Sy, die meeue en die Heilige Gees: ’n resensie

  • 0

Sy, die meeue en die Heilige Gees
Met Simoné Pretorius en Mila-Sofi Clasen
Regisseur: Chanél Muller
Op DStv Catchup en DStv Stream

Nog nooit het ’n tandeborsel so eensaam en verlate gelyk soos in hierdie minireeks nie. ’n Hawelose ma (die briljante en dapper Simoné Pretorius) oornag in haar Golfie. Sy probeer om haar dogtertjie (eweneens uitmuntend vertolk deur Mila-Sofi Clasen) in ’n openbare kleedkamer te oortuig dat sy haar tande moet borsel. Dus in die onderstroming, wat baie tonele meesleur, ook te reinig en skoon te kom van daaglikse ontberings.

Dit stel dadelik die toneel en storie op, en die tandeborsel word ’n metafoor vir die eensaamheid, verwaarlosing en bondgenootskap tussen ’n enkelma en haar rebelse dogtertjie wat nog nie verstaan presies hoekom hierdie dinge gebeur nie.

Die deursnee-TV-kyker, gewoond aan glinster-TV-reekse wat noukeurig beplan is met naelbyters (cliffhangers) en die kommersiële formaat wat televisie na sukses dryf, moet hier aanpas. Al word dit ’n minireeks genoem (en dankie tog dis nie uitgerek om meer episodes af te dwing nie), is dit eintlik in die gedaante van ’n vollengte rolprent wat ’n kyker in een sitting moet sien. Want hier is geen gerieflike miniklimakse, B-storielyne of kunsmatige spanning nie. Dit is die ware lewe sonder skroom of vernis uitgebeeld.

Dit bring op ’n eenvoudige wyse, met slegs die mees basiese hulpmiddels vir die regisseur, hulde aan ’n alleenlopervrou wat skielik besef die lewe en kindgrootmaak kom nie met ’n besigheidsplan nie. Jy moet dit vat soos dit kom en sonder ’n fondament opbou. Ingrid se onverskrokke koppige dapperheid en mismoedigheid weergalm deur die leë stiltes wat die regisseur skep.

Die tonele waar ma en dogter baklei, meningsverskille het en mekaar kaalvuis takel, is inspirerend, met dissipline geregisseer en eg. Net ’n toneel waar Ingrid haar kind se kosblik oopmaak en staar na die ongesonde oorblyfsels wat sy nie geëet het nie, spreek boekdele. Dit laat ’n empatie by die kyker ontstaan wat ’n bladsy se moedelose stopwoorde sou verniel het.

’n Geestelike verlatenheid in Ingrid se gemoed om met ’n doellose lewe voort te gaan, word kundig uitgebeeld en ontwikkel. Hier beweeg die reeks na die sensitiewe tema van godsdiens en verduidelik hoekom ’n flentervrou aanvanklik nie in God glo nie.

Die grootste gevaar is dat dit in ’n morele preek kon verander het met karakters as blote spreekbuise. Maar die wonderlike Cintaine Schutte as die energieke ma van drie woelwaters wat Ingrid oortuig om saam met haar kerk toe te gaan, red die reeks. Met haar blymoedigheid, tipiese genesende humorsin, so tipies Afrikaans, waarmee sy haar situasie hanteer en moedig voortstu, dryf die storie in ’n nuwe rigting.

Sonder dwang betrek die gelowige Celine Ingrid by Bybelstudiegroepe en ’n diens. Gaandeweg begin die korsharde uiterlike versag; gaan daar iewers ’n deurtjie oop wat Ingrid se flink brein, wat net op oorlewing fokus, in die rigting van geestelike begrip en die blootstelling te verander.

Daar is ’n lewegewende vonk (chemistry) tussen die karakters, veral die jong Mila-Sofi Clasen en haar ma, wat daar nie noodwendig altyd in ’n meer onlangse rolprent oor kinders, Silas en die ysbeer op Tafelberg was nie. Die kyker word meer direk en simpatiek betrek sonder om ooit in “haai siestog”-clichés of ’n oulike sirkus te ontaard om kinders te betrek of te vermaak.

Hier word die nare werklikheid sonder verglansing uitgebeeld, waarvoor die produksieontwerper en kunsregisseur ook krediet moet kry. Waar Vishoek gereeld op prentjiemooie poskaarte sy branders regskud vir toeriste, is hierdie dorp en sy strand (waar ma en dogter tussen seewier soms ook baljaar) stroef, genadeloos en realisties. Niks word verfraai nie, veral nie die godsdienstema nie. Hier maak ons met die ongenaakbare werklikheid kennis en vergesel die karakters wat vertroosting en betekenis in geloof vind.

Daar is ook geen maklike uitweg vol storieslenters nie. Net om te eet, by (aanvanklik) vreemde mense te braai of in ’n Bybelgroepie te vertoef is ’n stryd om aanpassing waarin koppigheid en ’n ongenaakbare wil om te oorleef in die pad van die mens, Ingrid, kom. En gaandeweg knie die skrywer en regisseur, Chanté Muller, vir Ingrid in ’n nuwe gedaante. Beitel sy aan haar persoonlikheid sonder enige gedwonge manipulering, om uiteindelik ’n volwaardige mens te word.

Hierdie resensie word geskryf voor episode 3 gebeeldsaai is, maar wanneer die pa opdaag, sal dit interessant wees om te sien hoe hierdie herontmoeting ontvou.

Maak jou dus gereed vir ’n anti-TV-reeks. Vir ’n drama, nou ’n minireeks, waar ’n mens eintlik vir 90 minute ononderbroke saam met mense sou wou verkeer wat maar net wil wéés. Oorleef. Voortsukkel. Betekenis vind. Elke dag vat soos hy kom, maar hierna die wapenrusting dra wat hulle deur moeilike tye gaan  stuur.

Dis ’n minireeks/drama wat jou oë sal oopmaak en kykers uit hulle TV-reeks-gemaksones sal ruk om te begin dink, bevraagteken en saam te beleef. Ook om karakters wat nie ’n duiwel omgee of jy van hulle hou of nie, te verstaan.

Dis wat jy in benarde omstandighede van die lewe maak wat jou voete gee om verder te loop.

O ja. ’n Minuut of wat saam met Marion Holm vertel sy eie merkwaardige storie oor begrip en empatie van buite, nes ons as kykers ook buitestanders is. Holm se karakter neem slegs waar. Ons het die voorreg om deel te raak van hierdie oorlewingstryd. Die kyker sien die mens agter die aas.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top