US Woordfees 2016-teaterresensie: Plant vir my 'n boom, André

  • 2

 

 

Lees ook: 

Ingrid Jonker se dogter gesels oor haar ma en Vlam in die sneeu

Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker


 

Ek en die geliefde het saam-saam gaan kyk na Deborah Steinmair se Plant vir my ‘n boom, André, soos dit aangebied is by die US Woordfees 2016. Ons het dit albei verskriklik geniet.

My geliefde is ’n mediese dokter en hoewel sy baie lief is vir lees, ken sy nie die briewe van Brink en Jonker nie. Ek is ’n letterkundige en het Vlam in die sneeu ingedrink.

Vir my het die krag in Steinmair se stuk gelê in die feit dat ek die jong Brink en die nog-nie-dood-nie-Jonker se stemme herken het, soos hulle in die briewe voorkom. Ek het al tevore geskryf: “Dit is aangrypend om Brink nie as wêreldbekende letterkundige nie, maar as ’n onskuldige Afrikaanse seun te leer ken.” (Hier is die volledige artikel.)

Die geliefde het op ’n heeltemal ander manier hierna gekyk en dit ewe veel geniet.

Ons was nie die enigstes nie. Die saal was heeltemal vol en die akteurs het ’n staande ovasie gekry.

Oor die stuk

Plant vir my ‘n boom, André se titel kom uit ’n gedig wat Jonker vir Brink geskryf het. (Vir ’n kopie van die gedig en ’n onderhoud met Steinmair, klik hier.) Lesers wat met Vlam in die sneeu bekend is, sou die ontstaan van die gedig beleef het.

Hierdie drama speel af die aand voor Brink ’n eredoktorsgraad in België ontvang het. Nou, met sy lewe agter hom en sy eens trotse lyf in ’n rolstoel, dink hy aan die nimf, Ingrid Jonker.

In sy kop speel die gesprekke tussen hulle weer af.

Steinmair het puik navorsing gedoen. Aan die een kant is daar die bekendheid van die briewe, aan die ander kant gee sy agtergrond wat nié in die briewe vervat word nie – soos die redes waarom die reis na Spanje en Parys so rampspoedig was.

Sy deel ook die selfmoordnota wat Jonker geskryf het aan Brink - maar nooit gepos het nie.

Brink se voortdurende renons in Jack Cope word pragtig saamgevat. Interessant genoeg is hier ’n simpatieke blik op Piet, Jonker se man en die pa van Simone. Die ouer Brink besef hoe onmoontlik dit moes wees om Jonker se wettige man te wees.

Om ewig jonk te wees

Jonker sou nooit oud word nie. Haar nimfagtige teenwoordigheid sou tot en met Brink se laaste skryfsels teenwoordig wees.

Die ouer, wyser Brink wat in Vurk in die pad - Brink se outobiografie - voorkom, kyk terug met ouer, selfs knorrige stem.

Steinmair kies ’n jonger stem. Sy plaas verskeie bekende feite in die Brinkkarakter se mond, want hy is immers al amper tagtig, maar wanneer hy met Jonker omgaan (woordspeling bedoel), is hy weer ’n jong man. In sy kop is hy jonk, al is sy lyf in ’n rolstoel.

In die dramastuk dartel Jonker om hom. In dié stuk is Jonker as nimf moerig, speels, bedonnerd, jags, kwaad, koesterend. Dit is presies hoe Jonker oorkom in die briewe. Brink verlustig hom weer in haar, maar hulle raak nooit aan mekaar nie – tot heel aan die einde.

Om oor ’n afstand bymekaar te wees

Selfs in die lewe was Brink en Jonker bitter min bymekaar. In die dae wat hulle saam is, kom die woord passie te mak voor. Die seks skud die aarde, maar so ook die rusies.

Hulle spandeer die grootste deel van hulle verhouding apart, masturbeer, gesels per foon, kasset, briewe en telegramme, droom en koester mekaar in hulle koppe. Dié patroon loop in ewige sirkels tot aan die einde van hulle verhouding.

Ons sien dit afspeel voor ons met Steinmair se teks.

Ons sien die karakters uitreik, sonder om mekaar te kan aanraak.

Dan, heel teen die einde “slaap hulle bymekaar” – soos Brink dit so sagkens stel – al is dit net in hulle koppe.

Steinmair se teks en die twee akteurs het dít baie goed vasgevat.

Die rolverdeling

Om Tinarie van Wyk Loots as Jonker op die verhoog te sit, is voortreflik. Daar is min aktrises wat so sensueel en broeiend kan voorkom as juis sy. In hierdie rol het ek haar nog meer geniet as in Orgie.

Erik Holm is ’n goeie keuse, want hy is jonk. Sy ouderdom straal ’n jonger Brink uit. ’n Mens sou ’n Dawid Minnaar in ’n rolstoel kon plak. Minnaar sou natuurlik die rol meesterlik uitgevoer het, maar iets van die jong, onskuldige Brink sou dan verlore gegaan het.

Holm, in sy eie rolstoel, word ’n jong Brink: kwaad, passievol, beredeneerd, angstig, en tog, lyflik, nie in staat om werklik aan die geliefde te raak nie.

Die ruimte

’n Laaste nota oor die verhoog. Erik Holm sit van die begin af, reeds wanneer ’n mens instap, in ’n tafel besaai met notas en ’n hele ruimte besaai met boeke. Ek was bevoorreg om al in Brink se studeerkamer te kon wees. Dit is deksels na aan akkuraat.

 

  • 2

Kommentaar

  • Francis Galloway

    Twee ander bronne, naas die onlangs gepubliseerde brieweboek "Vlam in die sneeu" waaruit deurgaans in hierdie teaterverwerking aangehaal word, is Petrovna Metelerkamp se "Ingrid Jonker: Beeld van 'n digterslewe" en die hoofstuk "Ingrid" in Brink se outobiografie "'n Vurk in die pad".

  • Sakkie Spangenberg

    Ek het die toneelspel van Eric Holm nie goed beleef nie. Dit was asof hy nie sy woorde goed geken het nie. Daar was nie drif en lewe in sy woorde nie en hy het soms oor sy woorde gestruikel.Ek het redelik voor gesit en moes soms my ore spits om te kon hoor wat hy sê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top