Suidoosterfees Talentsoektog 2019/20

  • 0

Dis weer tyd vir die Suidoosterfees Talentsoektog en hierdie jaar waarborg die fees om die Wes-Kaap op hoorings te neem met ’n opwindende soektog na jong opkomende talent.

Die sesde Suidoosterfees Talentsoektog, moontlik gemaak deur Sanlam vind tussen September en November 2019 plaas.

Die fees met die slagspreuk, ’n fees vir almal fokus op die ontwikkeling van jong kunstenaars deur projekte soos die Talentsoektog met die doelwit om geleenthede vir hierdie kunstenaars te skep deur werkswinkels, mentorskap en werkskepping.

Die fees bied vanjaar sewe uitdunrondes aan in gebiede soos Kaapstad, Wellington, Athlone, Mitchells Plain, Bellville, Khayelitsha en die Overberg.

Die hoofdoelwit van hierdie projek is om nuwe talent in die Wes-Kaap te ontdek. Die projek fokus ook op die opvoeding van deelnemers en hul gemeenskappe met betrekking tot die kunste, die industrie en die Suidoosterfees.

Laastens is dit die doel van die projek om deelnemers bloot te stel aan hulpbronne wat hulle sal help om ’n loopbaan in die kunste-bedryf te ontwikkel.

Die Suidoosterfees Talentsoektog is opsoek na jongmense tussen die ouderdom van 9 en 25 met hope talent in die volgende kategorieë: sang, instrumentaal, dans, toneelspel en meer.

Deelnemers word aangemoedig om in te skryf vir hierdie kompetisie voor die datum van die verskeie uitdunne aangesien daar beperkte spasies beskikbaar is.

Daar is geen inskrywingsfooi vir hierdie kompetisie nie en wenners van die Suidoosterfees Talentsoektog staan ’n kans om R10 000 in kontant te wen, saam met ander wonderlike pryse en groot geleenthede in die professionele kunste-bedryf!

Deelnemers kan aanlyn inskryf deur hierdie skakel te volg. (Let wel dat terme en voorwaardes van toepassing is).

Finaliste van die 2018/2019-projek: David Robert Maluleka en Jodine Ockers

Die eerste uitdunronde vir die 2019/20 Talentsoektog sal op 14 September by die Artscape-teatersentrum in Kaapstad plaasvind.

Daarna vertrek die fees na Wellington op 21 September waar hulle by die Breytenbach-sentrum sal wees.

Op 28 September is die fees in Athlone by die Cape Music Institute. Die vierde gemeenskapsronde van die Suidoosterfees Talentsoektog vind op 5 Oktober by Cedar Hoërskool in Mitchells Plain plaas en op 12 Oktober is die Suidoosterfees in Bellville by die CR Louw Ouditorium by die Sanlam Hoofkantoor in Voortrekkerstraat.

Finaliste van die 2018/2019-projek van links: Justin Durant, Abdun-Noor Franke en Levona Steenkamp

Die fees gaan maak dan ’n draai op 26 Oktober in Bredasdorp in die Overberg. Die laaste uitdunronde vind op 2 November by The Shack Arts School and Theatre (KASI RC) in Khayelitsha plaas.

Beoordelaars vir die Talentsoektog vir 2019/2020 sluit die gewilde kunstenaar, Loukmaan Adams, bekende sanger, Terry Fortune, dansers en choreograwe van Jazzart, Elvis Sibeko en Mbovu Malinga, jazz maestro, Camillo Lombard en Suidooster sepie aktrise, Desiré Gardener in.

Die Suidoosterfees bied ook op 14 Maart ’n meesterklas aan vir alle semi-finaliste by die Drama Departement van die Northlink Kollege in Panorama.

Finaliste van die 2018/2019-projek: Jumaine Hansen en Nokubonga Fatman

Die semi-finaal van hierdie kompetisie vind op 28 Maart 2020 by die amfiteater van die V&A Waterfront in Kaapstad plaas.

Die finaal word tydens die jaarlikse Suidoosterfees by die Artscape-teatersentrum aangebied en sal op 2 Mei 2020 plaasvind.

  • Vir media navrae kontak Lyndsay Cader (Suidoosterfees: Bemarkings- en projekkoördineerder) via e-pos: Lyndsay.Cader@media24.com, telefoon: 021 406 2498 of WhatsApp: 084 282 2040.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top