Susan Coetzer (25 Augustus 1957–)

  • 0
Foto: Jonathan Ball Uitgewers

”Die reis is ewig, die werk nooit voltooi … Lekker reis met jou woorde.” (Op die NALN-Skrywersmuur, 8 Mei 2018)

“Ouderdom is nie ’n siekte nie, maar jy kan maklik siek word. Ek is baie dankbaar dat ek gesond is, dat ek wysheid kan bekom waar ’n mens dit kan kry. Ek is die laaste 20 jaar ’n soeker na wysheid. Noem dit maar selfontwikkeling. Ek het die werk ingesit, en vandag pluk ek die vrugte – I don’t sweat the small stuff anymore.” (Maroela Media, 23 Februarie 2025)

“Ek beskou myself as ’n brugbouer. Wanneer ek tydens damesgeleenthede as motiveringspreker optree, is die mense vir my bowenal interessant. Ek sê nie mense voor nie. Ek wil hê mense moet gemakliker kommunikeer en mekaar meer aanvaar. Ek wil verstaan hoekom een vrou daar kom sit met ’n crimplene-uitrusting en die ander met ’n neusring.” (Maroela Media, 23 Februarie 2025)

Hoe sou sy haarself beskryf? “Ek’s ’n kreatiewe innoveerder. Ek hou daarvan om mense te ondersteun. Of jy nou ’n ma, skoonma of ouma is, is die ondersteunende rol – in my oë – die belangrikste rol. Ek sal ook graag onthou wou word as iemand wat met my skryfwerk lesers op ’n dieper reis geneem het. Om deur ’n lens vol lig te kyk en in dankbaarheid te leef.” (Rooi Rose, 25 Augustus 2025)

“Ek het al geleer dat dinge stadiger met my gebeur as met ander mense. Maar ek het ook al geleer dat dit die moeite werd is om vir die goeie dinge in die lewe te wag.” (De Kat, November 1986)

“Die reuk van olieverf is vir my verleidelik. Akriel is te vinnig vir my en ruik buitendien na niks nie. Ek vat die lang pad huis toe met olie.” (Rooi Rose, Januarie 2006)

“My inspirasie kom uit die lewe. Veral mense se binnewerke – dit wat in die hart aangaan. Ek skilder effe onvolledig sodat die toeskouer die storie in sy eie kop kan klaarmaak en interpreteer. Ek is gek na misterie – iets wat die verbeelding prikkel en jou lank bybly …” (Rooi Rose, Januarie 2006)

“Op my eie lewensreis het ek my eie lesse geleer en ek het besef ek moet op iets groters as mense staatmaak. Ek glo ’n mens kan nie die teenwoordigheid van God in jou lewe ontken nie. Ek besef ook ek kan nie mense verander nie, ek kan hulle dalk net beïnvloed om almal met respek en integriteit te behandel. Om liewer ’n wyse uil as ’n blinde mol te wees. Om die teenwoordigheid van die Skepper in jou lewe te erken.” (Rooi Rose, 25 Augustus 2005)

“In eenvoud lê daar vir my groot rykdom. Daar lê skatte wat baie meer werd is as geld en goed.” (Finesse, Julie 2007)

“Skryf en toneelspel; dié twee perdjies het altyd saamgeloop.” (Netwerk24, 29 Januarie 2022)

“Ek probeer skryf oor werklike gebeure om ’n boodskap oor te dra. Ondanks die boeke se sukses besef ek ek is net ’n voertuig vir die groter Boodskapper. Ék het nie regtig die antwoorde nie en benut maar net my talente om die boodskap oor te dra.” (Beeld, 3 Desember 2009)

Oor inspirasie: “Inspirasie is vir my ’n bonus en nie iets waarop ek durf wag voor ek die taak op hande aanpak nie. Wat van groter waarde vir my as skrywer is, is konsekwente dryfkrag, doelgerigtheid, harde werk en daaglikse dissipline. Wanneer ek hierdie elemente in posisie kry, daag inspirasie mettertyd op as die kersie op die koek, of dan nou die boek.” (LitNet, 4 Junie 2018)

Oor vriendskap tussen vriendinne: “Die veilige spasie van ’n lojale vriendin, waar jy letterlik als kan deel, gee aan vroue ’n plek van ’net wees’ en aanvaarding as mens. Ek het dit al oor en oor uit die monde van vele vroue gehoor tydens hulle traumatiese seisoene, en van daar die tema van hegte vriendskap as goue draad deur die roman (Selma en Louise) getrek.” (LitNet, 4 Junie 2018)

Gebore en getoë

Susan Coetzer is op 25 Augustus 1957 in Kaapstad gebore as die middelste van drie kinders. Haar broer werk al lank oorsee as ’n sielkundige, en haar suster, Linda Martino, is met ’n Italianer getroud en het oorsee as sangeres bekend geword; sy het later teruggekeer na Suid-Afrika. “Sy is die musikale een,” vertel Susan aan Elna Rossouw van Rooi Rose.

Susan beskryf haar ma as ’n wonderlike, skeppende mens: “Een wat jy nie in ’n boksie sou kon plaas nie. Sy was haar eie mens. Nie ’n afskrif van ander nie. My pa was pittig met woorde. Ek het van kleins af vir die grootmense konsert gehou. Nooit kon droom dit sou my lewe word nie.”

Toe sy hoërskool toe is, is haar ouers geskei. En ná hulle letterlik van kus tot kus getrekhet, vertel sy verder aan Rossouw, het haar lewe drasties verander: “Ek het gesukkel om aan te pas en ’n swak selfbeeld ontwikkel. Ek was uitstekend in atletiek en kon seker ’n Springbok-atleet geword het, maar het te veel gewig aangesit. Skryf het my stille vriendin geword.”

Susan vertel aan Griet Swart (De Kat, November 1986) dat sy ’n late developer was – en omdat sy die middelste kind was, het sy meestal alleen gespeel: “My broer was te jonk om ’n goeie maat te wees en my suster het in kêrels belanggestel toe ek nog wou boomklim en bendes wou begin. As gesin het ons ook gereeld getrek wat die alleenheid aangehelp het. Van die Swartland na die Baai na die Weskus. Telkens terug na Kaapstad. Ek sal altyd daardie eerste dag in ’n nuwe skool onthou, daardie instap en niemand ken nie, daardie maak of jy ’n boek lees omdat jy nog nie maats het om mee te gesels nie. Seker dié dat ek nou nog so ongemaklik in groepe voel.”

In Rooi Rose vanJanuarie 2006 (nadat sy haar eerste kunsgalery in Linden oopgemaak het) brei Susan teenoor Cornél Dunn so ’n bietjie uit oor haar kinderlewe: “[Met hierdie kunsgalery] kan ek weer daardie laerskoolkind uitleef wat so na die kunsperiodes uitgesien het. Ek het as kind Sondae my sketsboek, potlode en waterverf ingepak as ons gesin by Tietiesbaai gaan braai het. Terwyl die ander kinders geswem en gespeel het, het ek my oorgegee aan die dagdrome van ’n beroemde kunstenaar – swartbordeseltjie en al!”

Verdere studie en werk

Ná skool is Susan na die Universiteit Stellenbosch, waar sy ’n BA Drama verwerf het, en HOD in haar vierde jaar voltooi. Sy het egter gou besef dat skoolhou nie haar roeping is nie.

Sy vertel ook aan Dunn dat sy ’n paar keer weggeloop het terwyl sy drama studeer het: “Die ander dramastudente se ongelooflike selfvertroue het my vreeslik geïntimideer. Uiteindelik het ek my kop opgetel, oogklappe aangesit en blindelings voortgebeur. Die pas was moeilik, maar ek het ’n dik vel ontwikkel en van baie inhibisies ontslae geraak.”

Sy is toe met ’n studentevriend, Kobus Geldenhuys, getroud – en hy was net so jonk en onervare soos sy, vertel Susan aan Griet Swart. Hulle besluit om Johannesburg toe te trek: “Ek was nog nooit tevore in Johannesburg nie en as ek nou (in 1986) daaraan dink, kan ek nie dink ons dit gedoen nie. Ons het nie werk, blyplek, enigiets in Johannesburg gehad nie. Ons het ons goedjies in ’n tweedehandse karretjie gepak en Babs Laker het ons van haar voorstoep vaarwel gewuif. (Sy het vir my dramaklasse gegee terwyl ek in Kaapstad gewerk het en Kobus sy diensplig gedoen het.) Toe breek die karretjie in Bloemfontein en dit word een van daardie stories van tien dae sit en wag terwyl jou geld, wat in elk geval nooit veel was nie, al hoe minder word.”

In Johannesburg aangekom, is hulle na die SAUK – Kobus as vryskutvertaler en Susan as ’n vryskutakteur. In 1986 wen Kobus ’n Artes vir die vertaling van ’n televisiereeks en Susan het ook bekend geraak – as toneelspeler, sowel as dramaturg en liriekskrywer.

Sy het vir bekende sangers soos Clarabelle van Niekerk en Laurika Rauch lirieke geskryf en was ook in 1985 naaswenner in die KWV se wynliedjiewedstryd. Sy vertel aan Griet Swart: “Hierdie liedjieskrywery het onverwags gebeur, soos omtrent alles in my lewe. Ek het Clarabelle leer ken en sy het so soort van die papier onder my neus ingedruk. Deur haar het ek weer vir Laurika leer ken. Ek moet sáám met ’n sanger werk, ek kan nie sommer so uit die bloute skryf nie. Ek kry die woorde in my kop en dan weet ek die wysie moet min of meer só klink – hmm-hmm-hmm – of so iets. Ek het op skool ’n bietjie in die skool-operettes gesing, altyd die kabouter eerder as die feëprinses, maar ek het nie veel musiekopleiding nie.”

In Johannesburg het sy hiér ’n stemtoets gedoen, dáár ’n oudisie, en sy het op dié manier aangegaan totdat sy in 1984 ’n rol losslaan in ’n Koos Roets-film getiteld Die losprys. Die uitreiking is egter vertraag en dit sou eers in 1986 begin draai. Voor dit het sy ’n paar rolle op televisie vertolk, asook die hoofrol in Laat vrugte. Sy het in die televisiereeks Meester ook die hoofrol vertolk, en was ook die bose Daisy de Melker. Susan was Griet in die toneelstuk van Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie en het ook ’n draai in 7de Laan en in die hospitaalgange van Binnelanders gemaak. In 2025 het sy ook ’n paar episodes van Hartklop geskiet.

In 1985 ontpop Susan as ’n dramaturg met haar eerste eenakter, Die duiwel is ’n ding wat spring. Dit het in 1985 by Truk se Pot-Pourri-Toneelfees gedebuteer.

Volgens Adrienne Sichel (The Star, 9 April 1986) is Susan deur die ATKV gevra om Die duiwel is ’n ding wat spring te verwerk na ’n toneelstuk in twee bedrywe onder die titel Praat van die duiwel. Volgens Sichel was dit nie so ’n goeie plan nie, aangesien die toneelstuk in twee bedrywe nie reg laat geskied aan die skrywer se hoogs oorspronklike visie nie. Hierdie stuk is opgevoer tydens die ATKV Kampustoneel van 1986.

Praat van die duiwel is in April 1986 deur die Universiteit van die Witwatersrand se studente opgevoer met Pieter Grobbelaar as regisseur. Dit is die verhaal van ’n dogter wat ly onder ’n moeder se beheptheid met reinheid – letterlik en figuurlik – skryf die resensent van Transvaler (8 April 1986).

Die eenakter Die duiwel is ’n ding wat spring is in 1988 deur die AKD (die Akademiespelers) in Die Kamer in Kaapstad opgevoer en dit het deur die bank goeie terugvoer gekry. Herman Fourie (The Argus) het só geskryf: “… Coetzer reveals herself as a playwright with a delicate sense of irony and hunour and the ability to focus the attention throughout this (admittedly modest) one-acter.”

Barrie Hough het met Susan gepraat oor haar debuut as dramaturg. Hy noem haar die “skepper van seker van die treffendste visuele beelde wat ’n mens nog op die Afrikaanse verhoog gesien het”.

Susan vertel aan Hough: “Die grootste sonde wat ’n mens in die teater kan pleeg, is om jou gehoor te verveel. Dit gebeur nogal dikwels met my. Daarom is ek huiwerig om teater toe te gaan.

“Beelde is vir my belangrik. Hulle is die boustene van my drama. Die beeld van die emmer water as beginpunt hou byvoorbeeld sterk verband met die ‘put’ van die toilet waarmee die anoreksiese meisie ’n belangrike verhouding het. Dit is noodsaaklik dat die beelde bymekaar aansluit, mekaar aanvul en kommentaar lewer op mekaar. Op dié manier kry jy digtheid en veelvlakkigheid.”

Toneelmatigheid is ook vir Susan baie belangrik en is ’n sterk oorweging: “’n Beweging of fisieke konfrontasie moet prakties uitvoerbaar wees. Dit moet ook die kyker boei. Terwyl ek skryf, speel ek elke karakter se bewegings en woorde. Op dié manier toets ek dit. My ervaring as aktrise help my geweldig in hierdie opsig.”

In haar onderhoud met Griet Swart vertel Susan dat sy nog altyd ’n soort van introvert was en sy wou nie net aan ander nie, maar ook aan haarself bewys waartoe sy in staat is: “Dit was vir my nog altyd verskriklik moeilik om my self te ‘verkoop’. Jy wil nie lyk asof jy té ’n groot kop het nie, maar jy wil darem ook nie soos ’n druipstert-hond daar sit nie. Dis so ’n fyn balans wat jy moet handhaaf. Ek het so half gevoel maar ’n regisseur moet mos kan sien dat ek ’n rol kan speel. Natuurlik kan niemand dit sien as jy passief voor hom sit nie! Ek moes leer om meer van myself aan ander te wys.”

Ná die Pot-Pourri-fees het die regisseur van Diepe grond deur Reza de Wet haar ’n oudisie aangebied en Truk het haar ook raakgesien en haar ’n kontrak aangebied. Sy moes op die ou end ’n keuse maak tussen die rol van Soekie in Diepe grond en die kontrak wat ’n vaste inkomste sou verseker, maar sy wóú Soekie speel.

Daar is ook al gesê dat Diepe grond en Die duiwel is ’n ding wat spring baie gemeen het. Albei kan as nierealisties beskryf word en beide handel oor bloedskande. Maar Susan en Reza het mekaar in daardie stadium nog nooit ontmoet nie en Susan het nog nooit Diepe grond gesien of daaroor gelees nie.

Speletjies is ook baie belangrik in Die duiwel: “Ek voel soms ek is deeglik in aanraking met die kind in my,” verduidelik Susan aan Hough. “Ek het baie keer lus om trampolien te spring of hopscotch te speel. Miskien is dit dié kind in my wat my aanspoor om te skryf.”

In 1986 speel Susan die hoofrol van Soekie in Diepe grond en Susan vertel aan Herman Fourie (The Argus, 30 Julie 1986) dat nadat sy vir Reza by die ATKV-fees in April 1986 ontmoet het, en sy daarna Diepe grond gelees het, sy geweet het sy móés net die rol van Soekie vertolk.

Sy sê verder aan Fourie dat Diepe grond ’n blik gee op ’n gemeenskap wat chaoties en repressief is, ’n gemeenskap wat ’n groot leuen lewe, maar dit bring ook ’n boodskap van hoop. Susan is ook baie in haar noppies met die reaksie van die Kaapse gehore wat so spontaan reageer en soms hardop kommentaar lewer, terwyl hulle ovasie eg is.

Susan vertel ook aan Griet Swart dat die rol van Soekie die soort debuut is waaroor aktrises droom: “Ek sou dit nie kon doen as ek dit vroeër moes gedoen het nie. Ek het die rol gespeel nadat ek self ’n soortgelyke toneelstuk geskryf het, Die duiwel is ’n ding wat spring. Die invloed van konserwatiewe Calvinisme, onderdrukte seksualisme, te veel moets en moenies.”

Susan het die rol van Soekie gespeel onder die regie van wyle Lucille Gillwald en sy is bekroon as die beste nuweling én beste akteur.

Oor die oudisies vir Diepe grond vertel Susan vir Elna Rossouw dat dit ’n moeilike vuurdoop was: “Lucille het my vir die derde keer ingeroep – sy het getwyfel of ek angry enough vir die uitdagings van die rol sou kon wees. Sy het gedink ek is te veel van ’n Polyanna met lang rokke en pienk strikkies. Lucille het my uitgedaag om groot woede te demonstreer – en toe ek die skilderye van die mure afruk, tafels en stoele begin omgooi, het sy geskree: ‘Enough, enough! You’ve got the part.’

“Dit was nie ’n maklike rol om te vertolk nie. Die stuk wat in die ou Suid-Afrika afgespeel het, was polities gelaai en ons is op sekere dorpe verban. Maar ek sal Lucille altyd dankbaar wees dat sy die underdog ’n kans gegee het. In my geglo het. Ek glo vandag nog: ‘Almal moet ’n eerste kans kry.’ ”

Teen die einde van 1986, begin 1987, is Susan en Kobus uitmekaar. In 1988 is sy met die akteur Frank Opperman getroud.

Sy vertel aan Karen Engelbrecht (Finesse, Augustus 2005) dat sy daarin glo dat kinders in hul volwasse lewens hulle ouers naboots: “’n Bose kringloop wat hom herhaal mits dit gebreek word. As jong vrou was dit vir my moeilik om my voete in verhoudings te vind. My geestelike ankers was beperk tot my bekering in standerd agt. Die bekering kon egter nie volwassenheid bereik nie omdat bekering destyds op ’n lys van moenies gebaseer was: Moenie popmusiek luister nie, moenie bikini’s dra nie … Ek kon dit nie volhou nie, die lewe was te lekker, en ek het lou geword.”

In 1992 is Susan en Frank geskei, en Susan verduidelik aan Engelbrecht: “Ons was albei besige akteurs en toe die kollig en noodwendig ook die konflik ons tref, het ek die resep van my rolmodelle (my ouers) toegepas en geskei. Dit was ook sodat my seun, Frankie (wat toe drie jaar oud was), in ’n atmosfeer van vrede kon grootword. Ek het geglo dis die regte ding om te doen. Vir ons al drie.”

Omdat sy nie vir Frankie wou ontwrig deur ’n ma wat baie van die huis af weg is nie, het Susan ná haar vertolking van Daisy de Melker die verhoog gegroet om tuis te kon bly. Sonder enige vaardighede soos tik en ’n kennis van rekenaars doen Susan aansoek by die vrouetydskrif Rooi Rose om werk. En die drie jaar by die tydskrif het haar baie dissipline geleer (Rooi Rose, Januarie 2006).

In Mei 1999 is Susan met die sanger/akteur Philip Moolman getroud en is ongedissiplineerdheid weer deel van haar lewe. Sy en Frankie moes saam met Philip gaan toer en dit was vir beide emosioneel ontwrigtend en vermoeiend. Dus het hulle besluit Philip sou net rondom Johannesburg optree.

As gevolg van finansiële probleme begin Susan en Philip in die vroeë 2000’s ’n teaterrestaurant, Die Blou Hond, in hulle huis in Linden, Johannesburg. Die het veroorsaak dat hulle maar min privaatheid in hulle eie huis gehad het. Hulle het toe ’n huis langs die Vaalrivier in Parys gekoop: “Dit sal ons hawe wees waar ons kan rus en privaat wees. ’n Wegkomplek is iets waaroor ons al lankal droom,” vertel sy in Huisgenoot aan Susan Cilliers.

Frankie het in die kothuis gebly wat op die erf in Linden gebou is, en hy het gereeld by hulle op Parys gaan kuier. Oor die trek na Parys sê Susan aan Annelize De Klerk-Steyn (Finesse, Julie 2007) dat as iets werk, hou sy daarvan om dit net so te probeer behou, maar as iets werk vra, is sy ook ’n groot voorstander van vernuwing: “In ons geval was die trek sielsnodig en tot dusver is dit een groot avontuur. ’n Ander nuwe begin was sekerlik my huwelik met Philip. Dit was ook die begin van geestelike verdieping. En die begin van ’n werklike vriendskap met my Skepper.

“Oral waar jy gaan, neem jy mos maar jouself saam. En as jou wortels goed is, kan jy seker op enige plek maklik groei en blomme dra. Dit voel vir my ek pas maklik in die ritme van die platteland én in die ritme van die stad aan.”

Susan het egter iets in ’n motiveringsboekie gelees en dit het haar so geïnspireer dat sy besluit het om iets nuuts aan te pak. En só het die teaterrestaurant die Blou Hond die lig gesien. Sy het nie geld vir skilderye teen die mure gehad nie en het sommer van haar eie skilderye teen die restaurant se mure opgesit. Drie jaar later het sy honderde van die skilderye verkoop, vertel sy aan Cornél Dunn (Rooi Rose, Januarie 2006). In 2004 het sy haar eerste solo-uitstalling gehou en in 2005 het sy ’n uitstalling met vader Frans Claerhout by Alice Art gedeel.

In 2018 het sy haar eerste kunsuitstalling in sowat ’n dekade in die Alice-galery onder die titel Moments in lightgehou: “Die uitstalling weerspieël verskillende emosionele oomblikke en buie van die mens – byna soos ’n steelkykie deur ’n sleutelgat. Die werke is almal in olie, maar hier en daar is gemengde media gebruik.”

Van Susan se toneelstukke wat al tydens kunstefeeste opgevoer is, is Kaalgat, wat in 2000 by Aardklop vir die eerste keer opgevoer is en Partners, wat in 2013 by KKNK op die planke gebring is. Haar eenvrouvertoning Koek en tert is in 2016 by die Vrystaatse Kunstefees met groot waardering opgevoer.

Intussen begin Susan om sketse vir Rooi Rose se agterblad te skryf, en in 2004 word hierdie sketse gebundel onder die titel Sonneblom of daisy?: Soms moet ’n vrou eenvoudig die geswoeg van die lewe met uitbundigheid vasvat! en gee Carpe Diem Media in Vanderbijlpark dit uit.

Nadia van der Merwe (Volksblad, 24 Oktober 2005) beskryf die vertellings as “lighartig, genotvol en selfs opbouend – leesstof geskik vir langs die swembad of tydens ’n seevakansie.”

In 2007 debuteer Susan as romanskrywer met Oros vir die siel – die verhaal van Kyle wat lig, lewe en liefde herontdek, soos dit op die voorblad beskryf word. Die boek is uitgegee as deel van Carpe Diem Media se fiksie-met-’n-boodskap-reeks. Dié boek het baie gou etlike herdrukke beleef.

Op die agterplat van Oros vir die siel word die storie só beskryf: “Op twee-en-veertig het Kyle van Aswegen oënskynlik alles: ’n ryk man, twee normale tieners en moody copper highlights in haar hare. Maar die man praat feitlik niks, die kinders toon aweregse neigings, en die highlights voel net moody.

“Vir meer as dertig jaar probeer Kyle om die gat in haar binneste vol te maak. Die gat wat oopgeruk is toe sy haar ma met onsiende oë langs die geel linoleumtafel aangetref het. So lank al probeer sy die Oros vir die siel vind wat haar ma voortdurend ontwyk het – in drank, dwelms, seks, geld …

“Tot sy op die dag van haar man se vyftigste verjaarsdag besef dat daar te veel pointers is om die uitnodiging langer te ignoreer: Sy sal die kerkding probeer. En die Here praat met haar: reguit en duidelik. By Hom kan sy die swaar tas afgooi en die inhoud uitskud.”

In Volksblad (17 Maart 2008) skryf Magda Venter oor Oros vir die siel: “Coetzer slaag weliswaar daarin om ‘fiksie met ’n boodskap’ te skryf. ’n Mens wonder net is dit nie dalk té veel fiksie en té veel boodskappe vir een boek nie? Die feit bly staan: Dis ’n interessante verhaal wat soos die neweteks beloof, ‘lig, lewe en liefde’ by die hoofkarakter tot gevolg het.

“Beveel ek die boek aan? Ja, wat! Dit hang af waar jou voorbehoud rondom stories en verhaalinhoud lê.”

Vir Jaybee Roux (Beeld, 26 Mei 2008) is daar egter heelwat “skelhelder blertse” in die boek wat nie heeltemal klop nie. En dan eindig hy sy bespreking so: “Tot sover die galbrakery van ’n resensent wat hom verplig voel om ’n teks eerlik en meedoënloos te beoordeel, maar iemand anders sou hom kon laat verlei deur die plesierigheid wat deur die kleurvolle omslag beloof word, én deur die prettige taalgebruik.

“So iemand mag selfs beweer dat Afrikaans meer boeke soos hierdie nodig het – boeke vol taal-, spel- en feitefoute, maar wat ’n plesier is om te lees. ’n Mens kan darem sê dat die één onvergeeflikheid – pretensie – hierdie roman gespaar is: Ten spyte van my vele besware voel die karakters en hul emosies ég.

“Daarby bewys Oros vir die siel dat geestelike fiksie, en Christenskap self, nie ‘droog’ of ‘pienk’ hoef te wees nie. As die genre in ag geneem word, is dié ‘sê dit soos dit is’-boek die waagmoedigste sedert Griet skryf ’n sprokie.

“Hierdie waagmoed is dalk genoeg om Oros in aanmerking te laat kom vir vergifnis vir die blertse en blapse waarsonder Susan Coetzer se debuut die roman van die jaar kon gewees het.”

Intussen lewer Susan nog steeds tydskrifwerk in die vorm van ’n reeks artikels oor ’n jong vrou wat ’n man soek wat vir haar bedoel is. Die reeks is onder die skuilnaam van Lisa de Waal geskryf. En in 2008 verskyn Lisa se dagboek – ’n enkellopende girl se soektog na Mister Right, wat ’n verwerking is van bogenoemde reeks artikels.

Susan sê aan Jaybee Roux (Die Burger, 10 Oktober 2008): “Ek voel geseënd dat ek meer as een kreatiewe talent ontvang het, omdat ek emosioneel moeg raak as ek te lank in een veld werk.

“Die verskillende kunsvorme is soos seisoene waardeur ek beweeg. Elkeen bring vernuwing. My ervaring as joernalis het my die deursettingsvermoë, ritme en dissipline geleer wat onontbeerlik is om ’n roman te skryf. Dit was asof ek my toonlere leer ken het.

“Lisa is my alter ego. Ek het baie by haar geleer. Sy’t my emosioneel grootgemaak, my balans geleer. My opgevoed om lief te hê en liefde te kan ontvang.”

Roux skryf dat daar een belangrike ding is wat Lisa de Waal wil sê vir meisies wat alleen is, en dit is “soek jou ware identiteit en leef dit met passie uit” en dan eers kan jy begin soek na die regte man.”

En wat is Susan se opinie oor die mening dat ’n vrou ’n man aan haar sy móét hê om geluk te kan smaak? “Die Bybel sê twee is beter as een, maar die einste Boek sê dis beter om ’n karige bordjie groentetjies alleen te eet as om in ’n stremmende atmosfeer aan ’n dik steak te kou. Ek is ’n voorstander van die liefde, maar ’n teenstander van afbrekende verhoudings. Dit dreineer energie en verhoed dat jy jou volle potensiaal bereik.”

Oor haar sukses as romansier vertel sy aan Roux dat sy dit aan haar eerlikheid toeskryf: “Met Oros het ek onder die vel van Kyle, die hoofkarakter, ingeklim; asof ek ’n rol as aktrise instudeer. Ek het baie gelag voor my rekenaar en soms my oë rooi gehuil. Soms was ek lank depressief.

“Ek het nie ge-fake nie: ek het myself ontstel en emosioneel en geestelik gestrek. Dié dat ek so moeg was ná die skryfproses en amper bang is om weer ’n roman aan te pak.”

In 2022 is Lisa se dagboek van die rak afgehaal en afgestof en het dit ook ’n moderne baadjie aangetrek toe dit as e-boek uitgereik is. Susan vertel aan AJ Opperman (Netwerk24, 29 Januarie 2022) dat die liefde nie oud word nie: “Dieselfde goed speel hulle af. Streke raak nie oud nie. Vroue doen nog allerhande dinge om hulself jonk te hou. Dis lekker om op my ouderdom vanaf die paviljoen daarna te kyk. En enigiemand ken haar verhaal – Lisa het gevind en verloor. Liefde is liefde, soek is soek. Honger is honger.”

Magda Venter skryf oor Lisa se dagboek (Volksblad, 9 Maart 2009): “Voorwaar is Lisa se dagboek ’n heerlike, ontspannende stukkie leesstof. Afrikaans wag al lank op so ’n lewendige, skerpsinnige meisie om die universele taal van liefde te praat. Die soeke na ‘Mr Right’ word selde só borrelend aangepak. […]

“Dwarsdeur die boek bly Lisa ’n kruising van jouself en elke vriendin wat al ooit die oppe en affe van liefdesverhoudings ervaar het. Lisa gee nooit haar humor en selfspot prys nie. Onse Lisa bly waagmoedig, sensitief en skroom nie om haar sê te sê nie – selfs al is dit soms tot haar eie nadeel.”

Susan se volgende “soetboek vir die siel”, soos Riëtte Grobler dit in Beeld van 3 Desember 2009 beskryf, is Custard vir die siel, en hoewel die titel aansluit by Oros vir die siel, is die boeke nie deel van ’n reeks nie. Tydens die bekendstelling is die eerste oplaag van Custard vir die siel uitverkoop.

Custard vir die siel het as basis ’n ware verhaal en daarin word gekyk na onderwerpe soos buite-egtelike verhoudings, die identiteitloosheid wat aanneming tot gevolg kan hê en die manier waarop ’n persoon in die verlede kan bly leef.

“Maar,“ sêSusan vir Grobler, “hoewel die verhaal op ware gebeure gegrond is, het ek my kreatiewe lisensie gebruik om die storie in te kleur en die vrou se identiteit te beskerm. Sy het verlede jaar haar storie oor haar kinderjare en man se ontrouheid aan my vertel en gesê ek moet iets daarvan maak. Dit is egter moeilik om iemand se storie te skryf, want sulke persoonlike goed wat mense in jou hand kom sit, is kosbaar.

“Dus het ek die skrywery lank uitgestel. Eerder nagevors, nagedink en besluit hoe om die boodskap reg oor te dra.”

Die hoofkarakter in Custard is Isabella. Sy is al jare getroud, maar sukkel om werklik te lewe. Dus gryp sy terug na haar kinderjare in Tanzanië: “Kilimandjaro speel ’n belangrike rol in die boek,” vertel Susan verder aan Grobler, “en net soos die karakter die berg tree vir tree moes klim, haar probleme treetjie vir treetjie moes hanteer, het ek die boek woord vir woord geskryf.

“Isabella idealiseer haar kinderjare en dié idealisering beteken sy kan nie ten volle in die hier en nou leef nie. Sy is aangeneem en hieruit vloei die boek se temas van identiteit en identiteitloosheid. Deur net te fokus op haar kinderdae in Tanzanië doen Isabella wat so baie van ons doen: sy dwaal in haar eie tuin rond, loop passief rond, totdat sy die insig kry om haar lewe op ’n nuwe koers te stuur.”

In Augustus 2012 vertel Susan tydens ’n vertoning in Pongola in KwaZulu-Natal aan die gehoor dat sy en Philip geskei is. Sy het lankal gevoel sy is teen ’n muur in die huwelik en toe sy dit aan Philip noem, het hy erken dat hy dieselfde voel.

Philip het aan AJ Opperman (Netwerk24, 9 September 2012) gesê dat dit vir hom ’n bevredigende reis was: “Ons is nie kwaad vir mekaar nie. En dit doen ons albei goed, want nou kan ek al my aandag aan ons restaurant gee en sy kan al haar aandag aan haar optredes gee.”

Op Facebook skryf Susan: “Ek was platgeslaan van skok, maar ek leef nou my lewe in volkleur met my ware standvastige, ewig betroubare Bruidegom.”

Susan trek later terug na haar huis in Linden.

In 2015 verskyn ’n Tas vol blues songs by Carpe Diem. Op die webwerf Karen’s Treasures word die roman só beskryf: “Goodbye to Toxic Men … As iemand Kath-Lien Carstens, glansvrou en topskrywer, nou met die treffer in haar hand moet sien, is die land aan die gons! Sy weet maar alte goed die aasvoëls van die smeerpers slyp hulle gifpenne om enige skande van bekendes teen die lamppale uit te basuin. Kath-Lien mag dalk die pers ontduik. Maar sal die selfhelpgids haar die sleutel gee om ’n nuwe deur oop te sluit? Kan dit haar toksiese huwelik ontgif? En hoe stuit sy die golwe van daardie ander tsunami wat ook haar seun, Melt, en peetdogter, Rebecca, wil saamsleur?

“Eers wanneer sy haar dogtertjie-self teen haar hart vasdruk, op ’n windverweerde Langebaan, kry Kath-Lien die sleutel waarvan haar sielkundige gepraat het. Die missing clue na geluk was al die tyd in haar eie hart. Haar tas vol blues songs, besef sy, is eintlik haar skatkis. Alles in haar verlede is nie sleg nie. Sy gebruik haar sleutel om ’n nuwe hoofstuk oop te sluit en neem verantwoordelikheid as outeur om die volgende hoofstukke in haar lewensboek met meer oorwinning en outoriteit te skryf. ’n Tas vol blues songs is die verhaal van ’n vrou se reis deur die puin van ontnugtering, tot by ware hoop, genade en selfontdekking.”

’n Tas vol blues songs het Susan vir die geestelike mark geskryf en ná die publikasie daarvan was daar enkele (sy dink drie) klagtes van erg konserwatiewe Christelike lesers. “Op grond hiervan is 3 000 kopieë summier van die geestelike boekrakke gehaal en na die uitgewers teruggestuur. Dit is drie maande later weer teruggeplaas op die geestelike rakke – en al 10 000 eksemplare wat gedruk is, is nou uitverkoop. Dit was uiteindelik ’n boek van genade wat misplaas is” (LitNet, 4 Junie 2018).

In April 2019 is Susan weer op die verhoog in die ATKV-gemeenskapsteater se produksie Hanna wat as die Paastyd-produksie aangebied is. Die teks is deur Maretha Maartens, en Susan vertolk die hoofrol. Sy sou aanvanklik net die verteller gewees het, maar sy en Maartens het albei gemeen dat om reg te laat geskied aan die omvang van Hanna se emosies, móét Susan in Hanna se skoen klim, vertel sy aan Elretha Britz (Volksblad, 1 April 2019).

Susan se roman ná ’n Tas vol blues songs verskyn in 2018 onder die titel Selma en Louise by Human & Rousseau – haar eerste boek wat nie deur Carpe Diem Media uitgegee word nie.

Einde 2016 kry sy ’n kontrak met Human & Rousseau as uitgewer om drie romans vir die algemene mark en nie net die geestelike mark nie te skryf: “Ek het geweet ek moet begin 2017 voor my rekenaar gaan sit en my hande optel en begin skryf om die keerdatum vir die eerste roman betyds te haal … met of sonder inspirasie. Ek het slegs ’n vae gevoel oor ’n vriendskapstema gehad wat ek wou verken.”

In ’n onderhoud op LitNet wou Naomi Meyer by Susan weet wat die verband tussen haar boek en die fliek van 1991, Thelma and Louise, is. Susan antwoord: “’n Titel moet prikkelend wees en ’n gesprekspunt kan uitlok. Die titel het in my kop gespring nog voor die skryfproses in alle erns begin het. Die uitgewers het onmiddellik daarvan gehou – die titel leen hom tot ’n legio temas, soos vriendskap, lojaliteit, humor, seks, geweld, lig en donker, soortgelyk aan die temas in die bekende fliek. Hierdie is egter ’n boere-Selma-en-Louise-vriendskapstorie wat oor 40 jaar afspeel, en die verhaal self is nie op die fliek gebaseer nie. Daar is wel ’n paar tong-in-die-kies verwysings na die fliek Thelma and Louise in die roman – die twee hoofkarakters, wat besties is, fantaseer graag hoe hulle soos die karakters in die fliek, ontsnap van hulle verlede vol geweld en donker geheime.”

Susan verduidelik verder oor die ontstaan van Selma en Louise: “Die eerste poging (konsep) van die roman oor drie maande was ’n spaghettibenadering, maar ek het deurgedruk tot die einde. Daarna het ek weer van reg voor begin en toe besluit wat het waarde om te behou en uit te bou. Ek vind ek het terugskouend ’n beter idee oor die gevoel van die roman, die karakters en die storielyne en kinkels. En toe kom die inspirasie! Ek kon myself uit die pad van die karakters skuif en die pen in hulle hande plaas soos ’n aflosstok om vrylik mee te hardloop. By NB Boeke het ek geleer ’n roman moet oor en oor geslyp word en ryp word soos goeie rooiwyn om diepte en goeie geur te kry. Hier het Human & Rousseau se fiksiespan my geweldig baie gehelp om te groei as skrywer (dis my eerste roman vir hulle), sowel as al die buitekeurders wat terugvoer gee op die manuskrip.”

Oor haar karakterontwikkeling in die algemeen vertel Susan aan Meyer dat die skep van die karakters ’n “misterieuse skeppingsproses waarvoor ek myself oopstel as skrywer”: “Die karakters is vooraf vir my onbekend en maak hulle opwagting in my psige of word gebore uit my onderbewussyn in daardie ongedwonge alfastaat. Ek self is soms baie verbaas om hulle te ontmoet en weet nie altyd waar hulle vandaan kom nie! Hulle skryf as’t ware hulle eie stories. Ek het iewers gelees Agatha Christie het nooit geweet wie die moordenaar in haar verhale is tot aan die einde van die boek nie! So het ek ook nie ’n idee wat die karakters gaan doen nie – geen idee waarheen die storie my gaan lei nie en het ook nie die einde in gedagte nie. Die twee vrouekarakters wat aangemeld het, was baie uiteenlopend en kompleks – dalk albei deeltjies van my? […]

“Ek wou soms inspring en van die karakters aan die skouers ruk; ander kere wou ek hulle waarsku om nie verkeerde besluite te neem nie. Soms wou ek moraliseer, hulle red van destruktiewe keuses en dan weer berispe of teen my bors vasdruk en vertroos – maar uiteindelik moes ek terugstaan en aan hulle ’n vrye wil gee om hulle eie stories te skryf. Op die ou einde was ek uit die pad gevee – en was ek, die skrywer, die geamuseerde, soms verbaasde (en soms geskokte) leser!”

Meyer vra ook vir Susan uit oor haarself: “Ek is eintlik ’n introvert en ’n baie privaat mens wat my energie kry deur alleen te wees – al leef ek ’n warm en gesellige persoonlikheid na buite uit wanneer ek sosialiseer of in die openbare oog is as spreker en aktrise. Ek smee nie maklik nuwe diep vriendskappe nie – oppervlakkige kennisse het ek wel in oormaat. Ek het nie ’n heel beste vriendin of ’n vriendskap wat sedert my laerskooldae strek soos in die roman nie. Ek het egter wel oor die laaste 20 jaar ’n paar hegte vriendskappe met ’n handjievol vroue gevorm. Hierdie paar vriendinne wat die toets van tyd en die gety wat draai deurstaan het, is vir my van onskatbare waarde – veral in tye van nood. Dit bevat lewensgewende krag – dis soos ’n tonikum.”

Met die skryf van Selma en Louise was dit vir Susan baie lekker om met meer vryheid en humor te kon skryf, asook met minder inhibisies en behoedsaamheid, sê sy aan Meyer: “Dit was werklik lekker om ’n ligter lekkerleesroman te skryf en ek het as skrywer te heerlik met die karakters gereis al die pad tot in Indië en my lekker ingeleef in hulle ervarings. Die kindergedeeltes in die roman was vir my veral lekker en het ook baie maklik gevloei. Die volwassenes was moeiliker om oor te skryf – omdat volwassenes meer issues, bagasie sowel as maskers het. Dis ook vir my emosioneel altyd moeiliker om karakters met donker psiges te verken en te verstaan – dit put my baie uit om in daardie donker dieptes te moet tande insink.

“Verder was dit ’n groot uitdaging om in soveel besonderhede oor Indië te skryf en lesers te oortuig dat ek self al daardie plekke eerstehands besoek het. (Ek was nog nie in Indië nie.) Gelukkig het ’n filmspan van Bollywood Mumbai toevallig my huis in Linden vir ’n maand gehuur tydens die skryfproses. (Ek het toe reeds oor Indië geskryf.) Dit was so ’n onverwagse seën vir my as skrywer! Ek kon sessies met vrae met die span reël. Dit het my baie gehelp om onder die vel van die land in te kom, asook met verskillende dialekte.”

JB Roux is die resensent van Selma en Louise vir Netwerk24 (14 Mei 2018): “Die verhaal begin waar Selma by ’n reisagentskap inloop, al weet sy nie waarheen sy wil gaan nie. Sy beleef ’n bestaanskrisis: haar man is dood, sy het haar twee kinders verloor – en die man wat sy geglo het haar ‘redding’ is, is nie wat hy voorgegee het om te wees nie. Boonop is haar vriendskap met Louise in die weegskaal. Sy besluit om na Mumbai te gaan om haarself te ‘vind’.”

Vir Roux kan die roman waarskynlik as chick-lit beskryf word, met ander woorde ’n populêre roman vir moderne vroue, maar hy meen dat Coetzer nie heeltemal kan kers vashou by ander skrywers van die genre nie, soos Sophia Kapp en Kristel Loots, maar “nogtans is Selma en Louise ’n heel geslaagde en aangename leeservaring wat Coetzer se reputasie as skrywer gestand doen.”

Op LitNet sluit Nadia de Kock haar bespreking van Selma en Louise só af: “Selma en Louise is ’n roman wat nie te veel eise aan die leser stel nie, alhoewel daar aspekte is wat wel om nabetragting vra: geweld teen vroue en die aard van vriendskap staan voorop. Ten spyte van hierdie ernstige temas is Selma en Louise ’n genotvolle leeservaring, ideaal vir ’n koue Sondagmiddag onder ’n warm kombers. Ek beveel dit aan vir moderne lesers van Afrikaanse chicklit en reisromans wat nie sal terugdeins vir ’n vloekwoord hier en daar, dwelmgebruik en enkele verwysings na ongebonde seks nie.”

Deborah Steinmair bespreek Selma en Louise vir Rapport (20 Mei 2018) en sy beskryf die roman as ’n ontdekkingsreis: “[E]en vrou se soeke na haarself en na heling, vergifnis en liefde (nie noodwendig romanties nie). Aanhangers van Eat, pray, love sal dit verslind: Selma en Louise beland uiteindelik in Indië saam met ’n wyse toergids. Hier vind hulle helderheid te midde van die armoede, onwelriekende, kleurryke chaos en vreugdevolle gelatenheid. Maar eers is daar ’n finale, skokkende kinkel in die kabel van hul vriendskap.

“Hierdie reisroman met byt bevat pittige dialoog, kleurryke karakters en genoeg pitkos om aan te herkou. Die spanning word behou deur sappige geheime wat algaande uitlek, raaisels wat die leser graag wil ontsyfer, knope wat smeek om losgetorring te word.

“Dis welgedaan en sal wyd byval vind. ’n Mens noem dit chic lit met houding.”

Met Susan se volgende roman, Die uil in die ysbos (2021), betrek sy die grendeltydperk. Vir haar was die inperking wat afgedwing was, net die impetus wat sy nodig gehad het om tot ruste te kom en weer haar creative juices te laat vloei: “Ek was weer in staat om te connect met my eie emosies en om gehoor te gee aan ouma Gracie (die hoofkarakter) se reis. Ek glo daar was ’n tyd vóór die wêreldwye pandemie. Alles is nou anders. Almal se lewe het op een of ander manier verander,” vertel sy aan Phyllis Green (Sarie, 24 Junie 2021).

In Die uil in die ysbos is Gracie die spil waarom alles draai. Sy probeer om ná die geboorte van haar eerste kleinkind voor die inperking ’n poging aan te wend om die bande met JJ, haar seun, reg te maak: “Maar,” skryf Green, “eers moet sy haar eie verlede in die oë kyk om agter die oorsake van haar posttraumatiese stres, kompulsies en sosiale angs te kom. Coetzer roer belangrike temas van moederskap, verlies, vergifnis en versoening in hierdie boeiende roman aan.”

Oor die impetus agter die skryf van Ysbos vertel sy verder aan Green: “Aanvanklik was daar nie ’n vonk nie. Ek het in Maart 2020 by die Woordfees my uitgewers meegedeel dat die opdragroman in wording nie wil vlam vat nie. Ek het toe reeds byna 70 000 woorde geskryf, maar nie gedink dis goed genoeg nie. Ek was te uitgeput van al die gesellighede en reise in 2019, en was wall to wall bespreek tot einde 2020. Ek vra toe om die roman op ys te sit tot 2021. Twee weke daarna gebeur die inperking … Al my optredes is gekanselleer. Ná ’n maand was ek uitgerus; jy kan net só lank slaap en televisie kyk. Toe stuur ek ’n e-pos en vra of ek aan die roman kan werk sodat ek nie níks met al my tyd by die huis doen nie. Ek het heeltemal oorbegin en net die naam Gracie behou. Die afsondering het ’n diep verlange in my wakker gemaak asook ’n gemis, veral na samesyn. Ek het ingetap by die angs wat oral in die lug gehang het. Dít was die vonk. Vanuit dié emosionele plek is Gracie wedergebore. As skrywer was ek in ’n ander rat. Ek was betrokke by haar reis en nie net ’n apatiese toeskouer op die paviljoen nie.”

Green wou by Susan weet of sy van die begin af geweet waarheen die roman op pad is. Susan se reaksie was dat haar storielyn nooit vooruit beplan word nie: “En ek beplan nie my karakters haarfyn nie. Dis maar meer organies, soos my vorige romans en my manier van skryf, voel-voel in die donker. Soos ’n ontdekkingsreis. Ek begin net en hou aan skryf en kyk wat gebeur. Ek het begin met ’n gevoel van verlange en ’n hoofkarakter, Gracie – ’n ouer, angstige vrou (ma en ouma to be) wat haar aangemeld het. Die res was vir my ook ’n verrassing.

“Dié manier van skryf verg wel dat ek, nadat my eerste draft voltooi is, moet teruggaan en verfyn en herskryf – tot drie weergawes. Teen die einde van die eerste poging staan ek terug en wag vir die keurders se notas. Hierna begin ek ná ’n kort rusperiode weer van voor af, ietwat uitasem, maar met ’n duideliker einddoel voor oë.”

Sy erken dat sy wel gesukkel het om ’n “ongewone skryfstruktuur” te skep: “Een wat spanning skep en jou met ’n vinnige tempo meesleur, maar terselfdertyd nie verwar met waar jy jou in tyd bevind wanneer jy die roman lees nie. Ek het baie aan die struktuur, tempo en tydsverloop herskryf. Dele 1, 2 en 3 is geskep en ’n paar keer verfyn.”

In Rapport van 4 Julie 2021 is Juliana Coetzer die resensent van Die uil in die ysbos: “Maak jou reg, hierdie is ’n dik boek,” begin sy haar bespreking. “Tog het die komplekse en by tye, onstabiele hoofkarakter, Gracie-Jane Coetzee, my binne 30 bladsye so totaal oorrompel dat ek dit nie kon neersit nie. ’n Mens kom mos gou agter as ’n skrywer moeite gedoen het en haar hart en siel in ’n boek gestort het.

“Hoewel sommige Die uil in die ysbos as ligte leesstof sal beskou, moet die roman nie onderskat word nie. Die kerntema is ernstig, maar dit word aangebied met ’n goeie skeut humor en ’n gevatheid wat die verhaal lig hou. Die skrywer handhaaf deurentyd ’n balans tussen humor en diepte. Ek het soms ’n traan gestort en ander kere dubbel gevou soos ek lag.

“Ook het sy die vermoë om interessante karakters te skep; mense soos onsself en die mense wat om ons leef en met wie ons kan identifiseer. Gelukkig is niemand perfek nie. Coetzer se dialoog het my laat voel of ek mense in ’n restaurant afluister en my vasgenael hou. Daar is ook spannende oomblikke in die verhaal, maar as leser voel jy aan daar sal ’n uitkoms wees.

“Gracie is ’n kinderboekskrywer en -illustreerder wat aan ’n obsessief-kompulsiewe angsversteuring ly. […] Natuurlik val ’n ‘OCD’ nie uit die lug nie en traumas is deel van Gracie se geskiedenis. Die skrywer laat in die eerste helfte van die boek die venster daaroor op ’n skrefie oop. […]

“Daar word ook van drie kinders melding gemaak, maar Gracie het net met die een, haar wederstrewige seun, kontak. Waar is Ada, haar middelste dogter, dan? Ons weet haar oudste dogter was tydens die geboorte reeds dood. Wanneer Gracie van haar seun se skoonouers praat, is dit so goed of hulle karakters uit ’n Seder val in Waterkloof is. Die vername mense, ‘twee humorlose liniaal-in-die-hol snobs’ (bl 99), sien hooghartig neer op Gracie met haar Crocs en boheemse geaardheid. […]

“Wanneer hierdie hovaardige mense se geraamtes uit die kas tuimel, is dit Gracie wat tot die redding van haar seun en sy kil vrou kom. […]

“Die krag van Die uil in die ysbos word opgesom deur die aanhaling aan die begin: ‘Call it a clan, call it a network, call it a tribe, call it a family: Whatever you call it, whoever you are, you need one.’ Want op verskillende oomblikke in Gracie se lewe is dit mense se betrokkenheid wat die verskil maak. […]

Die uil in die ysbos is ’n lekker boek en die perfekte medisyne vir hierdie troostelose tyd waarin ons leef.”

Vir Trisa Hugo (Netwerk24, 28 Junie 2021) is Susan se skryfstyl in Die uil in die ysbos maklik en heerlik humoristies. “Die gebruik van sprokies en kinderverhale is funksioneel en die leser kan genot vind in Gracie se kinderverhale, wat sy self illustreer en waarmee sy soms haar brood en botter verdien.

“Op sigself is hierdie stories die moeite werd om in [sic] eie reg gepubliseer te word. Tog is Gracie se innerlike krag en diepte duidelik. Sy het van kleins af by haar ouma met die binne-ore geleer om haar lewe te verstaan in terme van sprokies, Griekse mitologie en veral van plante. […]

“Die verhaal speel af oor ongeveer ses maande. Menslike verdriet, wroeging, posttraumatiese stresversteuring (PTSV), tragedies, pogings om vergifnis te kry en te gee, en straf vir gewaande sondes klink na baie ernstige temas. Coetzer benader dit egter met ’n mengsel van humor en erns. Sy gebruik lieflike en kleurryke karakters.”

In Susan se volgende roman, Haas en Harriët, wat in 2024 deur Human & Rousseau gepubliseer is, verken sy die ingewikkelde verhouding tussen ’n ma en ’n dogter. Die dogter is Milana, of Mila. Haar ma, Harriët, sien haar egter nog altyd as Haas of Hasie, die troetelnaam wat sy aan die vyfjarige Mila gegee het.

In Sarie (1 November 2024) som Phyllis Green die storie van Haas en Harriët só op: “Die verhaal ondersoek die komplekse verhouding tussen ’n ma en ’n dogter en hoe kleintydse ervarings ’n blywende impak daarop kan hê. Die leser het van meet af empatie met Mila oor die lewe haar stief behandel het en haar ma se rol daarin. Maar soos die gebeure van die verlede aan die lig kom, kan jy nie anders [nie] as om medelye met Harriët en haar omstandighede te ontwikkel.”

Susan self sien dit só: “Daar kan nooit genoeg geskryf word oor ’n ma se invloed op haar dogter nie. Die ma-figuur is die een wat lewe gee, wat in ’n ideale verhouding die beskermer, trooster, opvoeder en ondersteuner van haar dogter is. Dekades later speel sy steeds ’n reuse-rol in haar lewe, hetsy positief of giftig.

“In Haas en Harriët verken ek die onperfekte verhouding tussen Harriët en haar dogter. Mila beleef as suksesvolle sakevrou steeds die verwonding van haar ma se swak rentmeesterskap toe sy ’n kind was. Sy voel sy is in die steek gelaat deur haar ma se verwaarlosing en selfsug en sy sluit haar doelbewus uit haar lewe as volwassene.”

Oor die “vonk” wat die verhaal aan die gang gesit het, vertel Susan aan Green dat sy lank sit en tob het oor watter tema sy met hierdie boek kon aanpak: “Die idee om ’n vrou met ’n fisiese skeet as een van die hoofkarakters te verken, het telkens opgekom. Ek het begin sonder dat ek geweet het wat die skeet of storielyn sou wees. Maar ek het vertrou dit sal aan my bekendgemaak word, indien ek getrou opdaag en bly skryf. My ervaring is dat karakters opdaag en my lei om hul stories te verwoord.”

Vir Green is daar ’n verdieping in Susan se skryfwerk en sy skryf ook oor ernstige onderwerpe wat sy op ’n toeganklike wyse aanbied: “Jy lees dit reg,” sê Susan aan haar. “Alhoewel my opdrag van die uitgewer was om lekkerlees-boeke te skryf, het ek ’n behoefte gehad om te groei en te verdiep en nie net kommersiële sukses te geniet nie. Ek wou ’n bydrae lewer ten opsigte van sosiale bewusmaking rondom sekere swaargewig temas waarvan mens dikwels wegskram. Die sensitiewe temas het by my aangedring op ’n gehoor. Dis nie vooraf op ’n berekende manier uitgedink en ingeforseer nie. Die swaargewig temas sal toeganklik wees vir lesers, aangesien daar ook goeie porsies humor in die roman is vir verligting en balans.”

Susan beskou Harriët as kompleks en sy is beslis nie jou alledaagse ma wat vertroetel en versorg nie: “Inteendeel, sy kom dikwels voor as waansinnig, vreemd, roekeloos en selfs harteloos. Maar sy is beslis nie beige en vervelig nie … en ook nie nét sleg nie.

“Ma-dogter-verhoudings is kompleks. Soms meer as wat die oppervlak verklap, soos in Harriët en Milana se geval. Ek sou dit vergelyk met die lae verf wat gebruik word in ’n olieverfskildery. Eers wanneer jy die boonste laag afkrap, word die ander reënboogneerslae ontbloot.”

Oor die inspirasie agter die karakter van Mila verduidelik Susan aan Green dat die mens altyd nodig het om in te pas in ’n veilige groep of tribe: “Jy wil aanvaar word en is afhanklik van ander se liefde en goedkeuring. By jong kinders is die behoefte nog sterker omdat hulle nog so weerloos is.

“As ’n jong kind om een of ander rede deur byvoorbeeld ’n geboorteletsel of -defek uitstaan, is ’n spottery, boeliery en teistering gewoonlik ’n gegewe. Veral kinders het geen filters nie en kan wreed optree. Ek wou die effek van verwerping in die psige van die kind verken en hoe dit voel om as ‘lelik’ ge-label te word en die kruis jare later steeds saam te dra.”

Harriët het ’n eienaardige gewoonte om mense in terme van die dierespesie uit te beeld. Hoekom? wou Green by Susan weet: “Harriët moes anders wees as die ‘gewone’ ma’s wat ons gereeld ontmoet. Sy moes haar eie mens wees. Sy het reeds op die eerste bladsy dit aan my duidelik gemaak dat sy mense deur ’n dierelens betrag en nie ’n kleindorp mentaliteit het nie. Sy was odd, maar entertaining. Ek het al baie eienaardige mense op my lewenspad teengekom. My eie ouers was nie konvensionele stereotipes nie en het baie buite die boks gedink en gedoen. Hulle was kleurvol en kreatief, tot groot vermaak van aanhoorders. Dalk het van die indrukke in my onderbewussyn gelê en sluimer en na bo gedryf en uiteindelik gehelp om Harriët se karakter te ontwikkel.”

Ten laaste voel Phyllis Green dat ten spyte van die trauma wat die karakters beleef, hulle nie sonder hoop is nie – ’n gevoel van hoop loop deur die storie. En Susan se reaksie hierop: “Ek wou graag hoop bring in ’n verhaal met karakters en onderwerpe wat redelik hopeloos lyk om op te los. Ek wil lesers nie op ’n laagtepunt los op die laaste bladsy nie, maar op ’n realistiese manier laat glo daar is wel iewers ’n reënboog. Al is dit ’n dowwe onvolmaakte een. Ons leef in ’n land met uiteenlopende karakters en kulture en iets in my wil glo, dat ons wel ’n reënboognasie kan wees, as ons die pad na vergifnis en genade na mekaar kan loop.”

Op die agterplat van die boek word die verhaal só vertel: “’n Hartroerende roman oor onvolmaakte ouerskap: twee ma’s probeer hul bes doen vir hul kinders, maar albei maak foute en die wêreld daar buite is soms ongenaakbaar.

“Mila Verster is ’n suksesvolle entrepreneur met twee haarsalonne in Gauteng. In haar vyftigs. Haar dogter, Tami, word eersdaags agtien, en Mila is reg vir ’n nuwe hoofstuk. Sy gaan inskryf vir haar PhD en daarna op ’n lang vakansie gaan.

“Dis ook tyd dat sy en Conrad gesels. Vandat haar man se buitelandse kontrak op die olietuie beëindig is en hulle permanent onder dieselfde dak woon, besef sy opnuut hoe min hulle met mekaar gemeen het. En dan is Harriët, haar ma, ook besig om aan haar te karring om saam met Tami op die familieplaas te kom kuier – veertien jaar nadat Mila alle kontak met haar ma en broer, Fanie, verbreek het …

“Wanneer Tami een middag spoorloos verdwyn, word Mila genoop om die sluier oor die verlede te lig, die gebeure te herbesoek en te ontrafel. Maar al genees tyd sommige wonde, bly die letsels rou en die pad na vergifnis kom teen ’n prys.”

Maryke Roberts resenseer Haas en Harriët vir LitNet: “Deurgaans is jou simpatie by Hasie. Haar ma se oorlewingstryd speel vir my tweede viool en jy is veroordelend oor Harriët, wat van een man na die volgende rondval en klaarblyklik meer aan haarself as haar kinders dink. Ek dink sy misluk jammerlik as ma – bloot omdat sy nie genoeg omgee nie. Ja, sy vertel kinderstories en lees boekies en leer vir Hasie en vertel haar hoe spesiaal sy is, maar sy beskerm haar nie werklik teen die aanslae van die lewe nie.

“Dan slaan die werklikheid van Hasie se grootword jou: Hoofstuk na hoofstuk word jy verder afgetrek saam met die eensame reis waarop Hasie gaan. Die grootmense in haar lewe wat na haar moet omsien, misbruik én laat haar in die steek op verskeie maniere; almal so skuldig soos die volgende een, al wissel hul gruwels van mens tot mens.

“Niks kan jou voorberei op die seer wat Hasie moet verduur nie. Ek het die boek verskeie male eenkant toe geskuif. Nie bereid om myself verder bloot te stel aan die seer nie. Maar tog hopende dat daar ’n uitkoms sal wees; ’n nuwe begin vir Hasie. Met ’n paar hoofstukke oor, gee ek heeltemal moed op. Ek kan nie meer lees nie. […]

“Ek besef dat ek die boek moet klaar lees, want hierdie goed gebeur. Elke dag. Dalk in die huis langs jou; dalk in jou vriendekring. Ek begin weer lees.

“Haas en Harriët ondergaan ’n groot ommeswaai na die einde toe. Daar is trane en vergifnis en nuwe beginne. Maar hier verloor die boek vir my sy geloofwaardigheid. Kan een mens vir vyf dekades ’n slagoffer wees en dan binne enkele dae en daaropvolgende maande die maanskyn en rose begin ervaar?

“Dit voel aanvanklik amper asof Hasie om verskoning moet vra vir die onreg wat haar aangedoen is, nie andersom nie. Kan vergifnis só vinnig en só diep gebeur? Miskien moes daar nog ’n paar hoofstukke gewees het waar die ontknoping meer realisties kon wees. Waar die vergifnis ’n dieper reis is en oor meer bladsye kon strek. Dat daar ewewig is met die gruwels van verskeie hoofstukke.

“Ek staan verdeeld oor die boek. Dis uitstekende taalgebruik; dis boeiend; die onderwerpe is tersaaklik. Maar dit voel nie soos fiksie nie, eerder soos ’n baie lang nuusberig of dokumentêr – waarvoor ek nie toestemming gegee het nie. Die boek spook by my. En ek sit op die draad. Maar dat dit nie ontspannende leesstof is vir stranddae nie, is gewis.”

Op Netwerk24 sluit Trisa Hugo haar bespreking van Haas en Harriët só af: “Dis ’n lywige werk wat die leser laat lag en huil, maar die spanningsdraad word slap as daar te lank uitgestel word om gedrag te motiveer. Die rede vir die swak verhoudings word te laat in die boek duidelik. Danksy Coetzer se lekker skryfstyl hoef dit nie te pla nie, want die lewe van die karakters word so filmies beskryf dat dit genoeg is om net nóg ’n hoofstuk te wees.

“Die humor is skerp, die woordspelings slim. Coetzer het ’n besonderse gawe om humoristies te skryf sonder om bloot snaaks te wees. Met hierdie roman met sy goeie dosis huishoudelike noir skrop sy vir haar ’n plek uit tussen die beste van 2024.”

Anschen Conradie begin haar resensie van Haas en Harriët op Netwerk24 (9 Desember 2024) só: “’n Hoenderhen met haar kuikens onder haar vlerke is, in Bybelse taal, ’n metafoor vir moederlike beskerming. In jukstaposisie is daar die koekoekwyfie, die moeder wat haar eiers in ’n ander se nes gaan lê en haar kuikens aan die genade oorlaat. Iewers tussenin is die realiteit van moederskap verskuil.

“Harriët was ’n hoenderhen-moeder, Fanie en Mila veilig onder haar spreekwoordelike vlerke. Fanie was haar ‘Aapstert’, Mila haar ‘Haas’. Op die oog af troetelname, maar ’n heroorweging lê die angel bloot; Mila het ’n haaslippie. Anders as die bekkige haas van Lewis Carroll en die Keltiese heilige dier met toegang tot die onderwêreld is Mila die haas vasgevang in die skerp kopligte van verwerping en bespotting wanneer ontnugtering intree … […]

“Ná meer as ’n dekade se vervreemding is Harriët, met haar voorliefde vir antropomorfie en taksidermie, weer lewensgroot in Mila se lewe, krap sy ‘… weer soos ’n honger wolf aan haar deure en ruite’ (bl 34). Die koekoek dring aan op die herinstel van haar titel as hoenderhen, en die haas is opnuut verblind en verwar.

“Maar die haas is nie meer die sesjarige wat troos by ’n opgestopte hond soek en glo dat dinge mooier word as ’n mens dit net eers gewoond raak nie. Sy is nou ’n middeljarige vrou, eienaar van twee haarsalonne en ’n PhD-student met ’n dogter, Tami, wat soos ’n skilpad in haar dop verskuil bly, en ’n man, Conrad, wat vir haar ’n vreemdeling en meulsteen is.

“Harriët se metamorfose van hoenderhen tot koekoek word deur middel van terugflitse na die tydperk Augustus 1972 tot Oktober 1975 aan die leser uitgebeeld. Mila is deurentyd die fokaliseerder wat empatie ontlok, maar dis Harriët se rolwisseling wat die katalisator vir Mila se ontwikkeling van naïewe dogtertjie tot ontnugterde volwassene is. […]

“Mila se geloofwaardige onwilligheid om met Harriët te versoen en die problematiek van hul moeder-dogter-verhouding word op die spits gedryf deur die toenemende uitdagings tussen Mila en haar outistiese skilpad-kind.”

Mizanne van Wyk kuier in Februarie 2025 by Susan in haar huis met sy turkoois mure in Linden in Johannesburg (Maroela Media). Hier bly sy saam met haar hond, Sonnyboy, en kom kuier haar twee kleinkinders, Frankie jr en Nuah, gereeld by haar: “Dit is vir my ’n wonderlike voorreg om nog aktief te wees om behoorlik tyd saam met hulle deur te bring.”

Susan is ook te sien in Binnelanders as Louis Koster se ma, en dít geniet sy baie: “Dit was effe vreesaanjaend om terug op stel te wees, maar ek het vinnig gewoond geraak aan die pas waarteen ons skiet. Dit het naderhand vir my ’n uitdaging geword om te sien hoe vinnig ons ’n toneel kan skiet en hoeveel tyd ons wen.”

Oor watter deel van haar loopbaan haar gunsteling is, is dit maar moeilik om te antwoord. “Elke deel van my lewe en loopbaan is verweef met mekaar, met kreatiwiteit as die gom wat alles bymekaarhou. […] Wanneer ek nie toneelspeel nie, skryf ek, en wanneer ek nie skryf nie, skilder ek. Ek is gewoonlik liewer vir die ding wat ek nié op daardie oomblik doen nie.”

Susan is van jongs af al aan die ontvangkant van toekennings en nominasies vir toekennings:

  • Toe sy nog ’n student was, het André P Brink haar eerste toneelstuk, Die reëndag, aangewys as die oorspronklikste toneelstuk by die amateurdramafees. Sy het dit geskryf en die regie gedoen. (Marlene van Niekerk se stuk is aangewys as die wenner.)
  • Susan ontvang twee Vita-toekennings in 1986 vir haar spel in Diepe grond – een vir beste Afrikaanse aktrise en een vir beste nuweling.
  • Vita-toekenning vir haar spel in Die storm.
  • In 1991 word sy benoem vir ’n Vita-toekenning vir haar rol in Die koopman van Venesië wat in 1991 deur Truk opgevoer is, asook vir haar spel in Griet skryf ’n sprokie. Sy is ook benoem vir ’n Fleur de Cap-toekenning vir Soekie in Diepe grond, ’n Artes-toekenning vir Daisy de Melker en ’n Star-toekenning vir Daisy.
  • Vir haar spel in die televisiedrama Meester is sy met ’n Artes-toekenning bekroon.
  • In 2013 wys die publiek Susan aan as die wenner van die voelgoedtydskrif Finesse se Inspirasievrou.
  • Susan pak weer iets nuuts aan met die skryf van haar eerste rolprentteks, Gat in die muur. Dit is verfilm met André Odendaal as regisseur én hoofspeler. In 2016 is die rolprent ingeskryf vir die Southampton-rolprentfees in Engeland. Dit word op daardie stadium die eerste Afrikaanse rolprent wat in ses kategorieë benoem word. Die rolprent het in twee kategorieë gewen, naamlik beste regisseur (André Odendaal) en beste redigering (Ronelle Loots).

Publikasies

Publikasie

Sonneblom of daisy?: Soms moet ’n vrou eenvoudig die geswoeg van die lewe met uitbundigheid vasvat!

Publikasiedatum

2004

ISBN

9781920044312 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van der Merwe, Nadia: Raak só lief vir die “flops”. Volksblad, 24 Oktober 2005

 

Publikasie

Sonneblomme & daisies: stories om jou te inspireer en nuwe lus vir die lewe te gee

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2012
  • 2013

ISBN

9781432200442 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Nog sonneblomme en daisies – vat die geswoeg van die lewe met uitbundigheid vas

Publikasiedatum

2006

ISBN

9781920044312 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Oros vir die siel

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2009
  • 2011

ISBN

  • 9781920156817 (sb)
  • 9871770300497 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2012 Engels; vertaal deur San-Mari Mills – Oros for the soul

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Lisa se dagboek: ’n enkellopende se soektog na Mister Right

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781770310872 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die mooiste sonneblomme en daisies: Kikker jou dag op met ’n geurige bossie lekkerkry

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781770311473 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Die mooiste sonneblomme en daisies. Amazon

 

Publikasie

Custard vir die siel

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2010

ISBN

9780177031160 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Grobler, Riëtte:
      • Coetzer se boek verkoop soos soetkoek. Volksblad, 4 Desember 2009
      • Coetzer skryf nog ’n soetboek. Beeld, 3 Desember 2009

 

Publikasie

All-Bran vir die siel

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781770312012 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Geestelike lektuur

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

40 woorde uit die hart van Susan Coetzer

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781770313149 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Tjoklits vir die siel: die verhaal van Shelley

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781770312807 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Smarties vir die siel

Publikasiedatum

  • 2013
  • 2020

ISBN

  • 9781432200602 (sb)
  • 9781432203566 (sb)
  • 9781432209070 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Dagstukkies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Susan Coetzer dagbeplanner: Geloof is nie ’n plek nie, dis ’n pad wat jy stap

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781432203726 (hb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Dagstukkies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

’n Tas vol blues songs: ’n roman – ’n innerlike reis

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781432203580 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die Joernaal-Bybel vir vroue: die Nuwe Testament in 365 dae met joernaalruimte (saam met Hennie Stander, Stephan Joubert en Jan van der Watt, vertalers)

Publikasiedatum

2016

ISBN

(sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Bybel

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Finesse dagbeplanner

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781770311985 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Dagbeplanner

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Mamma het ’n breek nodig: Hoe om ’n slegte dag beter te maak

Publikasiedatum

2016

ISBN

978143220 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Soetgoed vir die siel: 3 boeke in 1 (Oros vir die siel; Custard vir die siel; Tjoklits vir die siel)

Publikasiedatum

2017

ISBN

9781432206741 (sb)

Uitgewers

Vanderbijlpark: Carpe Diem

Literêre vorm

Geestelike lektuur

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Bruistablette vir die lewe

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780796320490 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Dagstukkies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Selma en Louise: ’n reisroman met ’n byt

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780798176569 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Koeke en terte – aanvaar mekaar se uniekheid

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780796321398 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Motiveringstukke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

’n Sonneblom vir elke dag

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780796322784 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Dagstukkies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die uil in die ysbos: ’n sprokiesroman vir grootmense

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780798180573 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Blinde mol of wyse uil? Hoe om met integriteit te leef

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780796322388 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Motiveringsliteratuur

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Haas en Harriët: ’n roman oor ma’s en dogters

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780798183741 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Lekkergoed vir die lewe

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780796323422 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Dagstukkies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Super C: van swaarmoedige Sannie tot supervrou

Publikasiedatum

2025

ISBN

9780796323705 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Lux Verbi

Literêre vorm

Motiveringslektuur

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Susan Coetzer

Artikels deur Susan Coetzer

  • Bote, dolfyne en die see … wat ’n vakansie [Laaste sê]. Finesse, Maart 2007
  • Die dag toe ons die kennels verruil vir ’n regte huis … [Laaste sê] . Finesse, Julie 2007
  • “Jy is goed genoeg,” sê Susan Coetzer. Nuusflits, 11 Maart 2024
  • Kaskenades [Laaste sê]. Finesse, Maart 2006
  • Die kielie van bouboelie [Laaste sê]. Finesse, Julie 2006
  • Laaste sê [rubriek]. Finesse, Desember 2008
  • Die lief en leed van die langpad [Laaste sê]. Finesse, Mei 2007
  • My leeskeuse. Volksblad, 10 September 2001

Susan Coetzer se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 14 Januarie 2025 gepubliseer.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top