Dis die bome wat my bybly…

  • 4

’n Pisboom. ’n Boom vol strikkies. ’n Lyk aan ’n boomtak. Soveel kontinente, soveel lande, soveel mense, soveel ervaringe oor twintig jaar. Soms raak mense, plekke en tye verstrengel in die gange van my geheue. Maar die stories van die bome, dié bly my by, vergeet ek nie. Elke boom vertel ’n storie, die storie van sy spesie, die storie van sy tyd en plek, maar so dikwels ook die stories van ’n land en sy mense.

Samarkand, Uzbekistan

Foto van ’n "pisboom" (Foto: verskaf)

Dis ’n land waar alles oud is, eeue oud. Moskees, madrasses, grafkelders, dik dorpsmure, forte en museums. Ek reis na die verste uithoeke van Uzbekistan en met die loop van tyd, vind ek dit toenemend moeiliker om al die belewenisse in konteks te plaas. Feite en beelde maal in my kop. Te veel geskiedenis, te veel argitektuur, te veel bloed en verraad. Maar die bome, dié onthou ek helder soos gister.

Die pisboom op die sypaadjie voor ons huis in Samarkand, 2750 jaar oud die jaar toe ons daar woon. ’n Tengerige kopdoek ouvrou al dansend onder die pisboom. Elke dag vee sy onder die boom; haar grasbesem ’n dansmaat wat net sy kan sien, op musiek wat net sy kan hoor. Sy hou die besem met ’n koketterige glimlag armlengte weg, swiep laag af, strek grasieus op haar tone omhoog. Two-step na links, two-step na regs. Een middag kom ’n groepie tienerseuns verby, maak broek los teen die boomstam. Sy skreeu en slaan vervaard na hulle. Hul hardloop koggelend weg. Die houthek vlieg oop, hande pluk haar ru terug in die binnehof.    

Ek wonder oor dié bure wat enige oogkontak vermy, vlugtig met die hand oor die hart groet en so vinnig moontlik weer verdwyn. Maar dis ’n vreemde land, ’n vreemde kultuur, ’n verskriklike geskiedenis. Ek leer vroeg reeds, mens vra nie onnodige vrae nie. Tot ek vir die taxi moet beduie wáár in Katagurkanskistraat ek opgetel moet word. “O, die huis langs die pisboom,” sê hy iewat vererg dat ek nie die logika gehad het om die pisboom self uit te wys nie. Ek vis versigtig, maar mense slaan toe as ek die pisboom noem. Lank ná ek weg is uit Samarkand, loop ek iemand uit Katagurkanskistraat raak in Tashkent. “Die pisboom se mense? Die bure verraai vir ’n sak aartappels. Sewe mense uit die straat is oornag gulags toe. Net een het teruggekom.”

Die pisboom is steeds pisboom.

Khiva, Uzekistan    

’n Iepboom (Foto: verskaf)

By die klein begraafplaas aan die buitewyke van Khiva versteen ek in die bittere koue. ’n Jong vrou, toegewikkel in ’n dik vormlose jas, staan op haar tone en bind ’n stukkie lap in die kaal takke van ’n swart iepboom. Dis -10 ̊ C en haar skouers is wit van die sneeu. Sy hou die geboë takkie vir ’n paar oomblikke en laat dit dan stadig los. Lank bly sy so staan in die sneeu. Die toerleier pluk my aan die arm. “Holy Karagach. She baby died. She from Aral Sea. First Aral Sea dead. People die. Babies born dead. Better to leave …” Ek kyk terug; vrou en boom spookagtig swart in die grys sneeulandskap.

Maar hoekom die lapstrikkies? Dis wat die Uzbeks doen, vertel die toergids toe ons later knus in die gastehuis sit. In ’n land waar enige vorm van aanbidding vir baie dekades onwettig was, gryp mense terug na die gelowe van die ou tye. Bind ’n stukkie lap van die geliefde se kledingstuk aan die boom en stuur jou diepste wens na die gode. “Karagach near heaven; gods help lost one.” Ek rol die woord “karagach” in my mond, swart elm, ’n troosboom in die vaal steppevelde van Sentraal-Asië.

Die nag kerm die wind oor gulagspoke en stemme op die steppe. Die karakach koester lapstories in sy takke.

Bukhara, Uzbekistan

’n Moerbeiboom hang oor die dorpsdam in Bukhara, Uzbekistan (Foto: Johan Opperman)

Uzbeksistan se treinspore volg die eeu-oue syroetes deur die steppe tussen yl polgrasse en eindelose horisonne. Dit was ’n songekrapte dag. Die skroeigrasse van die steppe wit gebrand uit die treinvenster. Van Samarkand na Bukhara is ’n onafgebroke ry moerbeibome uit die tyd van die syroetes, toe sy meer werd as goud was. Moerbeie is oral langs die syroetes geplant en eeue later volg treinspore dieselfde roete. Die bome is kort; hul groei gestrem deur hitte, droogte, soutwinde en stofstorms. Die stamme is buite verhouding dik; hul skrampse takke al klouend aan die grys lug. Ysige winde uit Siberië en warm stofstrome uit die suide kruis hier swaarde en wee die kameelkaravane wat in die spervuur vasgevang was. Al uitweg was om halt te roep. Kamele sou langsaam kniel, hul dubbele ooglede toevou teen die stof en die storm uitwag. Skuilend onder sakke en agter die kamele se rûe moes ook reisigers die sand en stof verduur ure, soms dae lank.

Bukhara, een van die oudste stede in die wêreld, is my bestemming; die moerbeibome by die antieke dorpsdam op my emmerlysie. Die bome, in teenstelling met dié langs die treinspoor, is massief langs die dorpsdam. Aangrypend mooi in hul ouderdom, die stamme verwronge. Een hang horisontaal oor die dam en die restaurantkatte slaap onverstoord op ’n tak. By die plastiektafels met -tafeldoeke eet mense eet plov en drink eindelose koppies chai. Ek vergeet om te eet, vergeet om die vlieë te waai. Ek is aangegryp deur God se eie beeldhouwerke. Die bordjie lees: Mulberry tree It was planted 1477 year. Watter stories kan hul vertel van die dorpsdinge rondom die dam? Vroue wat water kom haal, jong verliefdes, gereelde huwelike, transaksies, verhale van lang reise. Dis waar reisigers en hul kamele vir baie eeue water gedrink het en in die skaduwee gerus het. Maar dis die moerbeie se eie storie wat my bybly, die moerbeie se verhaal van wortelskiet en oorleef in ’n vreemde land.

Dasvidanyia, sê ek vir die bome van Uzbeksistan. Ek sal julle onthou lank nadat ek die mense en die moskees vergeet het, die pisboom, die moerbei horisontaal oor die dam, die boom vol strikkies in die sneeubedekte steppe.

Sumbawanga, Tanzanië 

’n Miombowoud in Tanzanië (Foto: Johan Opperman)

Die nuwe pad word gebou, ’n reguit roete waar eens miombowoude was. Suidwes Tanzanië word oopgestel. Ekonomiese voorspoed kom uiteindelik. Stadig verdwyn die miombowoude so perfek vir die lang droë winters en wisselvallige somerreën van die landstreek. Jaar vir jaar net vóór die eerste reën, verskyn die eerste varsgroen blare. In die herfs was die woude ’n simfonie van bruin en rooi; waar olifant, hartebeest, wildehonde en swartwitpense gewei het. En lank gelede, toe mens en natuur nog in balans was, was daar genoeg vrugte, heuning en selfs droë takke vir vuurmaak.

Maar die diere is lank reeds weg en net in die diepste klowe op die hoogste berge is nog lappies miombowoud. Dis ’n arm wêreld en toe gerugte van die grootpad kom, kom die hoop terug in moeë oë. Saam met die pad kom werk en geld en kos. Soos die Chinese heuwels platstoot en rivierlope oorbrug, verdwyn die laaste reuse van die eertydse miombowoude ook. Mense los hul landjies en dorpies diep in die klowe en in die ver valleie; skuif na die padreserwe. Hulle bou al langs die pad langs, een of twee erwe diep om naby die pad, naby die ontwikkeling, naby die goeie lewe te kan wees. Vir kilometers ver strek dorpies weerskante van die pad en die vlaktes agter word gestroop van bome. Eindelose selfoonkiosks en piramides tamaties verskyn. Stringerige mangos word by die plastieksak verkoop. Maar dis by die sakke steenkool wat die groot vragmotors, die taxis en die selfs klein motorfietsies stop. Doringbome, kiaat en al die hardehoute van die omgewing verdwyn in steenkoolsakke.

’n Enkele doringboom in Tanzanië (Foto: Johan Opperman)

Erasto is op 33 een Maandagoggend skielik die hoof van sy village. Die laaste van die ouer mans is dood. Erasto is nou verantwoordelik vir die swetterjoel vroue en kinders. Ná die soveelste begrafnis moet ons nee sê. Nee ons kan nie weer geld leen nie, Hy is teen die grond. Sag van hart vra ons of ons mis vir ons groentuin in die village kan koop. Nee, hulle het al lank nie meer weiding vir beeste nie, maar die beeskraal is nog daar. Dis presies wat ons soek, ou mis, die ergste soute uitgespoel. Erasto se dorpie is vaal en leweloos, net een doringboom so ver soos die oog kan sien. Die son brand genadeloos en ons wag in die skadu terwyl ons sakke volgemaak word.

Drie Maandae later is Erasto baie opgewonde. Hy loer rond om seker te maak niemand sien hom nie en haal ’n pak note trots uit sy sak, 20000 Tanzaniese Sjielings! Hy het die boom aan Chinese verkoop vir 20000 Tanzaniese Sjielings. Sy oë blink.

Kwaheri” sê ek vir Erasto toe hy die middag sy fiets village toe vat. “Kwaheri” sê ek vir die laaste doringboom.

Siavonga, Zambië

’n Kremetartboom lê op haar sy in Siavonga, Zambië (Foto: Johan Opperman)

Ingombe Llede probeer ek die naam uitspreek. “Slapende koei” help die toergids my onhandige tong reg. Ons is by die argeologiese terrein in die suide van Zambië waar die Zambezi- en die Lusitu-riviere bymekaar aansluit. Die reusagtige kremetart lê lankuit op die grond met verskeie volgroeide nuwe stamme uit die ou moederlyf. Van ver af lyk dit inderdaad soos ’n slapende koei. Ons stap om die boom en ek wroeg oor die klouterende kindertjies. Die reus lê immers op haar sy, broos en moeg na ’n duisend of meer jaar van regop staan.

Lank gelede was dié kremetart ’n handelsentrum en sout, die rugraat van toenertydse ekonomie. Dis waar koperhandelaars uit die Kongo, Zimbabwe en die ooskus van Tanzanië oor baie eeue ontmoet het. Die kremetart is nie verniet Afrika se Boom van die Lewe nie; die blare was ’n antibiotika, die pitte kos, gedurende erge droogtes is water uit die stam gekry.

Die boom is massief, maar boonop is koninklikes daar begrawe. In die oop stofveld is die vlak graf van ’n vrou. Knieë opgetrek, hande in die skoot, hoof gebuig, lê sy daar. Sy het iewers tussen 700 en 1100AD geleef, vertel die gids. Haar koper armbande en glaskrale is weg na ’n groot museum toe. Sy was ’n prinses van die oertyd, toe hierdie verlate stuk aarde ’n belangrike plek was. Geleerde mense kon die ouderdom van die grafte bepaal na aanleiding van die grootte en vorm van die koper knoetse, vertel hy.

Die geraamte van ’n prinses uit die oertyd in Siavonga, Zambië (Foto: Johan Opperman)

Ek wys na die kinders op die boom. Moet hulle nie liewer afklim nie? Hulle sal die boom beskadig. Dalk moet dit toegespan word, sê-vra ek.

Hy glimlag. “Lyk dit of Ingombe Llede seer kry? Dis hoe kinders leer van die ou tye en die ou dinge. Hulle klim en klouer en vat aan hul eie geskiedenis, voel die vastigheid van die verlede onder hul knieë, ruik die toekoms aan hul vingers.

Acedía Vallei aan die voet van die Sierra Bermega, Andalusia, Spanje 

’n Kurkboom in Spanje (Foto: Johan Opperman)

Dit was ’n mistige Kersoggend toe ons die berge van Andalusia aanvat. Die massas toeriste in die Costa del Sol dryf ons na die stilte. By die reuse-kurkboom raak Jingle Bells genadiglik stil in my kop. Ons pak die vars gebakte pan basico, kaas en kersies uit, haal die koffiefles uit. Ons is stil by die 200-jaare oue boom met sy kaalgekapte rooi stam. Dis winter, sy stam is gestroop, maar hy staan onverstoord met sy grysgroen blare in die woud van Spannse dennebome.

’n Motor met vier jong mans hou stil. “Dashing through the snow / In a one-horse open sleigh / O'er the fields we go / Laughing all the way,” sing die Spaanse radiostasie. Ek is vies vir myself. Het ek regtig gedink Andalusia moet nog wees soos wat Uys Krige dit negentig jaar terug beskryf het? Met Spanjaarde op donkies? Die jong Spanjaarde dra Kerswense oor. Hulle is boorlinge van die klein dorpie daarbo teen die kranse, maar hulle werk in Granada, Madrid en Barcelona. Terug vir Kersfees. Hulle is trots op die kurkbome van hul vallei. Een vertel van ’n vakman-oom wat presies met ’n byl die kurk afhaal sonder om die boom te beseer. Kurk word net elke neënde jaar geoes, vertel ’n ander. Dié spesifieke boom is die afgelope Augustus gekurk. Die vars rooi binnestam is onbeskadig, wys hulle uit.

Toe hul ry, roep een by die venster uit: “Bravo Bafana Bafana!” Ons waai tot die blou motortjie tussen die Spaanse denne verdwyn het. Is hul maar vriendelik van aard? Het hulle gestop omdat dit Kersdag is? Later peins my man. “Nee, dis die kurkboom. Selfs in die 21ste eeu bring bome vreemdelinge bymekaar.”

Gulhane Park, Istanbul, Turkye 

Gulhana Park in Turkye (Foto: Johan Opperman)

Jare lank droom ons; vir ’n volle jaar spaar ons; drie maande voor die tyd koop ons aanlyn kaartjies vir die blommeprag van Keukenhof. En dis elke-byvoeglike-naamwoord-in-die-Afrikaanse-taal-mooi. Maar die massas en massa mense maak my benoud. Asof die duisende mense nie erg genoeg is nie, maak ek ─ uit die Afrikabos ─ vir die eerste keer kennis met selfiestokke. Ons sukkel om foto’s te neem. Mik skaars, dan vlieg ’n selfiestok voor jou lens in. Ek is verslae oor die honderde jong Japanese wat met hul rue na die velde blomme staan en die mensgemaakte wonder deur ’n kameralens beleef. Tweedehand reis met jouself as die middelpunt?

Ons vlieg via Istanbul en na ’n besoek aan die Sophia Hagia land ons onbepland by die Gulhane park waar tulpe vol in die blom staan. Geen toegangsfooi, geen gedrang, geen selfiestokke. Die park is besig; nogans rustig. ’n Paar ou mans sit op ’n bankie en rook, kindertjies hardloop rond en ek is stom van vreugde.

Net een mens kyk nie blomme nie. Met sy rug teen ’n gladdestam boom, staan ’n Turk in ’n baadjie so blou soos die tulpe. Sy oë is vasgenael op die ingang. Hy steek ’n sigaret aan, kyk op sy horlosie, druk die sigaret dood, kyk op sy horlosie. En toe verhelder sy gesig. ’n Vrou reeds verby haar fleur kom haastig in, kyk soekend rond en hul oë ontmoet. Hulle hardloop behoorlik na mekaar en sy laat val haar handsak om hom te omhels. Hy plant honderde soentjies oral oor haar gesig. Pik, pik, pik asof hy wil seker maak dat sy tog daar is, en nie net in sy drome gekom het nie. Hulle steur hul nie aan die blomme nie. Staan lank onder die boom in hul eie wêreld. Die skaduwees word lank en sy trek haar dik baadjie stywer om haar ruim boesem.

Later stap sy omkyk-omkyk weg. Hy bly staan lank by die boom tussen die tulpe. Dié boom in Istanbul? Sou die boom kon praat, sou hy kon vertel dat, soos tulpe, liefde seisoene het?

Penhurst, Kent, Engeland  

Die Sewe Susters-kastaiingboom in Engeland (Foto: Wikipedia)

Dis die somer van 2016. In Penhurst Woud onmoet ons die sewe susters met ’n gesamentlike omtrek van bykans vyftien meter. Die kastaiingboom is ’n duisend jaar oud vertel die bordjie, die oudste lewende boom in Brittanje. Europeërs is lief vir soet kastaiings met hul bruin Kersneute. Die ou grote, wat reeds die verwagte ouderdom met 300 jaar oorskry het, is besig om te sterf. ’n Gebrek aan suurstof besluit ’n groep Nederlandse boomdokters in 2008, maar die wetenskaplikes doen wat hul kan...

Maar dis nie net die kastaiing wat sterf nie. Liefde sterf ook, vind ons die middag uit. ’n Vierjarige witkop seuntjie stap weg en gaan sit onder die boom. Die boom is sy skuilte teen die seer in sy ouers se oë. Ek stap na hom toe, maar hy is in sy eie wêreldjie. Daar in die skadu van die sterwende boom skryf hy soos Jesus duisende jare gelede met ’n stokkie in die grond.

Aylmer May Begraafplaas, Lusaka, Zambië

’n Kapel in die Almer May Begraafplaas, Zambië (Foto: Johan Opperman)

Langs die kapelletjie staan ’n sipres. Dis ’n slordige sipres, een van die rondes met pluiserige takke. ’n Doofstom opsigter sluit oop. Audrey Mary Elizabeth Murray (O’Brien) se graf vul feitlik die hele kapelvloer. Oorlede op 25 September 1925, presies drie maande ná haar troue op 25 Junie 1925. Sy was maar 25 jaar oud toe haar blindederm bars. Haar bruidegom, kaptein Thomas Henderson Murray, laat bou die kapel oor haar graf. Sou hy haar teen wind en weer wou beskerm? Wou hy so haar herinnering lewend hou?

Die begraafplaas is ontwerp soos ’n labirint; lae sipresheinings lei my verby grafte gegroepeer volgens nasionaliteite: Duitsers, Pole, Skotte, Iere, Britte, ’n paar Italianers en ’n klompie Afrikaners. Daar is verskeie dubbelgrafte. Eggenotes, ouers en kinders van reg oor die destydse Noord-Rhodesië is hier herbegrawe met die inskripsie: “Together again.”

Ek soek na kaptein Murray se graf, maar kry dit nie. Ek wonder oor hom. Is hy terug Engeland toe? Het hy weer getrou? Kinders gehad? Mettertyd van sy Audrey by die sipresboom vergeet?

Thomas Murray het nooit sy Audrey vergeet het nie. Die Murrays se geslagsregister wys nie ’n tweede huwelik nie; meld net sy sterfte twaalf jaar later in Livingstone, 500 kilometer van sy bruid af. “Together Again” word nie vir Thomas en Audrey gegun nie.

In 2014 vra iemand op die internet vir donasies om Thomas se graf te herstel.

Dit reën ligweg toe ek wegstap. Dae later ruik ek steeds die rokerige speserygeur van die sipres.

Kleinmond, Suid-Afrika 

Suid-Afrikaanse fynbos (Foto: Pixabay)

Fynbos, proteas, die Kogelberge, die blou-blou see. Langs die waterstrome en in die klowe groei inheemse bome met name uit die boere-verlede: wilde almandel, wilde perske, olienhout, vals olyf, bergsipres, swartbas en bitterblaar. Afrikaanse volksname wat wys hoe goed ons mense die natuur ken, hoe ons deur naamgewing trots eienaarskap neem, omgee.

Kleinmond, ’n vakansiedorpie wat Desembers uit sy nate bars. Die res van die jaar is die dorpslewe rustig. Die inwoners is meestal afgetredenes, goeie hardwerkende Christene. Hulle sing met oorgawe Psalms in die kerk, maar hou ook van Beethoven en soms boeremusiek. Soos dit op ’n aftreeplek hoort, word die dood as deel van die lewe aanvaar; ’n noodsaaklike stap na die ewige lewe.

Maar selfdood? Dit is gewoon sonde. Een oggend word Ralph Rabie, of te wel, Johannes Kerkorrel, se lyk aan ’n boom net buite die dorp aangetref. Van Voëlvry-faam, het hy met sy musiek die Afrikanerpolitici van die dag aangevat. Onvergeeflik egter, neem hy as naam, die amper heilige instrument van die Calvinisme.

Ons neem die familiehuis op Kleinmond oor. Ons maak kennis met die bure, oorweeg om daar af te tree om die wandelroetes deur fynbos en klowe te stap, langs die see vis en skyfies te eet en gholf te speel. Die bure gesels gesellig oor skete en kleinkinders, skade en skandes. “Tog so jammer,” sê ’n waardige ou heer, “dat die Kerkorrel nou juis ons dorp moes kies! Kon hy nie iewers anders heen gegaan het nie?” Ek kyk in sy oë, maar sien nie woede nie; net verwarring. Hy is 90; sy liggaam afgetakel; sy vrou weg; sy land onerkenbaar vreemd. Op die preekstoel staan ’n jong klong wat Engelse woorde links en regs in die Woordverkondiging gebruik. Sy wortels is onherroepelik weg; Kerkorrel is maar sy manier om sy eie vrese te besweer.

Ek het nooit Johannes Kerkorrel se boom gesien nie. Ek weet nie watter soort boom dit was nie. Inheems? ’n Uitheemse bloustam-bloekom wat na suurlemoen ruik as dit liggies reën?

Ons pad loop anders en ons groet die prentjiemooi dorpie. Ek groet die vier soorte geelhoute in ons tuin, die vyf inheemse jong boompies wat ons met die geboorte van ons vyf kleinkinders geplant het. “Totsiens,” sê ek vir ons tuin se bome. “Totsiens,” sê ek vir ’n onbekende boom.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    "Be like a tree. Stay grounded. Connect with your roots. Turn over a new leaf. Bend before you break. Enjoy your unique natural beauty. Keep growing." - Joanne Raptis

    Pragwerk! Heerlik gelees, dankie.

  • Absoluut insiggewend en geskryf met soveel gevoel dat mens amper voel asof jy 'saamreis' met die skryfster op haar reise!

  • Ek is so ontroerd deur hierdie reisbeskrywings rondom bome. Wat n gawe om woordprente te skep waarin ek my as leunstoel-reisiger met oorgawe kan verlustig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top