Tasché gesels oor haar debuut, Fokof en vreemde obsessies

  • 0

Tasché Burger (foto: Jaco S Venter)

Vroeg verlede jaar, enkele dae nadat Tasché Burger met haar vertolking van Koos Kombuis se “Lisa se klavier” tydens ’n onvergeetlike blinde oudisie al die spanleiers op die gewilde televisieprogram The Voice SA in hulle stoele laat omdraai het, het ek haar gekose spanleier, Francois van Coke, vir ’n koffie ontmoet. Ek het hom uitgevra oor Tasché en sy opwinding was tasbaar: “Het jy haar stem gehóór?” het hy my gevra.

Met daardie stem van fors en ferweel het Tasché toe byna oornag ’n kleim op die Suid-Afrikaanse musieklandskap kom afsteek toe sy later as die 2019-wenner van dié gewilde talentprogram aangewys is. En hierdie oorwinning is nie te versmaai nie: Nie net is dit die eerste keer dat ’n vrou hierdie plaaslike kompetisie wen nie, sy’t dit boonop gedoen op die bloedjong ouderdom van 19 – die jongste plaaslike wenner van die televisiereeks tot op datum.

Ná hierdie triomf het Tasché nie gras onder haar voete laat groei nie. Voor die laaste glasie nog op 2019 geklink is, was haar selfgetitelde debuutkortspeler al op die rakke, tesame met die vrystelling van ’n musiekvideo vir haar eerste oorspronklike enkelsnit “Die een” onder leiding van haar mentor Van Coke, wat ook die medevervaardiger van die snit is.

Benewens twee oorspronklike liedjies spog die kortspeler ook met verwerkings van gewilde Afrikaanse treffers soos Gian Groen se “Vier seisoene kind” (gesing saam met Van Coke) en “Lisa se klavier” – wat aanhangers juis die eerste keer laat regop sit en luister het. Dan is daar ook “Bittermaan”, ’n duet saam met Danie du Toit van die immergewilde Afrikaanse rockgroep Spoegwolf, en ’n vertederende weergawe van Fokofpolisiekar se “Ek skyn(heilig)”.

Maar sonder enige twyfel is die toppunt van die EP “Tweedehandse hart”, een van die nuutgeskrewe liedjies wat daarin slaag om die pop-rock-grens – wat dikwels so onbegaanbaar is op die Afrikaanse musiektoneel – met gemak te oorbrug. Hierdie liedjie het sy in samewerking met Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties-faam geskryf, met musiek deur Richard Onreat (lid van Van Coke se musiekgroep Die Gevaar), wie se seepgladde kitaarspel hierdie snit tot ’n kitstreffer poets.

Kom ons wees eerlik: Die alternatiewe Afrikaanse musiekwêreld is tans ’n bietjie van ’n worsfees en ons het sterk vrouestemme nodig, wat Tasché se toetrede tot die toneel ekstra-opwindend maak. Dus, met dié nuwe gunsteling op hoë rotasie in my oorfone, het ek haar met ’n paar vrae genader.

Met eerste oogopslag lyk dit of jou sangloopbaan teen snellerspoed ontwikkel het, met dié dat jy oornag beroemdheid verwerf het as wenner van The Voice SA. Maar dis sekerlik nie waar alles begin het nie, of hoe? Wie of wat het die sangeres in jou wakker gemaak en het jy altyd geweet jy gaan ’n loopbaan in musiek volg?

Ek wou nog altyd sing. Vandat ek kan onthou, was dit al ding waar ek altyd my honderd persent sou gee, waarmee ek altyd gemaklik gevoel het, en waar ek tuis gevoel het. Ek het sangklas begin neem van vier jaar oud af, en van daardie dag af was dit net konstant sang en musiek.

Die handegeklap het nog skaars bedaar ná jou oorwinningsaand op The Voice SA en toe is jy in die ateljee besig met die opname van jou kortspeleralbum. Terwyl hierdie program superpopulêr is, het jy en jou album ’n alternatiewe eerder as ’n mainstream edge. Het jy dadelik geweet wat jy wil doen in terme van genre? En waar sien jy jouself inpas in die warboel van ons plaaslike musiektoneel tussen pop, rock, sokkie, Skarumba en alles tussenin?

Ek het altyd connect met die genre country rock. Ek love rockmusiek en wou nog altyd ’n bietjie edgy wees en iets anders doen, en met die hulp van die Van Coke-span is ek seker ons gaan in ’n goeie direction.

En wat was dit wat daardie belangstelling in country rock en rock by jou geprikkel het? Is dit musiek waarmee jy grootgeword het, en watter kunstenaars het hierdie voorliefde van jou beïnvloed?

Ek hou daarvan dat daar altyd ’n storie en feeling betrokke is by dié genre van musiek. Yes, veral Shania Twain, Chris Stapleton, Brandi Carlile en Beth Hart.

Byna al die manne van Fokofpolisiekar was op een of ander wyse betrokke by jou kortspeler: Francois het help produce en begelei, Hunter het bygedra tot lirieke, Wynand tree op as jou bestuurder en Snake het selfs jou persfoto’s geneem ... Jy was natuurlik nog ’n suigeling tydens die punkrockrevolusie in die Kaapse noordelike voorstede kort ná die millenniumwending, met die ontstaan van Fokofpolisiekar in Bellville, net om die draai van waar jy grootgeword het in Brackenfell. Was jy as kind bewus van en blootgestel aan die musiek van hierdie kunstenaars wat nou so ’n groot rol in die lansering van jou loopbaan speel, en was dit intimiderend of opwindend om saam met hulle te kan werk?

Ek is ’n massive Fokofpolisiekar fan! Ek is nou selfs ’n groter fan! Ek was nog altyd. Ek het dit gelove dat hulle nie bang is vir sê wat hulle voel nie. Dit is een massive eer om saam met hulle te kan werk, om by hulle te kan leer oor al die in’s en out’s van musiek. Aan die begin was ek ’n bietjies nervous om saam met hulle te werk, want hulle het een massive rol gespeel in wat musiek vir my beteken vandag. Hulle speel nog steeds ’n groot rol. Maar dis lekker om hulle meer te sien as familie en rolmodelle.

Tasché Burger en Francois van Coke (foto: Henry Engelbrecht)

Ek kan dink dat dit intimiderend moet wees. So hoe het jy en Hunter, hierdie ervare liriekskrywer, te werk gegaan met die skryfproses van die oorspronklike liedjies? Het jy met die idees vorendag gekom, het julle idees rondgegooi, saam gesit en skryf of hoe?

Ek het al my ou skryfwerk vir hom aangestuur en hy het bietjie sy eie swing op dinge gesit en ons almal het saamgewerk om ’n lekker song te create. Ons het maar almal ons insette ingesit en saam besluit wat vir ons die beste geklink het.

Gian Groen se immerbekende “Vier seisoene kind” is al deur tientalle kunstenaars heropgeneem, maar jou verwerking het hom laat sê dat dit sonder twyfel sy gunsteling is. En Koos Kombuis het oor jou vertolking van “Lisa se klavier” gesê: “Ek kan nou maar aftree en ophou om daai song te sing.” Ook Danie van Spoegwolf was vol lof vir jou vertolking van “Bittermaan”. Hoe laat dit jou voel dat hierdie legendes jou vertrou met hulle musiekjuwele, en is dit kunstenaars na wie jy nog altyd opgekyk het?

Dit voel onwerklik, dis vir my ’n eer om hulle songs te kan sing. Die rede hoekom ek dit gekies het, is dat dit sulke amazing songs is, en ek kon nie vir beter terugvoering vra nie – ek voel geëerd.

En as jy nie nou besig was om hierdie sangloopbaan te lanseer nie, waarmee sou jy nou besig gewees het?

Ek het so ’n stupid obsessie met vingerbord deesdae!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top