
Marc Lottering weet hoe om gehore te vermaak. Hy ken die oortuigende laggolf as hy die kol tref, maar weet ook om ’n ander rigting in te slaan en van die onderwerp af te stap as die gehoor hom nie snaaks vind nie. Hy het die vermoë om vlymskerp die spot te dryf met almal en alles: van ongewenste skoonfamilie, dronk ooms by Kerspartytjies, tot die regering en hul misstappe.
Hy begin sommer met: “Ek sien van julle is moeg; foeitog, het seker sedert 02:00 vanoggend op Metrorail gesit net om vanaand hier te wees.”
In sy nuutste vertoning Hashtag Lottering! gebruik hy die woord hashtag (hutsmerk) gereeld, want hy sê ons leef deesdae deur hashtags. Ons sit alles op Facebook en Instagram en ons lei almal die perfekte lewens – geen bipolêre insidente nie! Dit was interessant om te sien hoeveel mense gedurende die vertoning op hul selfone doenig was; wat natuurlik sy punt perfek illustreer het.
Marc se platsak-vertellinge van die dae voor betaaldag het baie instemmende kopknikke en applous gekry, veral toe hy vertel hoe ons almal se geld die 25ste inbetaal word, maar ons vra dat debietorders eers die 2de afgaan, “sodat ons vir daardie paar dae kan verbeel dis ons geld”. Hy verduidelik van die pap koljander agter in die yskas, en hoe die blatjangbottel waarin bietjie water gegooi is en wat onderstebo staan om die laaste druppel blatjang uit te kry sekerlik deel van ons almal se huishoudings is. Sy aanmerking dat jou yskas teen die 24ste nie meer ’n DEFY is nie maar ’n #Boggerol, het almal weer laat skaterlag.
Hy gaan sit vroeg in die vertoning agter die reuse swart vleuelklavier. Hy sê die teater het gesê die klavier se gebruik is verniet indien hy dalk wil speel en hy tokkel ’n deuntjie wat die gehoor laat skaterlag.
Hy vertel dat hy mal is oor die sports in die parlement, want dit gee vir komediante hope om mee te werk in hul vertonings en lag self as hy sê die verrigtinge begin gewoonlik as still water, maar verander gou in bruiswater.
Hy was vroeër vanjaar vir die eerste keer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn te sien en sê sy tjommies het hom gewaarsku om nie te gaan nie, “want dis net wit mense daar”. Hy het hulle gerusgestel en gesê hy is nie bekommerd nie, want wit mense betaal vooruit vir hul kaartjies!
In Oktober was hy die hoofkomediant by die Cape Town Funny Festival in Londen en hy sê aan die gehoor dis heerlik om terug te wees in Kaapstad, hoewel hy nie meer kan sê hy kom met liefde van die Kaapse Vlakte nie, want hy woon nou in Kampsbaai! En hy sê hoe verder hy van die Vlaktes af is, hoe minder suiker drink hy in sy tee.
Hy vertel verontwaardig hoe sommige van die mense in Kampsbaai – almal wit natuurlik – tot drie motors besit, maar steeds soggens en saans stap. “Nou stap ek ook maar. Die enigste probleem is dat die taxi’s my wil oplaai, al verduidelik ek dat ek hier woon en saam met hulle stap,” lag hy.
Hy moedig almal aan om geld te leen, met vakansie te gaan en hulle te geniet. “Die hele Facebook was al in Thailand, net ek en jy nie. Gaan, gaan!” vertel hy wys.
Marc gee jou 100 minute van pure vermaak. Sy snaakse bewegings om The Voice SA na te maak; of hoe die opgeleide kelners op wynplase in Franschhoek stap; of die dilemma by ’n bring-en-braai waar jou duur vleis verdwyn en jy met dun Shoprite wors tevrede moet wees; of die klein terroris wat in elke familie is en jou woonstel kom verniel, is só bekend, jy kan nie glo dat jy nie uniek is nie.
Hy lag soms self só lekker vir sy eie grappe, dat die gehoor op hul beurt weer van voor af lag. Dis duidelik dat hy elke oomblik net so baie soos die gehoor geniet.
Hy vier aanstaande jaar sy 20ste jaar as komediant en daar is geen verflouing van sy skerp talent nie. Dis ’n heerlike aandjie uit. Jy sal ligter uit die teater stap en besef ons het almal dieselfde probleme, ongeag van waar jy woon, wat jy verdien of wat jou velkleur of geloof is.
Met: Marc Lottering
Baxter-teater, Rondebosch
Tot 3 Desember en weer van 17 Januarie tot 4 Februarie 2017
Kaartjies deur Computicket.
Ouderdomsbeperking: Geen onder 16’s.
- Foto: verskaf

