Tebatso gaan see toe
Maya Fowler
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309475
Naomi Meyer praat met Maya Fowler oor Maya se boek Tebatso gaan see toe.
Maya, heel eerste: Tebatso gaan see toe is geskryf in die intieme derdepersoonverteller–styl – uit die perspektief van 'n swart vrou. In hierdie tyd van agentskap en wie mag wie se storie vertel, wat was jou ervaring? Dink jy dat jy as wit vrou jou ewe veel kon verbeel hoe dit is om swart te wees as wat jy jou kan verbeel om enige van jou wit karakters te wees?
As 'n mens werklik sensitief te werk gaan, glo ek 'n skrywer mag op dié manier 'n storie vertel. Elsa Joubert byvoorbeeld het pragtig te werk gegaan met die verhaal van Poppie Nongena. Dit ís moeilike terrein, ja, maar solank 'n mens respekvol bly, kan dit werk. Wat my betref is enige skeppende skryfwerk in elk geval 'n verbeeldingsdaad, met ander woorde, die skrywer plaas haarself in die posisie van 'n ander mens. Sou ek skryf uit die oogpunt van 'n tagtigjarige wit man of 'n wit ma van twee kinders, is ek reeds ver buite my eie ervaringsveld, al is die karakters wit, soos ek. Die skrywer het 'n verantwoordelikheid om empatie vir ander te voel, en sodra 'n mens vir iemand empatie het, kan jy, nadat jy jou navorsing gedoen het, oor hom of haar skryf. Maar dit moet outentieke empatie wees – naïewe empatie lei na soetsappige skryfwerk, of nog erger, stereotipering.
Vertel asseblief kortliks die storie, sonder om te veel te verklap.
Die verhaal speel in Desember 1983 af, en juis tóé omdat dit in daardie dae gebruiklik was vir huiswerkers om saam met die huisgesin na 'n vakansiebestemming te reis om daar te werk. Vandag gebeur dit nog met au pairs, maar die dinamika is natuurlik heeltemal anders. Ook in 1983 het 'n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling verskyn, wat 'n groot saak was, en verder was Suid–Afrika op die drumpel van die driekamerparlement–bedeling. Dinge was ernstig aan die verander, maar ook glad nie.
Dus: dis Desember 1983 en die Vrystaatse gesin vir wie Tebatso werk (met pa Lennert en ma Sandra aan die hoof) is op pad see toe van die plaas af. Dié vakansie aan die Suid–Kaapse kus is 'n groot familiesaamtrek, met Rina se ma by, asook Rina se drie susters, met mans en kinders. Net die jongste suster, Estelle, lief, stil, vaal en reeds in haar 30's, is ongetroud. Maar dan daag Estelle daar op met die onderwyser Adriaan, 'n goeie man, gaaf maar onkonvensioneel – en, helaas, getroud. Dit sorg vir enorme spanning in die huis. Wat sommige van die familielede nog erger dwars in die krop steek, is dat Adriaan glad nie deur deur Tebatso ge–“baas” wil word nie, en wanneer die geselskap Adriaan se vriendelikheid tenoor Tebatso misinterpreteer, is die gevolge verreikend en tragies.
Hoekom het jy die boek geskryf en wat was jou inspirasie(s)?
In my grootwordjare was swart huishulpe en tuinwerkers algemeen, maar werklik eintlik in die agtergrond. Natuurlik het die mate gewissel van gesin na gesin, en natuurlik is sulke werkers steeds met ons, maar in daardie jare het die gemiddelde mens baie min van sy of haar werker se eie lewe of gedagtes geweet. Die tye het verander, maar nie noodwendig oral nie, en die gegewe van werkgewers wat op werkers en kinderoppassers steun sonder om eintlik enigiets van die mense te weet, is internasionaal. (Leïla Slimani se boek Lullaby speel af in hedendaagse Frankryk, en daar ken die werkgewer beslis nie haar nanny as mens nie. Plus ça change ...) Nou ja, ek wou probeer om met die swart werker se oë na die wêreld te kyk. Die uitdaging was inspirasie genoeg, maar dinge wat ek tydens die navorsing raakgeloop het, het my ook inspirasie gegee. Ek dink veral aan die ou Huisgenote, Bonas en Saries waardeur ek in die nasionale biblioteek in die Kaap geblaai en gelees het.
Wonderlik vir my, die titel wat so half lekker vrolik klink, soos iemand wat praat oor 'n Desembervakansie van son, see en uitrus. Maar dis nie Tebatso se ervaring nie. Om die binnekant van 'n strandhuis skoon te maak, verskil nie juis soveel daarvan om die binnekant van die woonhuis skoon te maak nie. Of hoe? Jy skryf nogal soms oor skoonmaak. En jy woon self in Kanada. Daar maak mens mos self jou huis skoon, of hoe? Dalk verstaan jy tog Tebatso se leefwêreld nogal goed ...? Wil jy uitbrei op die skoonmaak van 'n huis, en waarom dit tog hierdie bagasie dra in hierdie land (Suid-Afrika), terwyl dit eintlik maar net iets is wat almal elke dag moet doen as hulle in hulle eie skoon huise wil woon?
Nee, natuurlik is skoonmaak maar skoonmaak, in enige huis, enige land, en dit bly maar 'n Sisifiese taak! Dalk is dit juis daarom dat mense die wêreld oor skoonmakers onderskat: wanneer 'n mens jou 'n huis verbeel, is dit skoon. Vir huise is "skoon" die norm. Dus kom die skoonmaker en maak die huis "reg" soos dit "moet wees", wat dan beteken dat mense die werk nie ag nie. Maar dit geld nie net skoonmakers nie; vroue oor die algemeen weet hoe dit gaan. In Suid–Afrika sou ek sê is een van die redes vir die bagasie maar dat baie vroue maar noodgedwonge huishulp moes word: sonder 'n opvoeding was daar nie veel ander opsies nie. Maar dis natuurlik werklik kompleks, en daar is baie redes.
Gaan Tebatso ooit werklik see toe? Dalk kan jy praat oor die ander aspekte van Tebatso se vakansie, behalwe die skoonmaak.
Sy kom wel by die see, deur Adriaan se toedoen. (Die strand is vir wittes gereserveer – onthou, dis 1983.) Dis vir haar 'n verstommende ondervinding, en daar's 'n besonderse skulp wat sy vir haar kinders wil saamneem huis toe. 'n Ander aspek van haar verhaal is die verhouding wat sy met Petrus, die werker by die huis langsaan, aanknoop.
Romantiese verhoudings, ervarings met hoe mans en vroue mekaar sien. Is dit inherent kultureel verskillend, of is daar meer raakpunte as verskille? Dalk sluit hierdie vraag aan by die eerste vraag: Hoe weet mens wie mag watter storie vertel?
Dis vir my baie moeilik om te raai, maar ek glo wel daar is sekere universele konstantes by verhoudings. En soos ek by die eerste vraag verduidelik, is selfs vir my om in 'n man van my eie agtergrond se kop te klim 'n skuif. En wie weet nou in elk geval wat in enige man se kop aangaan? (Grappie ...!)
Wat was vir jou lekker van hierdie storie, en wat was moeilik?
Ek het so lief geraak vir Tebatso. Dít was lekker. En ek het dit geniet om die kinders se dinge te beskryf: Tebatso se eie kinders, en Rina se kinders, die hele spul. Die moeilike deel was maar om te weet dat ek 'n risiko neem met die karakter wat ek skep. Ek voel ek het dit tot die beste van my vermoë gedoen, maar met enige boek hoop 'n mens maar lesers sien wat jy sien, dat hulle die saak interpreteer soos jy dit bedoel het.
Jy het onlangs ook Patagonië geskryf. Watter storie was eerste: Patagonië of Tebatso gaan see toe?
Ek het Tebatso eerste geskryf, maar dit het toe gebeur dat Patagonië eerste verskyn het.
Wat het jy onlangs gelees wat indruk gemaak het?
Ek het gisteraand Gabriel Tallent se My absolute darling klaargemaak en dit is 'n uitstekende, uitmuntende boek. My mond hang nou nog op die grond. Ek het ook onlangs Hitler, Verwoerd, Mandela and Me van Marianne Thamm gelees, en kan dit aanbeveel. En Fotostaatmasjien van Bibi Slippers is 'n wónderlike ding.
Jy was onlangs by die Etienne van Heerden–veldsoirée en dus in hierdie land. Wil jy iets van jou ervaringe deel – ervaringe hier en ervaringe daar, om in die buiteland te bly?
Dit was 'n enorme voorreg om by die Etienne Van Heerden–veldsoirée te kan wees. Ek het heerlik boeke gesels met wonderlike skrywers en met die liefste lesers, en saam met Izak de Vries en Chanette Paul het ek 'n fiksieslypskool aangebied. Soos jy sê, is ek nou terug in Kanada. Op hierdie oomblik sit ek – soos dikwels – in die hooftak van Vancouver Public Library. Dis 'n baie interessante gebou: lyk soos die Coliseum, het sewe verdiepings vol boeke en 'n daktuin. Met ander woorde dis baie na aan die hemel. Verder is dit nou herfs hier, met pragtige rooi blare en warm dae, maar eintlik sien ek uit na die sneeu!
Lees ook:
https://www.litnet.co.za/patagonie–n–onderhoud–met–maya–fowler/
https://www.litnet.co.za/patagonie–deur–maya–fowler–n–resensie/
https://www.litnet.co.za/etienne–van–heerden–veldsoiree–2018–fotogalery–1–4/
https://www.litnet.co.za/etienne–van–heerden–veldsoiree–2018–fotogalery–2–4/
https://www.litnet.co.za/etienne–van–heerden–veldsoiree–2018–fotogalery–3–4/
https://www.litnet.co.za/etienne–van–heerden–veldsoiree–2018–fotogalery–4–4/

