Taalbeleid: US gee duidelikheid

  • 4

stellenbosch_tweetalig300ʼn Verklaring oor taal-implementering deur die Rektor se Bestuurspan (RBS) by die Universiteit Stellenbosch op 12 November 2015 is met wyd uiteenlopende en diverse reaksies van verskeie belangegroepe begroet. Die Uitvoerende Komitee van die Universiteitsraad het op 15 November 2015 ook ‘n mosie hieroor uitgereik.

Op grond van kommentaar in e-posboodskappe, op sosiale media en in die tradisionele media, is dit duidelik dat die huidige posisie en die pad vorentoe uitklaring benodig. ʼn Duidelike onderskeid moet getref word tussen a) taal-implementering en b) veranderings aan die Taalbeleid van die Universiteit.

• Studente sal in 2016 in Engels en in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch kan studeer, soos aangedui in die taalspesifikasies in fakulteite se jaarboeke, maar prioriteit sal geskenk word aan die implementering van bykomende ondersteuningsmeganismes om te verseker dat studente nie uitgesluit word as gevolg van Afrikaans nie.

• Stellings wat verband hou met die “val van Afrikaans en die opkoms van Engels” is 'n oorvereenvoudiging van taal-implementering aan die Universiteit. Afrikaans sal nie verwater word as gevolg van die uitbreiding van die Engelse aanbod nie; en studente wat verkies om in Engels te studeer sal ondersteun word om dit te doen.

• Die feit dat die Taalbeleid as gevolg van statutêre riglyne nie voor die einde van 2015 verander kan word nie, moenie gesien word as ʼn instrument om Engelssprekende studente te benadeel nie.

• Die doel van die versnelde implementering van die Taalplan, met ʼn spesifieke fokus op parallelmedium onderrig (PMO), is om te verseker dat geen student uitgesluit word van ʼn duidelike begrip van die akademiese aanbod op grond van taal nie. Dit sal, met onmiddellike effek vanaf 2016, die uitbreiding van parallelmedium klasse (aparte Afrikaanse en Engelse lesings), en ander ondersteuningsmeganismes, behels wat sal verseker dat geen student uitgesluit word van onderriggeleenthede as gevolg van Afrikaans of Engels nie.

• Hierdie versnelling noodsaak nie veranderings aan die huidige Taalbeleid nie, aangesien die uitbreiding van beide die Afrikaanse en Engelse aanbod in ooreenstemming is met die beleid wat in November 2014 goedgekeur is. Aanvanklik was die doel om ʼn 75%-aanbod in beide Engels en Afrikaans teen 2020 te hê, maar hierdie jaar het getoon dat die belange van ons studente ʼn drastiese versnelling van verbeterde meganismes vir taal-implementering noodsaak.

• Die verklaring deur die Universiteit Stellenbosch se bestuurspan is uitgereik as ʼn besprekingsdokument om hul ondersteuning aan te dui vir maatreëls om die leer-ervaring van studente wat nie ʼn akademiese geletterdheid in Afrikaans het nie, te verbeter. Die Bestuur se verklaring is nie ʼn beleidsdokument nie. Die Statuut van die Universiteit bepaal dat slegs die Raad die Taalbeleid na ʼn proses van konsultasie en met instemming van die Senaat kan verander. Die feit dat die Taalbeleid nie voor die einde van 2015 kan verander nie, beteken nie dat die implementeringsmaatreëls hier bo beskryf, nie kan voortgaan nie. Die Bestuur verseker dat die Taalplan ooreenstem met die Taalbeleid, en is ook verantwoordelik vir die implementering daarvan. Dit is die Bestuur se prerogatief om die goedgekeurde minimumaanbod uit te brei.

• Die verklaring deur die Bestuur is nog nie amptelik by enige universiteitsforum ter tafel gelê nie, maar dit sit die Bestuur se uitgangspunte na samesprekings met verskeie studentegroeperings sedert Mei 2015 uiteen. Dit is ook nie akkuraat dat die Bestuur sy verklaring teruggetrek het nie. Dit bly ʼn besprekingsdokument met uitgangspunte vir gesprek met verskeie belangegroepe, onder meer ook die Senaat en die Raad. Die Bestuur is ten volle daarvan bewus dat sommige uitgangspunte in hierdie verklaring veranderinge aan die huidige Taalbeleid en Taalplan mag vereis, en die Bestuur bly daartoe verbind om die voorgeskrewe proses te volg om sodanige voorstelle ter tafel te lê by die tersaaklike statutêre liggame voordat dit by die Raad ingedien word.

like_litnet_op_facebookDie mosie deur die Uitvoerende Komitee van die Raad van die Universiteit wat op 15 November 2015 aanvaar is, herbevestig die status van die verklaring deur die Bestuur as ʼn besprekingsdokument; dit bevestig ook die statutêre proses wat nodig is om veranderinge aan die Taalbeleid aan te bring; en dit bevestig dat die goedgekeurde taalspesifikasies van toepassing sal wees in 2016.

 

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Etienne Terblanche

    Die groot vraag is taalkundig: wat is die effek van parallelmedium op Afrikaans? Belinda Bozzoli, self SA Engels, het onlangs gewaarsku dat Engels "imperialisties" van aard is. Dit neem oor. Boonop word dit deur die politieke bestel ondersteun. Kyk maar hoe 'n histeriese en arrogante, selfs fascistiese minderheidjie (Open Stellenbosch) die hele hond geswaai het. Moenie agter retoriek wegkruip nie. As Afrikaans gaan op universiteit, gaan dit bitter slegte ekonomiese en ander gevolge inhou vir die hele universiteitswese.

  • Fanie Olivier

    Nou toe nou. As daar nie soveel lawaai was en Raadslede daarom beswaar gemaak het nie, word dit al hoe duideliker dat die voorstel inderdaad op 30 November Raad toe sou gegaan het ...

  • Breyten Breytenbach

    Mens kan 'n ongewenste kat seker met 'n klip doodslaan, of as jy dink dat dit darem te onbeskaafd sou wees vir 'n universiteit met deftige bourgeois ambisies kan jy die spartelende dier in 'n goiingsak rivier toe dra terwyl jy hom heelpad met 'n "kietsie-kietsie" probeer paai… Uit bogaande begripsverwarring (administratiewe kietsiespeak - of op sy beste: "ons gaan nie inthluk nie en ons gaan ook nie uitphoeg nie, maar ons gaan nou dadelik polithie toe") kan daar slegs afgelei word dat daar besluit is op die "kat in die sak" metode.

  • Wat my verbaas is hoe Afrikaanses en Afrikaners hul bestaansreg moet regverdig. Hoekom moet ek verduidelik hoekom dit die land ten voordeel sal wees as ons Afrikaans sal behou as 'n onderrigtaal? Dit is irrelevant! Ek hoef nie te verduidelik hoekom my kultuur en taal vir ander 'n voordeel gaan wees nie. Van watter kultuur of taal in die wêreld word verwag om sy/haar bestaan te regverdig? Moet ek my lewe ook regverdig aan die hand van wat ek vir ander kan doen? Nee, natuurlik nie! Ek het 'n REG op my lewe. Net so het ek 'n REG om my eie kultuur en taal te beoefen. Die behoud van taal en kultuur is nie 'n guns wat die land se mense aan my bewys nie: ek het 'n reg daarop en hierdie reg word deur die Grondwet gewaarborg. Afrikaanses en Afrikaners moet nou ophou om hulself te probeer regverdig, ons het 'n reg op bestaan en daardie reg moet net opgeëis word!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top