Sushi with Hitler: ’n onderhoud met Koos Kombuis

  • 1

Koos Kombuis praat met Naomi Meyer oor sy nuwe boek, Sushi with Hitler.

Foto van Koos Kombuis: Naomi Bruwer

Sushi with Hitler
Koos Kombuis
Naledi
ISBN: 9781928518396

Koos, ek wil jou oor jou nuwe boek by Naledi vra, maar kom ek vra jou eers: Hoe gaan dit vandag? Tydens die staat van inperking voel dit nogal of mens met hierdie vraag wil afskop.

In die begin het ek dagboek gehou van hoe ek voel en wat ek doen. Ek het besef ek is besig om bietjie koekoes te raak toe ek op die tiende dag ’n close-up video neem van ’n string miere in my agterplaas en dit share op YouTube. Ek raak betrokke by allerhande klein dingetjies wat ek vantevore skaars sou opgelet het. Is dit wat hulle bedoel met "mindfulness"? Ek is in ’n baie weird head space wat op ’n snaakse manier soms nogal lekker is.

Jou nuwe boek heet Sushi with Hitler. Die titel is omtrent so ongewoon soos hierdie tyd. Vertel asseblief waarom jy hierdie titel gekies het?

Sushi with Hitler is duidelik ’n absurde titel. Die hele boek is ’n absurde verbeeldingsvlug met absoluut geen verband met die krisisse en die debatte wat in ons land aangegaan het tot en met die pandemie nie. Ek het van die begin af vir my uitgewers gesê dat ek die boek gaan bemark as ’n irrelevante en onbelangrike publikasie. Maar nou wonder ek of dit werklik so irrelevant is. Feit is, ons sit met die grootste wêreldkrisis sedert die Depressie en Hitler. Die Olimpiese Spele is gekanselleer vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog. Daar is gerugte van oorlog en anargie wat opbou op die horison, nie net by ons nie maar oor die hele planeet. Hierdie is ’n vreemde tyd, ’n apokaliptiese tyd. Ek hoop nie daar kom ’n tweede Hitler nie. En ek hoop nie ons soesji raak op nie.

Sou jy in hierdie tyd soesji saam met enigiemand wou eet? Selfs saam met Hitler? Of wat van sy volgelinge, die mense wat so gebreinspoel is? Sou dit nie ook interessant gewees het nie? Wie is jou ideale soesji-eters in vandag se tyd (of enige ander)?

Ek sou beslis nie enigiets saam met Hitler wou eet nie, en ek twyfel of hy of sy volgelinge eers van soesji geweet het. Tog was ek uit die staanspoor gefassineer deur die totale jukstaposisie van die twee metafore in die titel. Hitler wat staan vir behoudendheid, krampagtige nasionalisme en vreemdelingehaat, en soesji, wat vir my assosiasies het van vriendelikheid en vrolikheid. Ek eet graag soesji met my gesin en met vriende.

Wag ’n bietjie – hóú jy van soesji? En van watter (ander) kos hou jy (ook)?

O ja, ek is dol oor soesji! Dit kan dalk nie heeltemal die plek inneem van braaibroodjies en tjoppies nie, maar, let’s face it: Die koms van soesji het ons uiteindelik verlos van die eksklusiewe vleis-en-stysel-diktatuur van Kook en geniet!

Terloops, wat dink jy van die verbod op die verkoop van alkohol in hierdie tyd, van kos en drank gepraat?

Ek het verlede jaar na ’n operasie vir ’n maand lank ophou drink, en het, sonder enige dieet of oefenprogram, tien kilogram verloor. Julle kan dus uitsien daarna ’n om ’n baie meer slanke en vietse Koos Kombuis te sien wanneer my shows weer begin...

Voel jy baie produktief in hierdie tyd? Het jy ’n nuwe taal geleer? Hou jy dagboek? Voel jy sulke aksies is nodig, of dink jy mens moet doen wat jou hand vind om te doen?

Ek volg ’n baie vaste roetine, ja. Ek skrik elke oggend vyfuur wakker in ’n koue sweet met ’n angsaanval. Dan doen ek joga vir ten minste twintig sekondes. Terwyl ek my vrou help met die huiswerk, probeer ek Xhosa-frases memoriseer en bekfluitjie speel ... Dit het my twee weke gevat om die eerste twee reëls van "Nkosi sikelel' iAfrika" op my bekfluitjie te leer speel. Ek drink baie koffie en kyk by die venster uit en wonder wat doen my vriende wat ver weg woon. Soms onthou ek mense aan wie ek jare laas gedink het en stuur vir hulle grappies op WhatsApp. Saans is ons TV-stel aan op kykNET en dan sing ek "Voel jy die genade" uit volle bors saam met Jo Black. Ek tel my seëninge. En ek tel hoeveel bottels ek nog oor het in my drankkabinet. Dis eintlik ’n helse streng roetine, maar ek hou baie getrou daarby.

Ek wil baie graag weet waaroor hierdie boek van jou handel. Ek steek vas by die grendeltyd, maar dis onafwendbaar dat mens in hierdie tyd óók hieraan dink. Vertel asseblief oor jou boek, en sal mense wat vasgekeer is in hulle huise, hul verbeelding vrye teuels kan gee as hulle dit lees? Of sal die boek hul ten minste laat dink, of laat lag? 

Die boek is "science fiction gone wrong". Die basiese storie gaan oor ’n onskuldige jong Adolf Hitler wat ’n alternatiewe lewe lei op ’n ander planeet. Hy het geen belangstelling in politiek nie, maar is bloot ’n derderangse portretkunstenaar. Dan ontmoet hy die aaklige, wrede Hitler van ons aarde. Die Goeie Hitler vermoor die Slegte Hitler, en word deur ’n hof gevonnis tot ’n reis deur die kosmos om vrede te maak met die boosheid binne-in homself. Dis ‘n kort maar skreeusnaakse roman. Ek dink mense sal dit geniet om so iets te lees in hierdie inperkingsperiode. Dis escapism, oukei, maar hel, almal het ’n bietjie escapism nodig, en natuurlik is daar ’n dieper boodskap. Ek besef dit nou eers.

Hoekom het jy die boek geskryf?

Dit was nooit aanvanklik bedoel as ’n proper boek nie. Dit het begin as ’n speletjie met literêre kruisverwysings. Ander mense doen sudoku’s. Ek hou myself besig met sulke goeters. Ek wou kyk hoeveel weerklanke van bestaande werk ek kon invoeg in een storie. Daar is eggo’s uit Shakespeare, klassieke letterkunde, pulp fiction en rockmusiek.

Wat verkies jy: die skryf van musiek, of van ’n boek?

Ek het baie min musiektalent, maar ek het dit te laat agtergekom toe ek al beroemd is. Ek is eintlik maar ’n skrywer. Soos ek gesê het op my heel eerste plaat: "Woorde is alles, musiek fokkol."

Hoe gemaak met bekendstellings in hierdie tyd? En is die boek as e-boek beskikbaar?

Natuurlik is ’n boek launch buite die kwessie. Dis jammer, want vir my is ’n boek launch altyd ’n verskoning om ’n glasie wyn met ou pelle soos Lina Spies te drink! 

Gelukkig vir julle wat verveeld by die huis sit en nie boekwinkels kan besoek in hierdie tyd nie, is die boek nou wêreldwyd as e-boek beskikbaar op Amazon by
https://www.amazon.com/dp/B086QKLH1R.

Waaroor dink jy die meeste in hierdie tyd? 

Ek dink daaraan hoe klein en onbenullig ons is in in hierdie geweldige groot heelal. Wanneer ek nie daaraan dink nie, dink ek aan pampoenkoekies.

 

  • 1

Kommentaar

  • Wanneer kunstenaars aka die profete praat, hoop ek ons luister...
    Hierdie klink na 'n moétlees boek.
    Gaan so maak!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top