Teaterresensie: All’s well that ends well

  • 0

 

Twee sake oor hierdie Shakespeare-drama kom dikwels na vore: dis nie juis ’n suiwer en sterk komedie nie, en dit word selde opgevoer.

Verskeie boeke oor ons teatergeskiedenis bevestig dat dit inderdaad nog maar min hier ter lande opgevoer is. In 1971, met die Little Theatre se 40ste verjaardag, wys Donald Inskip daarop dat dit nog net een keer in dié jare by hulle aangebied is – deur die Dylan Society van Cambridge.

Of dit ’n komedie is? Toe ek voor die openingsaand die teks lees, bewonder ek nogmaals Shakespeare se insig in menslike verhoudings:

         (Eerste bedryf) HELENA: Man is enemy to virginity; how may we barricade it against him?

         PAROLLES (later): ... get thee a good husband, and use him as he uses thee.

         (Vierde bedryf) HELENA: ... O strange men! That can such sweet                                             use make of what they hate.

Sekere woorde uit 1604 klink byderwets: toothpick; files; conjectural fears.

Maar ek lag nog nie.

Op die openingsaand skuif ons op ’n lang halfsirkel stoele in op die agterkant van die verhoog. Daar is skerms tussen die spelers en die gebruiklike ouditorium. Dié soort verhoogindeling is al dikwels gebruik. Dit laat my hierdie keer dadelik dink aan ’n jonge Hyland se regie op dié verhoog op 29 Augustus 1987 van Yukio Mishima se Madame De Sade. Hoe wonderlik gestileerd, stemmingsvol en “’n avontuur vir die gees” (aangehaal uit my resensie in ’n advertensie) was dit nie! Dit was die begin van ‘n voortreflike loopbaan.

Ons sit op die punt van die ry. Dis ’n belewenis om die spelers so na aan jou te ervaar. Kyk net hoe bly hulle “in karakter” met die op- en afgaan. Veral is dit die uitstekende gesigspel wat behou word. Ek sien nog die erns op die Koning van Frankryk (Tazme Pillay) se gesig hier in die verhoogskemer.

Maar hierdie verhoogindeling is ook nie altyd so ’n plesier vir die gehoor nie. Soms is ’n speler ver van jou aan die oorkant van die verhoog en as hy/sy nie deurgaans dieselfde mate van sterk stemprojeksie toepas nie, wonder jy wat gesê word. Ek besef dit kan stemvariasie en stemmingskepping bemoeilik. Tazme Pillay is een van dié wat nie dié lastigheid vir ons lewer nie.

In die drama gaan dit om Helena (uitgespreek Helen; vertolk deur Naledi Majola) se sterk liefde vir Bertram (Tristan de Beer). Hy is die seun van die waardige, wyse Hertogin van Rousillon (Lulu Read) wat vir Helena onder haar sorg geneem het, vir haar soos ‘n moeder wil wees. Dis ’n grys gebied, want dit sal beteken dat Bertram haar broer is en hulle daarom nie kan trou nie. Hulle word in ’n huwelik ingedwing deur die Franse koning. Dis ’n beloning vir Helena wat hom genees het met medikasie van haar oorlede vader, ‘n beroemde dokter. Maar gelukkig is daar ’n oorlog te voer en Bertram ontvlug aan die huwelik. Hy is egter heel belustig (uitstekend vertolk) om ’n nag in ’n donker bed met Diana (Nicola Moerman) deur te bring. Helena bewimpel dat sý Diana se plek inneem. Hierna volg ’n intrige met ringe sodat die koning Bertram vir moord laat arresteer en Diana ook ’n verdagte word.

Maar dan, met Helena as ’n belangrike getuie, besluit die koning:

         Let us from point to point this story know,

         To make the even truth in pleasure flow.

Vroegaand voel ek al aan: in dié aanbieding is ’n afgerondheid, maar sonder geforseerdheid. Almal dra by tot ’n energieke voortstuwing. Dit hou verband met erotiek en humor. En kort voor lank kom ook lagbuie uit die gehoor. Die spelers het deurgaans die regte mate van selfvertroue.

Lulu Read speel as die hertogin wonderlik oortuigend in teen haar ouderdom. Met haar haarstilering, kleredrag, gesigspel en spraak straal sy soveel waardigheid uit. Kyle Manuel, die beampte wat haar huishouding bestuur, dra wonderlike bedagsaamheid oor met sy ingetoënheid. Wynand Ferreira “verouder” ook genoegsaam as lord Lafew; hy kry dit veral reg met sy stem en sy liggaamshouding. In haar vertolking en verhoogteenwoordigheid dra Naledi Majola Helena se edelheid oortuigend oor, dit waarvan die ander karakters so getuig. Dis ’n kontras met die ligter trant van die “verleidsters” van Florence: Nicola Moerman (Diana), Laura-lee Mostert (die weduwee) en Gretchen Ramsden (Mariana).

Tristan de Beer beïndruk met sy spelwisseling. Eers is hy die jong militêr Bertram wat met ’n stugheid en ’n kilte aan die gedwonge huwelik wil ontkom. Later is hy die ene speelsheid, wat ook spulsheid genoem kan word. Hy’s ferm manlik.

Twee spelers lewer ’n groot bydrae om handeling en komiek te skep. Hulle munt uit in beweeglikheid en sterk stemgebruik. Luke Buys is Lavatch, die hertogin se nar. Wat rig hy nie alles met daardie lang houtneus en lenige ledemate uit nie! En jy onthou ook sy gevatte kommentaar.

Nelson Menell ís Parolles. In die derde bedryf kry Bertram ’n beskrywing van hierdie volgeling van hom:

         ... he’s a most notable coward, an infinite and endless liar, an hourly promise-breaker, the owner of no [so in my teks; dalk “not”?] one good quality worthy of your lordship’s entertainment.

’n Mens moet maar besluit uit die teks of dit alles waar is. So ‘n ou vertolk Nelson Menell met groot, kragtige bewegings, luide stem en komiese gesigsuitdrukkings. Jy kan hom eenvoudig nie ignoreer nie.

Soos so dikwels in die verlede, kan ’n mens dankbaar wees dat ’n dramadepartement soos dié van Ikeys jou goed laat kennis maak met ’n stuk wat jy nie maklik in hoofstroomteater sal sien nie. Boonop beleef jy hier senior studente. Daar’s erkenning in die program vir dosente en die vakgebiede waarin hulle hierdie veelbelowende toneelspelers begelei het. Dis opwindende teater.

 

William Shakespeare

All’s well that ends well

Met Tristan de Beer, Naledi Majola, Lulu Read, Tazme Pillay, Tailyn Ramsamy, Luke Buys, Wynand Ferreira, Nelson Menell, Laura-lee Mostert, Nicola Moerman, Kyle Manuel, Gretchen Ramsden, Matthew Stuurman, Mandla Mpanjukelwa, Peter Wiisbye en Thukelo Maka.

Regie: Geoffrey Hyland

Universiteit van Kaapstad se Dramadepartement in die Little Theatre, Hiddingh-kampus, Oranjestraat, Kaapstad. Tot 9 April; aanvangstyd 19h30.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top