Henning Snyman het onlangs hierdie artikel op LitNet geskryf. Die artikel het heelwat gesprek uitgelok. Hieronder lewer Henning Snyman repliek op kommentaar van Helize van Vuuren onderaan die oorspronklike artikel. Lees ook: Repliek op Willie Burger se kommentaar aangaande literêre teorie.
Helize, ek het met waardering jou verdediging van die literêre teorie as vakdissipline of vakrigting gelees. My essay het nie hierdie rigting binne die lettere en filosofie betrek nie. Sekerlik is ek bewus van hierdie praktyk. Wat vergelykende studie betref,vind daar aan die UK waar ek die grootste deel van my loopbaan deurgebring het, heelwat sodanige studies binne die taaldepartemente plaas. Veral toe JM Coetzee daar was, is daar heelwat gedoen in die Engels-departement. Nog steeds word dit ruim bedryf. Dit is nie aan die kern van my essay nie. Trouens, ek beskou daardie velde van studie al hoe meer deel van filosofie, 'n vakrigting wat radikaal verander en aangepas het in die laaste paar jaar. Dit is 'n studie van menings, nie 'n wetenskap nie.
Dat daar in die ontleding van 'n teks heelwat kennis van moderne en belangrike sake in die harde wetenskappe 'n plek vind, is nie alleen vanselfsprekend nie, maar broodnodig vir die doel van literatuur as "waarskuwing". Die gevare van die ontwikkeling van skaliegas is beslis 'n tema wat deur die letterkunde aangespreek moet word, soos politieke bedelings en ideologieë. Dit het met literêre teorie ongeveer niks te maak nie; dit is ingebou in die verwysingsraamwerk van 'n teks. Ek glo nie iemand sal sulke verwysings mislees nie. Letterkunde is tog onder meer kanttekeninge by die menslike kondisie op alle vlakke van bestaan. 'n Gedig is nooit presies gelyk aan die werklikheid nie, dan sou 'n konkrete mededeling dit beter kon doen.
My denklyn in die essay gaan oor die lees en ontleding van 'n teks. My argument oor baie jare is dat die teks 'n taalkunswerk is, en dat alle taalmiddele in die taksonomiese opbou van 'n teks ter sake is. Natuurlik is metafoor, die ironie en alle geïmpliseerde taal deel van die teks. Baie dikwels val of staan 'n teks by die manier waarop implikasie-verskynsels binne die teks funkioneer. Elke teks is 'n vorm van taalhandeling. Net so kan ongemotiveerde verwysings 'n teks groot maak of laat sink.
Wat ek in die essay voorstel, is dat die teks in die eerste plek fundamenteel gelees moet word. My argument gaan teen jou opvatting, of dit nou Bakhtin- of Hellingscholtz-gerig is, dat alle gegewens wat dalk met die teks kan skakel dadelik deel word van 'n interpretasie. My beskouing is teen die konstante byhaal van 'n leesmodel geskoei op 'n bepaalde teorie of teoretikus se mening om die teks te ontleed. Die kern vir die evaluering van 'n teks begin by die taal. Wat ek hiermee bedoel, staan in die essay. Toegegee, jy lees as literator, ek as semantikus. Alhoewel ek verskil van die werkwyse om 'n teks binne verskeie denkpatrone te wil dekodeer tot feitlik met en by die ruwe gegewe of grondplan waaruit die teks ontstaan het, het ek sekerlik waardering daarvoor. Persoonlik wil ek die teks fundamenteel lees en die skoonheid en diepte daarvan vir die leser probeer uitwys; 'n betekenis van die teks oopmaak, eerstens deur die wendinge en "mistiek" van die taalmiddele.
Henning Snyman
Kommentaar
Dankie vir die verheldering, Henning - dit maak dinge duideliker, maar daar rys nou weer nuwe vrae wat antwoorde soek, soos vir Salomo oor die raaiselagtige “weg van ’n skip in die hart van die see”. So is daar vier aspekte van die semantiese benadering wat “vir my te wonderbaar is, ja, vier wat ek nie begryp nie”:
1. Die presiese metode, en veral die grense van “fundamenteel lees”. Goed lees en weer en weer lees, is tog seker elke ernstige kritikus se doel (al is daar in elke kritiese oog ook ’n “blinde kol” - met sommige oë helderder as ander, en party byna heeltemal blind).
2. Die onderskeid tussen die semantiese literatuurbenadering en die outonomistiese kritiek of New Critics.
3. Die rede waarom die teks ontkoppel word van sy konteks.
4. Die oënskynlike geringskatting in die semantiese benadering van die etiese (maatskappy-kritiese betrokkenheid).
Baie van Opperman se verse is vir dekades lank los gelees van die etiese en maatskappy-kritiese dimensie daarin ingebed. Meestal het kritici gefokus op die “skoonheid van die taalhandeling”. Lees ’n mens vanuit die Suid-Afrikaanse ruimte van 2016 se dreigende studente-en-werkersrevolusie, opkokende rassisme en uitgesproke haat jeens Afrikaans, nou Opperman se
"Springbokke" (https://www.academia.edu/22509746/_Springbokke_van_DJ_Opperman) of “Egipties” (https://www.academia.edu/22836681/Italo_Calvino_DJ_Opperman)
raak jy yskoud. Tydgenote het die apokaliptiese profetiese stem misgelees, want dit was verhul vir die “wêreld-in-woorde” skool wat slegs op die teks gekonsentreer het. Dit sou “buite-tekstuele” navorsing van die konteks, van die ontstaansbodem van die verse gekos het om by dié betekenislae uit te kom.
En dis hoofsaaklik deur plasing van die teks binne die sosio-politieke en historiese konteks waaruit dit ontstaan het, dat ’n mens by die ingebedde etiese aspekte sal uitkom.
Of begryp ek die semantiese literatuurbenadering steeds verkeerd? Is die herkenning van maatskappy-betrokkenheid ook daar ingebed? En funksioneer die byhaal van die konteks dan anders as in die soort benadering hierbo beskryf (“alles kan en alles mag”, in diens van verheldering van die teks)?