Syferfontein, ’n onderhoud

  • 0

Syferfontein
Cas Wepener

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306887

Trisa Hugo voer ’n onderhoud met Cas Wepener oor Syferfontein

Syferfontein is jou debuutroman, na ’n indrukwekkende lys van akademiese publikasies. Vir “ontvlugting” uit die akademie kies jy toe die mees aanstootlike, weersinwekkende hoofkarakter wat ek nog raakgelees het. Vir my het hy alles verteenwoordig wat hatig, inhalig en veroordelend is en ’n samevatting van al die swak eienskappe wat voorkom in ’n vorige-geslag Afrikanerboer, so ’n soort samestelling. Lees ek dit reg?

’n Deel van my mees onlangse akademiese werk het oor woede gehandel. Ek het selfs ’n artikel getiteld “Bliksem!” geskryf. Daardie werk het spesifiek op publieke woede in ons land gefokus en hoe daardie woede nou gekoppel is aan ’n lang oorgangsproses sedert ’94. Terugskouend staan Peet vir my in verband met daardie voortgaande proses. Ja, Peet is inderdaad presies wat jy hier bo noem, maar ek sou dit alles wel binne ’n baie spesifieke konteks wou plaas.

Jy is heelwat jonger as die tyd waarin die roman afspeel, tog het jy die tydsgees goed saamgevat. Hoe het jy dit reggekry?

My pa was heelwat ouer en van ’n vorige generasie, Peet se generasie. Gevolglik het ek van kleins af baie blootstelling aan mense uit daardie era gehad. Verder kom ek ten dele uit die Groot Karoo en het ek steeds ’n plekkie daar sonder enige elektrisiteit of moderne geriewe. Iets van daardie atmosfeer beleef ek gereeld. En toegegee, ek is ’n besonder groot liefhebber van Karel Schoeman se werk. Hy is die meester wat ’n tydgees in ’n roman kan saamvat, juis ook in plekke op ons platteland soos Syferfontein. So byvoorbeeld speel die Stemme-drieluik nie in 1960 af nie, maar die wyse waarop hy die atmosfeer skep, is vir my betowerend.

Het jy ooit iemand soos Peet van Jaarsveld geken? Sy karakter is so oortuigend, ek wou heeltyd die ou man iets toesnou.

Ek glo daar is baie moderne weergawes van Peet. En ek was natuurlik vir ’n paar jaar ook in die bediening. Dominees kom op plekke en kry die geleentheid om waarnemings te doen en mense op wyses te leer ken wat in min ander beroepe gebeur. Maar nee, ek het Peet se karakter nie op iemand spesifiek geskoei nie.

Ek kan verstaan dat dit in die sestigerjare moeiliker was om te skei, maar dit was nie vir my duidelik waarom Gertruida nie dadelik terug is na haar ouers nie. Die “temmery” het immers dadelik na die huwelikseremonie begin. Verteenwoordig sy iets van die onderdanigheid van daardie geslag vrou?

Weet jy, ek dink dis steeds nie so maklik vir vrouens om te loop nie. Hoeveel keer moes ek nie hoor “Maar waarheen sal ek gaan?” nie. Jy het byvoorbeeld geld nodig om te kan loop, maar nog meer as dit, was egskeiding in daardie jare nog ’n reusetaboe, baie erger as nou. Ek kan insien dat dit vir lesers dalk vreemd voordoen, maar dis soos om Anna Karenina vandag te lees sonder om te verstaan hoe ’n groot taboe ’n buite-egtelike verhouding in daardie era in Rusland was. Daarsonder glo ek mis mens geweldig baie van die impak van Tolstoi se roman. Gertruida het geweet dat sy haar ouers se aansien leed sou aandoen met ’n egskeiding en was vasgevang in ’n samelewing waar dit net gewoon nie eers as ’n moontlikheid gesien is nie. En hoe langer jy bly, en soos daar byvoorbeeld kinders kom, hoe moeiliker raak dit ook om te skei.

Dit was die hele tyd opmerklik dat “sy” nie by name genoem is nie; selfs die kinders, wat vermoedelik ook onderdruk en mishandel is, is heeltyd op hulle name genoem. Wat het ek misgelees daar?

Een van die diepste behoeftes van mense is om hulle eie naam te hoor. Dit is ’n bevestiging dat hulle bestaan, maar meer nog, dat hulle saak maak en ’n volwaardige mens uit eie reg is. Deur Gertruida se naam te noem, sou dit ook vir Peet ’n erkenning wees dat sy vrou ’n mens is, iemand met gevoelens. Deur die gebruik van “sy” kon hy haar objektiveer en deurgaans aan homself bevestig dat sy inderdaad sy eiendom is en sy optrede dus geregverdig is.

“Sy” het vir ou Peet ’n lekker punt gewys met haar dood; so ook die seun met die koop van Botterblom waarvoor hy so gespaar het met sy uiterste inhaligheid. Was hierdie ’n tipe oog vir oog, ’n soort terugkry op ’n manier?

Inderdaad, hulle het vir Peet uitoorlê.

Daar was nooit regtig ’n motivering vir Peet se aanstootlike gedrag, wat moontlik uit sy kinderjare voortspruit nie. Dit het my gepla. Is daar ’n rede voor?

Daardie tipe verklarings vir gedrag is te eenvoudig en soms ’n maklike uitkoms in verhale. Peet het ’n bokplaas en ’n bok is ’n … Dit is dit. Peet het wonderlike kinderjare gehad. Ondersteunende ouers. Mense soos Peet word te maklik verskoon vir hoe hulle optree met een of ander motivering. Ek besef dit kan lesers pla. Dit behóórt ons te pla.

Daardie uiterste inhaligheid, of skraapsugtigheid soos jy dit so mooi noem, kom ook tot uiting in sy liefdeloosheid teenoor homself. Hoe hy homself verwaarloos en swak en spaarsaam eet, homself nie vars koffie of warm kos gun nie, is moeilik om te verstaan. Wat sou die dryfveer daarvoor wees?

Suinigheid is ’n siekte. Godsdiens kan insgelyks baie maklik patologies word. En saam glo ek is die twee ’n heerlike kombinasie om ’n karakter soos Peet mee te ontwikkel, veral in iemand soos Peet wat sy verwronge teologie gebruik om sy optrede te regverdig. Ek dink nie mens moet onderskat hoe geredelik dit gebeur en ook hoe uiters skadelik dit is nie.

Hoe meer ek oor die boek dink, hoe meer besef ek dit is ’n herlees werd. Ek vermoed daar is heelwat subtiele goed wat ek gemis het. Wat wou jy graag sê wat ek misgelees het?

Jy het baie goed gelees, dankie. Dit is nou indien ek wel in die posisie is om so ’n oordeel oor jou lesing te kan vel. Nietemin, heelwat van wat jy in jou resensie noem, is belangrik: Geloftenaweek, die illusie wat hy leef en wat in verband staan met “re-membering”, dat deernis en begrip doelbewustelik nie geskep word nie, dat dit juis nie ’n tipiese plaasroman is nie, die ontmenslikingstegniek, dat dit ’n bewussynstroomverhaal is, dat dit bedoel is om vir seker nie ’n genotvolle leeservaring te wees nie, en alles wat jy nog uitgelig het. Indien daar meer is, los ek dit vir jou vir daardie herlees waarvan jy praat. Ek is nuuskierig om te hoor wat jy vind.

Geen onderhoud is volledig sonder die afsluiting van ’n belofte van meer uit jou toetsbord nie. Ek vermoed daar kriewel reeds gedagtes en karakters wat jy nie in Syferfontein kon insluit nie … Is ek reg of is ek reg?

Jy is heeltemal reg. Om die waarheid te sê het ou Peet my kom lastig val terwyl ek besig was met ’n kreatiewe manuskrip as deel van ’n MA in kreatiewe skryfwerk by Henning Pieterse. Daardie manuskrip is intussen afgerond en aanvaar vir publikasie. Ons is tans besig met die redigeringsproses. Johanna verskyn hopelik in Oktober.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top