Suidoosterfees 2023-kinderteateronderhoud: Aspoestertjie – as die skoen pas

  • 1

Siobhan Taljaard praat met Naomi Meyer oor kinderteater, en oor Aspoestertjie – as die skoen pas. Die produksie was pas by die Suidoosterfees op die planke en reis waarskynlik vanjaar nog verder. Siobhan het die teks geskryf en vertolk die rol van Aspoestertjie.

Siobhan, jy het die kinderteaterproduksie Aspoestertjie – as die skoen pas vir die Suidoosterfees geskep. Ek en my twaalfjarige dogter het dit gaan kyk en baie geniet. Wie is jy, wat is jou agtergrond en by watter produksies is jy alles betrokke?

Ek is ’n 25-jarige skrywer en uitvoerende kunstenaar, oorspronklik uit ’n klein dorpie in KwaZulu-Natal. Op 18 het ek Kaap toe gereis om uitvoerende kunste te studeer en het in 2019 gekwalifiseer met ’n major in kabarette. Ek het verder studeer om my musiekteaterkwalifikasie te bevorder en het in 2022 my LTCL Musical Theatre Performing deur Trinity College London voltooi. Ek is die afgelope vyf jaar ook ’n dosent en ’n drama- en sangafrigter vir die jeug (tussen die ouderdomme van 3 en 25!). 

Om te skryf was nog altyd deel van my menswees en ek het uiteindelik my nis in kinderteater en pantomime gevind. Janice Honeyman is een van my groot inspirasies, maar om sulke produksies in Afrikaans te skep was my doelwit.  

Ek is tans betrokke by Aspoestertjie as skrywer en vertolk ook self die rol van Aspoestertjie. Buiten dit is ek deel van die Suidooster Stormsterk 2-vertoning by die Suidoosterfees 2023. 

Ek skryf tans ’n nuwe kinderproduksie/pantomime wat later die jaar opgevoer gaan word: Rooikappie en die Wolf

Wat was jou opdrag en fokus toe jy hierdie produksie geskep het?

Ek is tans deel van Konfetti Kollektief, ’n groep uitvoerende kunstenaars wat nuwe werk vir oud en jonk wil skep. Die kollektief is gestig met die doel om jongmense in die kunste ’n geleentheid te gee om te bewys dat hulle hul sout werd is. Sang, dans en komedie loop sterk deur ons bloed. Ek het Aspoestertjie geskep as ons kollektief se debuutproduksie in 2022. 

My fokus met hierdie produksie was om jonk en oud saam te bring. Dit is baie selde dat die industrie kinderproduksies skep wat pret is vir die hele gesin. Die meeste soortgelyke vertonings is pret vir die kinders, en ouers sit soms verveeld. In Aspoestertjie geniet die jeug die storie, dansies en sang, en die komedie is daar om die volwasse gehoor te vermaak. 

..............
My fokus met hierdie produksie was om jonk en oud saam te bring. Dit is baie selde dat die industrie kinderproduksies skep wat pret is vir die hele gesin. Die meeste soortgelyke vertonings is pret vir die kinders, en ouers sit soms verveeld. In Aspoestertjie geniet die jeug die storie, dansies en sang, en die komedie is daar om die volwasse gehoor te vermaak. 
...............

As ’n drama-afrigter het ek baie vinnig besef dat kinders leer uit wat hulle sien. Produksies soos hierdie is nie net leersaam nie, maar ontwikkel kleurryke verbeeldings in die jeug. Dit bring hulle in die wêreld in en weg van die 2D-realiteit van ’n selfoon of iPad-skerm. Kinders moet leer dat die wêreld dimensies het en dat ‘n feëverhaal meer as net ’n storie is. 

Ek wou die produksie skep met dans en sang om kinders en volwassenes op verskillende vlakke te vermaak. Veelsydige produksies trek die meeste aandag. 

Om teater vir kinders (en vir Afrikaanssprekende kinders uit verskillende agtergronde) te skep, het sekere uitdagings. Maar toe ek die vertoning saam met my kind gesien het, het ek gesien hoe baie raakpunte daar ook is: Kinders is kinders, en goeie kinderteater slaag vir alle kinders! Wil jy dalk hierop uitbrei?

Kinderteater en ouderdomsgrense, sosio-ekonomiese omstandighede en inhoud is gedurig ’n kwesbare ondervinding vir ’n skrywer. Om inhoud bereikbaar, verstaanbaar en toepaslik te maak is uitdagend. Daarom wou ek die storie die hooffokus maak. Omdat ek die geleentheid het om ’n feëverhaal te hervertel, is ek in beheer van die inhoud en die boodskap wat ek aan die gehoor wil stuur. Daarom maak ek seker dat ek eietyds is. Ek praat gedurig oor onderwerpe wat bekend is aan almal. Die bekendheid van ’n airfryer, burger specials by Spur en kragonderbrekings … Dis belangrik vir ons almal om te besef dat ons kinders slim is en baie fyn luister. Hulle is wêreldwys. My inhoud wil graag alle grense oorsteek, ongeag ras, klas en ouderdom. 

.........
Ek praat gedurig oor onderwerpe wat bekend is aan almal. Die bekendheid van ’n airfryer, burger specials by Spur en kragonderbrekings … Dis belangrik vir ons almal om te besef dat ons kinders slim is en baie fyn luister.
...........

Kinderteater gaan oor die storie, dit gaan oor die vertolkings, en dit gaan oor dans en musiek ook. Ek het gesien hoe die kinders én die grootmense teen die einde saam met Early B saamsing en eerder saamdans as uitstap. Hoe het jy die produksie gevisualiseer, gehoor en gesien toe jy dit aanmekaar gesit het?

Ek wou hê hierdie produksie moet nie net pret wees vir die gehoor nie, maar vir ons op die verhoog ook. Ek het dit spesifiek geskryf om voorsiening te maak vir elke akteur se talente. In my proses het ek hulle stemme gehoor terwyl ek die dialoog geskryf het. Die produksie moes ’n goeie balans van musiek en dialoog hê. Dit spruit uit my passie vir musiekteater. Ek glo waar die woorde alleen nie meer emosies kan uitdruk nie, moet ons sing. Ons sang vertel meer van ons storie en staan nie apart van die dialoog nie. Die geïntegreerde teks vertel die storie op ’n nuwe manier. 

Ek wou ook musiek kies met bekende melodieë en die gehoor verras met nuwe woorde. Dans is die element wat die energie van die gehoor en van ons akteurs hernu. Produksies soos dié is baie uitputtend, maar beslis die moeite werd as ons sien hoe die gehore saam dans en sing. 

Het jy Aspoestertjie net vir die Suidoosterfees geskep? Waar sal kinders en grootmense hierdie produksie volgende kan sien?

Aspoestertjie is ’n 2022-produksie waarmee ons getoer het. Ons is deur die Suidoosterfees genader om dit deel van hulle feesprogram te maak. Ons toer in Augustus na die George Arts Theatre en hoop om ook ingesluit te word by die Woordfeesprogram in Oktober. Buiten die feeste gaan ons ook binnekort ’n vertoning by die Collective Arts Theatre doen in Bellville. Ons het nog nie datums vasgestel nie, maar beoog dit vir Junie.

  • 1

Kommentaar

  • Madeleen Taljaard.

    Vanaf 'n trotse mamma se oogpunt kan ek met seldvertroue sê dat hierdie produksie die lagspiere 'n hupstoot gegee het.
    'n Mees unieke produksie, ek sal dit oor en oor kyk.
    Met elke vertoning besef 'n mens dat ouderdom net 'n nommer is.
    Wel gedaan, Siobhan.
    What a proud moment caught in a vision of a fairytale in a modern world.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top