Ek is by die Bluebird-teeplek op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Ek het maar vroeg gestop en by ’n tafel gaan sit. Eerste indrukke is blywend.
Die motors flits verby in beide rigtings.
Ek is geen joernalis nie en gaan my lyf ook nie so hou nie, maar is nietemin op my senuwees en het maar ’n Rescue gedrink.
My opdrag van LitNet was om ’n bietjie te gesels met Matilda Burden oor haar nuwe boek Opreisfontein – ’n ondersoek na fonteinname in Suid-Afrika. Sy is ’n emeritus professor nogals.
Ek moes die boek ’n bietjie blootstelling gee, want sy het “konneksies” met my geboortedorp Graaff-Reinet. Ek het boonop twee baie goeie vriendinne wat tans nog daar bly, Ansie Malherbe van die Universiteit Stellenbosch en Anziske Kayster. Doktore dié twee! Ek kan hulle darem ook nie in die steek laat nie!
Dit was nie lank nie, toe sy stop in ’n groot, grys 4x4. Matilda kom die trappies op met ’n yslike pakkie onder die arm. Sy stel haar voor met ’n goeie handdruk. Ons bestel tee en koffie, toe raak ons sommer dadelik aan die gesels.
Matilda haal die pragtige boek uit ’n bruin papiersak: Opreisfontein. Hardeband. Pragtig. Baie swaar, maklik twee kilogram, sou ek reken!
Onmiddellik vertel sy daar bestaan 5 638 fonteinname in Suid-Afrika, maar dit sluit omtrent 1 700 duplikasies (30%) in. Ek is skoon verslae. Ek hoop nie my mond het oopgehang nie.
En dis nie net fontein- of plaasname nie. Daar is dorpsname ook, dink aan Bloemfontein.
Dit lyk of -fontein maklik verbind aan byna alles, selfs wilde diere: Dink aan Dassiesfontein. Maar dit verbind ook met voorname van mans en vroue, vanne, byname, diere, plantname, grassoorte en talle ander, te veel om hier te noem. Dit vorm almal plekname wat eindig met die agtervoegsel -fontein.
Ek moet nou wraggies in Engels sê: “It’s quite mind-boggling.”
Wat my werklik tref, is die werk en tyd wat hierdeur opgeneem is om al die inligting te versamel. Sewe jaar net aan hierdie projek. Sy’t intussen ander boeke ook gepubliseer.

Maar terwyl dit ’n mooi, groot, swaar boek is – Matilda sê dis miskien koffietafelmateriaal – vind ek die inhoud fassinerend. Die gewig kom deels van die glanspapierbladsye waaraan jy amper nie wil raak nie.

Elkeen van hierdie 5 057 vlaggies verteenwoordig ’n fonteinnaam. Kan ’n mens jou dit indink? Matilda was die een wat daaraan gedink het om dit saam te vat in ’n geskrif vir die nageslag.
Sy is ’n akademikus, so die boek vervat ook akademiese elemente, maar daar is hope goeie humor ook in.
Van Marlene Cloete is daar ’n aanmerking op die omslag: “By menige pleknaambord, soms voor ’n eensame plaashek op ’n afgeleë plaaspad, staan die leser saam met die skrywer, verwonderd oor die vindingrykheid en skerpsinnigheid van die Afrikaanse taal.”
Inderdaad.
Matilda Burden is ’n kultuurhistorikus van formaat. Dink net watse harde werk dit geverg het om sewe jaar lank aan hierdie boek te werk en om alles daarin vervat met bewys te beaam.
Ek deel ’n paar foto’s om jou eie gedagtes te laat sweef. Kan jy glo daar is ’n totaal van 3 060 foto’s waaroor jy jou kan verstom?
![]() |
![]() |
Ek weet nie of ek hierdie harde werk verder kan ophemel nie, want dan hou ek my lyf joernalis en ek is bloot ’n skrywer. Maar ek kan werklik sê: Dié boek sal diegene wat geïnteresseerd is in die taalkundige herkoms van name in ons land, verstom en wie ook al genot daarin vind om oor volkskunde te lees en hul kennis te verbreed, sal hierdie skrywe van groot genot en waarde vind.

- Foto’s: Elise Bishop



