel. Die bundel is in 'n outobiografiese formaat die verbintenis tussen digter en gedig, en dit is 'n ode aan die aard en krag van die digkuns. Elke denkbare taalmiddel word benut en almal skakel intertekstueel met mekaar in intieme verband. Dit is die verhaal van 'n digter wat die taal ontdek, stap vir stap, en dan die wonder van die gedig en van skepping ervaar. Dit raak feitlik elke aspek van menswees, tot selfs in 'n uiterste bestekopname en register.

Binne 'n totaal ander literêre milieu dig Johann de Lange:

Gebed om die gesternte

O Skepper van die sewejaartjie & die Sewe Susters,
Maker van die kersvlam & die kwasar,
mag U nooit moeg raak van u skepping of skepsels nie.
Hou ons ligweg in die wette van u Wete. (Weerlig van die ongeloof, bl 46, Johann de Lange)

"Penwortel" bring so 'n verskeidenheid taalmiddele byeen dat dié in sigself genoeg bied om 'n verstaan van hierdie gedig moontlik te maak. Sekerlik sou teoretiese beskouings verdere vorme van leesgenot en begrip kon bring as dit nie enige taalmiddel in die teks ondermyn nie.

My pleidooi in hierdie essay is een wat Van Wyk Louw jare gelede gemaak het toe sy gedig "Karoo-dorp: Someraand" (Tristia) gebruik is vir allerlei fantastiese interpretasies: "Lees asseblief eers die primêre betekenis van die gedig." Die gedig se inherente abstraksie is baie broos en so ook sy kodes, en vra daarom vir gevoelige dekodering. Soos wiskunde 'n perfekte skoonheid kan veronderstel, so die gedig:

Suiwer wiskunde

Die uurwerk kantel. En die ligbruin by
hang roerloos voor die blom wat nooit bevrug
word, nooit sal saadskiet, welk, en nooit verby
hierdie verstarde uur sal groei. Die lug

het stil soos ys gaan staan, so wit en blou.
Die brander wat wou oorbuig, val, en skuim,
bly in sy ligte sirkels vasgehou
en moet sy see 'n ewigheidversuim. (Nuwe verse)

Bibliografie

Borges, Jorge Luis: Labyrinths. Penguin, 2000

De Lange, Johann: Weerlig van die ongeloof. Protea, 2011

De Vries, Ad: Dictionary of Symbols ans Imagery. Elsevier, 1984

Hambidge, Joan: Meditasies. Human & Rousseau, 2011

Hutcheon, Linda: A theory of parody. Methuen, 1985

King James Bible. Thomas Nelson, 1989

Louw, NP Van Wyk: Nuwe verse. Tafelberg, 1979

Opperman, DJ: Komas uit 'n Bamboesstok. Human & Rousseau, 1979

Snyman, Henning: Teodoliet. Dias, 1987

Van Niekerk, Marlene: Kaar. Human & Rousseau, 2013

  • 6

Kommentaar

  • Helize van Vuuren

    WOKNAWYF! = Blum se taalbydrae
    Boeiende artikel, Henning.
    Oor Blum se taalbydrae: die woord "woknawyf" hoor ek dikwels in benouende oomblikke gebruik deur belese Afrikaanse vriende ... nuwe woord in Afrikaanse woordeskat, sou ek dink ...

  • Waldemar Gouws

    Die vraag (metavraag, megavraag) (waarop Helize van Vuuren se antwoord vir Blum, 'n voorbeeld van persoonlike sinkopee gee) is nogal 'n skaars vraag wat oor 'n gedig gevra kan word: "... het Peter Blum se 'Man wat mal word' ... enige taalbydrae gelewer?" Ek kan nie onthou wanneer ek dit laas, of al ooit, gesien het nie.
    Dat Snyman hom hiermee, dws met hierdie formulering, van 'n utilitaristiese teorie moes bedien het, is duidelik. Die suksesvolle integrasie van 'n gedig in die taal hang af van die taalbydrae wat die gedig lewer. Die sprake van wins (taalwins) lyk dus deurslaggewend te wees.
    Vanuit 'n Marxistiese perspektief gaan hier ook nuwe moontlikhede oop vir die kritiek, nl in terme van die ruilwaarde van gedigte wat meer winsdraend as ander gedigte op die taalmark is. Die gedig as kommoditeit staar my nou in die gesig.

  • Henning Snyman

    Inderdaad, Helize. Ek het vergeet dat daardie wonderlike woord wel leksikale waarde verkry het. Henning Snyman

  • My vraag is: kry die leser enigsins iets nuuts uit Snyman se lesings van die bestaande tekste? Ek sou eerder wou ingaan op hoekom die kind in die gedig uit Kaar se naam "Angelino Cassamba" is. Of waar kom die naam Adilson Cassamba vandaan? Hoe sluit dit aan by die Angolese konteks? Of gaan dit noodwendig die interpretasie van die teks vervlak? Die bybring van Cirlot en De Vries is interessant, want deesdae lyk my doen niemand dit meer nie. Illustreer dit Snyman se punt dat teorieë 'n modeverskynsel is? Ek vind ook dikwels wanneer ek 'n artikel aan 'n tydskrif voorgelê en op die teks af lees, volg opmerkings soos: te min teorie; blote close reading van 'n teks en stellig niks meer nie. Om die Cassamba-gedig aan Jonker ens te koppel is tog vanselfsprekend - een paragraaf. Maar wat doen mens dan met die teks? Terloops: wanneer ondermyn teoretiese beskouings die taal van die teks?

  • Helize van Vuuren

    Na deegliker lees, wil ek graag vra, Henning, as daar volgens jou nie iets soos literatuurwetenskap (wat sowel literatuurteorie as komparatisme - die beginsels van vergelykende letterkunde) bestaan nie, hoe is dit dan dat talle literatore se praktyk daarmee onderbou is?
    En darem ook net aanteken dat my lees-en-teks-probeer-oopmaak praktyk weinig met Hellinga-Scholtzitis te make het, maar eerder uit die Mikhail Bakhtin-stal (die teks altyd gelees binne sosio-politieke en historiese konteks , met daarmee saam die insig van dialogisme, wat hy genoem het "heteroglossia" - hoe sosio-politieke konflikte in die samelewing af te lei is uit die botsende dialoog en taalgebruik binne 'n literêre teks, soos in sy Discourse in the novel en elders). Uit die New Criticism of "wêreld-in-woorde" (soos AP GRové dit herdoop het) skool het ons wel deeglik leer "close read" of stiplees (hoewel darem nou nie 300 bladsye oor een gedig, soos by sommige van ons ouer oorlye kollegas voorgekom het nie, gedenk die "Sprokie uit die spikkelkoei"), by die Russiese Formaliste van literêre evolusie, verwagtingshorisonne en "ostranenie" of vreemd-maak van die oorbekende alledaagse wêreld, by die Duitse resepsieteorie van 'n vooraf-studie van die ontvangs van 'n teks, en les bes uit die postkoloniale teorie, die hele kaboedel van identiteit: ras, klas, gender, met daarby ook Spivak se broodnodige bewusmaking oor "wie praat?" in 'n teks ("Can the subaltern speak?). Elke teoretiese rigting, en ook Eco en Riffaterre oor intertekstualiteit en die "rol van die leser", Derrida oor teen die grein lees, Said oor laatwerk, en deesdae steeds toenemend met die angs oor die Antroposeen en klimaatverandering, ook meer en meer die ekologiese studies, en neuro-wetenskaplikes - alles, alles, dra by tot ons kennis van wat in die letterkunde gesê, geskryf en kreatief vorm gegee het. Want dit het alles daarmee te make - met die teks, die konteks, die skrywer of digter, die leser, en die interaksie met hul leefwêrelde, hul breinstrukture (skrywer of digter en leser), die stadia in hul lewe, die stadia van klimaatsverandering.
    Hoe sou 'n mens Marlene van Niekerk se vers "Teorie en praktyk van die digkuns in 'n era van aardgas" (in Kaar) anders behoorlik kon lees en oopmaak, as deur al dié wetenskappe en kennisterreine by te haal. Vat maar net die eerste vyf reëls:
    Nie dat daar selfs in die digkuns 'n oomblik/
    van nul-eksploitasie bestaan waar die maker/
    by die stil mimosa sit, haar skadu gehang/
    aan halfwoestynklankies, haar spoeg ingesluk/
    voor 'n plakkie, 'n klip, 'n sandakkedis (...)/
    Hierdie vers is beslis nie "binnehuisversiering" nie, dis poësie as wapen in die stryd teen aardgasboring, teen die hooggeplaaste draers van die Lexus, die Rolex en die "goue stewel" wat alles sal verpand vir geld. Dit betrek SA se geskiedenis terug tot by Van Riebeeck. Maar om dit behoorlik te kan begryp, moet die leser of "oopmaker" van die vers die "Kersliedjie"-refrein van DJ Opperman eers herken in "'n plakkie, 'n klip, 'n sandakkedis" (dus bekend wees met die Afrikaanse kanon wat agterlê, die tradisie waarop gebou word, verstaan van literêre evolusie, voortstroming, voortgang soos Tynjanov ons geleer het, van intertekstualiteit se bydrae tot die impak van die vers, die kreatiewe vonk) - en daarna die twee eras, die een van 'n oop, wye Karoo met die bedreigde een van nou, die "era van aardgas" teen mekaar kan stel. En daaragter Jan se voorvader uit 1652 wat dit als begin het, nog 'n era, die nou so in-die-brandpunt-se koloniale era. En hoe anders kan 'n leser die estetiese trefkrag van die skrynend-politieke satire beskryf, as deur kennis van metafore, rym, ritme, assonansie en alliterasie (insigte van die New Critics deur stiplees en fyn analise) - soos boorpunte wat dril in die karoogrond, so is die tampende ritme in hierdie eerste reëls al. En ekokritiek se insigte oor die tot niet gaan van 'n wêreld weens antropomorfiese ingesteldheid, met "'n plakkie, 'n klip, 'n sandakkedis" (vergeet maar die reeds-besoedelde en binnekort-versuurde "syferfontein" van Opperman).
    Dra dit nie alles en alles en nog veel meer, by tot 'n "holistiese" begrip of die oopmaak van die vers nie? Is al hierdie geordende, stelsematig-opgeboude kennisvelde of wetenskaplike beginsels nie hier ter sake vir die uiteindelike lig wat daag, of oopgaan van die vers nie?
    Na analogie van Niekerk se vers, is dít nie sonder meer die "Teorie en praktyk" van die leser-en-oopmaker "van die digkuns in die era van aardgas" nie?

  • Willie Burger

    Snyman raak in hierdie artikel ’n belangrike punt aan. Enkele jare gelede toe ek besig was om artikels uit te soek vir ’n boek oor André Brink se romans, het ek deur al die artikels wat in Afrikaans oor Brink se werk gedurende die 1990’s en eerste dekade van hierdie eeu verskyn het, gewerk. Telkens was die patroon duidelik – bykans driekwart van baie van hierdie artikels het een of ander teorie probeer verduidelik en dan was daar so ’n kort “toepassing” van die teorie op een van Brink se romans. Hierdie soort bespreking het dikwels ’n patroon in die Suid-Afrikaanse literatuurstudie geword. Snyman is korrek as hy ten doel het om hierdie soort teoriebedryf te kritiseer, want dit lei inderdaad dikwels daartoe dat literêre tekste nie geïntegreerd gelees word nie, dat bloot op een aspek van ’n teks gefokus word, sonder om die teks as geheel te bespreek of die plek van hierdie aspek in die teks as geheel.
    In sy ervaring van ’n onvergenoegdheid met ’n sekere manier waarop teorie soms soos ’n koekieafdrukker op literêre tekste gebruik word, is Snyman nie alleen nie. Talle teoretici het gedurende die afgelope klompie jare boeke geskryf wat die “einde van teorie” aankondig – dink selfs aan Terry Eagleton se After Theory.
    In sy The Singularity of Literature verwys Attridge op die probleem dat baie van die teoretiese vrae wat vanuit die kultuurstudieparadigma aan tekste gevra word, die literêre tekste reduseer tot dieselfde as historiese of enige ander tekste. Literatuurstudie loop dan die gevaar om uiteindelik soos wat MacDonald dit in The Death of the Critic noem, bloot in diens van die antropologie, sosiologie, van sosiale geskiedenis te beland. Literêre tekste word gelees om die wyse waarop magsverhoudings daarin uitgebeeld word, of ras of klas of gender of identiteit, terwyl estetiese effek afgemaak word as behorende tot ’n uitgediende humanisme. MacDonald en Attridge pleit vir die estetiese domein van die letterkunde – soos wat Milan Kundera telkens beklemtoon dat die roman moet ontdek wat slegs die roman kan ontdek en nie iets moet wees wat dieselfde funksie as filosofie of geskiedenis of sosiologie het nie.
    ʼn Mens begin hier beweeg na die ingewikkelde verhouding tussen teks en wêreld – die ou vraag oor mimesis waarna Snyman ook verwys. Dit sal beter uitgepak kan word, maar vir hierdie doel wil ek net aandui dat Snyman wel aansluit by ʼn lang tradisie van denke oor tekste. Veral vanuit die pragmatiese onderrigsituasie is ek dit ook met hom eens dat dit noodsaaklik is dat studente ook moet leer om behoorlik te lees. Pascal Cassanova het al daarvoor gepleit dat ons iewers ʼn versoening moet vind tussen wat sy “teksinterne” en “tekseksterne” kritiek noem
    Maar waar ek dit nie eens is met Snyman nie en wat my van hierdie artikel bekommer, is die gemak waarmee Snyman maak asof sy “teksgefokusde” kritiek, of dan “taalgefokusde” kritiek, juis omdat dit volgens hom op die taal fokus, ongekompliseerd en onteoreties is.
    Dit is hier waar die groot probleem lê. Ek mag ʼn kommer oor sekere teoretiese reduserings met hom deel (en dit is meestal nie by die teorieë of die teoretici waar die fout lê nie maar by sekere toepassings daarvan), maar een van die groot winste wat die teorie vir ons gebring het, is die besef dat daar nie ʼn eenvoudige benadering soos ʼn taalgefokusde benadering van tekste bestaan wat van “buite die teorie” ʼn invalshoek tot die lees van tekste bied nie.
    Ons moet ten minste aanvaar dat juis om literêre tekste só te beskou, reeds ʼn teoretiese keuse is. Om aan literêre tekste ʼn spesiale plek toe te ken, aan die taalgebruik daarin ʼn andersoortigheid toe te ken, is reeds ʼn teoretiese keuse. En die feit dat iemand soos Snyman daardie keuse maak, is natuurlik nie verkeerd nie – dit moet net uitgespel word en verduidelik word. So ʼn keuse val nie uit die lug nie, dit het ʼn geskiedenis en klink om die waarheid te sê juis soos iets uit die 1950’s. Sedert die 1950’s het daar egter baie gebeur wat ons laat besef het dat ons nie die lees van tekste onproblematies kan reduseer tot een manier van lees, soos wat Snyman oënskynlik hier bepleit nie.
    Die punt is natuurlik dat daar nie ʼn moontlikheid bestaan om sonder so ʼn geskiedenis en sekere verwagtings ʼn soort suiwer “eksegese” of “hermeneutiek” te bedryf as die indruk wat Snyman hier skep nie. Die vrae wat volgens Snyman net na aanleiding van die lees van die gedigte ontstaan – (vergelyk sy bespreking van die gedig uit Kaar) is natuurlik nie bloot uit die taal in daardie gedig af te lees nie maar spruit uit die ganse konteks van die gedig – die Suid-Afrikaanse realiteit van die 21ste eeu. Hy kan nie maak asof dit bloot uit die gedig se taal ontspring het nie. Al daardie vrae ontstaan vanuit ʼn sekere denkpatroon. Die beoefening van teorie is om daardie denkpatroon, die oorsprong van daardie vrae, bloot te lê. Om te maak asof hierdie vrae as’t ware vanself uit die taal voortspruit is gewoon onwaar.
    In sy antwoord op Helize van Vuuren se vraag oor “Woknakwyf”, gee Snyman te kenne dat hy sekere onuitgesproke verwagtings het van wanneer ’n gedig die moeite werd is – dat ’n sekere bydrae tot die taal gemaak moet word. Dit is ʼn teoretiese stelling. Snyman kan nie maak asof dit ʼn vanselfsprekendheid is nie. Dit is ʼn teoretiese stelling wat spruit uit ʼn bepaalde opvatting van wat letterkunde is en wat “goeie” letterkunde is. Dit is ʼn uitgangspunt wat in sekere omstandighede ontstaan het en wat deur bepaalde waardes onderlê word.
    Ek dink nie dit is nodig om hierdie soort gevegte uit die 1970’s en 1980’s wat téén en vír teorie gewoed het, opnuut oop te krap nie. Weinig mense wat ernstig met die literatuur omgaan sal immers nog oortuig kan word dat enigeen met ʼn “skoon oog” na die letterkunde kan kyk. Wat wel interessant is, is dat in ons tyd teruggegryp word na ʼn opvatting van taal soos hierdie. Daaragter lê dalk ʼn frustrasie met sekere benaderings tot die literatuur wat mens nog kan verstaan. Maar om darem te wil ontken wat oor die afgelope veertig jaar gebeur het en gedink is, en om besinning oor letterkunde só te wil beperk en af te pen tot een benadering, is baie verskralend. Dit verg ʼn veel meer gesofistikeerde en teoretiese omgaan met tekste as om te dink dat “bloot” op taal gefokus kan word, asof taal en betekenis ooit sulke eenvoudige sake was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top