Suidoosterfees 2025: Hortjies dig, ’n onderhoud met Joanie Combrink en Chris van Niekerk

  • 2

https://suidoosterfees.com/

Joanie Combrink en Chris van Niekerk praat met Naomi Meyer oor hul onderskeie rolle in Hortjies dig, wat op 30 April 2025 vir die eerste keer by die Suidoosterfees op die planke is.

Chris, jy vertolk die rol van Peter Blum by vanjaar se Suidoosterfees in die toneelstuk Hortjies dig. Vertel my van die karakter wat jy vertolk. Wie is hy en wat is sy verhouding met woorde?

Peter Blum was nie ’n Afrikaner nie, alhoewel hy homself as ’n Afrikaanse digter beskou het.

Benewens sy twee digbundels lê sy een groot  bate in die enorme aantal nagelate briewe aan ’n wye verskeidenheid mense oor taal en woorde. Sy sin vir humor is skerp en sy kritiek genadeloos.

............
Sy sin vir humor is skerp en sy kritiek genadeloos.
...............

Joanie, jy vertolk die rol van Hetta Blum, Peter Blum se vrou, in die toneelstuk Hortjies dig. Haar gemoedstemming, lees mens op die program van die Suidoosterfees, is wankelrig. Hoe ervaar jy haar – wie is sy?

Ek dink sy is ’n sensitiewe, empatiese mens met ’n fyn aanvoeling vir die kunste. Sy is lief vir Peter, verstaan hom en het ’n groot bewondering vir sy talent en intellek. Dit was wel ’n baie opofferende liefde omdat sy behoeftes eerste gekom het. Dit moes uitputtend gewees het om met so ’n veeleisende mens saam te leef.

Chris, Peter was nie net ’n digter nie, maar ’n digter wat opinies gehad het oor die land waar hy vandaan was. Waar tref ons hom aan: in Suid-Afrika of in Engeland? Wat dink hy of wat voel hy oor die twee lande?

Ons tref hom aan in beide Suid-Afrika en Engeland, waarheen hy en sy vrou Hetta in 1960 getrek het.

Sy gevoelens tenoor Suid-Afrika is ambivalent: Hy wou so graag ’n Suid-Afrikaanse paspoort gehad het, waarmee niemand hom wou help nie. Engeland was ’n toevlug waar hy kon wegkom van die konserwatisme in Suid-Afrika en, baie belangrik vir hom, waar hy in ’n verkiesing kon stem.

Joanie, Hetta is ook ’n kunstenaar, en tog hoor mens voortdurend net van haar man. Vertel my van haar kuns en wat sy geskep het – en wat haar gedryf het om te skep. Was dit ook woede vir die land, en ’n ander manier van kyk? Wat was die oorsprong van haar kuns?

..............
Ek weet uit die briewe wat sy geskryf het dat sy dikwels baie eensaam gevoel het.
.................

Ek het bitter min van haar kuns te siene gekry. Dit wat ek wel gesien het, oa stillewes en selfportrette, het vir my ’n effe melankoliese atmosfeer. Ek weet uit die briewe wat sy geskryf het dat sy dikwels baie eensaam gevoel het.

Verhoudings met woorde en verhoudings met mense: Hoe was Peter se verhouding met sy vrou, Chris?

Baie geskoei op woorde en taal soos die res van sy lewe, sou ek dink. Hy het vir haar gedigte geskryf en ook vir haar voorgelees. Daar was ’n goeie en sterk band, maar ook ’n tydgebonde verknogtheid aan erkenning, en liefde. En manlike trots in die fisieke sy van die verhouding. Maar ons weet nie regtig nie.

Is Hetta in ’n toksiese verhouding met haar man? Is sy lief vir hom? Is daar ook pret en gelag en verstaan van wie hy is? Dink jy dat hý háár verstaan?

Dit kan seker as toksies gesien word, maar dis nogal hard gestel. Sy is werklik lief vir hom, en hulle deel belangstellings – kuns, letterkunde, argitektuur, ens.  Albei het ’n baie goeie sin vir humor. Sy verstaan sy wonde, behoeftes en frustrasies en hy het waardering vir haar vaardigheid as kunstenaar. Sy bied ook aan hom ’n veilige hawe. Haar behoeftes is egter ondergeskik aan syne.

https://suidoosterfees.com/

Chris, hoe voel jy oor die karakter in wie se vel jy nou al moes klim en daarin moes rondloop, as ek Atticus in To kill a mockingbird se woorde so buite konteks mag gebruik?

.............
Om Peter Blum te leer ken is ’n werklike voorreg vir my. Sy dapperheid, sy fel emosie oor woorde en taal, oor opsetlike misverstand, die brakheid van die destydse digterswêreld, en ook die gebrek aan erkenning in sy aanneemland is van sy sterkste eienskappe.
...............

Om Peter Blum te leer ken is ’n werklike voorreg vir my. Sy dapperheid, sy fel emosie oor woorde en taal, oor opsetlike misverstand, die brakheid van die destydse digterswêreld, en ook die gebrek aan erkenning in sy aanneemland is van sy sterkste eienskappe. Ook sy liefde vir die liefde en sy respek vir Hetta. 

Joanie, wat het jy van Hetta Blum geleer en ontdek – van haar en van haar man?

............
Sy was nie die stereotipe Afrikanervrou van daardie tyd nie, en dít het met ’n prys gekom. Sy moes ver weg van familie en vriende ’n bestaan voer en oorleef.
...............

Sy was nie die stereotipe Afrikanervrou van daardie tyd nie, en dít het met ’n prys gekom. Sy moes ver weg van familie en vriende ’n bestaan voer en oorleef. Sy het haar besluit tot aan die einde verdedig.

Chris, waarom sou jy enigeen wat vandag hier lees, aanmoedig om die toneelstuk oor ’n digter en sy vrou uit die 1950’s by die Suidoosterfees te kom kyk?

...........
As jy soos Peter Blum en soos ons nog kan verwonderd staan oor ’n kunstenaar se briljantheid met woorde en die nuutheid van ’n ongewone taalskepping, en as die liefde in al sy vorme nog jou oë kan laat blink, dan is hierdie toneelstuk vir jou.  
.............

As jy soos Peter Blum en soos ons nog kan verwonderd staan oor ’n kunstenaar se briljantheid met woorde en die nuutheid van ’n ongewone taalskepping, en as die liefde in al sy vorme nog jou oë kan laat blink, dan is hierdie toneelstuk vir jou.  

Joanie, waarom sou jy vir enigeen wat vandag hier lees, aanbeveel om die toneelstuk oor ’n digter en sy vrou uit die 1950’s by die Suidoosterfees te kom kyk?

Daar is misterie rondom Peter se verdwyning uit Suid-Afrika. Dit is tragies dat hy gevoel het dat sy werk nie na waarde geskat is nie en dat hy dus nooit sy volle potensiaal kon bereik nie. Die toneelstuk bied ’n blik op sy innerlike landskap en die wonde wat moontlik tot sy optrede kon gelei het. Hopelik stel dit ook ’n nuwe generasie teaterganger bloot aan sy werk.

Hier is ’n skakel na webtickets om kaartjies vir enige van die vertonings by die Suidoosterfees te koop.

Lees ook:

Suidoosterfees 2025: Hortjies dig – ’n onderhoud met Francois Toerien

Akademiepryse 2023: SA Akademieprys vir Drama – Chris van Niekerk

 

  • 2

Kommentaar

  • Amanda le Roux

    Dit was 'n uitstekende produksie - wat teks en spel betref. Watter wonderlike spelers in 'n klein en intieme ruimte. Hoe dankbaar is ek dat ek op my oudag sulke teater kon beleef. Almal by die kompleks was behulpsaam en geduldig met die ou tannie. Dit gee my weer moed vir ons nasie.

  • Albertyn van Rooyen

    Ek het oom Peter as ’n 8-jarige kind ontmoet en ervaar. Tannie Hetta was my ma se jonger suster en ons het per geleentheid by hulle in Kroonstad oornag.
    In die oë van ’n kind het hy nie gestraal van gemoedelikheid nie, maar was vriendelik en beleefd.
    Ek kon nie in dertyd die grootmense van ons familie se houding teenoor oom Peter verstaan nie.
    My ma was skynbaar die enigste van tannie Hetta se familie met wie hy ’n goeie verhouding gehad het. Dit spruit uit briewe van hom aan haar en die feit dat hy ’n gedig "Bolander in die Binneland" in Steenbok tot Poolsee aan haar opgedra het.
    Ek en oom Peter het geruime tyd gekorrespondeer. Ek het soos baie kinders van my ouderdom seëls versamel en hy het gereëld vir my seëls uit Engeland van al die Europese lande aangestuur.
    In later jare het ek meer begrip gekry vir die polemiek rondom oom Peter, maar tot vandag sal ek nie mý opinie jeens hom verander nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top