Tariewe, onsekerheid en ’n begroting: die kontoere van mespuntpolitiek (3 April 2025)

  • 0

Die eerste week van April 2025 sal in die geskiedenis aangeteken word as ’n periode van groot onsekerheid en ontwrigting. Dit word gesê teen die agtergrond daarvan dat mense, veral sakelui, voorspelbaarheid bo onsekerheid verkies. Voorspelbaarheid gee die geleentheid om suksesvol te beplan en onder stabiele omstandighede planne of strategieë uit te voer. Sedert die Trump-administrasie in Januarie 2025 in die VSA oorgeneem het en die RNE in Suid-Afrika gevorm is, word voorspelbaarheid as ’n luukse beskou en word die koste van onsekerheid en onvoorspelbaarheid ’n daaglikse risiko.

In Suid-Afrika was daar die laaste maand ’n deurlopende stryd om die begroting goedgekeur te kry binne die RNE. Ná intense gesprekke agter geslote deure het daar op 2 April ’n baie vreemde stemsamestelling oor die voorgestelde begroting in die parlement plaasgevind: Lede van die opposisie het saam met die ANC en ActionSA gestem om met ’n meerderheid die begrotingsraamwerk goed te keur, terwyl lede van die RNE saam met die MKP en die EFF daartéén gestem het. Die ANC-ActionSA-groepering het 194 stemme gekry teenoor die DA, MKP, EFF en VF Plus se 184 stemme. Die begroting is nou oor die eerste hekkie, maar daar wag nog interessante uitdagings na aanleiding van die besluit. Dit dra tot onsekerheid by.

Gelyklopend met gebeure in Suid-Afrika kondig Donald Trump op 2 April uiteindelik sy tariewe aan met ’n minimum van 10% op alle lande, maar ’n paar uitsonderings geld in dié verband. China betaal tans ’n 34%-tarief, wat verhoog na 54%; die Europese Unie betaal nou ’n 20%-tarief, Suid-Korea 25%; Japan sal ’n 24%-tarief betaal en Taiwan 32%. Suid-Afrika word aangeslaan op ’n 60%-tarief, maar is tot 30% verlaag, en dit wil lyk asof ons die Agoa-voordele verloor het.

Hierdie nuwe tariefmuur wat die VSA ingestel het, verander die internasionale spelreëls waarvolgens internasionale handel gevoer word. Ons is nou volskaals in ’n trariefoorlog. Dit dra by tot grootskaalse onsekerheid, want watter opsies het Amerikaanse handelsvennote? Moet lande die tariewe absorbeer en hulle produkte mededingend hou in die VSA, of moet hulle die tariewe aan die Amerikaanse verbruiker oordra?

Watter strategie moet in die twee verskillende probleemareas gevolg word? Die Engelse woord brinkmanship kom hier dadelik op as ’n soort mespuntpolitiek. Mespuntpolitiek is ’n kuns eerder as ’n strategie, waar die praktyk ingespan word om berekende risiko’s te neem en konflikte of gebeure toe te laat om tot teen die afgrond te beweeg. Dit vind plaas deur gebruik te maak van politieke druk, manipulasie, intimidasie, vals nuus en politieke blufspeletjies. Die doel van mespuntpolitiek is om jou opponent buite sy gemaksone te laat beweeg en dan met onderhandeling voordele af te dwing. Dit is ’n spel vir koelkoppe, want heethoofde verloor gou hulle geduld en perspektief.

In die begrotingsproses sal die politieke akteurs moet besin oor die werking van die RNE en dooierus neem op die voor- en nadele van deelname. Op kort termyn sal die RNE voortbestaan, maar die proses wat ons oor die afgelope maand aanskou het, het die RNE in die oë van die breë publiek verswak. In die geval van Trump se tariewe gaan daar ernstige teenmaatreëls deur lande ingestel word, en die Amerikaanse ekonomie kan dalk groter skade ly, wat Trump op baie optimistiese wyse ignoreer. Op stuk van sake dra mespuntpolitiek geweldige risiko’s as dit nie slaag nie, maar dit het groot voordele as dit suksesvol is.

Ek sluit in dié verband af met iets van Herman Charles Bosman. Hy het geskryf oor ene Stefanus Erasmus, ’n profeet wat glo die toekoms is beter as wat Siener van Rensburg kon voorspel. Wat Stefanus Erasmus so goed gemaak het, was dat hy die toekoms laat gebeur het net deur dit te voorspel (“He made it true just by prophesying it.”) Ons mis vir Stefanus Erasmus in hierdie onseker tye!

Kyk en lees ook:

Diplomasie op die afgrond

Die hare waai tussen partye in die parlement oor begroting

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top