Teaterresensie: Marion Holm vir beginners

  • 0

marionholm400

 

Marion Holm vir beginners

Met Marion Holm

Regie: Chris Vorster

‘n Kosie Smit-produksie vir Pieter Toerien in Theatre on the Bay. Tot 22 Augustus

 

Onmiddellik trek Marion Holm die volle aandag van haar gehoor, want sy praat so duidelik en sy beweeg so interessant. Sy vertel eintlik stories uit haar eie verlede (‘n gemeenskaplike vriend gee die versekering dit is tot ‘n groot hoogte outobiografies). Sy sê stories kom op ‘n streep aan na haar uit die gewone lewe.

Waar’s die dag toe ’n wilde taxibestuurder haar in haar motor van die straat af wou druk, maar toe gee sy tweede-in-bevel ’n wonderlike verklaring vir hoekom hulle so naar met haar is. En dan is daar die dag toe sy vreeslik honger by ’n inryrestaurant opdaag. Sy’s oortuig dat alle takke landswyd die geliefde groentedis sal hê. Maar die kelner bly bedremmeld. (Luister net hoe goed boots Marion sy stem na!) Hy kan haar regtig nie help nie. Toe die onthulling. Dis een van die vele komiese hoogtepunte.

Ons maak ‘n reis met haar en ’n vriendin mee na ‘n buurland. Sy maak dit alte menslik; jy kan jou maklik daarmee vereenselwig. Sy erken byvoorbeeld dat sy eintlik ‘n introvert is; dat sy wil wegkom van mense, van haar lewe as aktrise. Maar baie gou bevind hulle hulle onder die primitiefste omstandighede denkbaar. Jy wens niemand so iets toe nie. Meer as een keer sal sy die les leer: as iets te goed is om waar te wees – bly dan weg!

Nog ’n opwindende toneel is haar avontuur in die roeiboot. Dit word met beligting iets heel visueels gemaak.

Dié tweedelige produksie bestaan uit werk wat sy al vantevore aangebied het. Sy doen dit alles steeds so energiek dat jy nie afgestomptheid weens “veroudering” aanvoel nie. Vir ons wat nie al haar optredes meegemaak het nie, is hierdie kennismaking heerlik verrassend en boeiend.

Die samestelling toon ’n netjiese opbou na die toneel in die versorgingsoord vir bejaardes. Vroeg in die aanbieding het sy ons aan haar ouers en twee ouer susters voorgestel. (Een is ’n suster; die ander ’n suster met ’n kondensmelkstem.) Tussen die daaropvolgende “avonture” is daar talle kruisverwysings, word sekere spitsvondighede onder nuwe omstandighede met trefkrag gelaai. Uiteindelik is ons by Ma Nakkie wat nie meer wil eet nie, wat byna ooglopend verswak, haas nie meer kan praat nie. Dan besoek die huishulp haar. Dié se kragdadige en luide stem laat ’n wonderwerk gebeur. Met hierdie toneel word ’n sterk slot geskep. Holm gebruik pouserings hier baie effektief.

Deurgaans is Holm se stemveranderings uiters geslaag. Daarmee skep sy ’n wye verskeidenheid karakters, saam met veelseggende lyftaal. So ontmoet jy ‘n jong Nataniël wat haar darem probeer help om iets baie ongewoons in nagtelike ure te begrawe. Dan is daar die uiters dominerende roei-instrukteur, die verleidelike limousinebestuurder cum kaalbasdanser, en ‘n formidabele dame tydens ’n Nuwejaarsviering. Wag ook vir die ouers-vra-gediggie.

Marion Holm bereik haar gehoor sonder aggressie, sonder treitering. Sy skep ’n atmosfeer van meelewing, van gesels met handelinge. Sy’s nie oorpreuts nie; terselfdertyd kan jy nie kla oor platvloersheid en kruheid nie. Sy haal immers vir Jung aan. Lekker, man, lekker.

Naskrif: Die aand van ons bywoning het ’n sekere dame in die gehoor gedink sy bevorder die joligheid met ’n geforseerde luide gelag en kommentaar. Dit was vir ons in ry E uiters steurend. Marion Holm het sulke “aanmoediging” beslis nie nodig nie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top