All-Bran vir die siel …

  • 0

Die week het ’n spesiale vriendin vir my een van die grootste geskenke nog gegee. ’n Boek!

 

Ja oukei, almal weet as jy my wil bederf dan gee jy my ’n boek, een van my gunstelingskrywers, en jy is my hero for life! Susan Coetzer is vir my ’n fenomenale vrou, inspirerend en so reguit soos die tannie langsaan se Jakobregops. Haar trant van skryf is vir my lekker om te lees, te verstaan en soms te voel. Mens sien dit wat jy lees hier voor jou, soos ’n fliek. Jy kan als wat sy beskryf voel, ruik en proe … Oros vir die siel was vir my ’n gunsteling. Soos ek gesê het kry ek een van haar nuwe boeke by ’n vriendin, All-Bran vir die siel – 12 stappe vir ’n geestelike detoks. Hmmm het ek gewonder hoe gaan die boek nogal wees? Diè klink dalk na ’n preek! Ek maak die boek oop: “Maritza 10/2011 Mag jy antwoorde in die boek vind en ’n wonderlike tyd hê met die lees van die boek. Hoop dit bring ’n seën in jou lewe.” Antwoorde?

Agter op die boek lok die geskryf die humor binne my! Daar staan: “Moedeloos? Mismoedig? Moeg? Amper asof jy hardlywig is? Geestelik hardlywig? Dan kort jy vessel ...” Net daar voel dit klaar of Susan met my, my alleen praat.

Die boek begin met “Amazing Grace” se lieflingswoorde en die skrif dat die boek in dankbaarheid opgedra word aan haar Groot Pottebakker.

Wow!

Net daar en dan is ek al klaar gehook! Sy vertel dat God met haar praat , sy hoor Hom deur haar “binne-ore”, sy luister na sy opdrag maar twyfel want sy is nie perfek nie. God antwoord haar: “Ek gebruik nie perfekte mense nie, want daar is nie perfekte mense nie.” Ek sit die boek ’n oomblik neer, hoeveel keer het God nie al met ons so gepraat nie? Het ons hom gehoor?

Sy gehoorsaam na die betekenisvolle gesprek …

Ek kan nie als verklap nie en wil jou honger maak om die boek te gaan koop. Dit is waarlik pitkos vir die siel.

Sy vertel van die groot leemte in haar en die pad wat sy stap om dit te vul, soekend na iets, mans, kos, dwelms, drank en in sielkundiges, ghoeroes en ander “slim” mense ... Ek steek nog ’n kers aan want vanaand gaan nog ’n lang aand wees …

So kom ek by ’n stop.

Die “Om te doen”-gedeelte. Drie vrae. Drie belangrike vrae wat jy nie lighartig kan antwoord nie, nee, want op bladsy 17 is daar ’n commitment wat jy moet invul.

Ek begin dink en nou half drie die oggend het ek ’n besluit geneem, ek gaan wel die vrae antwoord en die commitment in swart pen in ent.

No turning back.

Onderaan die commitment gee Susan vir jou, jou koördinate om jou GPS in te stel:

Bestemming: ’n Lewe met groter betekenis
Passasier: Jou naam
Afstand na bestemming: Ewig
Verwagte tyd van aankoms: Sy TYD

Sjoe dus omtrent gewigtig en so waar, ons almal wil die ewigheid hê so ook ’n vol lewe met BETEKENIS.

Stap nommer een in die boek was nie maklik nie, maar soos jy lees en saam Susan op die reis begin na geestelike detoks, en ook besef dat sy vrou is en net gewoond is soos ons, nie perfek nie, dat ons almal soms All-Bran vir die Siel nodig het ook mense soos Susan en die vriendin van my.

Maritza 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top