Suidoosterfees se ATKV Kinder- en Jeugteater: Waar talentvolle jong stemme ’n tuiste vind

  • 0

Die Suidoosterfees vind vanjaar van 29 April tot 3 Mei in Kaapstad plaas. Met Tuiste as die feestema, bied die ATKV Kinder- en Jeugteaterprogram ’n besondere tuiskomplek vir jong kunstenaars – ’n plek waar stories lewendig word, waar verbeelding vrye teuels kry en waar die volgende generasie teatermakers hul stemme vind.

Die program, moontlik gemaak deur die ATKV, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport (DKES), Artscape en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), sluit aan by die Suidoosterfees se kernvisie om deur die kunste ’n inklusiewe, nierassige samelewing te bevorder. Hierdie program gee ’n platform aan jong mense waar hul kreatiwiteit gevier word, hul vaardighede verfyn word en hul stories met gehore gedeel word.

Vanjaar is daar 15 produksies wat wissel van vrolike sprokies vir die allerkleinste tot aangrypende dramas vir tieners – almal op soek na antwoorde op die vraag: Waar is my tuiste? Van klassieke hervertellings tot eksperimentele nuwe werk, van skole en universiteite tot gemeenskapsprojekte, bied die program ’n ryk verskeidenheid teater vir jong gehore van so jonk as 3 jaar tot op studentevlak.

“Drama is die grootste spansport en ’n hele gemeenskap, van die tieners en ouers tot ons familie en vriende, bou, groei en ‘word’ saam.” So meen Darryl Spijkers, regisseur van talle bekroonde tienertoneelstukke van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes. Suidoosterfeesgangers wat vanjaar se ATKV Kinder- en Jeugteaterprogram kom beleef, sal dié sentiment sekerlik beaam!

Foto: Gys Loubser

Slapende skoonheid en die bose fee is ’n klassieke sprokie met moderne kinkels, kleurryke kostuums en vrolike liedjies wat die hele gesin laat terugverlang na hul kinderdae. Dié unieke hervertelling deur The Stage Performing Arts Studio onder regie van Yolandè Rabè sal jong gehore van 4 tot 12 jaar laat skaterlag, sing en saam droom.

Foto: Gys Loubser

Storie-speel, ’n Universiteit Stellenbosch Dramadepartement-produksie in samewerking met Lapa Uitgewers en Suidoosterfees, is ’n vrolike, verbeeldingryke teaterervaring waar jong teatergangers van 3 tot 12 jaar uitgenooi word om saam te speel, karakters lewe te gee en te help dink aan oplossings vir kinkels in die verhale. Met lag, verbeelding en interaksie sorg almal saam dat die son in die lug bly en die diere se sterte reg uitgedeel word!

Foto: Gys Loubser

Wonder in woorde, ook ’n Stellenbosch-produksie met Lapa Uitgewers, is ’n sprankelende woordkunsavontuur vir graad 6 tot 9-leerders waar mites, sprokies, gedigte en stories die verbeelding aangryp. Saamgestel uit Afrikaanse en Engelse kortverhale en poësie, neem die aanbieding onder regie van Amelda Brand leerders op ’n verbeeldingsvlug vol humor en betowering.

Beste van die DKES bring die wenner en naaswenner van die 15de dramakompetisie wat deur die Departement van Kultuursake en Sport aangebied word na die fees. The Voice Note verken liefde, eensaamheid en emosionele verwaarlosing wanneer ’n hartseer man sy meisie konfronteer oor ’n geheimsinnige WhatsApp-stemnota. Miena is ’n aangrypende verhaal oor ’n vrou wat nooit van ’n traumatiese aborsie herstel nie en later, ná verskeie miskrame, haarself in ’n fantasiewêreld onttrek waar sy haar verlore kinders met poppe vervang.

Ballingskap | Elubhacweni, ’n AFDA Kaapstad-aanbieding, is ’n fisieketeaterproduksie wat ballingskap in vele vorme verken – van land en taal tot die self. Deur beweging, teks en die elemente van aarde, lug, vuur en water, besin die produksie onder regie van Khanya Ngcuka en Kayla van der Merwe oor selfopgelegde en gedwonge ballingskap en nooi gehore vir ’n kragtige sintuiglike ervaring van ontworteling en behoort.

Beyond the Tide van KSUT is ’n aangrypende drama oor ’n ma en dogter wat die onstuimige nuanses van moederskap, trauma en ’n desperate verlange na ’n egte verhouding probeer ervaar. ’n Meesleurende verhaal oor liefde, oorlewing en die hoop op versoening.

Boet + Saartjie, oorspronklik ontwikkel vir die ATKV deur Hoërskool Parel Vallei en die wenner van die Klein Libertasteater Toneelfees en Fraserburg Logan Toneelfees in 2025, is ’n aangrypende verhaal oor tieners wat hul identiteit verken. Dit speel af in die Suid-Afrika van 1890, waar grootmense al die kaarte styf teen die bors hou. Aangewese op slegs mekaar vir leiding, kom ’n groep adolessente agter die lewe is nie so maklik soos dit lyk nie. ’n Energieke viering van die jeug en die stelsels waaraan hulle uitgelewer is.

Foto: Nardus Engelbrecht

Kenan ennie Klopse is ’n storie oor behoort en tuishoort. Kenan sit vas tussen wat sy mense sê hy móét wees en wat sy drome vir hom fluister. Vasgevang tussen sy eie drome en die skadu van sy oupa se nalatenskap, dra hy sy mense se stories in sy lyf. Deur dans en beweging trek sy reis hom van nou af terug na toe – deur “oppression, expression, darkness into light as he learns to move to the beat of his own drum”. Hoe gaan hy die oer-stemroep van die ghoema antwoord?

Pilare van sout van die Hoërskool Curro Durbanville is ’n verwerking van Evan Placey se Girls Like That. Die produksie ondersoek hoe mense stilstaan, vasgevang in die skouspel van ander se ondergang. Hoe hulle toekyk, dikwels sonder om in te gryp, en só medepligtig word aan dieselfde stelsels wat pyn en onreg in stand hou. Hulle oordeel en deel, maar tree nie op nie. ’n Skerp ondersoek van konformiteit, vrees en skaamte.

Spoke van die Hoërskool Martin Oosthuizen, wenner van Artscape en Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees, is ’n verwerking van C.J. Langenhoven se klassieke werk. Glo jy in spoke? Of moet ons liefs die woord vermy? Is daar heengeganes wat terugkeer na die tonele van hul vorige stoflike lewe? Die produksie onder regie van Barnie Mans en Alae Hanekom ondersoek ’n paar insidente, en dan kan gehore self besluit.

The Young Audience Project: Comic Book van die Centre for Theatre, Dance & Performance Studies aan die Universiteit van Kaapstad laat strokiesverhale van die bladsy af spring en op die verhoog lewendig word. Deur verbeeldingryke fisieke teater en visuele storievertelling verander die vierdejaar-toneelstudente se liggame voor gehore se oë in plekke, voorwerpe, karakters en hele landskappe. Spannend, snaaks en propvol energieke beweging – jy het die DC- en Marvel-comics nog nooit só beleef nie!

Foto: Gys Loubser

Untitled van Northlink Kollege is rou jeugteater wat persoonlike waarheid deur beweging, stem en stilte verken. ’n Reeks solo- en ensemble-oomblikke onthul fragmente van identiteit en geleefde ervaring, verbind deur ’n stille eerlikheid. Die aanbieding is oop vir interpretasie en nooi gehore om nie te ontleed nie, maar te voel, aan te voel en te herken.

Foto: Nardus Engelbrecht

Yellowtail, geskik vir feesgangers van 7 jaar en ouer, vertel van Belop, ’n jong visserman wat droom daarvan om te vlieg. In ’n dorpie waar die see jou karakter vorm, is daar geen plek vir mense wat anders is nie. Wanneer sy begeerte om te vlieg veroordeel word, veral deur sy pa, loop Belop weg om vry te wees. Hy word gedwing om te kies tussen sy nuwe lewe en sy vlerke.

Zabalaza Showcase, ’n produksie van die Baxter-teatersentrum se dinamiese ontwikkelingsprogram in vennootskap met die DKES, stel sterk nuwe teaterstemme van regoor die Wes-Kaap bekend. Een uitstaande produksie, gekies uit die jaarlikse fees in Maart, kry ’n platform by die Suidoosterfees om wyer gehore en die nasionale feestekringloop te bereik.

Volledige besonderhede oor tye, plekke en besprekings is in die feesprogram, wat nou op suidoosterfees.com beskikbaar is, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.

Die ATKV Kinder- en Jeugteaterprogram word moontlik gemaak deur die ATKV, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport (DKES), Artscape en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT).

Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, Kunstekaap en dotsure.co.za. Smile FM is die fees se amptelike radiostasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top