In die lig van die situasie rakende die COVID-19-pandemie wat tans in die Wes-Kaap heers, word alle Suidoosterfees-aanbiedinge wat van 3 tot 6 Desember 2020 aangebied sou word, uitgestel tot 2021.
Professor Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie, sê dat die veiligheid van feesgangers, kunstenaars en tegnici die fees se grootste prioriteit is. “Die Suidoosterfees bly daartoe verbind om vir kunstenaars ’n platform te bied, en alternatiewe opsies word oorweeg. Die erns van die pandemie kan egter nie onderskat word nie, daarom het ons, ná gesprekke met verskeie rolspelers, besluit om uit te stel.”
Die uitvoerende burgermeester van Kaapstad, Dan Plato, ondersteun die besluit en wil inwoners en besoekers gerusstel dat aanbiedinge weer sal plaasvind sodra risiko’s in terme van Covid-19 verminder. “Ons is bewus van die enorme druk waaronder die kunstebedryf verkeer en bly daartoe verbind om saam met die Suidoosterfees aan te hou om grensverskuiwende werk binne die kunstesektor te doen.”
Hou gerus die media en die Suidoosterfees se webwerf dop vir verwikkelinge.
Optredes wat uitgeskuif word na 2021, is die drie Lockdown Legato-konserte: All that rapp, Rock & Rumba en Classics Fantastics; die Suidoosterfees se Talentsoektog-uitdunne; asook Sundowners in the park. Dié konserte sou van 3 tot 6 Desember 2020 in Kaapstad se Kompanjiestuine plaasvind.
Die naweekprogram wat op 4 en 5 Desember by Welgemeend aangebied sou word, is ook uitgestel. Die volgende produksies word daardeur geraak: Somerkersfees; Olga, die wandelende; Devonecia & Wilken en die Piekniekkonsert met Emo Adams.
Feesgangers kan direk met Computicket skakel vir terugbetaling van kaartjies. Vir enige navrae, kontak die Suidoosterfees by Francois.Abrahams@media24.com.

