Te boom om te boek

  • 1

Foto: Canva

Hoe besing ’n mens die lof van ’n boom? Hoe druk jy die omvattendheid van hierdie wonderlike organisme uit?

Iets van die antwoord is te kry in Helena Opperman se heerlike mosaïekteks oor bome wat sy tydens haar vele reise op uiteenlopende plekke teengekom het (LitNet, 7 Januarie 2020). Oor elkeen vertel sy die storie, skets sy die konteks en gee sy haar eie indrukke.

Dis die bome wat my bybly…

Sy bring die leser tot die insig: Bome is oor millennia heen deel van die mens se lewe. Want bome is sulke groot géwers. Hulle gee skaduwee en skuiling. Hul blare, lote en takke word op allerlei maniere gebruik. Natuurlik is hul vrugte goud werd vir voeding en oorlewing. Nadoods verskaf hulle boumateriaal en brandhout. En hulle gee ook tydens hul lewens onsigbare gawes: deur koolsuurgas uit die lug te haal en suurstof vry te stel. G’n wonder dat die Amasone-oerwoud bekend staan as die longe van die aarde nie.

Skrywers en digters, saam met al hul medekunstenaars, besoek ook bome vir hul gawes. Nie alleen op letterlike vlak nie, maar ook vir hul simboolwaarde: standvastigheid, duursaamheid, diensbaarheid.

In die Afrikaanse letterkunde is Dalene Matthee se Kringe in ’n bos, haar eerste roman oor die Knysna-bos, ’n sprekende voorbeeld. Teenoor die bosbewoners wat hulle daaglikse brood verdien deur bome af te kap en op te saag, is daar figure soos die boswagter Harrison, ’n historiese figuur, wat al in die 19de eeu gewaarsku het dat mense die Bos kan vernietig. Niemand het hom geglo nie, behalwe Saul Barnard, die kwasterige hoofkarakter, wat bome se lewe en sterwe anders ervaar het as sy lotsgenote. Hy begin anders kyk na dinge, leer houtmeubels maak om uit die verknegtheid en vernietiging los te kom.

Daar het maar min oorgebly van die Suid-Kaapse woude: Wat ons rondom Knysna sien, is maar net ’n breukdeel van vorige eeue se boomweelde. Vandag bestaan daar organisasies soos Greenpop, wat gebiede in Afrika (soos die Suid-Kaap) se ontbossing probeer omkeer, om volhoubaarheid en ’n gebalanseerde lewe te midde van bome te probeer bewerkstellig.

Woude, groot versamelings bome, is self fassinerende studievelde. Soos die navorsingstegnologie ontwikkel het, kon navorsers meer en meer gekompliseerde en gesofistikeerde toetse op bome doen – en die resultate verras hulle keer op keer. Ondergronds, met die samewerking van fungusse (wat ons gewoonlik as sampioene ken), kommunikeer hulle met mekaar, deel hulle voedingstowwe, en speel daar selfs ’n vorm van boomnepotisme af. ’n Boom sal sy/haar nasate voortrek met die verspreiding van voedingstowwe bó bome wat nie direk familie is nie. Kan jy nou meer! (Kyk gerus na Suzanne Simard se TED-praatjie hieroor: 

Hierdie wetenskaplike ontdekkings vorm deel van die inligtingsbasis van Richard Powers se komplekse knewel van ’n roman, The overstory, wat in 2019 die Pulitzer-prys vir fiksie ontvang het. Die titel verwys na die boonste laag van ’n woud, daar waar die takke van bome uitsprei om sonlig op te vang en deur middel van fotosintese in voedsel te omskep. Die takke vorm ’n tipe dak vir die woud, wat ’n belangrike invloed het op jong boompies wat ontkiem, en ander spesies (plante én diere) wat op die "understory", die bosvloer, leef. Die komplekse weefsel wat hierdie verskillende dele van bome op verskillende fisiese vlakke vorm, word ’n soort uitgebreide metafoor vir die lewens van nege Amerikaners. Elkeen van hulle het ’n besondere verhouding met bome, en hul stories raak op verskillende maniere vervleg. Hulle raak betrokke by betogings om die vernietiging van woude en bome te keer, maar word meermale vir hul moeite gearresteer. Die roman mag vir sommiges uitsigloos voorkom, maar daar is wel ’n sprankie hoop: Bome sal op die aarde wees lank nadat Homo sapiens verdwyn het ...

Nie almal het die voorreg om ’n woud te beleef nie; soms moet iemand tevrede wees met ’n enkele boom. So ’n persoon is Francie Nolan, wat in die eerste dekades van die 20ste eeu in Brooklyn in New York grootgeword het, soos opgeteken deur Betty Smith in haar klassieke roman A tree grows in Brooklyn. Francie se lewe is moeilik, want hulle is brandarm, maar daar is altyd ’n plan te maak. In die binneplaas van hulle woonstelblok groei ’n boom wat vir die jong, kreatiewe meisie dikwels ’n verbeeldingsruimte is. Wanneer die boom op ’n dag afgekap moet word (daar is altyd iemand met ’n Goeie Rede), breek dit byna haar hart. Ná jare, wanneer haar lewe voorspoediger begin verloop en sy uit Brooklyn wegtrek, merk sy op dat die boom weer uitgeloop het. Sy besef dat hierdie uitloopsel ’n simbool is wat haar lewe voorstel: Uit die perke van armoede en omstandighede kon sy tot iets groters groei.

Skrywers soos Matthee, Powers en Smith beantwoord – minstens ten dele – my vrae aan die begin. Hulle werk, wat veral in die eerste twee gevalle as "groen letterkunde" bestempel kan word, teken bome op wat deur menslike aktiwiteit bedreig word. Daarin is vir ons elkeen ’n les, of ’n opdrag: Koester bome, plant hulle, benut en beskerm hulle, wees dankbaar vir hulle gawes en weerstaan hulle vernietiging, sover dit moontlik is. En as die magte van die bose jou tydelik oorweldig, teken hulle op deur hulle af te neem, te skilder, te beskryf en met woord en lied te besing.

Bome gee ons meer as genoeg, meer as wat ons eintlik nodig het. Ongelukkig is die mens ingestel op korttermynvoordele, nie langtermynlewens nie. Voordat dit te laat is, moet ons besef hóé bome ons met gawes oorlaai. Dan moet ons dié insig uitleef terwyl ons dankbaar in hulle skaduwee staan.

  • 1

Kommentaar

  • Briljante lewensveranderende kennis met ons oor bome gedeel.
    Soos water is bome lewe.
    Mag alle Woordfeesgangers en Organiseerders van Feeste hierdie waarheid uitleef in hul Kuns, Musiek en lewens.
    Mag grootmense begin Leef en bome saam met kinders plant.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top