Marc Lottering het by geleentheid gesê as hy ver weg optree, verlang hy na die Kaapse gehore: “Net om daai Kaapse lag te hoor. Dis ’n ander lag. Dis uit die maag; ons lag met oorgawe en vryheid.”

Hierdie woorde vat die gees van die Suidoosterfees 2026 se komedie-aanbod perfek saam. Vanjaar se feestema is Tuiste en lag word die universele taal wat mense tuisbring in die warm omhelsing van humor en gedeelde menslikheid. Van 1 tot 3 Mei 2026 bring die Cape Town Comedy Club (CTCC) en die Suidoosterfees ’n vrolike, grensverskuiwende viering van stand-up-komedie as kultuur, kuns en suiwer plesier.

Kurt Schoonraad (Foto: Gys Loubser)
Gehore kan uitsien na die CTCC se driedaagse residensie by die fees, ’n samewerking wat deur Kurt Schoonraad geïnisieer is om die verhoog van die POP24 Studio in die Media24-gebou te omskep in ’n vertoonvenster van komediese uitnemendheid.
Hierdie eksklusiewe vennootskap bring Kaapstad se mees gerespekteerde stand-up komedie-platform direk na die hart van die fees, met ’n fokus op inklusiwiteit wat diverse tale, kulture en geslagte vier, en tegelyk opkomende talent ontwikkel. Daar word twee vertonings per aand aangebied (19:00 en 21:00) om te verseker dat meer mense kan deel in hierdie komiese tuiskoms.

Jared Pillay
CTCC @ SOF 1 op 1 Mei open die komedie-fees met aanbieder Jared Pillay wat die inleiding verskaf tot die hoofkunstenaar, Keenan Cerf, ’n meesterverteller van Lavender Hill wat alledaagse ervaringe in komediese goud omskep. Die aand se ondersteuning kom van Candace Fortune, terwyl Robin Dunlop die oop mikrofoon-segment hanteer wat opkomende talent die geleentheid bied om hul eie tuiste op die verhoog te vind.

Mel Jones
CTCC @ SOF 2 op 2 Mei word deur aanbieder Mel Jones gelei, wat die verhoog oopstel aan hoofkunstenaar Jam Jam, ’n opkomende ster wie se unieke meertalige humor reeds internasionale erkenning ontvang het. Wesley Paulse verskaf die aand se ondersteuning, met Nathan Levinrad wat die oop mikrofoon lei.

Phil de Lange (Foto: Gys Loubser)
CTCC @ SOF 3 (3 Mei) sluit die residensie af met aanbieder Phil de Lange wat die kollig oorgee aan hoofkunstenaar Lindy Johnson, wat persoonlik deur Trevor Noah gekies is vir sy Showmax-reeks. Khanyisile Ngwenya bied ondersteuning op die aand, met Nishen Pathet wat die oop mikrofoon-geleentheid afsluit.
Hierdie driedaagse komedie-marathon word aangevul deur ’n uitgesoekte keuse van solovertonings wat elk ’n unieke perspektief op die Suid-Afrikaanse ervaring bied.
Dalin Oliver se bekroonde 90 Day Comedian is ’n hartroerende en skreeusnaakse grootwordverhaal wat identiteit, kultuur en wat dit beteken om trots Suid-Afrikaans te wees, verken. Ná uiters suksesvolle optredes in agt lande bring Oliver sy internasionale ervaring na die Kaapse verhoog, waar hy sy eie storie verweef met herkenbare oomblikke wat universele trefkrag het.
Kurt Schoonraad, die stigter van hierdie CTCC-samewerking, bied sy eie Funny Side Up aan – ’n eenmanvertoning wat ná uitverkoopte vertonings in Kaapstad, Johannesburg en die KKNK nou sy tuiste by die Suidoosterfees vind. Met sy kenmerkende warmte en onmiskenbare perspektief op ons mense, neem Schoonraad gehore op ’n heerlike tog deur die eienaardighede en chaos van hedendaagse lewe, waar die beste oorlewingstrategie dikwels eenvoudig is om die snaakse kant bo te hou.

In Look What You Made Me Do vier Dave Levinsohn 26 jaar van uitbundige lagbuie met sy kenmerkende “Dave-styl”-komedie. Skerp waarnemings, wonderlike stories en vreeslose improvisasie maak hierdie heerlik vermaaklike vertoning onweerstaanbaar menslik.

Margit-Meyer Rödenbeck (Foto: B-You Photography, Rina G Coetzee)
Ouma en die ou koeie, ’n komedie-kabaret deur Margit-Meyer Rödenbeck en Coenraad Rall onder regie van Jurgen Human, is ’n Afrikaanse ervaring vol humor en herkenning oor onthou en nostalgie. Hierdie aanbieding laat gehore skaterlag én stil raak, want hulle mag hulself herken in die halwe waarhede wat feite word en die romantiese herinneringe wat uit gewone ondervindinge ontstaan.

Arlene Petersen se Plain Jane bewys dat die meisie langsaan alles behalwe ordinêr is. Hierdie vlymskerp komedie vind tuiste in die ongemaklike oomblikke, alledaagse flaters en gekhede wat ons almal ken, maar selde erken. ’n Lagwekkende kykie na menswees wat getuig van vrypostigheid, eerlikheid en selfspot.
Volledige besonderhede oor tye, plekke en besprekings is in die feesprogram, wat op suidoosterfees.com beskikbaar is, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.

Die komedieprogram van die Suidoosterfees word ondersteun deur Biggi Popcorn, VIA, Tygerburger, People's Post & City Vision. Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, Kunstekaap en dotsure.co.za. Smile FM is die fees se amptelike radiostasie.

