Suidoosterfees 2021 en NATi Jong Sterre-produksies ‒ ’n onderhoud met Margo Kotze

  • 0

In samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), Kunstekaap en die Jakes Gerwel Stigting bied die Suidoosterfees vanjaar weer ’n NATi Jong Sterre-program by dié fees aan wat tot 2 Mei by die Kunstekaap plaasvind.

Emma Kotze gesels met Margo Kotze oor haar werk wat sy by die fees aanbied, asook die geleenthede wat die Jakes Gerwel-mentorskapprogram, waarvan sy in 2020 deel was, vir haar gebied het en hoe haar toekomsdrome lyk.  

Margo is die skrywer van die NATi Jong Sterre-produksie, Al dra ’n aap ’n goue ring. Sy speel ook self in die produksie.

**LW: Hierdie produksie is uitverkoop.**

Margo Kotze

Watter geleentheid het die Suidoosterfees Jong Sterre-program vir jou gebied?

Die Jakes Gerwel Stigting, NATi en Suidoosterfees het in September 2020 vir sewe jong skrywers die geleentheid gegee om onder leiding van Abduragman Adams ’n drieweek-mentorskapprogram by te woon in Somerset-Oos. Gedurende ons kuier in die Oos-Kaap het elke skrywer die geleentheid gehad om aan ’n spesifieke teks te skaaf. Na afloop van die program is dié tekste gekies om deel te vorm van Teksmark 2020. Die kersie op die koek is egter die feit dat ons ons tekste in hul totaliteit by vanjaar se Suidoosterfees se Jong Sterre-program op ’n regte-egte verhoog kan sien! Kunstefeeste, teater en optreegeleenthede is weens die grendelstaat so skaars soos hoendertande. Suidoosterfees gee vir ons as kunstenaars die geleentheid om weer te speel, en daarvoor is ek baie dankbaar.

Wat is vir jou as skrywer die uitdagendste wanneer jy jou werk aan ’n regisseur moet oorhandig? 

Elke teks wat tot dusver uit my pen gekom het, het ek oorgegee aan ’n regisseur. Dit is maar die proses wat ek ken, dus vind ek dit nie regtig “uitdagend” om my skryfwerk aan ’n regisseur toe te vertrou nie. Daar is iets baie opwindend daaraan om te sien hoe iemand die prentjies en stories in my kop op die verhoog laat realiseer. Ek dink die sukses van teater / die skeppingsproses lê in die samevoeging van idees – “collaboration”. Teater is ’n spansport. Ek skryf dikwels in groepe en hou daarvan om my idees rond te bons. Ek vind dat kreatiwiteit veral in ’n kollektief ontgin word. Indien jy ’n teaterteks skryf, gaan dit eers in die hande van die geselskap (die regisseur en die akteurs) lewe kry – sonder dit is dit net woorde op papier.

Die Jakes Gerwel-mentorskapprogram bied ongelooflike geleenthede aan jong skrywers. Wat was vir jou van die waardevolste ondervindinge? 

Ongetwyfeld was die mees waardevolle ding die groep mense wat ek deur die Jakes Gerwel-mentorskapprogram ontmoet het! Die ander jong skrywers en ons mentor Abduragman Adams het soos familie geword tydens ons kuier in Somerset-Oos. Ons was ’n baie diverse groep – verskillende ouderdomme, tale, gelowe, agtergronde en selfs ons skryfstyle het hemelbreed verskil. Ons het egter elkeen iets gehad om by ander te leer. Die omgewing en atmosfeer was veilig, vry en oop. As jong skrywers kon ons kreatief wees, maar ook krities dink. Dit was die ideale spasie om in te leer en in te groei.

Ek was ook baie uitgehonger vir geselskap. My ingenieur-pa, en tuisteskepper-ma en rugbyspeler-broer kan ook net só baie gesels oor die vermaaklikheidsbedryf en sy mense. Om na ’n lang grendeltyd weer ’n bietjie in kunstenaarsgeselskap te wees was regtig iets wat die somber 2020 vir my opgehelder het.

Tot op hede, wat is die produksie wat jy nog die meeste pret mee gehad het? Hoekom, en wat was jou rol in die skep van die produksie?  

O nee! Die vraag is baie moeilik! Daar is te veel!

Ek dink dalk Koek en tert. Ek en Kristin Pienaar het op universiteit die teks saam geskryf en toe al die pad Bloemfontein toe gepiekel om by Vryfees se Vrynge-afdeling te gaan optree. Dit was ons heel eerste “professionele” produksie. Die ervaring en die produksie het ’n spesiale plek in my hart omdat ek saam met my vriende en hartsmense die wille industrie kon betree. Die RSG-program Luister en leer was ook vir my baie pret. Ek het van die episodes geskryf en ook die wysneus Dienkie op die opvoedkundige kinderprogram gespeel. Ek het ook onlangs my eerste oorklankwerk gedoen op die eExtra-program Begeertes. Dit was heerlik om die feeks van die verhaal te vertolk.

Al dra ’n aap ’n goue ring is die titel van jou toneelstuk wat by die Suidoosterfees te sien is [*Let wel: hierdie produksie is uitverkoop]. Vertel ons meer van die titel en hoe dit verband hou met die temas in die stuk? 

Sinopsis: Al dra ’n aap ’n goue ring is soos iemand wat onder gebed by ’n begrafnis poep – ongemaklik, problematies, disrespekvol en heeltemal noodsaaklik om die hewige spanning te verlig. Al dra ’n aap ’n goue ring is ’n teks in wording wat klassieke klug as genre, soos ons dit in die Franse tradisie ken, binne die Afrikaanse taal tuis laat voel. Daar word die spot gedryf met mense se obsessie met transformasie en politieke korrektheid.

Dit is egter belangrik om te weet dat Al dra ’n aap ’n goue ring nie daarop gemik is om sosiale wending voort te bring en die wêreld te red nie. Die hoofdoel van die klug is om mense te laat lag (meestal vir hulself). Dit is bloot ’n versameling karakters met hul eie oortuigings wat binne ’n realistiese moderne konteks geplaas is. Die gehoor vertolk die rol van die regter wat die hoofkarater se onskuld/skuld moet beslis.

Titel: Die titel van die produksie hou verband met die Debbie-karakter, ’n bejaarde wit vrou van 63 wat onlangs ’n problematiese foto op Facebook gelaai het. Debbie is nie ’n tipiese hoofkarakter nie. Alhoewel sy die protagonis is, is sy nie noodwendig ’n aangename karakter by wie gehore sal wil aanklank vind nie. Debbie is ’n rassis. Debbie word vroeg-vroeg in die toneelstuk aangeraai om nie die woord “aap” te gebruik nie, omdat sommige mense moontlik aanstoot kan neem. Debbie is egter hoogs gespanne tydens haar onderhoud met Darren, ’n bruin joernalis van Huisgenoot, en laat glip per ongeluk baie idiome of gesegdes met die word “aap” daarin. (Soos “die aapstuipe kry”, “te veel ape op my stert”, “jy sal my ’n aap laat skrik”, ens.) Hierdie element word opgestuur vir komiese effek, maar dra ook tematiese gewig. Die tong-in-die-kies-produksie beoog om introspeksie oor ras en verandering binne die huidige sosiale en politieke klimaat aan te hits. “Hoe maak ons die foute van die verlede reg sonder om voetfoute in die hede te maak?”

Jy speel ook in die produksie. Hoe onderskei jy in so geval tussen jou rol as skrywer en jou rol as akteur? 

Elke kunstenaar benader seker so ’n situasie anders, maar ek het besluit om my skrywershoed by die deur te los toe ons eers begin het met die repetisieproses. Die rol van skrywer en dié van aktrise is vir my twee aparte rolle met ander benaderings en eise.

Ek is egter baie bevoorreg, want as skrywer is ek ’n vlieg teen die muur in die repetisiespasie. (Dié geleentheid word nie aan baie skrywers gegun nie.) Daar is ’n klomp klein goedjies wat ek oplet wat ek graag as skrywer in my volgende herskryf wil verander of verbeter. Al dra ’n aap ’n goue ring is nog in haar kleuterskoene en ek weet die optreegeleentheid by Suidoosterfees se Jong Sterre-program gaan baie beteken vir die toekoms van die teks/produksie se ontwikkeling. My droom is om die produksie in die toekoms uit te brei en moontlik meer ouderdomsgepaste akteurs en aktrises te nader om van die rolle te vertolk. Vir die debuutoptrede by die Suidoosterfees is ’n groep jong akteurs en aktrises saamgespan om die teks op die verhoog te toets. Ek het al tevore met almal in die geselskap gewerk en is seker van hul werksetiek en talent. Almal is skreeusnaaks en het die regte energie vir die lawwe karakters en die vinnige teks. Ek kon nie vir beter gevra het nie! Die geselskap bestaan uit Eldon van der Merwe, Veronique Jephtas, Melissa Myburg, Conradie van Heerden, en ek speel sommer self ook daarin. Andrico Goosen behartig die regie.  

Vertel ons meer van die stuk – hoe het die storie by jou ontstaan? 

Ek dink soos die meeste van my idees het dit gespruit uit iets wat iemand by ’n braai gesê het. Elke familie het ’n oom of tannie wat altyd iets problematies sê of doen wat eerder kon gebly het. Hoe verander ons mense se idees, wanpersepsies en manier van praat sonder dat iemand wat by die familie kuier ’n braaibroodjie of tjop in iemand anders se rigting gooi? 

Die wêreld is verdeel tussen ou regimes en nuwe ideologieë, reg en verkeerd, trots en vrees en praat en stilbly. Hoe navigeer ons die moderne tendens van politieke korrektheid?

Dalk is ek naïef, maar ek glo in die goedheid van mense. Mense se harte is goed, maar soms word voetfoute gemaak deur onkunde. Ek hoop my stuk bied ’n geleentheid vir mense om te leer, om te gesels en om te luister. (En natuurlik ook te lag!)

Soos genoem, skryf jy reeds vir teater en vir radio. Wat is die groot verskille tussen hierdie twee mediums as dit by skryfstyl kom? 

In radio skryf mens vir die oor. In TV skryf mens vir die oog. En in teater skryf mens vir albei. Ek hou van die ritme van woorde en dialoog, dus is ek geneig om vir die oor te skryf. Wanneer jy vir teater begin skryf, moet jy in ag neem dat die visuele prentjie by die ritme en die dialoog moet pas en ek dink daardie kopskuif is maar die grootste verskil tussen die twee mediums. Die genres is egter vir my soos twee kinders – ek kan nie kies watter een ek meer lief het nie!

Ek is wel nog baie nuut in die bedryf en het eers onlangs gemaklik geraak met die titel “skrywer”. Daar lê nog baie projekte vir my voor. Vra vir my weer die vraag oor so 10 jaar!

Wat was vir jou die grootste uitdaging nadat jy jou studie voltooi het en die werkende wêreld betree het? 

Die COVID-19-inperkings!

Ek het met blink oë en ywer uit my studies uitgestap – reg vir die grootmenswêreld. My fondasie is egter, tesame met die res van die kunstebedryf, geruk. Werk was min, eensaamheid volop en boonop is ons industrie as “non-essential” verklaar. Dit mors ’n bietjie met mens se gemoed en selfvertroue, man. Ek dink nie daar is iemand in ons industrie wat nie op een of ander manier negatief deur die inperkings geraak is nie. Ek glo egter dat ons (en die kunstebedryf) oor die perd se stert is. Ek het nou hare op my tande en is reg om te werk!  

Watter skrywer/akteur/regisseur het tot dusver die grootste invloed op jou loopbaan gehad? 

Dit moet dit die skrywer, regisseur en radiopersoonlikheid Lizelle de Bruin wees. Sy het vir my my heel eerste betaalde werkie aangebied. ’n Mens onderskat dikwels daardie tipe erkenning en “raaksien”. Ek het dit baie waardeer, want dit het bygedra tot my identiteitskepping binne die industrie – ek het bietjie voete begin vind as aktrise, stemkunstenaar en skrywer. Ek het baie geleer by Lizelle, nie net oor stemwerk, radio en skryf nie, maar sy het ook vir my gewys hoe om my heel eerste faktuur op te stel!

Ek kyk ook op na bekendes soos Wessel Pretorius en Marion Holm wat so moeiteloos komedie in hul skryfwerk en spel regkry. Eendag as ek groot is wil ek ook soos hulle teater maak!

Wat is jou droom-skryfprojek waaraan jy nog eendag sal wil vlerke gee? 

Ek sal graag eendag ’n televisiereeks wil skryf. (Maar moenie vra waaroor nie ... dit moet ek nog uitdink!) Die medium is vir my iets wat ek graag meer oor wil leer en myself mee wil uitdaag.

Ek sal graag ook iewers ’n storie wil skryf oor al die vrouens in my familie. Ek dink die beste stories is soms onder ons neuse. En kyk, die tannies in my familie is nou vir jou interessante, sterk, mooi en simpel karakters. Dit is ’n toneelstuk wat eintlik haarself gaan skryf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top