Persverklaring: Suidoosterfees dankbaar vir vertroue en uitstekende ondersteuning

  • 0

Die 18de Suidoosterfees, wat pas van 26 April tot 2 Mei in Kaapstad plaasgevind het, spog met ’n gemiddelde produksiebywoningsyfer van 94%. Ingevolge Covid-19-veiligheidsmaatreëls was die kapasiteit van teaters uiteraard kleiner as by vorige feeste. Brian Figaji, direksievoorsitter, het sy dankbaarheid teenoor borge en feesgangers vir hul vertroue en ondersteuning uitgespreek. “Baie dankie aan elke borg, kunstenaar en feesganger wat gehelp het om die fees moontlik te maak. Omdat ons bekommerd was oor bywoning en kaartjieverkope tydens die pandemie, is ons diep dankbaar oor die uitstekende bywoning.”

Vir die Suidoosterfees, wat by Kunstekaap en Atlantic Studios aangebied is, was dit belangrik om geleenthede vir kunstenaars, teatermakers en opkomende jong talent te bied om op te tree en ’n inkomste te verdien. Alles in ’n kleiner formaat en binne ’n veilige omgewing waar Covid-19-protokolle effektief gehandhaaf kon word.

Ses-en-dertig produksies in verskeie genres is as 62 vertonings op die planke gebring, waarvan sewe NATi Jong Sterre-debuutdramas was. Agt NATi Teaterfees-produksies is op die hoofprogram aangebied, en 10 skrywersgesprekke was deel van die Jakes Gerwel-gespreksreeks. Jong Sterre-debuutproduksies en die musiekaanbieding Drome het vlerke was veral gewild onder feesgangers. Deon Meyer en Coenie de Villiers se twee Karoo suite-vertonings wat in die fees se gewilde inryteater-formaat by Atlantic Studios opgevoer is, het ook groot byval gevind.

Karoo suite

Vanjaar het die fees binne die skoolvakansie geval nadat die kwartaalkalender vroeër deur die onderwysdepartement aangepas is. Pietersielie en Roosmaryn vertel stories!, ’n kinderteaterproduksie wat spesiaal vir die fees geskep is, het dus groot aftrek gekry. Feesgangers is daagliks by Artscape begroet deur studente van The Stage Performing Arts Studio en Dance for All, wat hulle op allerlei maniere vermaak het. Studente het nie net bygedra om ’n feestelike atmosfeer te skep nie, hulle het ook geld ingesamel om die Tribuo-fonds te sterk. Dié fonds ondersteun kunstenaars tydens die pandemie.

Pietersielie en Roosmaryn vertel stories!

’n Student van The Stage Performing Arts Studio en Dance for All

Hou gerus die media dop vir die volgende rondte Suidoosterfees-aanbiedinge wat in Junie 2021 rondom Jeugdag beplan word.

Foto’s: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top